Persoonlike verskansing in onsekere tye – nuwe moontlikhede word bekyk

finansies-geld-sente-rand-beleggings

Jy kan jou persoonlike “ekonomie” teen onsekerheid verskans. Foto: Stevepb/Pixabay.com

Nota: Hierdie stuk is geskryf na aanleiding van Russell Lamberti se artikel “Lewe ná die rommelafgradering” wat in die April – Junie 2017 weergawe van die Solidariteit-ETM Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkrapport gepubliseer is.

Politieke en ekonomiese onsekerheid is voor die hand liggend. Sommige ontleders meen dat Suid-Afrika, ná die onlangse skuldafgraderings en grootbeleidsflaters, in iets soos ʼn politieke en ekonomiese “beermark” vasgevang is.

Die vet jare van die vroeë 2000’s, wat in Suid-Afrika deur hoër hulpbronpryse ondersteun is, het verstryk en ons ekonomie is verder struktureel deur swak politieke en ekonomiese beleid verswak. Ontleders voorsien min kans vir ʼn snel ekonomiese herstel. Dit beteken dat die sake-omgewing en die arbeidsmark onder groot druk verkeer.

Dinge kan natuurlik weer verbeter, maar tyd en wyl is die omstandighede waarin ons leef moeilik en onseker. Dit skep ʼn bepaalde realiteit waarin ons almal nou ons voete moet vind.

In hierdie onsekere omstandighede is dit nodig om jou persoonlike “ekonomie” teen onsekerheid te verskans. Dit beteken om doelwitte daar te stel om jou persoonlike en finansiële veerkragtigheid te verbeter. Dit is nie iets wat die meeste van ons eensklaps kan doen nie. Dit verg beplanning, die ontwikkeling van nuwe vaardighede en miskien, vir baie van ons, die aanleer van nuwe denkraamwerk.

Een ligpunt is dat daar deesdae heelwat meer opsies as in die verlede bestaan om jou persoonlike verskansing en veerkragtigheid te verbeter. Sedert die 1990’s het tegnologie en die vryemark toegetree om nuwe moontlikhede daar te stel.

Soos die dinge altyd werk sal al dié opsies natuurlik nie vir almal van pas wees nie, maar my hoop met hierdie stuk is om nie-omvattend ʼn prentjie te skets van wat deesdae moontlik is om jouself beter te verskans.

Die emigrasie-olifant

Kom ons begin by die spreekwoordelike olifant in die vertrek: die vraag oor emigrasie.

Dit is ʼn onderwerp wat by sommige van ons groot emosie en innerlike konflik ontlok. (Ek sluit myself hierby in.) Innerlike konflik en onsekerheid oor die emigrasievraag is normaal. Meeste van ons is geheg aan ons geboorteland, ons mense, ons families en ons tuiste in Afrika. Ons besef ook dat ons lewenskwaliteit in Suid-Afrika redelik is goed gemeet aan talle ander lande. Maar dan wonder ons onder meer oor misdaad, regstellende aksie en die vooruitsigte van ons en ons kinders.

Die besluit om te emigreer hang baie van individuele omstandighede af. Dit is ʼn persoonlike besluit waaroor ek voel ʼn mens nie oordeel kan fel nie.

Ons moet ook nie in die strik trap om emigrasie of hier bly as die enigste binêre opsies te beskou nie. Talle mense werk tydelik in die buiteland en keer later terug. Afrikaners wat as trekarbeiders in die buiteland werk is iets wat waarskynlik verder sal toeneem. Dit op sigself skep nuwe uitdagings vir gemeenskappe en families.

Emigrasie, as ʼn permanente stap, kom wel met groot koste en is ook ʼn komplekse besluit waarin heelwat faktore oorweeg moet word. Wat wel waar is, is dat ʼn nuwe begin in ʼn vreemde land vir meeste van ons uitdagings sal inhou. Verder is die koste op families gewoonlik hoog. Dink maar net aan die oumas en oupas wie se kleinkinders in die buiteland woon.

