Ons moet nóú al op post-korona voorberei

Deur Ernst Roets

Ernst Roets. Foto: Facebook

Wanneer probleme opgemerk word nog voordat hulle opduik, is dit maklik om dit reg te stel. Maar wag jy totdat hulle opduik, is die medisyne te laat omdat die siekte ongeneesbaar geword het.

Niccolò Machiavelli, wat bogenoemde geskryf het, is nie juis beroemd vir die goeie werksetiek wat hy voorgestaan het nie. Die raad wat hy in The Prince gee, is só omstrede dat daar bespiegel word of hy die boek nie dalk as satire bedoel het nie. Tog is daar belangrike lesse wat ’n mens by Machiavelli kan leer – al is dit net om voorbereid te wees op hoe die staat homself moontlik kan gedra. Hy gaan voort:

Dit gebeur ook in staatsake, want as die booshede wat opduik, wel voorspel is (wat slegs deur wyse mense gedoen kan word), kan hulle baie vinnig uit die weg geruim word. Wanneer hulle egter toegelaat word om te gedy op ’n wyse wat vir almal sigbaar is omdat dit nie voorspel is nie, is daar geen oplossing meer nie.

In die hitte van die koronawarboel is dit maklik om verstrengel te raak in die histerie en die golwe van media-inligting. Dit kan ’n verlammende effek op ons hê, wat tot gevolg het dat ons só in die hier en die nou vasgevang word dat ons nie meer kan sien wat besig is om rondom ons te gebeur nie – hoe die wêreld besig is om te verander en hoe ons self ook onder hierdie omstandighede gaan verander.

Die wêreld ná korona

Foto: Pixabay

Foreign Policy het sover gegaan as om te verklaar: “The pandemic will change the world forever.” Dit klink na ’n dramatiese stelling en is dalk oordrewe. Die wêreld gaan ná die koronapandemie wel anders lyk – maar dit gaan nie ’n ander wêreld wees nie.

Groot politieke verwikkelinge is besig om te gebeur. Ons kan dit op internasionale, nasionale en gemeenskapsvlak sien. Terselfdertyd gaan sekere dinge dieselfde bly. Die politieke landskap gaan verander, maar die spanning tussen die Ooste en die Weste sal voortduur; die ANC gaan nog steeds die ANC wees; samesweringsteoretici sal steeds bestaan (en waarskynlik meer prominent wees); en die “take back the land”-groep gaan nie verdwyn nie – om maar ’n paar voorbeelde te noem.

Ons kan aanvaar dat dié wat van voorneme is om ons regte te beperk, reeds hul strategieë by hierdie veranderings begin aanpas. As ons dit nie ook doen nie, gaan daar ná die krisis – soos Machiavelli waarsku – nie meer ’n remedie wees om daarop te reageer nie.

Ons kan reeds verwikkelings identifiseer en solank bespiegel wat die gevolge daarvan gaan wees. Só kan ons ook voorberei op wat waarskynlik in die toekoms gaan gebeur.

Strategie

Dit is waarom Sun Tzu sê:

Hy wat die oorlogsveld eerste beset en gemaklik op sy vyande wag, is op sy gemak. Hy wat egter later op die toneel aankom en die geveg haastig betree, is vermoeid. En daarom bring dié wat oorlogvaardig is die vyand na die slagveld toe en word nie deur hom soontoe gebring nie.

Hy sê voorts dat ’n goeie generaal sy opponent se planne ontleed sodat hy sy sterk- en swakpunte vooraf kan identifiseer ten einde in sy eie strategie daarvoor voorsiening te maak.

Die koronavirus gaan waarskynlik ’n herrangskikking van prioriteite meebring, ook vir regerings. Ons móét hierdie skommeling van prioriteite met redelike sekerheid kan voorsien, maar – nóg belangriker – dit spoedig kan identifiseer wanneer dit wel neerslag vind. Natuurlik bring dit ook mee dat ons sal moet herbesin oor waarop ons ons energie sal bestee.

