Perspektief op Afrikanergesprekke met die Mbeki-stigting

Flip Buys, voorsitter van die Solidartiteit Beweging. (Foto: René Roux)

Suid-Afrika is in ’n diep krisis, en die ANC-regering het nie die wil of die vermoë om dit op te los nie. Inteendeel, die ANC is juis die grootste oorsaak van die toestand waarin die land homself bevind. Die land se nasionale krisis is deur die Covid-pandemie vererger, nie veroorsaak nie.

Dis in werklikheid ’n dubbele krisis: die verval van die staat en Afrikaners se afgradering na tweedeklasburgers. Ons is eersteklasbelastingbetalers, maar word as tweedeklasburgers hanteer en derdeklas regeer.

Daar is nog geen oortuigende tekens dat die ANC-regering bereid is om iets te doen aan die oorsake van die krisis nie. Hul rassebeleid, sosialistiese beleidsrigtings, wanbestuur en korrupsiekultuur het selfs vererger sedert mnr. Ramaphosa drie jaar gelede aan bewind gekom het.

Ons moet self

Die vertrekpunt vir ’n oplossing is dat ons besef dat die ANC-regering nie ’n krisis kan oplos wat hulself geskep het nie. Daarom sal ons nie vir die regering kan wag vir oplossings nie, ons sal dit self moet aanpak. Dit is egter nie ’n maklike taak nie. Die uitdaging is om staatsdienste te lewer sonder staatsinkomste, midde ’n staat wat verval en ’n regering wat teen wit mense regeer.

Dit is ook ’n regering wat al openlik verklaar het dat hulle die pandemie wil gebruik om hul rassebeleid te verskerp, én die krisis as ’n toetslopie vir ’n genasionaliseerde gesondheidsorgstelsel en ander radikale beleidsrigtings wil gebruik.

Die krisis het egter nou so verdiep dat talle van die ANC se eie ondersteuners besef dat hul ou party eerder deel van die probleem as die oplossing is. Daarom begin al hoe meer swart leiersfigure na oplossings buite die regering soek, en word die Solidariteit Beweging al meer genader vir hulp en raad. Dit is belangrik om daarop te wys dat hierdie nie onderhandelings met die regering is nie, maar “horisontale” gesprekke met groepe en gemeenskappe buite die regering.

Mbeki-stigting

So het leiers van die Thabo Mbeki-stigting met ons gesprek begin voer, met die vraag wat nodig is sodat Afrikaners kan help om die land se vele krisisse op te los. Ons antwoord was dat Afrikaners en wit mense orals uit die staat, munisipaliteite en staatsondernemings soos Eskom gestoot is.

Ons is gevolglik nie in ’n posisie om te kan help solank die regering met sy radikale rassebeleid volhard nie. Die behandeling van Afrikaners as tweedeklasburgers, bied ook geen motivering om te help noudat daar ’n krisis is nie.

Tweedens word Afrikaners deur die demografiese demokrasie oorheers, en het ons kulturele vryheid gelyke regte met swart gemeenskappe nodig. Dis nie demokraties dat elke deel van ons lewens deur die ANC beheer word, en dat ons minder regte as bv. tradisionele swart gemeenskappe het wat self oor eie gebiede beskik nie.

Ons kan nie die land help as ons vanweë ons ras verhoed word om dit te doen nie, of as ons voortbestaan as gemeenskap bedreig word deur ons skole en universiteite te teiken nie. Afrikaners het gelyke erkenning as volk nodig, en wil nie gesien en behandel word as skuldige misdadigers nie. Die ANC kan ons nie uit alle belangrike instellings uitstoot, ons gemeenskap kriminaliseer, teen ons diskrimineer, en dan vir hulp vra as hul beleid die land in ’n krisis laat beland nie. Hul wanbestuur en korrupsie het buitendien hul geloofwaardigheid vernietig, en so ’n vertrouenskrisis geskep dat Afrikaners nie ’n rede het om hul beloftes te glo nie.

Wedersydse erkenning

Daarom is wedersydse erkenning en respek ’n voorvereiste vir die herstel van vertrouensverhoudinge in die land. Ons gaan nie mense help wat ons heeltyd beledig en benadeel nie. Afrikaners is woedend vir die swak regering, maar is steeds lief vir die land. Ons besef ook dat die algehele verval van die land ook tot ons eie nadeel sal wees. Niemand sal kan bestaan in ’n land wat in wanorde verval nie.

