Ou wonde weer oop in konflik tussen Israel en Palestyne

(Foto: ANAS BABA/AFP)

Gedurende September 2020 is ʼn ooreenkoms tussen Israel en twee Arabiese lande, Bahrein en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), by die Withuis in Washington D.C. onderteken. Daarna het nog twee Arabiese lande, Soedan en Marokko, ook verhoudinge met Israel genormaliseer.

Vroeër vanjaar was die internasionale konsensus dat hoewel ʼn langtermynoplossing nog vir die geskil tussen Israel en die Palestyne gevind moet word, Israel se posisie in die Midde-Ooste toenemend normaliseer en dat die Palestyne groter verantwoordelikheid sal moet neem om uiteindelik vrede met Israel te kan sluit. Die afgelope paar dae se konflik tussen Israel en die Palestyne, die ergste in baie jare, het egter die vraag laat ontstaan of die dekades lange stryd weer tot ʼn volskaalse oorlog en selfs die destabilisering van die groter streek aanleiding kan gee.

Die konflik tussen die Palestyne en die Jode het grootliks sy oorsprong in die oprigting van die moderne Joodse staat, Israel, in 1948. Hoewel die gebied waar Israel, die Wesoewer en die Gasa-strook vandag geleë is, oor die eeue heen deur Jode, Moslems en Christene bewoon is, is die meer onlangse konflik nie soveel ʼn historiese konflik nie, maar eerder ʼn moderne stryd om grondgebied en beheer van belangrike historiese en selfs heilige plekke.

Oor die eeue heen is die gebied waar die Palestyne en Israelies vandag woon, deur Jode, Christene en later Moslems beset. Dit was egter vir die grootste deel van die geskiedenis ʼn ylbevolkte gebied. Selfs in 1922 toe die Britte ʼn sensus in die gebied gedoen het, het slegs 752 048 mense daar gewoon, waarvan 660 000 Arabiere (Moslems en Christene), 83 790 Jode en 7 617 van ander etniese groepe was.

Voordat Brittanje ná die Eerste Wêreldoorlog beheer oor die gebied gekry het, was dit deel van die Ottomaanse Ryk en is dit binne die Ottomaanse Ryk saam met die hedendaagse Sirië bestuur en beheer. In die geskiedenis was Jerusalem – hoewel ʼn belangrike stad vir Jode, Christene en Moslems – slegs twee keer die hoofstad van die gebied en dit was tydens die Bybelse tyd. Jerusalem was die hoofstad tydens die Eerste Tempel-tydperk (1200 tot 586 voor Christus). In 586 voor Christus is die stad egter deur Nebukadnesar verower; die Joodse tempel is verwoes en Jerusalem het deel van Babilon geword.

Jerusalem was weer ʼn Joodse hoofstad tydens die Tweede Tempel-tydperk (586 voor Christus tot 70 ná Christus) met die terugkeer van Jode uit ballingskap in Babilon. Die tweede Joodse tempel is gedurende hierdie tyd in Jerusalem gebou, maar dit is in 70 ná Christus deur die Romeine verwoes. Vandag is slegs die westelike muur van dié tempel nog sigbaar. Op die terrein van die Tweede Tempel het die Moslems wat die gebied in die sewende eeu beset het, ʼn moskee, die Al-Aqsa-moskee, wat vandag nog daar staan, gebou.

Tydens die lang beheer oor die gebied deur verskeie Arabiese groepe en uiteindelik die Ottomaanse Ryk is Jerusalem nooit as ʼn belangrike hoofstad ontwikkel nie en het daar ook nooit grootskaalse vestiging van mense in die gebied plaasgevind nie.

Gedurende die tweede helfte van die negentiende eeu het Jode uit veral Europa hulle stelselmatig weer in die gebied begin vestig. Teen 1882 het daar slegs 21 000 mense in Jerusalem gewoon waarvan breedweg 9 000 Jode, 7 000 Moslems en sowat 5 000 Christene was. Teen 1922 met die Britse sensus was dit 34 000 Jode, 13 400 Moslems en 14 700 Christene.

Hoewel Jode reeds sedert die 1800’s stelselmatig na die gebied, hul historiese tuiste, begin emigreer het, was dit veral die Balfour-verklaring in 1917 deur die Britse minister van buitelandse sake, Arthur Balfour, waarin die regering van die Verenigde Koninkryk hom tot die ontwikkeling van ʼn Joodse tuiste in die Palestynse gebied verbind het, wat tot ʼn groot instroming van Jode in die gebied aanleiding gegee het. Gedurende die 1920’s en 1930’s het hierdie instroming voortgeduur, en die Tweede Wêreldoorlog en Joodse volksmoord in Europa het tot die dringendheid hiervan bygedra.