Vooruitskouing – Suid-Afrika

(Foto: Wikimedia Commons)

Die moontlike gevolge van die staat van inperking is meer omvattend as wat baie van ons besef. Dit is veral belangrik om rekening te hou met die gevolge van die staat van inperking op die terreine van die politiek, burgerregte en die ekonomie.

Op politieke terrein word Cyril Ramaphosa wyd geloof vir sy optrede om die verspreiding van die virus te beperk – veral onder sy kritici. Sy goedkeuringskoers is waarskynlik nou hoër as ooit tevore. Ironies genoeg lyk dit egter of die mense wat nie vir hom gestem het nie, sy versoeke die meeste gehoorsaam, terwyl dié wat wel vir hom gestem het, hulle die minste aan hom steur. Terselfdertyd boesem die meeste van sy kabinetslede nie juis vertroue in nie en lyk dit asof hulle die toename in mag geniet wat hulle weens die ramptoestand gekry het. Ramaphosa gaan waarskynlik met ’n groter mate van selfvertroue optree, maar mededinging en agterdog binne-in die regerende party gaan waarskynlik ook toeneem. Groter publieke vertroue in die president kan die teenoorgestelde uitwerking binne-in die regerende party hê.

Wat burgerregte betref, is daar tans bykans geen burgerreg wat nie ingeperk word nie. Die beperkings op ons reg op vryheid van beweging (ons mag ons huis slegs onder sekere omstandighede verlaat), ekonomiese aktiwiteite (sake-ondernemings moes hul deure sluit) en vryheid van spraak (as jy fopnuus oor die virus versprei, kan jy tronk toe gaan) is ooglopend. Daar is egter ook ander regte wat tans beperk word, soos ons reg op privaatheid (selfoontegnologie word gebruik om mense se bewegings na te spoor wat positief vir COVID-19 getoets het, asook dié wat met hulle in kontak was), onderwys (skole is noodgedwonge gesluit), en vryheid en sekuriteit van die persoon (jy kan gedwing word om vir korona getoets te word) – om maar net ’n paar te noem. Die regstelsel het grootliks tot stilstand gekom omdat slegs dringende howe nog funksioneer. Ons moet ook beskuldigdes in duisende misdaadverhore in ag neem wat nie tans in die hof is nie en dus óf op straat is óf in aanhouding is sonder om verhoor te word (waar dit ook ’n ekstra las op die staat plaas). Dan praat ons nog nie van die sogenaamde waarborge in die Grondwet wat nog minder realisties gaan wees wanneer die ekonomiese gevolge van die staat van inperking merkbaar word nie. Ek verwys hier na die sogenaamde tweedegenerasieregte in die Grondwet, soos die reg op behuising, die reg om te werk en die reg op voedsel.

Ons moet geen illusies hê oor wat met die ekonomie gaan gebeur nie: Die ekonomie word ernstig deur die staat van inperking benadeel. Sakeondernemings gaan in groot getalle hul deure sluit; meer as 1 miljoen mense gaan waarskynlik hul werk verloor; staatskuld gaan waarskynlik styg tot by 70% van BBP; en die ekonomie gaan waarskynlik met 5% krimp. Dié syfers is boonop gebaseer op die aanname dat die staat van inperking nie verleng word nie. ’n Paar gerespekteerde ekonome het my egter meegedeel dat dié syfers maar ’n konserwatiewe skatting is … Moody’s Investors Service se onlangse afgradering van Suid-Afrika se kredietgradering na rommelstatus gaan dinge nie makliker maak nie. En let wel: dié afgradering hou meestal verband met swak regeringsoptrede en -beleid en die gevolge daarvan, en nie bloot met die koronavirus nie.

