Private eiendom is goed vir die ekonomie

huis-sleutels-huiseienaar-eiendomsreg

Foto: Mastersenaiper/Pixabay.com

In die hedendaagse debat oor private besit is daar klaarblyklik een beginsel wat heelwat politici, akademici en wetgewers op plaaslike bodem nastreef – dit is die beginsel dat die staat altyd geregtig is op meer van jou private eiendom.

Hierdie veronderstelling tree na vore in sprake van grootskaalse onteiening, regeringsbewaarderskap – waarvolgens bestaande besitregte tot niet gemaak word – en alewige sprake van “noodwendige” belastingverhogings en nuwe belastings.

Daarby kan ons kyk na regulering wat veel verder as bloot redelike reëls vir die veilige gebruik en beskerming van eiendom gaan en nader is aan sosialistiese sentrale beplanning.

Vir sommige, soos die Franse ekonoom Thomas Piketty, is die blote uitwissing van welvarende mense se rykdom deur enorme onteieningsbelastings oënskynlik ʼn doel opsigself, maar sommige plaaslike wetgewers, politici en akademici beskou verdere ingrepe op private eiendom werklik – miskien selfs met die beste bedoelinge – as ʼn maatskaplike oplossing.

Meeste Westerse jurisdiksies reken darem dat die staat se seggenskap oor private eiendom beperk is, maar dit is vanselfsprekend dat die standpunt oor eiendomsregte in Suid-Afrika minder matig as in ander lande is.

ʼn Nuwe aanval op erflatings?

ʼn Sprekende voorbeeld van hierdie opvatting het ek onlangs tydens ʼn simposium by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing beleef. ʼn Doktorale student aan die Universiteit van Kaapstad is uitgenooi om sy doktorale studie tot dusver aan te bied. Sy studie, soos dit tydens die simposium aangebied is, is basies ʼn voorstel dat die regsraamwerk waarmee erflatings beheer word aangepas moet word.

Sover blyk die persoon se voorlopige gevolgtrekkings klaarblyklik te wees dat die regering die regte van erflaters om waardevolle eiendom, geld en beleggings as erflatings aan hul naasbestaandes te laat moet wegneem.

Die voorstel is verder dat “ekonomies bekwame” persone van erflatings wat vir hulle geoormerk is ontneem moet word. Verder dat dié bates waarop die regering beslag lê vir “transformasie” toegedeel moet word. Dié werk is nog in aanvang en ons sal moet wag om die finale gevolgtrekkings te oorweeg.

Natuurlik sal sulke voorstelle, sou dit enigsins formele wetgewende oorweging geniet, ʼn enorme publieke reaksie ontlok. Sulke voorstelle sal verder groot veranderinge aan die bestaande erfreg benodig en sal beslis grondwetlike oorweging vereis.

Inbreuk op private eiendom is nie ʼn oplossing nie

Dit is redelik om te meen dat verswakte eiendomsregte beleggings in produktiewe toerusting, masjinerie, ondernemings en aanlegte sal onderdruk, en verder, dat die produktiewe kapitaal wat mense in sulke omstandighede vrywillig sal versamel betreklik min sal wees. In die breë gesien kan ons wel minstens sê dat bestendiger eiendomsregte saamloop met sterker ekonomieë. Hierdie veronderstelling reflekteer breedweg in die ranglyste van lande op ʼn indeks soos byvoorbeeld die International Property Rights Index (IPRI).

Wanneer ons kyk na lande op die IPRI verskyn ʼn insiggewende prentjie. Vir 2017 is die vyf lande met die sterkste metings van eiendomsregte in volgorde Nieu-Seeland (eerste), Finland, Swede, Switserland en Noorweë. Die land Singapoer, wat in ʼn Westerse sin nie volkome as demokraties beskou word nie, val sewende op dié ranglys. Suid-Afrika staan tans 27ste. Die swakste lande op IPRI-ranglys vir 2017 is die Oekraïne, Moldowa, Bangladesj, Venezuela en Jemen (laaste).

Erflatings en kapitaalvorming

Ekonome[1] is lankal daarvan bewus dat erfbelasting ʼn invloed op mense se spaargedrag het. Op sigself, hoe meer rykdom ʼn persoon het, hoe groter is die kans dat erflatings nagelaat sal word.

ʼn Erfbelasting (of boedelbeslaglegging) sal altyd werk om ʼn persoon se totale rykdom te verminder. Wanneer ʼn persoon se rykdom so verminder word, sal die persoon se voorkeur om erflatings te bemaak en, belangrik, om daarvoor te spaar gewoonlik ook verminder word.

Die voorkeur (vraag daarna) om erflatings na te laat verskil van persoon tot persoon. Wanneer mense ʼn sterk voorkeur hiervoor handhaaf, kan dit gebeur dat sommige werknemers of entrepreneurs harder sal werk om die koste van ʼn bykomende boedelbelasting te vereffen. Maar wanneer die koste van ʼn erfbelasting eenvoudig te hoog gestel word sal heelwat mense uiteindelik ontmoedig word om te spaar.