Die vestiging van meer Jode in die gebied het tot groeiende konflik tussen Arabiere en Jode gelei. Gedurende 1947 het die Verenigde Nasies as oplossing vir die konflik voorgestel dat die gebied in twee aparte onafhanklike lande verdeel moes word, naamlik ʼn Joodse Israel en ʼn Palestynse staat vir die Arabiere (Moslems en Christene) wat ook in die gebied gewoon het.

Die gebied wat in 1947 aan die Arabiere gegee sou word, is veel groter as die gebied waarop die Palestyne vandag woon. Arabiese lande het egter negatief op die VN se voorstel gereageer en het die gebied uit Egipte, Jordanië en Sirië binnegeval. Die Jode het die oorlog gewen en die Israeliese staat is gebore.

Die probleem vir die Palestyne was dat daar nooit regtig ʼn Palestynse volk bestaan het nie. Die verwysing na Arabiere in die gebied as Palestyne het tydens die Ottomaanse era ontstaan, maar het nooit verwys na ʼn spesifieke kultuur en identiteit nie. Dit het eerder verwys na alle Arabiere wat in die gebied wes van die Jordaanrivier gewoon het.

Ná die totstandkoming van Israel het Egipte die Gasa-strook geannekseer en Jordanië die Wesoewer omdat hulle in beide gevalle gevoel het dat hierdie gebiede by hulle tuishoort.

Die stryd teen Israel en Joodse besetting het dus meer gegaan oor Arabiese beheer oor die gebied as oor die oprigting van ʼn Palestynse staat. Die oprigting van ʼn Palestynse staat is nooit deur Arabiese lande in die gebied voorgestel nie en het eers ná die Sesdaagse Oorlog tussen Israel en Egipte, Jordanië en Sirië in 1967 ʼn voorstel geword wat ook deur Arabiese lande voorgestel en ondersteun is. Voor dit was die Arabiese lande se hoofdoel om te voorkom dat Joodse besetting in die gebied plaasvind en ʼn volhoubare Joodse staat opgerig word.

(Foto: MOHAMMED ABED/AFP)

Sedert die einde van die oorlog in 1967 het talle onderhandelinge plaasgevind, is verskeie akkoorde gesluit en het daar oor die jare heen gereeld konflik en selfs oorlog uitgebreek tussen Israel en die Palestyne wat deesdae in die Gasa-strook, die Wesoewer en enkele dorpe in Israel woon.

Die belangrikste redes waarom volhoubare vrede tot nou toe nie moontlik was nie, is die verdeelheid onder die Palestyne, die politieke agendas van verskeie rolspelers aan beide kante van die stryd, enkele blykbaar onversoenbare geskilpunte oor die beheer van belangrike stukkies grond in veral die ooste van Jerusalem en dele van die Wesoewer, en die afgelope 27 jaar die opkoms van Hamas, ʼn terreurgroep wat deesdae die Gasa-strook regeer.

In Julie 2000 het die Israelies en Palestyne met die bemiddeling van president Bill Clinton by Camp David in die VSA ontmoet. Israel was bereid om belangrike toegewings te maak, en op die punt toe die VSA oortuig was dat ʼn ooreenkoms bereik is, het die Palestyne onder leiding van Jasser Arafat egter geweier om daartoe in te stem. Clinton hou sedertdien vol dat die mislukking van die onderhandelinge voor die deur van Arafat gelê moet word en dat Arafat nooit werklik van plan was om tot ʼn ooreenkoms in te stem nie.

Sedert die onderhandelinge in 2000 was daar nog pogings deur Clinton se opvolgers, sowel as deur die Verenigde Nasies, maar die verdeelheid onder die Palestyne het toegeneem en geen konsensus bestaan meer oor wie vandag namens die Palestyne kan praat nie omdat die Gasa-strook deur Hamas en die Palestynse gebiede in die Wesoewer deur die Palestynse Owerheid beheer word.

Vir die meeste Arabiese lande in die streek gaan dit oor die beskerming van die regte van mede-Arabiere, asook die behoud van beheer oor sogenaamde heilige gebiede soos dié in Oos-Jerusalem. Die meeste Arabiese lande wil egter ook sien dat die streek ekonomies vooruitgaan, en dit is waarskynlik die hoofrede waarom soveel Arabiese lande die afgelope tyd hul verhoudinge met Israel genormaliseer het. Saam met die normalisering van verhoudinge met Israel, kom ook sterker bande met die VSA wat vir lande soos Marokko, Egipte, Jordanië, Bahrein en die Verenigde Arabiese Emirate van groot belang is. Selfs Saoedi-Arabië mag in die afsienbare toekoms sy verhouding met Israel om hierdie rede normaliseer.