Ideologiese vertolking

Foto: Presidensie

Liberale, konserwatiewe en linkse denkers loop nou almal en sê dat hulle ná afloop van hierdie krisis vir die wêreld gaan sê: “Ons het julle mos gesê!” Ons ideologieë is die brille waardeur ons na die wêreld kyk, die filters wat ons onwetend gebruik om sin te maak van wat rondom ons gebeur. Om te beweer dat jy nie ’n ideologie of denkraamwerk het nie, spreek bloot van ’n gebrek aan selfkennis – ons almal het een en ons almal gebruik dit elke dag, of ons dit besef of nie. Dit verklaar ook waarom ideologiese denkers die huidige stand van sake in die konteks van hul eie ideologiese verwysingsraamwerk rasionaliseer en met selfvertroue glo dat die korrektheid van hul eie idees hierdeur bevestig word. Ons moet dus nie glo dat enige politieke ideologie weens ’n krisis soos hierdie verslaan gaan word nie. Nie eens die val van die Berlynse Muur was genoeg om Marxisme te stuit nie!

Mense se sentimente gaan wel beïnvloed word, wat goeie én slegte nuus vir verskillende ideologieë gaan wees. Sosialiste en transformasioniste – soos prof. Koos Malan hulle noem – gaan sê dat meer staatsmag en sentralisering van mag nodig is om dié krisis te bestry. Hulle gaan sê dat die vrye mark gereguleer moet word en dat kapitalisme nie oplossings bied nie, veral omdat die besluite van Westers-kapitalistiese regerings soos die VK en Italië beskou word as die rede waarom die impak van Covid-19 in dié state so groot is.

Mense wat die ekonomie nog altyd wou vernietig, het in dié krisis ’n gerieflike verskoning gekry om met die morele hoë grond daarop aan te dring – en as jy nie daarmee saamstem nie, word daar gesê dat jy nie omgee as mense doodgaan nie. Daarteenoor gaan staatsonbevoegdheid in hierdie tye egter die ondoeltreffendheid van groot regerings en die sentralisasie van mag ontbloot, wat nie goeie nuus vir sosialiste is nie.

Liberales en libertyne gaan die mislukking van die staat uitwys as ’n rede waarom die sentralisasie van mag nie ’n goeie idee is nie. Liberales gaan egter ná hierdie krisis dit ’n bietjie moeiliker vind om mense te oortuig dat hul voorstel – naamlik die verabsoluteerde vryheid van die individu – die oplossing is. Mense gaan ná afloop van die krisis meer ten gunste van gekoördineerde groepoptrede wees en minder toeganklik vir ’n ideologie wat aanvoer dat individue vir hulself moet besluit wat om te doen. Dink maar aan die negatiewe reaksie op die nuus dat daar mense is wat hulle nie aan die inperking steur nie.

Daarteenoor gaan die inperking waarskynlik tot ’n versterking van konserwatiewe idees lei. Waar liberales nie van grense hou nie omdat dit individue beperk, wil konserwatiewes grense hê en wil hulle ook sien dat dit beheer word. Die koronakrisis gaan die argument vir grensbeheer versterk. Net soos liberales is konserwatiewes ook skepties oor staatsgesag, maar konserwatiewes voer aan dat gesag gedesentraliseer en in gemeenskappe gevestig moet word. Konserwatiewe idees gaan na aanleiding van die krisis meer aanklank vind. Dit beteken egter hoegenaamd nie dat die politici in ’n plek soos Suid-Afrika skielik konserwatief gaan wees nie.

