Onthou vir oom Paul – hy was ʼn rots

Paul Kruger (Argieffoto)

ʼn Groot figuur

Op Krugerdag, 10 Oktober 2023, is dit reeds 198 jaar sedert die geboorte van Paul Kruger. Interessant hoe sterk die persoon van Kruger en die herinneringe van Kruger steeds leef en oor gepraat en geskryf word.

Wanneer die Krugergenootskap 10 Oktober 2023 vir Krugervieringe by die Krugergraf (Pretoria-Wes-begraafplaas) bymekaarkom, is dit reeds 84 jaar ononderbroke wat kranse gelê word op sy graf en in die Krugerkerk bymekaar gekom word.

Zietsman[1] beskryf Paul Kruger as “die grootste figuur in die geskiedenis van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) – ʼn man wat in die middelpunt van elke krisis en triomf van dié struikelende en opkomende Boerepubliek gestaan het”.

“Kruger het ʼn legende onder sy volk geword. Hy het saam met sy volk geleef en hom vrylik onder hulle begewe, sonder baie pligplegings – en dit het hom geliefd gemaak by sy mense.”[2]

Daarom is dit nie vreemd dat in menige huise na die afsterwe en begrafnis van Paul Kruger ʼn portret-afdruk van Paul Kruger gehang het met die woorde:

“Zijn Stof ruste in Vrede en Zijne Werken volgen Hem na.”[3]

In kort: oom Paul word onthou. Jaar vir jaar. Die beleid van die Krugergenootskap oor die 84 jaar is om te beklemtoon – Kruger word nie vereer nie, maar dit waarvoor hy gestaan het. Dit is vryheid en onafhanklikheid. Die bedoeling van hierdie artikel is nie om klem te plaas op Kruger nie (daaroor is daar reeds baie geskryf), maar om so ʼn bietjie te fokus op die onthou van die onthou.

Die onthou van die onthou

Toe president Steyn ʼn krans lê by die graf van Paul Kruger was daar veelseggende woorde op, in Nederlands aangehaal, 2 Timoteus 4:7: “Ik het den goeden strijd gestreden, ik heb den loop geëindigt, ik heb het geloof behouden.” [4]

Kruger se lewe was verby, maar sy werk leef voort. Hy het die stryd gestry, die geloof behou. Met die onthulling van die Krugerbeeld in 1925 sê Jan Smuts dat Kruger sal voortleef as die grootste figuur uit die heldeperiode van die geskiedenis van Suid-Afrika. Wat Smuts getuig het, is presies wat in praktyk gebeur.

Kruger word onthou. As een van die grootstes. Van reeds net na sy dood was dit nie vreemd dat Kruger se volk onthou het wie hy was nie. Kransleggings, praatjies, geleenthede is spontaan georganiseer op verskeie plekke en Kruger as pa, as volksvader, as gelowige, as leier, as kommandant en as president is opgeroep in die gedagtes en vertellings van sy mense.

Henri des Houx, voer in April 1901 ʼn onderhoud met Kruger in sy hotelkamer. Sy indruk was soos volg[5]:

“Hierdie Bybel onder die verminkte hand (verwysende na Kruger se duim wat hy in sy jongdae verloor het toe ʼn geweer ontplof het), hierdie geloof wat hom soos ʼn vlam versprei, verklaar die heldhaftigheid van die Boere. Kruger is nie verfynd nie, hy is ʼn gewyde figuur, ʼn godsdienstige en politieke leier, maar ook ʼn staatsman wat beveel en wat gehoorsaam word.

Ek was nog nooit so ontroer nie as juis in hierdie eenvoudige hotelkamer, vlak voor hierdie banneling. Die pen kan nie die oortuiging van Kruger, die bondigheid en kleurrykheid van sy segswyse, uitdruk nie. In Paul Kruger, meen ons, erken ons ʼn oorblyfsel van daardie ou helde wat gelyk misties en prakties was, voortbestem tot wonderwerke van wilskrag en geduld.”