Die huidige konflik tussen Israel en die Palestyne het sy oorsprong in die vestiging van Jode in betwiste dele van die Wesoewer wat, onder meer, tot die uitsetting van Palestyne uit hul huise aanleiding gegee het. Die vraagstuk oor Israel se besetting van die Wesoewer, die vestiging van al hoe meer Joodse nedersettings in die Wesoewer en Palestyne se eiendomsreg, is ʼn saak wat dringend deur onderhandelinge hanteer moet word en waarin oorsese lande ʼn belangrike rol kan en moet speel.

Palestyne in Jerusalem en die Wesoewer het die saak verlede week verder op die spits probeer dryf deur ʼn protesaksie by die Al-Aqsa-moskeekompleks. Die Israeliese polisie en weermag het hardhandig daarop gereageer en ernstige geweld het by die kompleks uitgebreek.

Die Palestyne in die Gasa-strook, en spesifiek Hamas, se reaksie op die gebeure in die Wesoewer en by die Al-Aqsa-moskee in Jerusalem was egter om meer as 1 500 vuurpylaanvalle op burgerlike teikens in Israel van stapel te stuur. Dit is niks minder as ʼn daad van terreur nie, en die Israeliese weermag se aanvanklike lugaanvalle is soos wat die Amerikaanse president Joe Biden tereg gesê het, moreel regverdigbaar. Die feit dat Hamas steeds nie opgehou het met hul aanvalle nie, regverdig ook die weermag van Israel se inval in Gasa Donderdagnag.

Wat selfs nog meer kommerwekkend is, is die aanvalle en fisieke geweld wat in dorpe deur die hele Israel uitgebreek het met Jode en Palestyne wat mekaar in die strate en selfs in hul huise aanval. Dit is iets wat in dekades nie gesien is nie. Meer as 20% van Israel se bevolking is Palestynse Arabiere. Die afgelope week was die situasie in sommige dorpe en stede naby aan ʼn kleinskalige burgeroorlog tussen Jode en Arabiere.

(Foto: MOHAMMED ABED/AFP)

Die huidige konflik dien dalk die belange van enkele rolspelers in die stryd tussen Israel en die Palestyne, maar dit hou geen voordeel vir die langtermynvolhoubaarheid van Israel of die Palestyne in nie. Daar is belangrike korttermyn- en langtermynstappe wat gedoen moet word om ʼn oplossing hiervoor te vind.

Die vraag oor leierskap onder die Palestyne moet opgelos word. Palestyne sal terreurdade soos dié wat deur Hamas gepleeg word, moet verwerp. Die VSA sal sy rol in die vredesproses moet herbedink en saam met ander internasionale rolspelers nuwe voorstelle oor langtermynvrede moet maak. Israel sal die vredesproses egter ook met groter erns moet benader, en dit sluit in ʼn hersiening van sy aggressiewe uitbreiding van Joodse nedersettings in die Wesoewer.

Intussen lyk dit egter of meer konflik eers sal moet plaasvind voordat vrede tussen Israel en die Palestyne moontlik sal wees. Die vraag bestaan oor wat Arabiese lande in die streek gaan doen en tot watter mate die VSA – Israel se belangrikste internasionale bondgenoot – betrokke gaan raak. Intussen kan die huidige stryd nog vir dae, selfs weke, voortduur en gaan die bloedvergieting eers toeneem voordat ʼn tydelike oplossing gevind sal word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Dirk Mostert ·

Al wat sal werk is ‘n duidelik gedefinieerde tuisland vir die Palestyne. Let wel, die Jode uit Europa is NIE etniese Israeliete nie, maar Kazars. Dis ‘n geskiedkundige feit. Hulle het geen historiese regte in Palestina nie.