Om aan te voer dat die verspreiding van die virus beperk moet word, hoef nie te beteken dat die ekonomie vernietig moet word nie. Om die ekonomie te wil red, hoef nie te beteken dat mens niks aan die virus doen nie. Die uitdaging is om ’n gesonde balans te kry. As die virus gestuit word, maar mense kan nie meer brood op die tafel sit nie, gaan dit in elk geval tot groot onrus, plundering, werkloosheid, hongersnood en sterftes lei. Die langtermyngevolge daarvan kan selfs erger as dié van die virus wees. Om téén inperking vir die behoud van die ekonomie te argumenteer, is in baie mense se oë ’n moreel moeilik verdedigbare argument, veral as mens nie ’n alternatiewe plan het nie. Die argument vir die behoud van die ekonomie – en dus dat mense steeds in staat moet wees om te kan werk en vir hul gesinne te kan sorg – is júís ’n morele argument, hoewel baie mense dit nie so sien nie. AfriForum se standpunt is dat daar wel stappe gedoen moet word om die verspreiding van die virus te beperk. Dit beteken egter nie dat daar nou ’n carte blanche op staatsingryping kan wees nie. Dit is beter om by ander lande eerder as China te leer, soos Suid-Korea, Singapoer en Taiwan. Suid-Afrika se regerende elite is egter ideologies, polities en andersins sterk aan China verbind. Dit beïnvloed hul objektiwiteit en kan ’n hindernis wees om ander, meer gepaste en suksesvolle, benaderings te identifiseer en te volg.

Wêreldpolitiek

Die spanning tussen die Ooste en die Weste gaan nie afneem nie. Daar kan moontlik ’n versnelde magsverskuiwing van Wes na Oos wees. Lande soos Suid-Korea en Singapoer word beskou as die lande wat die beste op die krisis gereageer het – ook omdat dié lande meer direkte ervaring met sowel pandemies as China het. China beweer ook dat hulle die krisis onder beheer het en hulle word daarvoor geprys (hoewel China se syfers verdag is). Die reaksie van Westerse lande was stadig, ongekoördineerd en gekenmerk deur onderlinge twis en faksiepolitiek. Die Ooste praat oënskynlik uit een mond en hul boodskap word konsekwent oorgedra. Die Weste kom wispelturig voor.

State wat homogeen (hoofsaaklik een kultuurgroep) en finansieel relatief sterk is, gaan sterker en meer verenig wees. Liberale kommentators waarsku dat die wêreld meer nasionalisties gaan word. Dit is natuurlik ’n siniese manier om te verwoord dat mense se eie gemeenskappe vir hulle belangriker gaan word – waarmee daar niks fout is nie. Selfbehoud van gemeenskappe gaan ’n veel groter prioriteit vir die meeste mense word. Anders as wat liberale kommentators ons wil oortuig, hoef selfbehoud nie noodwendig tot groter spanning tussen gemeenskappe te lei nie. Dit kan netsowel tot belyning, samewerking en wedersydse erkenning en respek lei. Dit is egter nie te sê dat dit noodwendig en in alle gevalle só gaan uitspeel nie. Lande wat die virus suksesvol beveg, gaan meer verenig wees; lande wat dit ondoeltreffend hanteer, gaan groter spanning tussen gemeenskappe hê.

Dit gaan egter nie bloot oor hoe doeltreffend die krisis hanteer word nie, maar oor die sin van vertroue tussen mense en hul regerings. Anders gestel: die persepsie oor die regering se optrede gaan belangriker wees as die optrede self. Politiek gaan meer oor persepsie en oorreding as oor feite. Politieke leiers wat daarin slaag om hul kiesers te oorreed dat hulle doeltreffend teen die virus opgetree het, gaan sterker word. Politieke leiers wat nie daarin slaag om hul kiesers hiervan te oortuig nie, gaan nie bloot die hou op die ken vat nie en waarskynlik ánder vir hul mislukkings beskuldig. Dit kan tot verhoogde spanning tussen state lei.

