Parys-waterkrisis wys staat kan nie langer hulp weier

Eugene Brink. (Foto: AfriForum)

2023 beloof om nog ʼn jaar van toenemende oproer te wees weens die ANC se groeiende onvermoë om te regeer en die lewensbedreigende gevolge wat daaruit spruit.

Januarie is skaars behoorlik aan die gang of die inwoners van Tumahole en Schonkenville in Parys in die Vrystaat betoog gewelddadig oor ʼn gebrek aan skoon water. Dit is onbegryplik hoe mense so lank onder ʼn beklaenswaardige regering gebuk kan gaan en aanhou stem vir ʼn party wat dit veroorsaak en derhalwe dan teen dieselfde party daaroor betoog. Maar ek dwaal af en dit is dalk eerder ʼn debat vir ʼn ander dag.

Die waterkrisis in Parys het twee dimensies: gehalte en beskikbaarheid. AfriForum se watertoetse het getoon dat die water op die dorp nie vir menslike gebruik geskik is nie as gevolg van die hoë vlakke van E. coli. Tesame hiermee loop verskeie dele deur onder nypende wateronderbrekings en sommige woongebiede het jare laas skoon water in hul krane gehad.

Daar word nie van die Ngwathe-munisipaliteit (wat Parys bedien) verwag om in elke luukse behoefte te voorsien nie. Net om skoon water te voorsien, want daarsonder sál mense siek raak, betoog en straks sterf. Daarbenewens het die beskikbaarheid en gehalte van water wyer implikasies, soos die sosio-politieke onrus wat nou in Parys plaasvind. Dit is dus veel gevaarliker om mense van goeie water te ontsê in vergelyking met die meeste ander diensleweringsaspekte.

Die munisipaliteit faal dus in hul mees basiese grondwetlike taak om skoon water te voorsien en klaarblyklik doen hulle dit boonop opsetlik weens hul versuim om hulp te aanvaar en hulle werk te doen. Daar is nou skade weens die onluste aangerig, bykomend tot die ongerief en skade wat reeds deur die gebrek aan skoon (trouens, enige) water veroorsaak is. Dit kon verhoed geword het indien die munisipaliteit hul deel van ʼn ooreenkoms wat anderhalfjaar gelede gesluit is, nagekom het. Ingevolge hiervan het AfriForum weliswaar planne om die water- en rioolwerke te verbeter, aan die Ngwathe-magshebbers gelewer. Daar is gevolglik en helaas nie daaraan gehoor gegee nie.

Daarbenewens het AfriForum verlede jaar twee dringende hofaansoeke gebring oor die tekorte en swak gehalte van die water, sowel as een in 2019. Die hooggeregshof in Bloemfontein het telkens die dringendheid daarvan verwerp. AfriForum se aandrang om dit as ʼn ramp te laat klassifiseer (en dus die uiteindelike chaos af te weer) is desgelyks verwerp.

Twee magsbene van die sogenaamde “trias politica” het dus die inwoners van Parys en inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit grof in die steek gelaat: Die munisipaliteit kom nie hul mandaat en morele plig na om voldoende drinkbare water te lewer nie en die regsprekende gesag hou hulle nie verantwoordbaar daarvoor nie. Die sogenaamde skeiding van magte is dus slegs ʼn illusie.

Die ANC het gedink om ʼn komplekse land soos Suid-Afrika doeltreffend te regeer behels bloot die toedeel van maatskaplike toelaes, wat grotendeels deur minderhede en die sakesektor betaal word, en verder kan hulle maar hulself verryk en niks in stand hou nie. Toegegee, hulle kon en het vir ʼn hele ruk daarmee weggekom. Maar hul korrupsie en onbevoegdheid het hulle en die land nou ingehaal en die inwoners van Parys – tesame met die inwoners van plekke soos Standerton, Harrismith, Witbank en Vanderbijlpark, om net ʼn paar voorbeelde te noem – betaal die prys daarvoor.