Daarom is dit nie vreemd dat oom Paul onthou is en onthou word nie. En dit is mooi as ʼn mens ʼn  bietjie nadink oor die onthou van die onthou. By sy begrafnis, natuurlik, met die onthulling van die Krugerstandbeeld by die stasie, op die Kerkplein en deur die jare tot vandag.

Die onthou van 1954

ʼn Mens hoef maar net deur die Gedenkprogram van 1954 te blaai wat handel oor die onthulling van die Krugerstandbeeld (8-11 Oktober 1954) om te sien hoe Kruger 50 jaar na sy dood onthou is.  Tydens die onthulling van die Krugerstandbeeld was daar ʼn historiese optog, boeresport, konserte, ʼn huldingsfunksie, ʼn gesamentlike kerkdiens, klokkespel en ʼn kranslegging wat alles net getuig het van een ding – ons onthou.

Die onthullingsplegtigheid self was indrukwekkend en ʼn storie op sy eie. Die mense van Pretoria het uitgeroep – ons onthou!

Die onthou van Paul Kruger gaan nie die eise van die tyd verby nie – elke keer word hy onthou binne die uitdagings van ʼn bepaalde tyd[6]:

  • In 1947 volg ʼn optog deur die strate van Pretoria en word die kranslegging gedoen in die Stasieplein. Die fokus is op onthou en leef, ongeag ons tyd en die uitdagings van ons tyd.
  • In 1983 is die boodskap baie sterk – dit is ʼn 100 jaar na Kruger die eerste keer staatspresident geword het. Ons moet put uit sy geestelike krag, morele moed en standvastigheid. Sodoende sal ons respek en agting van vriend en vyand afdwing. Die grondslag van sy staatskundige opvattinge was die soewereiniteit van God. Dit mag ons nooit vergeet nie. So word hulle wat onthou opgeroep om te onthou – God regeer!
  • In 2005 word by die kranslegging by Kruger se graf die bywoners herinner daaraan dat hulle in die woorde van Kruger moet leef volgens “die ewige beginsels van God se Woord”.
  • Met die viering van Krugerdag in 2008 word gevra – Hoe ver het die Here al u oortuiginge, u oordele, u kennis, u lewenswandel geslyp deur u voortdurende en volgehoue bestudering van die Bybel? Daar word gewaarsku teen die dwalinge van die tyd.
  • In 2009 word gewys op die krag van gebed en Kruger se gebede word uitgelig as sy geloofsverhouding met God en hoe ons dit in herinnering moet roep.
  • In 2013 word hulle wat onthou opgeroep tot eenheid van krag en denke en word gewaarsku op die gevaar van veg en verdeel. Kruger as seun van die Groot Trek en sy mannemoed word uitgewys as simbool van moed en vooruitgaan.
  • So lees ʼn mens in die Krugerdagprogram van 2020 oor die Covid-19-virus wat ook Suid-Afrika lamlê, ʼn mens lees van politieke onreg, ʼn mens lees van ekonomiese onsekerheid. Maar jy lees ook daar van laat ons Kruger onthou en die krag van sy tyd en vorentoe bou.
  • So lees ʼn mens in die Krugerdagprogram van 2022 oor misdaad en korrupsie, maar ʼn mens hoor ook een ding – vorentoe…

Bogenoemde is enkele voorbeelde. So was dit die afgelope 84 jaar met die kransleggings en die afgelope 119 jaar sedert Kruger se dood. Hy was ʼn besondere begenadigde en sy mense het dit nie vergeet nie.

En ons vandag?

Hoekom moet ons oom Paul onthou? Was dit dan nie die Jood, Sammy Marks, donateur van die Krugerstandbeeld wat opgemerk het dat hy die verpersoonliking van die Afrikanervolk is nie.