Hoewel mense soos Gordon Brown nou vir ’n wêreldregering vra, gaan globalisering waarskynlik ’n terugslag kry – en dit is ook nie slegte nuus nie. ’n Westerling wat dink dat ’n wêreldregering nié sterk deur ’n alliansie tussen die Ooste en Afrika gedryf gaan word nie en dat dié regering nie sterk anti-Westerse sentimente sal bevorder nie, is naïef – om dit lig te stel. Italië se pleidooi aan die EU om hulle te help en die gebrek aan optrede deur die EU het dié internasionale instelling se reputasie groot skade berokken. Die EU se onbeholpenheid tydens die krisis gaan hoogs waarskynlik tot ’n verlies aan vertroue in hierdie instelling lei – asook aan die gedagte van een of ander wêreldregering. Dit beteken nie dat globaliste gaan ophou om daarop aan te dring nie; hulle gaan net meer sukkel om mense daarvan te oortuig. Mense gaan hulle meer na hul eie regerings wend vir oplossings – dit is nou mits hulle voel dat hul regerings hulle verteenwoordig. (Dus, soos ek vroeër genoem het, gaan homogene state sterker word). Gemeenskappe wat ervaar dat hul belange nie deur hul regerings op die hart gedra word nie, gaan meer na hulself kyk vir oplossings. In die mate waartoe globalisering versterk, gaan dit waarskynlik ietwat sterker deur die Ooste gedomineer word, om die redes wat hierbo genoem word.

Veral in Afrika gaan China ’n groter rol speel. China mag dalk in sekere streke as die muishond van die wêreld beskou word, maar in Afrika word China beskou as die redder wat verligting bring en sukkelende regerings help.

Die Amerikaanse president Donald Trump spreek Donderdag die media in Washington toe oor die nuwe koronavirus. (Foto: Alex Brandon, AP)

Of pres. Donald Trump sterker hieruit gaan kom, hang weer eens nie af van wat hy doen nie, maar van wat Amerikaners se persepsies oor sy optrede is. As sy opponente daarin slaag om die neutrales te oortuig dat die koronasterftes voor Trump se kop gegooi moet word, gaan hy skade ly. Aan die ander kant: Sy ekonomiese rekord kan in sy guns tel in die sin dat neutrales só bekommerd is oor hul werk en inkomste dat hulle bereid is om hul stemme vir hom te gee om die ekonomie weer op koers te kry. Dit gesê, moet ons egter die belangrikste les van Amerikaanse presidensiële verkiesings onthou: dat jy nie die neutrales in die middel moet oortuig nie, maar eerder dat jou eie ondersteuningsbasis só sterk oor jou moet voel dat hulle bereid is om in groot getalle vir jou te gaan stem. Met dit in ag genome, lyk dit of Trump se kanse nog goed is.

In krisistye word sterk leierskap met lojaliteit beloon. Dink maar aan George W. Bush, wat ’n goedkeuringskoers van 92% gehad het ná die 9/11-aanval; of Winston Churchill se gewildheid tydens die Tweede Wêreldoorlog. Wêreldleiers wat in die oë van hul volgelinge die krisis reg hanteer, gaan gewilder wees as ooit. Dié tipe goedkeuring is egter dikwels van korte duur: George W. Bush se gewildheid het ná 9/11 weer vinnig gedaal; Churchill is ná die oorlog uitgestem.

Waar ons die ANC en die regering moet dophou

Hierdie krisis gaan vir meeste regerings ’n skommeling in prioriteite tot gevolg hê. Hoe groot dié skommeling gaan wees, moet ons nog vasstel. Aan die een kant sal die skommeling weens die veranderende wêreld wees, maar aan die ander kant sal regerende partye – en veral Marxistiese partye soos die ANC – in die versoeking gelei word om vas te hou aan die mag wat hulle in dié tyd gekry het. Ons sal die volgende baie fyn moet dophou:

