Oor verwysings na God as vroulik: Wanneer ons die Kerkgeskiedenis hoor

Deur prof. Alwyn Swanepoel

Bybel-op-klip

Foto: Aaron Burden/Unsplash.com

Ons almal het filters en selfs ’n selektiewe geheue as dit kom by geskiedenis. Die groot vrae is egter wat jou filters is, wat jy verkies om te onthou en waarom dit belangrik is. Hiermee help die Kerk en die groot beslissings wat geval het.

Die kerkvaders praat anders

In hul beslissings moes die Kerk dikwels na meer as een kant toe maan. Soms moes die Kerk die mensheid van Christus onbeskaamd bely (vgl. die Apostoliese geloofsbelydenis) en soms die Godheid van Christus (vgl. die Geloofsbelydenis van Nicéa). Dit is egter opmerklik dat in beide genoemde belydenisse wat later deur die Kerk as algemeen aanvaar is, daar geen skroom was om die eerste persoon van die Drie-eenheid as Vader te bely nie. In lyn met die latere besondere belydenisskrifte, is aanvaar dat God homself openbaar om in Christus as Vader aangeroep te word. In hierdie verband is dit nodig om in die besonder na die Gnostisisme te verwys.

Die Gnostisisme as skaduwee

In ’n vorige skrywe is reeds na die liberale godsdienshistorikus, Elaine Pagels, se herwaardering van die Gnostiese geskrifte verwys. Sy merk tereg op dat die vroulike simboliek oor God baie minder sentraal voorkom in die Bybel as in die omringende kulture. Sy is ten minste eerlik daaroor en vind daarom eerder in die Gnostiese evangelies duidelike bewyse van vroulike metafore vir God. Sy meen dat dit bloot deur oorwinnaars se magspel uit die kanon uitgeskuif is. Hierdie Gnostiese evangelies, wat eintlik met heidense spiritualiteit vermeng is, moet daarom volgens Pagels as gewaardeerde alternatief weer hul regmatige plek vind. Sy is agterdogtig oor die eerste vier eeue van Kerklike beslissings. Dit is duidelik dat Pagels met definitiewe vooroordele werk wat uiteindelik selfs haar eie uitsprake ondermyn. As alle beslissings net magsuitoefening is, waarmee is sy dan besig?

Die Kerk het egter met rede die dwaalleer van die Gnostisisme afgewys. Iemand soos Peter Burfeind (Gnostic America) toon vandag oortuigend aan hoe springlewendig hierdie neiging in die modernisme en postmodernisme voortgesit word. Dit werk ’n soort vergeesteliking van Christenskap in die hand waarin grense verdwyn, die gevoelsmatige en subjektiewe belewenis voorrang kry en waar konkrete aardse werklikhede na die agtergrond skuif. Burfeind meen byvoorbeeld dat die beklemtoning van die vroulike kant in ons spiritualiteit een van die handelsmerke van die moderne Gnostisisme is.

Wat maak ons dan met die voorbeeld wat soms gegee word van ’n bepaalde kerkvader soos Klemens? Volgens sommige het hy reeds gewys op die verwysing en benaming van God as vroulik. ’n Eerste antwoord sou wees om te vra wat Klemens werklik in konteks gesê het. Het hy bloot die vrou as beeld van God as analoog gebruik om ons iets beter te laat verstaan van wie God is, of wou hy konsekwent iets meer doen? Dit sou daarom ook gevra kon word wat sy eie trajek en frekwensie hieroor was en of dit as ’n deurlopende tema by hom aangemerk kon word. Verder sou dan gevra moes word of dit ’n getroue lyn in die kerkvaders verteenwoordig, al dan nie. Indien wel, sou veral die eerste konsilies (kerkvergaderings) se beslissings tog blyke hiervan gee. Die verwysings na God as Vader in die groot belydenisse, spreek tog boekdele hieroor.

Analogiese spreke oor God[1]

So gepraat van kerkvergaderings: By die Vierde Lateraanse Konsilie (1215) het ’n belangrike beslissing plaasgevind met betrekking tot ons stamelende spreke oor die lewende God wat ons verstand en ons woorde te bowe gaan: “Daar kan nie ’n ooreenkoms (hoe groot ook al) tussen die Skepper en die geskapene wees sonder dat daar nie ook ’n groter wordende verskil tussen hulle uitgewys kan word nie.”

Hiermee is daar reeds gedurende die hoë Middeleeue belangrike bakens aangedui oor hoe ons in ons spreke oor God moet waak teen die eenduidige denke wat wil maak asof God presies net dit is wat ons woorde van Hom sê (byvoorbeeld manlik). Andersyds moet ons ook teen die meerduidige denke waak wat maklik voorgee asof God hoegenaamd nie is wat ons woorde oor Hom sê nie (byvoorbeeld dat dit nie belangrik is dat Hy as Vader en nie as Moeder geopenbaar is nie). God openbaar Homself dus werklik in sy Woord, maar op so ’n wyse dat ons moet besef dat Hy nog meer so is as wat die aardse beeld en taal oor Hom praat.