Daarom is ons bereid om saam aan oplossings te werk, mits daar vir ons belange ook ruimte gemaak word. Die gesprekke met organisasies soos die Mbeki-stigting is nie gegrond op dieselfde sienings nie, maar op dieselfde belange.

Hoewel ons oor talle fundamentele sake verskil, is dit in beide groepe se belang dat die land nie verval nie, dat dorpe se dienste werk, dat misdaad beveg word, dat korrupsie gestop word, en dat rasseverhoudinge nie verder versleg nie. Dit sal net in opswepers soos Julius Malema se belang wees.

Dit is ook in almal se belang dat daar voedselsekerheid is, dat daar finansiering vir landbouproduksie is, en dat Afrikaners se grondliggende belange veilig is. Die gesprekke en die raamwerk van verstandhouding wat bereik is, beteken nog glad nie dat oplossings vir al hierdie probleme gevind is nie. Die Mbeki-stigting regeer immers nie die land nie, al is hul steeds invloedryk.

Dit is dus nie die einde van die probleme nie, maar die begin van ’n proses om oplossings te vind. Daar is geen waarborg dat dit gaan slaag nie, maar sonder ’n poging om die krisis op te los, is mislukking gewaarborg.

Afrikaners het politieke ruimte nodig om groter erkenning te kry vir alles wat ons in die praktyk opbou. Ons gaan steeds nie vooraf toestemming vra om te mag bestaan nie, maar erkenning van die kulturele ruimtes wat ons bou soos kolleges, universiteite, skole en dorpe soos Orania bly belangrik.

Selfbou én saambou

Hierdie gesprekke beteken beslis ook nie ons strategie van bou en beskerm gaan verander nie. Indien ons met hierdie bedinging en brugbou kan slaag, gaan ons nog vinniger kan bou en beter kan beskerm. Ons sal self bou om te bly, maar ons sal ook saam met ander bou wat vir ons ruimte gun om voluit Afrikaners te wees. As Christene gaan ons ons plig teenoor ons eie gemeenskap nakom, maar wil ons ook ’n hand uitreik na ons medemens in nood.

Ons sien onsself nie as verhewe bo ander gemeenskappe nie, maar ook nie ondergeskik aan hulle nie. Daarom glo ons aan gelyke burgerskap, en gaan ons die toekoms aanpak in ’n gees van wedersydse erkenning en respek. Ons is vrye burgers, nie dienswillige onderdane nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Hiermee my volle dank en steun aan die partye tot hierdie gesprekvoering. Dankie vir u insette.

Wedersydse erkenning en respek is inderdaad ‘n VOORVEREISTE vir die herstel van vertrouensverhoudinge in Suid-Afrika.

As Afrikaner steun ek al die standpunte soos uiteengesit in hierdie publikasie “Perspektief op Afrikanergesprekke met die Mbeki-stigting”.

Mag geregtigheid en naasteliefde seëvier en mag alle Suid-Afikaners die plesier van selfaktualisering beleef in ‘n spoedig ekonomies wêreldkompeterende Suid-Afrika waarin alle burgers, sonder diskriminasie, in die voorspoed kan deel.

Mag ons plesier put uit opbouende selfbou en beskerm “en ook saam met ander bou wat ons ruimte gun om voluit Afrikaners te wees”.

MT ·

Dankie, Flip. Maar die Mbeki stigting se uitreik na Afrikaners herinner baie aan Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe se verskeie pogings in die onlangse verlede om Blanke boere na Zimbabwe terug te lok met beloftes van geld en grond. Dit terwyl hy die vorige dikatator lojaal gehelp om die einste boere van hulle grond weg te jaag – met erge geweld as dit moet!

Die tweedeklas burgery waaraan Afrikaners tans onderwerp is, is nie soseer deur Zuma of Ramaphosa op dreef gekry nie, maar juis deur Mbeki. Zuma het nog probeer vleisbraai saam met Afrikaners, en selfs aan Mulder ‘n kabinetspos gegee, wat ek vas glo Blanke landbou gebaat het.

Maar Mbeki met sy ‘Twee Nasie’ toespraak van 2004 het Afrikaners basies amptelik van burgerskap gestroop.

Afrikaners was nog ALTYD suksesvol – soos blyk uit ons 400 jaar geskiedenis – wanneer ons laer trek; so onpopuler soos wat dit mag klink, veral in hierdie tydsgees.

Therese ·

MT, dié woorde van Flip Buys mag dalk jou geregverdigde kommer besweer:
“Die gesprekke met organisasies soos die Mbeki-stigting is nie gegrond op dieselfde sienings nie, maar dieselfde belange”.