  • Die ANC word hoofsaaklik deur sy Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) gedryf. Party ANC-kaders beskryf dit selfs as die ANC se geloof. Die doel van die NDR is om Suid-Afrika op die pad van sosialisme te plaas, en die middel tot die doel is om al meer beheer oor die “levers of power” te kry, soos die ANC dit noem. Die ANC gaan nie hiervan afsien nie.
  • Mediese beleide soos nasionale gesondheidsversekering gaan waarskynlik hoër op die prioriteitslys wees.
  • Weens die inperking het die ANC-regering ’n groot klomp mag in homself gevestig wat dit nie onder normale omstandighede sou hê nie, soos ek hierbo uitgewys het. Die party gaan ongetwyfeld in die versoeking wees om aan hierdie mag vas te klou. Die risiko is nie dat alles net so gaan bly soos wat dit tans is nie, maar eerder dat die ANC slegs gedeeltelik van sy mag sal afsien (of ten minste poog om dit te doen).
  • Die ANC gaan onder meer druk as ooit tevore verkeer om ekonomiese groei aan te wakker. Dit is hiér waar ons groot geleentheid lê. As die nodige druk nie toegepas word nie, is die kans bitter skraal dat hulle veel aan die krisis gaan doen. Belastingbetalers gaan ná afloop van die koronakrisis meer en doeltreffender druk as ooit tevore op die regering moet toepas om die nodige maatreëls gereed te kry om die privaat sektor te bemagtig om die ekonomie te laat groei.
  • Die ANC kyk reeds na China vir antwoorde en oplossings. Die rol wat China op ideologiese en praktiese vlak in Suid-Afrika gaan speel, gaan waarskynlik toeneem.
  • Indien daar ’n skommeling in ANC-prioriteite is, gaan dit natuurlik beteken dat sekere kwessies wat tans hoog op die prioriteitslys is, gaan sak. Dit is eenvoudig onmoontlik om alles as ’n kernprioriteit te beskou. Dit is egter nog te vroeg om te spekuleer wat met kwessies soos onteiening sonder vergoeding gaan gebeur.

Wat ons nou moet doen

Daar is ’n paar praktiese goed wat nou vir ons ’n prioriteit moet wees – en die prioriteite kan natuurlik verander namate die omstandighede verander.

  • Elke gemeenskap moet die verantwoordelikheid opneem om na homself om te sien. Die regering het vir seker nie minderhede se belange op die hart nie en as ons bloot wag vir die regering om na gemeenskappe om te sien, gaan ons stadig vergaan. Gemeenskappe gaan wêreldwyd toenemend na hulself omsien, wat ook vir ons geleenthede skep om onderling te skakel en brûe te bou.
  • Eie veiligheid moet opgeskerp word. Gemeenskapsveiligheid behoort nie net tydens ’n krisis ’n prioriteit wees nie. Daar moet hierop voortgebou word en veral in Suid-Afrika moet gemeenskappe besef dat ’n volk net homself kan red, soos Vader Kestell gesê het. Dit sluit in dat mense na hul eie veiligheid moet omsien. Dit kan veral noodsaaklik wees indien onluste weens ekonomiese druk toeneem.
  • Veral Afrikaners het ’n inspirerende geskiedenis van selfhelp. Die Helpmekaar Beweging van die vorige eeu en die werk wat die Solidariteit Beweging vandag doen, is die beste voorbeelde hiervan. Wêreldwyd kan mense by Afrikaners leer as dit by selfhelp kom. Afrikaners is nie bakhandmense nie. Die gesegde “’n Boer maak ’n plan” het nie per ongeluk ontstaan nie. Dit is ’n sterkpunt wat Afrikaners – en ook ander gemeenskappe – moet aanwend. Ons mag maar aan ons eie kant wees en as ons onsself nie help nie, gaan niemand anders dit doen nie.
  • Globalisering kan in ons guns aangewend word. Die beskikbaarheid van tegnologie om internasionaal te skakel, skep baie geleenthede. Dit maak dit ook makliker om netwerke met toonaangewende internasionale rolspelers te bou en ons eie saak internasionaal te verpak, wat die plaaslike magsbalans (om die ANC se term te gebruik) in ons guns kan beïnvloed.
  • Ons moet die gapings identifiseer en ons aksieplanne daarby aanpas. In soverre die regering en die regerende party herprioritiseer, gaan daar nuwe uitdagings en nuwe geleenthede na vore tree. Gapings wat tans bestaan, gaan waarskynlik gevul word. Nuwe gapings gaan as gevolg hiervan geskep word. Ons moet ons eie aksieplanne hierby aanpas.
  • Belasting moet nou as hefboom aangewend word. Die regering se sosialistiese DNA gaan nie verander nie en die NDR sal voortgaan. Daar is egter een groot probleem: Om hierin te slaag is hulle van belastinginkomste afhanklik. Om belasting te boikot, is nie so eenvoudig nie, maar ons moet ook besef dat ons ’n sterk hefboom in ons hand het om druk toe te pas dat die regte besluite geneem word – of dan ten minste om ’n paar verkeerde besluite te keer.
  • Ons moet werkbare, praktiese alternatiewe planne en denkraamwerke verwoord en bevorder sodat mense kan sien dat daar ander, beter moontlikhede as sosialistiese sentralisme is – en ook beter voorbeelde as China.

