Puk-transformasie: Só moet dit mos lyk‏

sosiale-samehorigheid-320x212Vyftien jaar of wat gelede het ek die voorreg gehad om myself vir vier jaar lank ʼn Puk te noem.

Dit was kort na die 1994-verkiesing, en terme soos “versoening”, “regstellende aksie”, “rassisme” en “voorheen benadeeldes” was deel van elke student se ontluikende politieke woordeskat. Maar ons was maar naïef – ons praktiese uitlewing van dié begrippe was beperk tot vriende maak met die enkele “anderskleurige” studente in die koshuis.

Ek het onlangs die geleentheid gehad om die Puk se jaarlikse Pukki-talentfees by te woon omdat Maroela Media een van die hoofborge van die fees was.

Nou moet ek byvoeg: soos die meeste oud-Pukke soek ek gereeld na geleenthede om in Potchefstroom en op die Puk-kampus ʼn draai te gaan maak. My kinders ken die duikweg, my oud-koshuis en die Calvynfontein en het al met hulle skopfietsies die SS platgery (vir die lesers wat nie oud-Pukke is nie: die SS is die studente se naam vir die studentesentrum en verwys nie na die een of ander Nazi-aktiwiteit nie). Maar om naweke ʼn draai te gaan loop oor die kampus waar ek van die beste tye van my lewe gehad het, gee mens nie insig in hoe die kultuur oor die jare verander het nie. Of, om die term te gebruik wat die NWU se Puk-kampus onlangs weer in die nuus laat beland het: Dit gee mens nie insig in tot watter mate transformasie reeds plaasgevind het nie.

Volgens ʼn verslag wat deur ʼn eksterne ondersoekpaneel saamgestel is en vroeër vrygestel is, het die Puk nog ʼn ver pad om te gaan as dit kom by transformasie op dié kampus van die universiteit. Prof. Dan Kgwadi, die nuwe visekanselier van die universiteit, draai ook geen doekies om nie dat dit een van sy primêre doelwitte is om die transformasieproses op die Puk te versnel.

Terug by die Pukki-talentfees. So halfpad deur die eerste helfte stap ʼn groepie swart manstudente op die verhoog. Puk-Amici, noem hulle hulself. Hulle trek los met Romanz se liedjie “My hele hart” in die mooiste Afrikaans.

Almal huil te lekker. Tot die groot boere-oom langs my wat vir sy dogter se solo kom luister het, ween heerlik saam.

ʼn Rukkie later stel ʼn jong swart student homself voor voordat hy sy item lewer. “Afrikaans is nie my eerste taal nie,” sê hy in Afrikaans sonder ʼn sweempie van ʼn aksent. “Setswana is my eerste taal, en Afrikaans my tweede taal. Maar Afrikaans is die taal waarin ek my graag uitdruk.”

Later in die program, toe hy ʼn prys in ontvangs neem vir sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, bieg TT Cloete dat hy woordeloos is oor die splinternuwe Cloete-park in Potchefstroom wat na hom vernoem is, maar dat Puk-Amici se liedjie alles gesê het wat hy graag wou sê. En dat hulle optrede dié oomblik in die aand se program was waar die emosie hom oorweldig het. Oor Afrikaans so mooi klink uit die mond van dié van wie jy dit nie verwag nie.

Ek sit en kyk na die “transformasie” wat om my gebeur het.

Baie dinge is nog dieselfde. Die Sanlam-ouditorium lyk nog presies dieselfde. Die studente is raserig en maak kliphard onvanpaste grappe op die verkeerde plekke, net soos in my eie studentejare.

Maar baie dinge het verander.

