Ramaphosa en vorentoe

Bennie van Zyl. Foto: Reint Dykema

TLU SA neem met dank kennis dat president Cyril Ramaphosa dag zero aangekondig het vir onder andere korrupsie, ondoeltreffende staatsdiens, onsekerheid in die mynbou-omgewing en ʼn onveilige Suid- Afrika.

Die opmerking dat grond onteien moet word sonder vergoeding het egter veroorsaak dat die aftel na dag zero vir verskeie ander aspekte ook begin het. Daar moet besef word dat, as daar van onteiening van grond gepraat word, dit nie staatsgrond of trustgronde kan wees nie, want hulle besit dit reeds. Die huidige proses is in elk geval ʼn proses van nasionalisering wat uitloop op mislukkings. Met hierdie aftel word gedink aan aspekte soos die volgende:

  • voedselsekerheid kom in gedrang;
  • verdere beleidsonsekerheid met die gepaardgaande gebrek aan broodnodige beleggings;
  • 35 000 boere wat sorg vir voedselsekerheid onseker die toekoms ingaan en wat alles kan verloor en dan op straat gaan sit;
  • totale mislukking van die ekonomie;
  • buitelandse beleggings; en
  • ineenstorting van die bankwese.

Die ANC het oor die tydperk heen ʼn regeringstyl ontwikkel wat projekteer dat die ANC belangriker vir hulself is as wat Suid-Afrika is. In hul eie Vryheidsmanifes sowel as die Grondwet word verklaar dat almal gelyk is, maar in praktyk word ervaar dat sommige mense meer gelyk is as ander. Mnr Ramaposa het telkens verwys na “our people” Hy moet verduidelik wie is die “our people”.

Die weersprekende standpunte wat gestel is, bring onsekerheid wat noodwendig vrae na vore bring waaroor daar duidelikheid moet kom.

Solank daar volhard word met radikale transformasie, soos uiteengesit in die ANC se beleidsdokumente, stuur Suid Afrika steeds af op totale ekonomiese verval desondanks mnr Ramaphosa se mooi praatjies.

  • Daar word verwys na transformasie en daarteenoor word genoem dat daar voortaan kundige mense aangestel gaan word. Wat is mnr Ramaphosa se definisie van transformasie? Sal wit mense voortaan op meriete hanteer word en ook die hoop kan hê dat die beleid van “affirmative action” nou ʼn sonsaktydperk bereik het? Gaan daar dus vir almal in die land ʼn gelyke geleentheid gegee word om saam by die wegspringplek te mag wegspring en sal elkeen voortaan op meriete gekies word?
  • Die onsekerheid van bates wegneem sonder vergoeding sal duidelik uitgeklaar moet word op watter basis dit gaan geskied. Mnr Ramaphosa het gepoog om verantwoordelikheid vir die pad vorentoe te projekteer. Indien hy erns het met sy opmerking dat voedselsekerheid en die ekonomie nie geskaad mag word nie, sou sy eerste verantwoordelikheid wees om met die georganiseerde landbou wat die produserende boere verteenwoordig, in gesprek te tree. TLU SA het reeds in 2005 praktiese voorstelle aan die regering oorgedra wat van die tafel gevee was waarin nuwe toetreders op so wyse gehelp sou kon word dat hulle wel ʼn kans op sukses kon hê. Dis natuurlik heel anders as wat die regering nou doen met ʼn selferkende 90%-mislukkingsyfer. Die regering moet besef dat al die mooi beloftes eensklaps onaanvaarbaar sal word vir beleggers indien hier enige eensydige onteiening sonder vergoeding sal plaasvind. Kapitaal volg nie onsekerheid nie.
  • Die belangrikheid van voedselproduksie in ons land met die geskiedenis van die regering se betrokkenheid tot nou toe om nuwe toetreders in die landbou-omgewing in te bring, verg dat daar nuut gedink moet word. Soos genoem is positiewe voorstelle oor tyd gemaak deur verskeie rolspelers om wel die landbou-omgewing gestabiliseer te hou en ʼn geleentheid te kan skep vir sukses. Die regering se inmenging het grootliks uitgeloop op mislukkings. Dit sou meer gepas wees om die privaat sektor en spesifiek die kommersiële landbou eerder hierdie planne te laat maak, maar dit die betrokke idee word nie verwelkom nie en derhalwe is daar steeds kommer oor die volgende grondoordragpogings.
  • Duidelik word uitgestippel dat daar ʼn samestelling van uiteenlopende volkere in Suid-Afrika saamgevoeg is. Word hierdie verskeidenheid voortaan erken en gerespekteer? Tans word daar ervaar dat die waardes en kulturele regte van die Afrikaner misken word in byvoorbeeld skole waar moedertaalonderwys nie gegun word nie. Sal elke bevolkingsgroep voortaan hulself kan uitleef in hul kulturele omgewing soos die Grondwet wel erken?
  • Die uitgangspunt dat mense entrepreneurs moet word en dat hulle in die hoofstroom ekonomie ingetrek moet word verg ook dieper ontleding. Enige persoon bemagtig hom- of haarself deur die regte eienskappe hul eie te maak. Hulle sal sukses bereik indien hulle die verantwoordelikheid vir hul toekoms aanvaar. Die staat kan nie die sukses al dan nie van entrepreneurs reguleer nie, maar kan dit met die markkragte doen. Te veel inmenging deur die staat word ervaar wat telkens uitloop op herkapitalisasie met weinig suksesverhale.