Die gras is ook nie altyd groener in ander lande nie; ander lande het ook hul uitdagings en probleme.

ʼn Eerlike ontleder moet wel noem dat emigrasie soms nodig is. Daar is tye in die verlede waar heelwat mense finansiële en selfs fisieke ondergang deur emigrasie vrygespring het. Dink maar aan die Jode in Nazi-Duitsland, die hedendaagse Venezuela, of Zimbabwe van die vroeë 2000’s. Hierdie is uiterste voorbeelde, maar uiteraard is dit beter om sulke ekstreme omstandighede te vermy.

Emigrasie is dan ʼn persoonlike besluit wat groot omsigtigheid verg. Almal moet self besluit of hulle ooit sal emigreer en in watter omstandighede.

Die feit wat bly staan is dat emigrasie om verskeie redes nie vir almal wenslik is nie. Diegene wat diep in Suid-Afrika gewortel is oorweeg dit nie eens nie. Die res van hierdie artikel beskou verskansingsopsies buiten emigrasie.

Verblyfreg en tweede paspoorte

ʼn Minder finale opsie as emigrasie is om verblyfreg of ʼn tweede paspoort in ʼn ander land te bekom. Dit is ook nie eenvoudig nie, gewoonlik ook duur, maar miskien ook nie so ver buite bereik as wat sommige mense sal glo nie. ʼn Aantal lande het byvoorbeeld programme waarmee ʼn mens deur belegging verblyfreg, en later ʼn tweede paspoort, kan bekom.

Naas belegging bestaan daar ook ander opsies vir verblyfreg. Sommige mense kan byvoorbeeld verblyfreg en later burgerskap in ander lande vanweë die afkoms van hul voorouers bekom. ʼn Ander opsie is om vir ʼn gedeelte van ʼn jaar te werk as ʼn trekarbeider in ander lande, maar dit vereis ʼn aanstelling in die buiteland en is ʼn leefstyl wat sekerlik nie almal sal pas nie.

Tog kan ʼn mens kwalik die nut van ʼn tweede paspoort of verblyfreg in ʼn ander land ontken, sou plaaslike onstuimigheid op ʼn groot skaal toeneem.

Beleggings en spaargeld in die buiteland

Kenners wys gereeld daarop dat dit (tans nog) makliker is om beleggings en spaargeld na die buiteland oor te plaas as wat dit is om self te emigreer. Of soos ʼn finansiële beplanner dit onlangs gestel het: “Net omdat jy in Suid-Afrika woon, beteken dit nie dat al jou geld noodwendig hier hoef te bly nie.”

Oorsese diversifisering van jou beleggings behoort ʼn sentrale oorweging vir die verskansing van jou persoonlike finansies te wees. Een om met ʼn persoonlike beleggingsadviseur – wat ʼn goeie rekord van betroubare raad oor buitelandse beleggings aan die dag lê – te bespreek. Die ou gesegde, om nie al jou eiers in een mandjie (of land) te plaas nie, hou gewis water.

Bykomende inkomstestrome

Die vermoë om bykomende inkomstestrome te skep is ʼn verdere, miskien selfs waardevoller, verskansing teen plaaslike onsekerheid – veral wanneer van jou inkomste in die buiteland in ander geldeenhede verdien word.

Dit verg gewoonlik buite-die-boks-denke en ʼn mate van entrepreneursingesteldheid. Heelwat van hierdie moontlikhede wat volgende genoem word, is grootliks op informasietegnologie geskoei. Om daarby te baat veronderstel kennis en vaardighede in informasietegnologie. Ek glo dit sal die meeste van ons kan baat om ons kennis en vaardighede op hierdie gebied te verskerp.

Diegene wat deesdae suksesvolle slimfoon- en tabletrekenaar-toepassings (apps) ontwikkel verdien heelwat daaruit, maar buiten dit is daar talle verdere moontlikhede.