Omdat die kampus hoofsaaklik Afrikaans is, het studente van ander moedertaalgroepe die Afrikaanse kultuur hul eie begin maak, en hulle is met ope arms verwelkom. Die groei het na Afrikaans toe gebeur, en nie weg van Afrikaans af nie – anders as op talle ander kampusse wat ʼn soortgelyke pad gestap het. Uit dié geënte kultuur het iets unieks ontwikkel waarop die Puk met reg trots kan wees. ʼn Kultuur eie aan die Puk. Dis nie ʼn multikulturele kampus nie, dis ʼn kampus met sy eie, besonderse kultuur wat nêrens in ons land ʼn gelyke het nie.

Ek wens dié wat met ʼn akademiese pen in die hand aan die transformasie-verslag gewerk het, kon die pen vir ʼn wyle eenkant toe skuif en ʼn sitplek in die ouditorium inneem tydens die talentfees. Ek wens prof. Kgwadi was in die gehoor, sodat hy kon sien en hoor wat op die Puk gebeur het en aan ‘t gebeur is.

Transformasie is immers die oorgaan van een gedaante na ʼn ander. Integrasie is die saamsmelt van twee gedaantes tot een nuwe vorm, wat eienskappe van albei bevat.

Integrasie is wat op die Puk gebeur het. Om dit te dwing om onnatuurlik te transformeer tot iets wat dit nooit van nature kan wees nie, is ʼn koelbloedige aanslag op ʼn subkultuur binne ʼn groter landskultuur, wat net soveel bestaansreg het soos die kultuur op enige ander moedertaalkampus.

Mag dié wat transformasie op die Puk dryf, ʼn Pukki-talentfees of ʼn groentjiekonsert of ʼn sêr-kompetisie of iets dergeliks in die Sanlam-ouditorium bywoon en terugsit en die kultuur inneem, en tot ander insigte kom. Voor dit te laat is.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Susan Lombaard

Meer oor die skrywer: Susan Lombaard

Susan Lombaard is die uitvoerende hoof van Maroela Media.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Danie Ungerer ·

n jaar gelede wandel die uwe op kampus rond tydens opedag en baan sy weg na Veritas met sy vars 18 jarige aan sy sy. In onse ou onderdak fietsloods wat deesdae n klubhuis is word ek begroet met n stem in suiwer Afrikaans. KAN EK OOM HELP. Eers tas ek na my bril maar besef dan dat die swart man voor my ( gewapen met tradisionele Veritas kierie nie daar is vir enige ander rede as om enige ander rede as om die bleskop man van raad te bedien nie.

My seun gebore na 94 en lankal gewoond aan transformasie het bloot gevra. Hoekom is Veritas die beste koshuis en is begroet met n (steeds puik Afrikaanse) antwoord . Want hier is ons almal broers.

Tien uit tien vir dok Theuns wat oor 10 jaar verby kleurgrense n eiesoortige nuwe troys daar gestel het.

My seun trots om te se woon nou in Veritas en sosialiseer daagliks met mense van ander kleur.

Dieselfde Hk lid as verlede jaar woon steeds daar in Arendhuis en buiten velkleur deel my seun se normatiewe waardes.

Die pragmatis in my vra die vraag. As iets werk hoekom moet dit verander.

Jessica ·

Ongelukkig vertel die huidige regime se twee dekades-lange geskiedenis ‘n heel ander storie as jou versuginge oor ‘n ideale Puk. Afrikaans – en by implikasie Afrikaners – moet ingevolge hul National Democratic Revolution se strategie gemarginaliseer word. ‘n Afrikanistiese identiteit moet alle universiteite inrneem. Daarvoor moet alle relevante staatsinstellings onder ANC-beheer ingespan word.

Hulle beskou die NWU as ‘n kwintessensiële voorbeeld van so ‘n strategiese staatsinstelling. Alle moontlike intimidasiepolitiek moet gebruik word om Afrikaans daar tot die status van ‘n randeier-verkynsel te reduseer. Die kamma-onafhanklike “taakmag” onder die ANC-apologeet Leon Wessels se leiding – of hy nou daarvan bewus is of nie – staan glashelder-duidelik aan die spits van hierdie skandelike politiekery. Q.E.D.