Hy is die groot draer van die Afrikaner-gedagte. Hy is genoem “boer of all boers”.[7] Die rede hoekom Kruger so goed onthou is en onthou word is gewoon omdat hy “bemin is en geëer is as die verpersoonliking van alles waarvoor hulle en hulle vadere gely en gestry het. Hy was die hoeksteen van onafhanklikheid, hulle dierbaarste pand waarvoor hy self alles op die altaar geplaas het – die simbool van die Republikeinse gedagte waarvoor hulle deur vuur gegaan het…”[8]

Inderdaad is die era van Kruger verby met sy dood. Maar solank as wat sy nasate sy dade in gedagtenis hou en op dieselfde geloof bou en vorentoe dink, is ons nie sonder ʼn toekoms nie.[9] Juis daarom moet ons vandag steeds onthou. Ons onthou vir oom Paul en ons sal hom aanhou onthou, soos Van Oordt in 1898 reeds geskryf het:

Paul Kruger est comme un roc[10] (Paul Kruger is soos ʼn rots).

Bronne:

[1] P. Zietsman, Paul Kruger se laaste jare. 1899-1904. 2006. Pretoria: Bienedell Uitgewers. p. 3.

[2] KRUGER, C. 1999.  Anglo-Boereoorlog 1899-1902: Die wat, waar, wanneer en wie van die Boere se stryd. Uitgegee deur FAK, Lynnwooddrif. Kaapstad: ABC Boekdrukkers. p.59.

[3] Populêre potret wat in massas gedruk en versprei is. Aanhaling van potret uit privaat versameling JG Noeth.

[4] P. Zietsman, Paul Kruger se laaste jare. 1899-1904. 2006. Pretoria: Bienedell Uitgewers. p. 116.

[5] P. Zietsman, Paul Kruger se laaste jare. 1899-1904. 2006. Pretoria: Bienedell Uitgewers. p. 84 – vertaal en weergegee deur P. Zietsman.

[6] Krugergenootskapdagprogramme. Privaatversameling. JG Noeth.

[7] BREYTENBACH, J.H. 1954. Geskiedenis van die Krugerstandbeeld.  Pretoria : Krugergenootskap. P. 5.

[8] BREYTENBACH, J.H. 1954. Gesiedenis van die Krugerstandbeeld. Pretoria: Krugergenootskap. P. 9.

[9] NOETH, JG. 2020. VOORWOORD, Krugerdagprogram.  Krugergenootskap.

[10] VAN OORDT, JF, 1898.  Paul Kruger en de Opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek.  P. 798

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

FM ·

Eie aan die mens. Raak dit ongemaklik, hol jy weg. Skuus hoor, ek verskil breed van hierdie “helde” vereering. Vandag se nasie jaag erg aan en bedank sodra hul uitgevang word. Selfde.

Net ons Verlosser het vrywillig sy lewe bir ons gegee.

annie ·

Wat uit die Afrikanergeskiedenis blyk is dat die godsdienstige aspek deurentyd op die voorgrond was. Nie soos nou waar geloof in die Vaderhand ontbreek asook ‘n vaste vertroue dat Hy die Afrikaners sal help en beskerm en onderhou deur dik en dun. Deesdae word godsdiens as ouderwets en onnodig gereken by feeste selfs geskiedkundige byeenkomste. Moedhou en vaste geloof in die Vader as Helper word skaars kenmerke by ons jonger mense en selde vermeld.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jonger Afrikaners kyk na hul sukkelende ouers en grootouers en vra wat het die getroue kerkbywoning hulle in die sak gebring. Hulle is skepties en dit gaan nie verander nie.

George ·

Dit en, kyk hoe tree die “chrisine” op in vandag se tyd. Dis eff dit en eff dat en slaan mekaar bewusteloos in parkeer areas, en dan direk daarna sit hul op facebook n gebed en versie op.

Truman Burbank ·

Is dit nou dieselfde “oom paul” wat saam met kwien vicki tee gedrink het? Hand om die blaas met die royaty

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.