Van die ouer en meer bekende maniere om geld deur die internet te verdien sluit in geaffilieerde bemarkingsprogramme van produkte of dienste, deur ʼn platform soos Amazon Associates, en die plasing van advertensies op webblaaie vir betaling deur ʼn program soos Google Adsense. Soos met meeste dinge verg sukses met hierdie programme toewyding en harde werk.

In die IT-era is dit deesdae baie makliker om ʼn verskeidenheid dienste vanuit Suid-Afrika in die buiteland te verkoop. Die dienste van rekenaarprogrammeerders, ontwikkelaars, grafiese ontwerpers, klankdeskundiges, tekenaars, sakekonsultante, beraders, taalpraktisyns en vele ander vaardighede kan deesdae deur die internet verkoop word.

Daar is reeds bestaande vryskutplatvorms, soos Fiverr en Freelancer.com, waarop heelwat vryskutwerkers reeds hul dienste bemark en verkoop. Amazon se MTurk-platform bied ook ʼn globale markplek waar vryskutwerkers en mense of ondernemings wat bystand met ad hoc-take benodig bymekaar gebring word.

Platforms soos Paypal maak dit moontlik om betaling vir dienste vanuit die buiteland te ontvang. Sou kriptografiese geldeenhede soos Bitcoin (later meer hieroor) behoorlik posvat, sal ʼn mens dit ook kan oorweeg, veral in tye van ʼn uiters onbestendige plaaslike geldeenheid.

Vaardighede

Die internet het die reeds die mark vir onderrig en opleiding grootliks ontwrig. ʼn Mens kan verwag dat dit eenvoudig net sal toeneem. Maatskappye soos byvoorbeeld Udemy, Coursera en ander bied uitstekende kursusse oor talle onderwerpe om aan ʼn globale gehoor te verkoop. Hierdie platforms bied ʼn manier om jou vaardighede uit te brei en te verskerp.

Die deurlopende ontwikkeling van jou vaardighede is ʼn verdere belangrike verskansing in die kennisekonomie.

Die punt wat ek hier probeer maak is dat die sakewêreld van en werkomgewing verander het. Die moontlikhede in Suid-Afrika is nie noodwendig net tot Suid-Afrika beperk nie. Daar is deesdae meer geleenthede vir internet-entrepreneurs, ontwikkellaars, konsultante en selfs vir bestaande besighede en professionele mense om hul dienste vanaf Suid-Afrika aan mense en maatskappye in die buiteland te verkoop.

Kriptografiese geldeenhede en goudbesitrekeninge

Heelwat mense spekuleer tans in die mark vir kriptografiese geldeenhede. Beleggings hierin moet as baie riskant beskou word; tog is kriptografiese geldeenhede om verskeie redes ʼn belangrike tegnologie om van kennis te neem.

Kripto-geldeenhede word deur ʼn komplekse “rekeningkundige databasistegnologie”, genaamd blockchain-tegnologie, onderlê. ʼn Verduideliking hieroor sal vinnig te lank en tegnies raak, maar dit is in alle waarskynlikheid ʼn belangrike ontwrigtende tegnologie.

In plekke soos China en Venezuela is Bitcoin reeds deur mense gebruik om teen die wanbestuur van nasionale geldeenhede te verskans. Natuurlik aanvaar regerings hierdie tegnologie wat teen die beheer oor nasionale geldeenhede en valutabeheermaatreëls indruis nie lukraak nie. Talle regerings is reeds besig met pogings om groter beheer oor kriptografiese geldeenhede te bekom, en nuwe wetgewing daaroor in werking te stel, maar in alle waarskynlikheid is die aap hier reeds tot ʼn groot uit die mou gelaat.

ʼn Woordjie oor goud as verskansing

Ek glo ʼn woordjie oor goud as ʼn vorm van verskansing kan ook nuttig wees. Finansiële raadgewers verskil oor die nut van goud in ʼn beleggingsportefeulje. Die nadele wat soms genoem word, is (1) dit bied geen opbrengs (“huurinkomste”) nie en (2) die goudprys is baie wisselvallig. Diegene wat glo in goud meen dat dit ʼn nuttige rol as ʼn soort portefeuljeversekering kan speel om kapitaal te bewaar.