ʼn ANC-beheerde staat kan nie doeltreffend regeer nie – veral nie alleen nie. Die wil en vermoë ontbreek heeltemal en hul sosialistiese ideologie, korrupsie en magsbelustheid veroorsaak dat hulle onophoudelik misluk. Die Grondwet, beste praktyke en gewone verstand dikteer dat regerings in wese deelnemend, responsief en dus konsekwent verantwoordbaar moet wees. Veral in die Derde Wêreld – waar hulpbronne soos kennis en geld altyd geweldig skaars is – kan regerings veral nie bekostig om enige hulp te weier nie. Die ANC het egter besluit hulle wil wys hulle kan alles op hul eie doen. Die eindresultaat is onstabiliteit, geweldpleging en afwesige dienste.

Met samewerking en selfdoen is die teenoorgestelde moontlik en selfs waarskynlik. Dit is noodsaaklik dat dienslewering nuut bedink moet word. Die noodsaak van selfstandige gemeenskappe wat self dienste lewer word steeds groter. AfriForum se takke lewer reeds verskeie dienste weens munisipale verval. Die bestuur van waterwerke en die lewering van ander meer omvattende waterdienste deur gemeenskappe, hetsy deur ooreenkoms of by wyse van hofbevel, is ʼn noodsaaklikheid te midde van verval. Waterdienstebestuur en die lewering van skoon drinkwater, waar die staat nie kan of wil nie, is ʼn groot fokus vir AfriForum in 2023 en daarna.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ABDP ·

Ek is ‘n stads en streeks beplanner – die munisipaliteite het geen wil om privaat sektor goedkeuring te gee om eie dienste vir dorpstigtings of ander aansoeke te lewer nie. Dit aansoek prosesse wat jare sloer met vergaderings op vergaderings wat niks oplewer nie. Die panneel wat die besluite moet neem, kom nie eers bymekaar nie. Ek wens ons kan weet hoe om grondgebruikbestuur en dienslewering te privatiseer. Ons sit met uiters belangrike aansoeke wat van kardinale belang is wat dood eenvoudig net nie aandag geniet nie. Sodra ‘n aansoek net effentjies gekompliseerd raak, soos wat gevorderde grondgebruik ontwikkeling en vooruitgang verg, val die tor totaal en al af en blaam hulle die dan die privaatsektor dat hulle begin kanse vat. Hulle kan dood eenvoudig nie insien dit is wat vooruitgang behels….jy moet so bietjie uit die boks dink omseker nuwe dinge te maak werk. Mens kry nie ‘n net ‘n gewone tik lysie om af te tiek om ‘n aansoek goed te keur nie, jy moet biejtjie dinkwerk bysit.

Frank ·

Maak mens eintlik naar om te dink sulkes het die goedkeuringsmag en kry vet salaris maar is geheel en al onbekwaam en hele rits ander dinge

Goldy ·

Kaders het geen belangstelling, kennis of begrip van stadsbeplanning nie, en sal nooit. Onafhanklikheidonderhandelinge is laaste hoop.

Rina ·

Ek is n inwoner van Parys vir die afgelope 12 jaar en kon nog nooit kraanwater drink nie, ek koop my water by waterwinkels, in die laaste tyd sukkel ek om water in my krane te kry om te kan stort. Die water is vuil en dus kan ek nie gereeld my wasgoed doen nie. Ek het gas geysers in my huis en as die water druk so swak is kom die geysers nie aan nie en stort ek dus in koue water, ek is oud en sukkel regtig onnodig baie. Ek het besluit om my huis te verkoop en Parys te verlaat eerder. Ek glo dat ons gesaboteer word om n punt te probeer bewys hier.

Amelia ·

Parys was lank gelede (37 jaar terug) n pragtige plek Abramas rus heerlike vakansie plek Kan my oe
nie glo dit plek so vervalle geraak het nie My opinie is ook hier sit meer agter krag en water krisis mens kan gelukkig dink wat jy wil Die meerderheid moet maar ophou st4m vir anc want dit is wat jy kry as jy vir iemand stem weat nie omgee nie

MARELIZE ·

Al hierdie hofsake van Ariforum kos miljoene maar beteken niks. Die staat/regering steur hom eenvoudig aan geen hofuitspraak nie. Hoekom enigsins volhou en jul lede se ledegeld en donasies op sinnelose goed blaas. Begin eerder ‘n nuwe wateraanlegprojek en “stiek” die staat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.