Om iets na te laat is natuurlik nie die enigste spaarmotief nie, maar daar is goeie redes om te dink dat hierdie vorm van spaar ʼn belangrike rol in die grondslag van ʼn land se produktiewe kapitaal speel. Die impak op die spaargedrag van erfgename behoort ook oorweging te geniet. Groter erflatings word in baie gevalle (natuurlik nie in alle gevalle nie) gespaar om sekerheid van toekomstige inkomstestrome te verhoog.

Dink miskien só hieraan. Gestel ʼn persoon ontvang ʼn meevaller deur ʼn erflating. Gestel die bedrag is relatief klein in die orde van ʼn R1 000. In so ʼn geval is die kans dat heelwat van so ʼn bedrag gespaar sal word, relatief klein.

Gestel nou die bedrag is nader aan R1 miljoen. Omdat baie mense ʼn voorkeur ten toon stel om hul uitgawepatrone oor tyd gelyk te hou (te spaar en dan oor tyd kleiner bedrae meer eweredig te bestee) is die kans groot dat proporsioneel meer van ʼn groter erflating uiteindelik gespaar sal word.

Verskeie ekonome meen dat gesonde spaarvlakke die gesondheid van ʼn ekonomie se kapitaalstruktuur onderlê. Hoe meer kapitaal ons versamel, hoe meer kan ons gemiddeld per kop produseer. En dit beïnvloed hoeveel goedere of dienste ons met ons rande kan koop.

Spaargeld is nodig om produktiewe kapitaal te vorm. Juis daarom is beleid wat spaar kan ondergrawe in ʼn bestaande omgewing van groot politieke onsekerheid en beleid wat reeds sake belemmer, eenvoudig nie wenslik nie.

Wat as die regering onteien en dan belê?

Daar is die diegene (en ekonome) wat glo dat ʼn samelewing gelyk kan speel of selfs beter daaraan toe sal wees wanneer daar deur belastings (of onteiening) op hulpbronne beslag gelê word en die opbrengste op openbare infrastruktuur en regeringsprojekte bestee word.

Hieroor word uitgerekte ekonomiese debatte gevoer, maar miskien is die vraag op plaaslike bodem eenvoudiger: Gemeet aan die ooglopende toedrag van sake, wie wil ons hê moet oorwegend die hulpbronne in ons ekonomie bestuur? Die private sektor of die regeringsektor? Tong in die kies gestel, wie vertrou jy tans meer hiermee? Sanlam of Sanral?

Private besitregte moet eerder versterk word

Suid-Afrika sal nooit ʼn ryker land kan word nie indien regeringsbeleid toenemend teen die vryemark en die sekerheid van private eiendom indruis. Daar is reuseprobleme op plaaslike bodem, maar die huidige swak groei- en beleggingskoerse is reeds ʼn groot aanduiding dat die beleid wat tot dusver deur vele politici en akademici aangevoer is, sake belemmer.

Die gevaar is dat politici, wetgewers en akademici se toenemende fokus op beslaglegging en hertoedeling as ʼn maatskaplike oplossing verdere skadelike beleid sal vestig. Sulke beleid is medisyne wat die ekonomie net sieker sal laat. Beleid wat private besit in gedrang bring sal nie daartoe bydra dat beleggingskoerse en kapitaalvorming verbeter nie en dit is wat nodig is om almal in Suid-Afrika beter af te laat.

Nota:

[1] Sien byvoorbeeld die bespreking van Alex Tabarrok in Death Taxes: Theory, History and Ethics

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Eish ·

Die onderliggende redes vir privaateiendomsreg asook die beredenering tov vererwing, word en is nog altyd goed begryp in die ekonomie, en as sulks toegepas en uitgeleef. Dit het tot gevolg gehad dat reuse sakeryke opgebou is tot voordeel van die hele land.

Die wesenlike probleem van die regerende party is dat sy ondersteuningsbasis as n reël in totale armoede verkeer asook die getalleoorwig besit. Dus, watookal die prys om die massas op te hef, deur watter metode ookal, se belangrikheid word bepaal deur die spoedeisendheid daarvan eerder dan die langtermyn voordele.

Die afneem van eiendom en vererfde rykdom bring onmiddellike voordeel vir beide die ontvanger en die uitdeler en dus is die moontlikheid van sodanige optrede baie groter as dié wat juis langtermynvoordeel inhou. Soos ons tereg tydens die dekolonisasieproses in Afrika gesien gebeur het.

Die bod vir die hele stoet is toegestaan aan die ANC, maar staatskaping, gebrek aan kapasiteit en wanbestuur het hul weiding gereduseer tot n enkele grashalm met die hele kudde wat daarop afstorm in n tyd van intense droogte.

Dit, maak onmiddellike gratifikasie en die grypbeleid, wat dit kan bied, n wesentlikheid.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.