Outonomie dalk vir Korsika op pad

Korsikane vier Napoleon se verjaarsdagin 2006 (Foto: Steve Hedin)

Die Franse president Emanuel Macron het by ʼn onlangse besoek aan Korsika outonomie vir dié Franse eiland in die Middellandse See in vooruitsig gestel.

Dit sal weer ʼn proses van jarelange onderhandelinge wees. Eers oor ses maande sal die eerste voorstelle oor die wese van die outonomie bespreek word. Dit kan onder andere groter seggenskap vir Korsika se streeksparlement en streeksregering behels, die bevordering van die Korsikaanse taal en kultuur deur middel van belastinggeld en die simboliese erkenning van Korsika se eiesoortigheid in die grondwet.

Macron het wel beklemtoon dat die proses na outonomie deur en met die staat sal geskied en dat onafhanklikheid (anders as byvoorbeeld in Groot-Brittanje met die geval van Skotland) glad nie ʼn opsie is nie.

Die Korsikane veg al geslagte lank vir onafhanklikheid of minstens outonomie van Frankryk en die stryd is gedurig deur die Franse owerhede onderdruk. Die twee kante het egter nou nader aan mekaar beweeg nadat aan beide kante besef is dat ʼn deurbraak net deur toegewings en onderhandeling bereik kan word: die Korsikane besef dat onafhanklikheid deur middel van geweld nie haalbaar is nie; die Franse staat besef dat die Korsikaanse vryheidstrewe nooit deur middel van staatlike geweld geblus kan word nie.

Die proses van tegemoetkoming is, vreemd genoeg, aangehelp deur die dood van ʼn Korsikaanse radikale nasionalis, Ivan Colonna, verlede jaar. Colonna het lewenslange tronkstraf in ʼn Franse tronk uitgedien weens die moord op ʼn Franse prefect (die hoogste administratiewe beampte van ʼn distrik). Colonna is deur ʼn medegevangene, ʼn Islamitiese immigrant uit Wes-Afrika, erg gewurg en het later daaraan beswyk. Dit het groot ontsteltenis onder die Korsikane tot gevolg gehad, selfs onder diegene wat Colonna se daad veroordeel het. Frankryk is indirek vir sy dood verantwoordelik gehou, omdat Colonna nie in Korsika in die tronk was nie, maar op die vasteland en daar nie veilig was nie.

Die Franse regering het besef hoe plofbaar die situasie is en dat die Korsikaanse vraagstuk opgelos moet word. Dit is immers een van die laaste etniese minderhede in Europa wat nog geen noemenswaardige vorm van selfbestuur het nie. Suid-Tirool, Skotland, Baskeland, Katalonië, Noord-Ierland, om maar enkeles te noem, is al vir dekades op die een of ander wyse geakkommodeer en geniet gevorderde vorme van selfbestuur.

Frankryk is eintlik ʼn sterk sentraal georganiseerde land en het in sy moderne geskiedenis, veral sedert die Franse Revolusie, uit verskeie sterk streeksidentiteite en -tale ʼn verenigde Franse volk geskep. Die Korsikane, ook weens hulle posisie as eiland, het hulle egter nog altyd daarteen versit en die Franse as veroweraars en besetters waargeneem. Onder die Korsikane is die hele spektrum van sentimente oor die graad van selfstandigheid verteenwoordig: van die militante onafhanklikheidsvegters van die Front de la Liberation National de Corse (FNLC) tot die meer gematigde voorstanders van beperkte outonomie en selfs diegene wat die status quo verkies.

Daar is egter min inheemse Korsikane wat hulle net as Fransmanne sien en geen vorm van selfbeskikking vir die eiland wil hê nie. Aan die ander kant is die meerderheid Franse teen die toekenning van outonomie aan Korsika, of aan enige ander streek, gekant omdat die vrees bestaan dat dit die nasionale samehang en territoriale integriteit skade aandoen. Soos ʼn mens in Spanje en Brittanje kan sien, wakker die toekenning van outonomie gewoonlik eise vir meer aan. Reeds in die 1980’s het die Franse staat met die skeppings van regions (streke), wat egter baie beperkte regte het, die sentralisme effens afgewater.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Heinrich ·

Ag ek wens so daar was ‘n ou eilandjie nog êrens vir ons mense beskikbaar met baie see tussen ons en ons onderdrukkers. Ons kan self gras sny, stryk en skottelgoed was!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.