Hoekom ·

Die Palestyne ook nie. Die noordelike muslims(nie die arabiere vanaf die Saudi woestyn nie) se voorouers kom uit dieselfde omgewing as die Kazars, ook ‘n historiese feit…

earlofswirl ·

Meer as 65% van Joodse Israelis se ouers kom vanaf Arabiese lande, die lande het hulle burgeskap aan hulle ontrek en al hulle besittings gevat, nadat Israel die die oorlog in 1948 gewen het. Dirk, weet jy waar die woord palestina vanaf kom? Dit was die woord wat die Romeine gebruik het om die Jode van hulle eie land te vervreem en om hulle te onderdruk. Voorheen was die naam Judea gebruik.

earlofswirl ·

Verkeerd, 65% van alle Israeliese Jode is van Irak,Yemen,Syria,Jordan,Turkeye,Tunisie,Marokko,Algeria,Iran afkomstig. Hulle was uitgegooi uit hulle lande van herkoms na die 6 dae oorlog (Omdat die arab state die oorlog verloor het) Alle besittings was gekonfiskeer en hulle het Israel toe gekom. Alle Jode vanaf Europese herkoms kan hulle DNA toets en hulle herkoms vind uit die midde ooste.

Dries ·

Soos iemand tereg opgemerk het. Die Jode het die woestyn verander in n lushof. Die Palestyne verander n lushof in ‘n woestyn

Therese ·

Die September 2020 ooreenkoms is te danke aan president Donald Trump. Dit kon die begin van verdere suksesse in die Midde-Ooste wees as hy ‘n tweede termyn gegun was, en sou ten hemele geprys word as dit enigiemand anders as Trump was.
Geen erkenning in die wêreldmedia dat dit die kragdadige Trump-beleid was wat terroriste-bewegings soos Hamas in toom gehou het nie. Dis nie toevallig dat geweld juis nou weer losbreek nie.
As niemand dit wil sê nie, dan sê ek dit maar.

Human ·

Vinkel en koljander die een is soos die ander en nou word ‘n dooie perd weer holrug gery.

Thom ·

Wat aan trump is ” kragdadig ” behalwe sy verdraaide ego ?

Dries ·

Dankie Jaco. Ek het gewag vir jou artikel. Nou verstaan ek ook beter. Die arme Jode veg hulle lewe lank vir n onafhanklike staat. Hulle is omring deur agressiewe Arabiere wat hul dit nie gun nie. Net soos die Afrikaner aan die suidpunt van Afrika

Dries ·

As die Palistyne so vreeslik onderdruk is waar kry hulle die wapens om mee oorlog te maak

earlofswirl ·

Iran en Hezbollah smokkel wapens in met behulp van ondergrondse tonnels vanaf die Egiptiese grens. EU lande gee geld om te help om hospitale, skole en universiteite te laat bou en om mense in Gaza se lewens gehalte te verbeter. Maar die geld word gebruik om missiele te vervaardig en om ondergrondse tonnels te bou na Israel om tererur dade te pleeg.Alle geld word deur Hamas gebruik. Hamas se hoof leier bly nie eens in Gaza nie maar in Qatar. Israel het voorheen vir Gaza se mense en leiers gepleit dat as Hamas hulle wapens neerle, sal Gaza in n klein Singapore verander.

Rian ·

Die jode moet padgee. Hulle kan nie n staat vir n bepaalde geloof eis nie.

Vrijburger ·

Jy weet daar is ook Joodse ‘n etnisiteit en ‘n kultuur?

Karlahari ·

Rian moet padgee. Hy kan nie spasie vir sy ge ykte standpunt eis nie.
Die Israeliete bou. Land met hoogste Covid inentings wêreld wyd. Vooruitstrewende staat omrede hulle hulle n Godsdienstjge kultuur navolg.
Wat kan die Palestyne bewys? n Mengelmoes kardoes?

Thom ·

Die Jode is duidelik die besetters en die oorsaak van die probleem maar gee dit die Palestyne nie die reg om burgerlikes te vermoor nie .

Rian ·

Karlahari. Ek spreek my mening uit oor n internasionale aangeleentheid, en jy raak persoonlik en beledigend. En dit nogal onder n skuilnaam. Jy het n swak karakter man. Jy glo seker ook die aarde is plat.

Karlahari ·

Hallo Rian.
Karl van die Kalahari.
Snaaks hoe mense wat in die verlede leef onmiddelik alle mense wat durf waag van hulle “geleerde” opinie verskil afmaak as ongeletterd.
As die Jode nie in Israel hoort nie, hoort geen blanke in Afrika. Hoort geen afrikaan in Europa.
Geen zulu in die WesKaap…..maar agv van mense wat nie meer in hulle boksie kon bly nie het die europese beskawing wêreld wyd versprei.
En ja. Soos daar vroue en kinders in britse konsentrasie kampe dood is, is Jode in hul duisende in nazi duitse moord kampe vermoor.
Neem jy hulle kwalik dat hulle n veilige hawe gesoek het?
En nou bereid is om dit teen alle koste te verdedig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.