Met die sogenaamde filosofiese taalwending in die twintigste eeu, het die taalfilosofie opnuut gevra wat taal doen wanneer ons oor God praat. Veral die kwessie van metafore het sterk aandag gekry en ook in ons land het dit in die gedoseerde teologie, veral sedert 1986, nie uitgebly nie. Hier kan net kortliks daarop gewys word dat die Kerk se genoemde klassieke antwoord baie beter verwysingspunte bied as die onlangse toevlug tot “metaforiek” in die teologie. Een van die basiese probleme met die hedendaagse beklemtoning is dat metafore so meerduidig hanteer word, dat daar nie meer trou gebly is aan die analogiese benadering nie. Metafore is so oorbeklemtoon dat dit in ons dag die doel, in plaas van die middel tot die doel, geword het. Sodoende word metafore, ironies genoeg, juis maklik in diens van heersende agendas ingespan.

Die analogiese benadering is nie hieraan skuldig nie en neem die metafore van die Bybel ernstig op. Dit beteken dat metafore sin maak binne ’n baie spesifieke Bybelse verstaansraamwerk. Indien jou raamwerk oor metafore egter veronderstel dat mense in Bybelse tye bloot oor God vanuit hul eie kultuur gepraat het, sal jy maklik swig vir dit wat meer as een moderne teoloog in ons dag sê: dat mense se verstaan van God verander soos wat veranderinge in hul kultuur plaasvind en dat ons daarom nou ander metafore moet skep om sin te maak van ons ervaring. Die genoemde leer van die analogie help ons egter om die metafore wat ons in die Bybel vind, met respek te hanteer. Dan sien ons in dat ons metafore ingebed moet bly in hoe dit hanteer word in die geheel van die Bybel waar die betekenis gerig word en binne bepaalde grense aangroei, op pad na ’n definitiewe heerlike einde. Sodoende bly die verdiepende misterie van Bybelse metafore binne die regte bane en word die einddoel van ’n sentrale manlike metafoor soos Vader en Bruidegom tot in Openbaring beter waardeer.

Maria, ’n moeder-God? 

Die saak oor vroulike beelde moet ook noodwendig daartoe lei dat ons kortliks nagaan wat oor Maria in die geskiedenis gesê is. Sonder om noodwendig saam te stem, moet ons wel poog om so eerlik as moontlik met die feite om te gaan. In die Christelike tradisie, insluitend dié van die Rooms-Katolieke Kerk, word Maria voortdurend as skepsel hanteer en nooit op dieselfde vlak as die drie-enige God beskou nie. Daarom sal diegene wat aan Maria ’n besondere plek wil gee, eerder verwys na die verering as na die aanbidding van Maria. Die aanroep van Maria word dus nie verstaan as op dieselfde vlak as God nie, maar eerder soos wat iemand ’n gelowige sou vra om vir hom te bid. Die aanroep van en toewyding aan Maria word nie hier goedgepraat nie. Tog moet ons raaksien: Hoewel Maria, kragtens die vleeswording van Christus, in sekere tradisies as die “moeder van God” beskou word, word die grense na ’n soort moeder-God nie oorgesteek nie.

Gevolgtrekking

Die trajek van die ortodokse Kerklike beslissings wys duidelik in die rigting dat die belydenis dat God openbaar word as Vader, Seun en Heilige Gees onopgeefbaar is. Om daarom na God as “haar” en as “moeder” of ouer te begin verwys en Hom só aan te roep, is nie aanvaarbaar nie, ook wanneer dit gedoen word vanweë slegte ervarings met mans. Dit vererger net die probleem en trek mense weg van die geloof wat eenmaal oorgelewer is. Die Woord en tradisie kon nog altyd hard en duidelik teen mans se afvalligheid spreek. Dit is presies wat ons Vader doen en sal doen wanneer mans sy beeld verwring.

Die Kerk behoort dit ook vandag te doen, maar dan op ’n heel ander wyse as om God “haar” en “ons Moeder” te begin noem.

  • Hierdie is ’n verkorte weergawe van die oorspronklike artikel. Lees gerus die volledige artikel op die AP Kerk se webtuiste.

Lees gerus die eerste twee artikels in die reeks van vier, hier.

[1] Om gedeeltelike ooreenkomste tussen twee dinge, wat in ander opsigte verskillend is, uit te wys.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Drikus ·

Goeie agtergrond, waardeer die artikel deur prof. Alwyn Swanepoel

Wessel ·

Die standaard wat saak maak is, wat God se in sy Woord oor die aangeleentheid. Menslike opinies is eintlik irrelevant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.