Ramaphosa se Thatcher oomblik kan nie baie langer uitgestel word

SAL-werkers staak vir groter salarisse (November 2019) (Foto: AP Photo/Themba Hadebe)

Was die onlangse staking by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ’n oefenlopie vir die werklike groot staking wat die vakbond Numsa beplan vir Eskom?

Vroeër vanjaar het Numsa aangekondig dat die vakbond Ramaphosa se ontbondelingsplanne vir Eskom met alles wat hulle het, gaan teenstaan. Hulle het gedreig om met die “moeder van alle stakings” Suid-Afrika vir weke in donkerte te hul. Daarvoor het hulle ’n beroep gedoen op die NUM, die SAFW en Cosatu om hulle hierin te steun. Duidelik is die slagordes opgestel vir ’n groot botsing tussen Ramaphosa en die vakbonde volgende jaar.

Wat gaan Ramaphosa en die ANC-regering doen? Gaan hulle hierdie radikale vakbonde konfronteer of pamperlang?

Toe die ANC in 1990 ontban is, het die organisasie baie min politieke takke gehad. In ’n groot mate het die ANC sy strukture met die oog op die 1994-verkiesing op bestaande Cosatu- en munisipale strukture gebou. Gwede Mantashe, as sekretaris-generaal van die NUM, het in soveel woorde gevra dat elke Cosatu-tak ook ’n ANC-tak moet word. Dit het hierdie vakbonde, met baie afgevaardigdes binne die ANC-beleidskongresse, bo hulle vermoë invloed in die ANC gegee. Ons Arbeidswetgewing, wat grootliks werkers bevoordeel, was die resultaat hiervan. So ook die drieparty-alliansie tussen die ANC, Cosatu en die SAKP.

Margaret Thatcher en haar man, Dennis, op 9 Junie 1983. (AP Photo/Kemp, file)

Vakbonde in Brittanje het soveel mag gehad dat ’n mynwerkerstaking in 1974 eerste minister Heath se regering tot ’n val gebring het.

Toe Margaret Thatcher in 1979 aan bewind kom, het sy haarself verbind om die mag van die vakbonde te breek.

Haar beleidsrigtings het heftige reaksie uitgelok met stakings landwyd. Arthur Scargill, destydse president van Brittanje se National Union of Mineworkers, het gesê dat hulle Thatcher ’n les gaan leer soos hulle eerste minister Heath ’n les geleer het.

Binne haar eie party was daar kwaai druk vir toegewings. By die party se 1980-kongres sê sy: “You turn if you want to. The lady’s not for turning.”

’n Jaar nadat die staking begin het, is Scargill verplig om ’n nederlaag te erken en die stakings te beëindig. Vakbonde sou nooit weer hierna dieselfde mag in Brittanje hê nie.

Toe Thatcher eerste minister geword het, was daar in Brittanje 4 583 stakings en 29 miljoen werksdae is daarmee saam verloor. Hierdie stakings het gedaal tot 630 in 1990 met minder as 2 miljoen werksdae wat verloor is.

Die Suid-Afrikaanse ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, het verlede week gerapporteer dat nie een van die veertien staatsondersteunde ondernemings wat hulle geoudit het, ’n skoon oudit gekry het nie. Volgens hom is hul finansiële posisie die swakste ooit en twyfel hy of sommige finansieel sal kan voortbestaan.

President Ramaphosa het voorheen individue uit die privaat sektor gevra om met hul kundigheid die bankrot staatsondersteunde ondernemings te help red.

Kundige mediapersone soos Krish Naidoo, Khanyisile Kweyama, John Mattison and Mathatha Tsedu het hulself vir die SAUK-raad beskikbaar gestel om die SAUK te red toe dit op bankrotskap afstuur. Toe die SAUK-raad sy planne aankondig om die SAUK op die lug te hou en van bankrotskap te red, volg daar ’n noodvergadering met die nuwe minister Stella Ndabeni-Abrahams. Met die oog op die verkiesing en onder druk van die vakbonde veto sy hul planne. Die gevolg? Die vier lede bedank uit die raad. Die lede van die raad wat oorbly, vra nou grootskaalse finansiële hulp van die regering.

