Post-1994: Afrikaners word wéér organisasiebouers

NP-van-Wyk-Louw

NP van Wyk Louw (Foto: Af.wikipedia.org)

In Lojale Verset (1939) skryf NP van Wyk Louw die volgende: “Die toekomstige skrywer van ons beskawingsgeskiedenis sal moontlik die kwarteeu ná ongeveer 1925 ‘Die Tydperk van die Kultuurorganisasies’ noem”.

Voorbeelde van wat Van Wyk Louw hiermee bedoel kan gevind word onder die vele organisasies wat op die been gebring is deur die suksesse en momentum van die Helpmekaar-beweging rondom hierdie tyd. As Van Wyk Louw vandag steeds geleef het, sou hy waarskynlik die 30 jaar na 1994 geïdentifiseer het as ʼn tweede tydperk van kultuurorganisasies onder Afrikaners.

Tussen 1948 en 1994 het Afrikaners, in die woorde van professor Koos Malan, “staatsbouers” van formaat geword. Met die verkiesing van 1994, is die magtige en hoogs gesentraliseerde staatsmasjinerie wat opgebou is aan die ANC oorhandig. Vandag word hierdie einste staatsmasjien deur die regerende party gebruik om teen onder andere Afrikaners te diskrimineer, asook om Afrikaans as onderrigtaal te marginaliseer.

Hierdie nuwe omstandighede het Afrikaners gedwing om die gees van organisasiebou in ons erfenisskatkis te herontdek en af te stof. Stadig maar seker het hierdie ʼn kollektiewe kopskuif onder Afrikaners teweeggebring, opgesom in die toenemende gebruik van leuses soos “Ons sal self!” en die toevoeging van konsepte soos “staatsbestandheid” en “selfbestuur” tot ons woordeskat en probleemoplossingsgereedskapkissie.

Reeds in 1939 het Van Wyk Louw die Afrikaner se vestiging van kultuurorganisasies geïdentifiseer as “ʼn manier om hom aan te pas by die nuwe omstandighede in die nuwe land, net soos die wit pels van die poolvos of die vetblare van die Karooplant aanpassingsorgane is.” Soos in die eerste helfte van die 20ste eeu, het organisasiebou weer ʼn kritiese aanpassingsmeganisme geword vir die Afrikaner in ʼn “nuwe land”. Die krag van kultuurorganisasies lê vir Van Wyk Louw in hoe hulle Afrikaners saamsnoer tot ʼn eenheid wat ons as yl verspreide volk “nie territoriaal besit nie”.

Ernst van Zyl. (Foto: Verskaf)

Die ontwikkelings onder Afrikaners wat uitstaan in die 30 jaar na 1994 sou waarskynlik nie vir Van Wyk Louw onkant gevang het nie. Hy het juis in sy geestesoog gesien hoe organisasiebou ʼn kritiese en groeiende rol in die toekoms van die Afrikaners se stryd om voort te bestaan gaan speel. Sy voorspelling in 1939 lui soos volg:

“En juis omdat hierdie vorm van organisasie so noodsaaklik vir ons voortbestaan as volk is, sal dit ook nog baie verder ontwikkel, sowel wat omvang as integrasie betref. Ons staan nog maar eintlik aan die begin van hierdie groot ontwikkeling. Die dag sal kom dat daar ʼn net van Afrikaanse kultuurorganisasies oor ons land uitgestrek lê waarin elke Afrikaner, van die geringste tot die hoogte, betrokke sal wees; wat waarskynlik sterk sentraal saamgesnoer sal wees en soos ʼn piramiede sal oploop tot sy spits, en waarin alle belange van die Afrikaner as aparte groep verteenwoordig sal wees. Dit is ʼn toekomstige ontwikkeling wat los staan van alle politieke oorwegings en wat alleen deur die volk se wil om te bestaan, bepaal sal word.”

ʼn Voorbeeld van die vrugte van organisasiebou is die Solidariteit Beweging wat bestaan uit bykans 50 instellings met meer as 570 000 lede. Hierdie instellings dek ʼn menigte fokusareas, insluitend welstand, onderrig en opleiding, burgerregte, veiligheid, werk, eiendomsontwikkeling, finansiële dienste, kultuur en erfenis, media, en meer. Duidelik het die bepalende faktor in Van Wyk Louw se analise – die wil om te bestaan – geseëvier. Die groot gros jongmense wat betrokke raak by die Solidariteit Beweging se menigte instellings en die fakkel van verantwoordelikheid stewig in hul hande neem, is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, som die nuwe mentaliteit, houding en uitkyk wat wortelgeskiet het onder Afrikaners in die afgelope 30 jaar mooi op: “Ons wil self. Ons kan self. Ons mag self. Ons sal self!”

Kom ons doen ons deel om te verseker dat ons aksies vandag steeds spreek van dieselfde aanpasbaarheid wat Van Wyk Louw raakgesien het onder Afrikaners in sy tyd. Of ons die toekoms kry wat ons wil hê, hang steeds af in ons eeu, soos in Van Wyk Louw sin, van die krag van Afrikaners se wil om voort te bestaan. Kom ons veg en bou saam om te verseker dat ons tyd, in die werke van die toekomstige skrywers van ons beskawingsgeskiedenis, die titel van Kultuurorganisasie-Renaissance verdien.

  • Hou Maroela Media gedurende Aprilmaand dop vir meer artikels oor Suid-Afrika 30 jaar sedert bedelingsverandering. Waarom het dit wat in 1994 in die vooruitsig gestel is nié gerealiseer vir die man op die straat nie? Hoe beoordeel ʼn mens ʼn steierende bedeling in dit wat beloof om ʼn waterskeidingsverkiesingsjaar te wees? Wat maak ʼn mens met die gewig van ʼn mislukkende regering en bedeling terwyl die werklikheid onverpoosd voortstoom? Hoe stel jy ʼn beter toekoms in die vooruitsig sonder om terug te gryp na die verlede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.