Die vraag om miskien te oorweeg is iets soos die volgende: Hoeveel sal dit werd wees om ʼn gedeelte van jou beleggings in goud te hê indien die sentrale bank vir eng politieke belange misbruik word en die rand se waarde teenoor ander geldeenhede drasties verswak? Dit stel ʼn saak vir goud as ʼn gedeelte van ʼn goed gediversifiseerde beleggingsportefeulje.

Goudbeleggings sluit in munte (soos Krugerrande), goudstawe, en ETF-fondse (die bepalings van sulke ETF-fondse moet versigtig nagegaan word.) Mense in Suid-Afrika is met reg bekommerd oor die diefstalrisiko van fisiese goudbeleggings soos Krugerrande. Maatskappye soos GoldMoney bied ʼn interessante aanlynopsies vir fisieke goudbelegging buite Suid-Afrika.

ʼn Mens moet natuurlik baie seker wees oor die integriteit, of teenpartyrisiko, van maatskappye wat sulke beleggingsopsies bied. Soos by alle finansiële beleggings vereis dit omsigtigheid en omvattende ondersoek voordat daar belê word. Tog is dit ʼn verdere verskansingsopsie om minstens in gedagte te hou en met kundige finansiële raadgewers te bespreek.

Slotsom

Die basiese punt wat hier gemaak word, is dat Jan Alleman se verskansingsopsies, selfs teen selfs die ergste ekonomiese scenario’s, soos ʼn regstreekse kaping van die SARB vir eng politieke doeleindes, beter is as in die verlede.

Die moontlikhede om inkomstestrome uit die buiteland te vestig het verbreed. Kriptografiese geldeenhede is besig om die finansiële wêreld te verander en bied reeds moontlike skanse teen politieke en monetêre wanbestuur.

Diegene wat in Suid-Afrika gewortel is, kan omsigtig en pro-aktief, verskeie nuwe skanse in oorweging neem en stappe doen om hul persoonlike veerkragtigheid te verhoog.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn voorstaander van vrye markte, vreedsame samewerking, en die idee van individuele vryheid. Hy het sy MBA by die bestuurskollege van Suid-Afrika verwerf en werk tans as ʼn navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Johann ·

Goeie artikel.
Ek het ook ‘n ruk gelede gelees wat die sensus buro gedoen het. Daar is ‘n groot gaping in SA tussen die ouderdoms groepe. Dit is natuurlik as gevolg van die mense wat die land verlaat.

Adoons ·

Fisiese Krugerrande se prys in Rand-terme het die afgelope tien jaar teen ‘n gemiddeld van net onder 14% per jaar gegroei – daar is min bateklasse wat dit sou kon klop.

Paul ·

In middel-2007 was die prys van ‘n Krugerrand sowat R4725. Dit is nou sowat R16720. ‘n Styging van 254% in tien jaar. Dit nader aan ‘n styging van so 13.5% per jaar, gemiddeld, so byna 14%.
Kyk egter na die afgelope vyf jaar as ‘n voorbeeld in plaas van tien jaar.
Vyf jaar gelede het ‘n Krugerrand ongeveer R13120 gekos, en dis nou sowat R16720. Dis ‘n styging van slegs 27.4% in vyf jaar. Dis nie juis ‘n wonderlike styging nie, slegs sowat 5% per jaar. Nie vrot nie, maar jy kon beter doen deur bloot in kontant te wees, en natuurlik veel beter gedoen het deur in dollars te wees, of die S&P500 of talle ander bateklasse.
Goud is nie altyd ‘n goeie belegging op enige tydstip nie.

Wax ·

Die imigrasie syfer gaan ook drasties begin toeneem noudat die
onbeholpe staat die expats wil begin belas. Hul kan net nie so ver dink oor
die miljoene dollars wat nou nie meer gaan inbetaal word in die land.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.