Mark Barnes, ’n sakeman met 30 suksesvolle jare in die sakesektor, bied aan om die poskantoor te help red nadat dit ná uitgerekte stakings op sy knieë is. Hy het nie die salaris nodig nie. Hy bring stabiliteit en begin die poskantoor finansieel omdraai. Die laaste deel van sy plan is ’n geïntegreerde poskantoor en posspaarbank. Dit sal die poskantoor winsgewend maak

Sy voorstel word geveto. Die gevolg? Hy bedank en verduidelik: “Dalk sien hulle die poskantoor as ’n noodsaaklike diens wat hulle vir ewig gaan subsidieer. Ek sien nie die logika hiervan in nie.”

Dieselfde patroon vind by SAL plaas. Vuyani Jarana was suksesvol in sy hoë pos in die privaat sektor by Vodacom. Hy verklaar hom bereid om uitvoerende hoof van die SAL te word. Hy gaan selfs ’n R100 000 weddenskap met Leon Louw van die Vryemarkstigting aan dat hy binne vier jaar die lugdiens finansieel sal omdraai. Ná twee jaar bedank hy en voer as redes aan al die beperkinge wat van bo op hom geplaas is met inmenging van die regering en vakbonde.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Presies dieselfde patroon met Phakamani Hadebe wat ’n suksesvolle loopbaan as hoof van die landbank gehad het. Binne ’n jaar ná sy aanstelling as hoof van Eskom bedank hy vanweë inmenging en onmoontlike eise wat van bo en onder aan hom gestel word.

In Suid-Afrika wil die ANC-leiers hul brood aan albei kante gebotter hê. Hulle probeer die vakbonde aan die een kant gelukkig hou en probeer aan die ander kant die mislukte staatsondernemings soos Eskom, SAL, SAUK en die poskantoor red.

Die dae wat jy albei kon doen en deurlopend kan inmeng, is vir altyd verby. Voor die radikale vakbonde se mag en invloed nie gebreek is nie, sal Eskom nie ontbondel kan word nie. Die ANC-leierskap sal nou moet kies. Anders gestel: Ramaphosa se Thatcher-oomblik het aangebreek. Dit kan nie langer uitgestel word nie.

Die feit dat Numsa en van hierdie radikale vakbonde van Cosatu weggebreek het en nou as vyande van die ANC gesien word, mag Ramaphosa help om reg te kies.

Ons sal volgende jaar weet of hy gekies het om hulle te konfronteer of te pamperlang.

  • Pieter Mulder is ’n voormalige professor, VF Plus-leier en parlementslid.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder was ʼn parlementslid en is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eddie

Probleem no.1 is dat Suid Afrikaners nie ‘n gesamentlike Nasionale doelwit het of geformuleer het nie !Neem die voorbeeld van ons Springbokspan asb !
2. Dis oor en oor bewys ” nice guys allways comes second ” en daarom vertrou ek CR sal sy voet neersit en die regte besluit neem !

ALLAN

100% gestel. Die vakbonde beheer die regering, solank dit so bly is daar nie lig in die tonnel nie.

JohanR

Lloyd Bentsen will be remembered for his interchange with Dan Quayle in their vice-presidential debate in 1988, in which Quayle, a Republican senator, compared himself to President Kennedy. Bentsen, a Democratic senator, replied: “Senator, I served with Jack Kennedy, I knew Jack Kennedy, Jack Kennedy was a friend of mine. Senator, you are no Jack Kennedy.” Cyril Ramaphosa, you are no Magaret Thatcher!

Human

Maar hy het seker nie ‘n paar nodig, want “he is playing the long game”.

AfrikaanseKnaap

Hy gaan niks doen nie.

Daai groot staking kom.