Hoewel dié stuk met ’n aanhaling van die siniese Machiavelli ingelui is, is dit meer gepas om dit op ’n positiewe noot af te sluit. Daar is inderdaad groot uitdagings en ook groot rede om terneergedruk te voel. Die geskiedenis is egter vol sulke voorbeelde. Elke generasie het sy eie uitdagings en hierdie is maar net een van die baie uitdagings wat ons in ons lewens gaan beleef (of reeds beleef het). In tye soos dié is dit belangrik om kop te hou. Ons moenie naïef wees nie, maar dit is belangrik om versigtig optimisties te bly. Die Harvard-professor in ekonomie en geskiedenis, David Landes, het dit perfek opgesom:

In this world, the optimists have it, not because they are always right, but because they are positive. Even when they are wrong, they are positive, and that is the way of achievement, correction, improvement, and success. Educated, eye-open optimism pays.

  • Ernst Roets is hoof van beleid en aksie by AfriForum. Volg Ernst op Twitter by @ErnstRoets

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Dankie Ernst vir hierdie weldeurdagte mening. Op jou versoek van wat doen ons na die krisis , die volgende: 1)Ek dink ons het hier op sy ergste, met ‘n erge griep te doen. Ja daar gaan mense sterf maar nie meer as in vorige soortgelyke gevalle nie. Ons het dus oorreageer deur te vroeg en te te streng die grendelgreep toe te pas. As daar ‘n slang in jou kombuis is kan jy die slang doodmaak deur die huis af te brand maar dit is nie die eerste of enigste opsie nie. Les nr 1 : Moenie panniekerig raak en… Lees meer »

Marius

Vervolg: Die besluite tydend grendelgreep is geneem met “worst case scenario” van Korona en “best case scenario” van ekonomiese gevolge. Planne wat in Europa werk gaan nie noodwendig in Afrika werk nie. Plakkerskampe is nie geskik vir isolasie nie. Organisasies soos Afriforum moet weens hul bewese rekkord, deel wees van krisisbestuur. 3)Hoe kom ons hier uit? Lig die grendelgreep so gou as moontlik of verslap beperkings dramaties sodat kwesbares beskerm bly en rissiko’s beperk word maar die ekonomie nie doodbloei nie. Kry die skole en universiteite aan die gang. Dit is worsmasjiene wat nie mag verstop nie. 4) Sorg eers… Lees meer »

Marius

Vervolg bl3: Die Staat moet maar die geld by IMF gaan leen want self gaan meeste mense nie gou weer op die been kom nie. Afriforum moet primer omsien na sy lede en hul grootste nood. Charity begins at home. Afriforum is nie ‘n liefdadigheidsorganisasie nie. Hul is in die eerste plek daar om onbeskaamd hul lede se belange voorop te stel. Waarom anders betaal hul ledegeld. As daar genoeg geld is kan alle behoeftiges natuurlik gehelp word. As die basiese behioeftes aangespreek kan word sal ons weer opstaan. Baie ander gemeenskappe is nie so gelukkig om ‘n Afriforum of… Lees meer »