Leon Grove ·

Dis werklik een van daardie gevalle, soos ons so duidelik bewus van geword het, van dat n mens werklik daar moes wees om dit te kan waardeer – of om in hierdie geval n opinie te kan lug. My dogter studeer ook tans, en ons kan ook net beaam wat die skrywer en almal voor my gese het.

Wat werklik jammer is is eerstens dat negatiewe komentaar baie vinniger versprei en langer hou, as poistiewe opbounde gedagtes. Tweedens en gepaargaande hiermee, is n sterk politieke agende wat daarop uit is om hulle ideale ten alle koste of almal af te druk. En hier het naiwe ek gedink dis n nuwe Suid Afrika.

PUK hou aan met julle goeie werk, die room styg altyd na bo.

Peter Rossfour ·

As n oud-PUK wil ek dolgraag Susan Lombaard se idiliese rendisie van die “nuwe” PUK glo, maar ongelukkig dink ek sy kyk na die situasie deur die spreekwoordelike “rose-tinted glasses”.

Ek glo nie die plek om te oordeel wat op die kampus aan die gang is, is die jaarlikse Pukki-talent fees nie. Met so n geleentheid gaan jy vanselfsprekend die room van regsdenkendes kry – die kunste het nog altyd die beste uit mense uitgehaal, dink maar net hoe gewild die “Alabama” dwarsdeur die land was, en nie net by Afrikaans-sprekendes nie!

Ongelukkig glo ek prof.Kgwadi se doelwitte is ver verwyder van wat Susan op die talentfees ervaar het. So onsmaaklik as wat dit is om te aanvaar, ek glo Jessica se ontleding van die intense strategie om Afrikaans tot n “randeier-verskynsel” te dwing is ver meer van pas. As die genoemde professor so graag die tipe “transformasie” wou bedwing soos wat Susan ervaar het sou hy seer sekerlik op die voorste stoele in die gehoor gesit het. Sy afwesigheid spreek boekdele.

Of ons dit nou wil glo of nie, die Afrikaner en sy taal en kultuur is n doring in die vlees van die ANC, en hulle sal alles in hul mag doen om dit wortel en tak uit te roei. Leon Wessels se “taakmag” is ongelukkig maar net die spits van die massiewe ysberg wat op Afrikanerdom afdryf.

Peter Rossfour ·

Wat my werklik ontstel is dat in n saak van nasionale belang, soos wat op die oomblik in ons “tradisioneel” Afrikaanse univesiteite soos Tukkies, PUK, Kovsies, en Stellenbosch aan die gang is, die doelbewuste ondermyning van ons kosbare Afrikanerdom, net VIER van ons, Danie, Jessica, Leon, en ek, in meer as n week, dit nodig ag om aan die “Groot Debat” deel te neem!

Aanvaar die meerderheid van ons gelate die trek na die slagpale toe? Of is ons geledere, soos in die destydse Boere oorlog, deurspek met hensoppers en joiners? Geen wonder die ANC hardloop losvoets oor die opposisie nie!

Gaan ons wakker word wanneer dit sosiaal onvanpas gaan wees om Afrikaans te wees en te praat? Wanneer ons jong mense uitdrukkingloos na bv. n storie van Jan Spies en Tolla sal luister en wonder waaroor dit nou eitlik gaan?

Afrikaans, soos Nederlands, is n mooi taal, n taal waarin jy jou kan uitdruk soos in geen ander taal nie. Hoe kan jy n stelling soos ‘Nee wragtig! Kyk ek is darem nou gatvol!” in n ander taal vertaal? Maar die stelling spreek boekdele. En ons is besig om dit te verloor. Hoeveel van ons jong mense waardeer nog, verstaan nog, AG Visser se slotlyn in daardie onvergeetlike gedig:

“Was die Boere toe tevrede!” ????????????

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.