Die ANC se beleid en ideologie soos vervat in hulle beleidsdokumente naamlik Strategy & Tactics, die Nasionale Demokratiese Rewolusie en die Vryheidsmanifes is die krag agter die wyse hoe daar geïnterpreteer en toegepas gaan word. Met ʼn naderende verkiesing in 2019 gaan mnr Ramaphosa, weens die kwynende ondersteuning wat die ANC tans ervaar, nog baie populistiese uitsprake maak om die kiesers te oortuig om terug te keer na die ANC. Die dilemma daarmee is die onhaalbare verwagtinge wat geskep word, maar nog erger is die wegdryf van kundigheid en kapitaal.

Die markte sal mnr Ramaphosa toets vir sukses. As boere wil ons nie bedreig word ten opsigte van ons eienaarskap van wettig verkreë eiendom nie. Geen boer het sy grond gesteel nie. Die geskiedenis van grondbesit soos nasionaal en internasionaal opgeteken deur al die jare, bring ʼn stel feite tafel toe wat dit uitwys dat mnr Ramaphosa en al die ander swart volkere net soos die wit mense immigrante is en beide as tweedegenerasie-inwoners hier geland het.

Suid-Afrika se boere moet ʼn duidelike boodskap uitstuur aan die regering dat, indien hulle kos wil hê om te eet, daar met groter verantwoordelikheid omgegaan moet word met wettig verkreë eiendom. Suid-Afrika se boere moet hande vat en NEE sê vir onteiening sonder vergoeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eish

Die onderwerp is al nerfaf bepraat, maar luister is min.
In n artikel oor Afrikaans se behoud, sê van ons geleerde vriende dat ons meer aktivisties sal moet optree.
Julle boere moet nou maar dalk ook die weg kies om gehoor te word.

Jerry

In Zupta se tyd was die indikasie dat die ANC grond wou he om te myn vir minerale soos onder andere uraan vir die kernkrag stasies wat hulle beplan het saam met die Russe. Die kanse was goed dat SA in een groot mynhoop sou eindig. Vir die ANC onder Zupta het dit nie gegaan oor onbesoedelde water of voedselsekerheid nie, want het hulle geredeneer, kos en water kan ingevoer word met al die geld wat hulle sou maak en die myne sou ook werk verskaf het aan duisende Suid Afrikaners. CR reken ek sal voortgaan met die mynbou idee,… Lees meer »

lizl

Tyd laat kleiner partye soos VF bevoorbeeld saamsmelt met COPE. Lekota is die enige een wat bereid is om sy nek uit te steek oor die hervorming.

Johannes

Watse versoening is dit as hy nog slegs een deel van die bevolking as “our people” beskou?
Jan van Riebeeck en kie was waarskynlik aan die Kaap voor sy voorouers in Venda aangekom het.

Eish

Is dit werklik so dat ons voorouers ander mense se grond afgeneem het sonder ordentlike vergoeding? Geannekseer met ander woorde? Die meederheid hammer darem vreeslik daarop en ons ontken dit vreeslik. Ek onthou van standerd 5 geskiedenis in die ou bedeling dat ruilhandel wel plaasgevind het. Spieëls en krale vir skape ensovoorts. Sou ons voorouers werklik die mense so uitgebuit het net omdat hul ander klere en kleure dra aan hul bas as ons? Waar is die geleerde geskiedkundiges? Kan hul nie vir ons lig werp op die aangeleentheid nie? In Jan Jan Joubert se artikel het die minster blykbaar… Lees meer »