Paul Kruger en die Gelderland

Die vroegste foto van Paul Kruger, as 30-jarige veldkornet, ongeveer 1855. Hy het die duim van sy linkerhand in 1846 in ’n jagongeluk verloor. (Foto: FAK)

Wie was Oom Paul?

President Paul Kruger, in die volksmond bekend as Oom Paul, is op 10 Oktober 1825 op die plaas Bulhoek, in die distrik Steynsburg, gebore. Sy volle name was Stephanus Johannes Paulus Kruger, maar van jongs af het hy as Paul bekend gestaan, omdat hy ʼn ouer broer gehad het wat ook die name Stephanus Johannes gehad het.

In 1842 (die jaar waarin hy 17 geword het) is hy voor die landdros van Potchefstroom met Anna Maria Etresia du Plessis getroud, maar sy is in 1846 oorlede. Die volgende jaar is hy met ʼn niggie van haar, Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis, getroud. Hulle het nege seuns en sewe dogters gehad.

Deur sy lewe het Oom Paul verskeie belangrike ampte beklee. Hy word egter veral onthou as vyfde president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Sy ampstermyn het van 9 Mei 1883 tot 10 September 1900 gestrek.

In 1882, toe hy nog visepresident van die ZAR was, is sy verjaarsdag tot openbare vakansiedag in die ZAR verklaar omdat hy so geliefd onder die Transvalers was. Dit het tot 1899 ʼn openbare vakansiedag gebly, en is weer as sodanig ingestel in 1952 toe dit as Krugerdag of Heldedag bekend gestaan het. In 1994 is dit as openbare vakansiedag afgeskaf.

Oorlog, ballingskap en dood

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het op 11 Oktober 1899 uitgebreek. Oom Paul het die Volksraad op 7 Mei 1900 vir die laaste keer toegespreek en op 29 Mei Pretoria vlak voor die aanstormende Britse magte verlaat. Op 5 Junie 1900 het die Britte Pretoria beset.

Teen Augustus 1900 het die oorlog in ʼn guerrillastryd ontaard. Kruger was oud en sieklik. Die Boeremagte het gevrees dat as hy deur die Britte gevange geneem word, die oorlog summier ten einde sou loop. Oplaas is besluit dat hy van Lourenço Marques (vandag bekend as Maputo) in Mosambiek na Europa sou gaan om daar steun vir die twee Boererepublieke te probeer werf.

Tannie Gezina, self toe al baie siek, het hom nie op sy seereis na Europa vergesel nie. Sy is op 20 Julie 1901 in Pretoria oorlede. Oom Paul het na Marseille, Frankryk, gereis en het daarvandaan ʼn ruk lank na Nederland gegaan. Hy is uiteindelik na Clarens in Switserland, waar hy op 14 Julie 1904 oorlede is. Sy oorskot is na Pretoria teruggebring en op 16 Desember 1904 langs Tannie Gezina s’n in die Heldeakker in Kerkstraat begrawe.

Die Gelderland, die skip wat Oom Paul moes veilig hou

Die Gelderland (Foto: AfriForum Uitgewers)

Die Gelderland was ʼn kruiser of pantserdekskip wat op 15 Julie 1900 in diens gestel is. In September 1900 het koningin Wilhelmina van Nederland die gesagvoerder van dié oorlogskip gelas om van die Rooi See na Lourenço Marques te vaar om Oom Paul aan boord te neem. Die kruiser het op 20 Oktober van Lourenço Marques vertrek. Nadat Oom Paul by Marseilles aan land gegaan het, het die skip na Nederlands-Indië gevaar, waar dit by ander skepe van die Nederlandse vloot aangesluit het.

Die Gelderland was ʼn kruiser om mee rekening te hou: Dit het ʼn bemanning van 325 gehad en was bewapen met agt middelslagkanonne (12 cm en 15 cm), 18 ligter kanonne (3,7 cm tot 7,5 cm), twee mortiere, twee torpedolanseerbuise en twee torpedokanonne.

Ná die vaart met Oom Paul aan boord, is die skip verder toegerus, onder meer met rookkappe vir die skoorstene. Dit het die bemanning aan Oom Paul se keil herinner en hulle het dit spottenderwys “de hoede van Paul Kruger” genoem.

Die Gelderland het ʼn besondere lang dienstyd gehad. Eers in 1940, tydens die Tweede Wêreldoorlog, is dit aan diens onttrek. Daarna het die Duitse besettingsmagte dit in die Oossee in ʼn drywende lugafweerbattery genaamd Niobe omskep. Daar het dit op 16 Julie 1944 tydens ʼn Russiese lugaanval gesink.

Deur al die jare is die skryftafel en stoel wat Oom Paul aan boord gebruik het, veilig bewaar. Gelukkig was dit nie meer aan boord toe die skip gesink het nie. In 1970 is dit deur die Nederlandse regering aan die Suid-Afrikaanse regering geskenk.

Ter herdenking aan koningin Wilhelmina se weldaad aan Oom Paul, is een van Suid-Afrika se kusverdedigingskepe ook Gelderland genoem. Die vaartuig was aanvanklik as die HMS Brayford bekend, maar is op 30 Augustus 1954 tot die SAS Gelderland herdoop. Dit is op 21 Desember 1988 gesloop deur dit by Duikerpunt aan die Kaapse kus te sink. Daar dien die wrak as baken vir duikers.

So loop die invloed van leiers soos Oom Paul en name soos dié van die Gelderland soos ʼn goue draad deur die geskiedenis, selfs lank ná hulle nie meer daar is nie.

Hierdie artikel is aanvanklik op AfriForum Uitgewers se webblad gepubliseer en kan hier gelees word. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Die suksesvolste propaganda rolprent in Nazi Duitsland was Ohm Krüger, ‘n erg fiktiewe verhaal oor Oom Paul en vol kwaai anti-Britse propaganda. Steeds verban in Duitsland en SA, maar darem op die internet beskikbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.