Die uitreik na ander groepe het ook die voordeel dat enige “Afrikaners wat laer trek”-beskuldigings van geloofwaardigheid gestroop word.

Terloops, Solidariteit en AfriForum se lof word deesdae selfs deur mense soos R.W. Johnson in Politicsweb besing, en sommige lesers vra al klaar tweetaligheid van hierdie Afrikaner-organisasies.
Klink bekend, of hoe?

MT ·

Dankie vir die waardevolle bydrae, Therese.

Dit is sterk te betwyfel of die Mbeki stigting en Afrikaners dieselfde belange deel. My ervaring dui juis op presies die teenoorgestelde. Ek kan nie inkoop by die Afrika Renaissance dromer se Damaskus ervaring nie. Ek wonder tog hoe Mbeki se bereidwilligheid

As ek korrek onthou, het Ramaphosa juis tydens die Kodesa gesprekke (of uitreik, as jy wil) soortgelyke woorde ge-uiter; dat partye opgrond van gemeenskaplike belange onderhandel. Die res is Geskiedenis.

Wanneer jou vyande jou beledig met sinnelose uitings soos “Afrikaners wat laer trek”, moet jy ge-eerd voel, wetende dat hulle ook so jou vaders en Vader gespot het. Hardloop egter vir die berge wanneer jou vyande jou begin komplimenteer.

Ek wens Flip egter groot sukses toe, baie meer as wat die Orania beweging 3 jaar gelede met soortgelyke gesprekke met die Mbeki stigting kon behaal.

Helgard ·

Korrek – sonder brûe bou en bedinging gaan die Solidariteits inisiatief nêrens nie. Meer sulke gesprekke is nodig. Die toekoms is nie in liberale drome en fantasieë oor hoe individue kan oorleef in ‘n gebroke samelewing en versplinterde Suid Afrika nie. Individuele regte en die mark gaan jou nie help nie en dit is ‘n siek, distopistiese en onwerkbare visie vir Suid Afrika. Jammer – maar selfstandig selfbestuur werk ook nie in ‘n vakuum nie. Die gematigde middel is nie die DA en IRV se “los-my-uit” liberale utopia van individuele regte en die vryemark nie . Maar Suid Afrikaners wat besef hulle het gedeelde belange, moet saamwerk en wat gesonde gemeenskappe wil bou. Dit begin met sosiale verhoudings, solidariteit en gemeenskappe bou waar praat lei na gemene waardes dan instellings wat genoeg ruimte maak om te bou aan ‘n gemene basies verstandhouding wat verskille in kultuur, tradisies, gemeenskappe en individuele keuses kan verdra en respekteer omdat dat daar genoeg in gemeen is.

Helgard ·

‘n Pypdroom is dat Afrikaners selfbestuur kan verseker en toepas in ‘n vakuum sonder die goedkeuring en toestemming van die res van die land. Staat verval en versplintering van die Suid Afrikaanse samelewing is ook nie ‘n oplossing soos baie klassieke liberale en libertyne droom nie. Dit is eerder iets nader aan Robert Kaplan se “The Coming Anarchy” en jy hoef net te kyk na die res van die vasteland om te sien waar dit gaan op eindig. Dit maak ‘n Zimbabwe, Algerië of Kenya makliker – nie moeiliker nie…

Groen Ghoen ·

Perfek uiteengesit, mnr. Flip Buys! Sodra die Afrikaners deur die openlike misleiding van 1994 se FlaterWater-fiasko die waarheid raaksien, sal die gety teen 27 jare se agteruitgang begin draai.

James ·

Ons het dit mos al probeer? In 1994? en wat was ons dank?

Nee wat. Territoriale selfbeskikking. Laat hulle hul NDR uitvoer – weg van ons.

Dis OF dit – of emmigreer.

As jy nie bereid is om vir territoriale selfbeskikking te veg nie, is jou ander keuses (1) Emmigreer, of (2) Assimileer.

Verteer jou keuses, en kies.

James ·

Ek weier om enigsins verder regeer te word deur kommuniste. Die kommuniste kan op twee wyses reageer: (1) Hulle kan my toelaat om te gaan, en my eie paadjie weg van hulle te volg, met territoriale selfbeskikking. Hule kan dan doen NET wat hulle wil in hulle eie land. Vreedsaam. OF: (2) Hulle kan my probeer dwing om te konformeer.

Kommuniste verstaan dat “een man se terroris ‘n ander man se vryheidsvegter is” , nie waar nie?

Kom ons kyk of hulle dit nog versstaan – sodra die skoen aan die ander voet sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.