Redakteursbrief: Die Heiland is gebore – ook vir jou, mamma van Mayville

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Noeleen Foster)

Liewe Maroela-leser, maar veral die Mamma van Mayville wat verlede week vir ons geskryf het.

Dis vroegoggend, ʼn paar dae voor Kersfees, terwyl ek hierdie skryf. My gesin slaap nog, maar ek drink my eerste koppie koffie by die kombuistafel terwyl Japie, Maroela se kantoorhond, hier teen my voete ʼn laaste slapie vang.

Langs my lê ʼn notaboek met ʼn lysie van dinge wat gedoen moet kom. Dis juis dié notaboek en sy inhoud wat my vroeg-vroeg opgejaag het. Jy ken ook sekerlik die gevoel – al die dinge wat moet gebeur maar waarvoor daar net nie tyd is nie, en wat ophoop tot dié tyd van die jaar. Dan probeer ons in ons skamele twee wekies verlof soveel moontlik daarvan gedoen kry voor die nuwe jaar ons tref. Die honde moet inentings kry; die studeerkamer moet reggepak word; die prente wat al vir ʼn jaar op die grond staan nadat ons getrek het, moet opgehang word; die huis kort ʼn laag verf. Gewoonlik maak ek sommer elektroniese lysies op my foon, maar hierdie tyd van die jaar is te gewigtig vir ʼn elektroniese lysie. Dan diep ek ʼn notaboek op en maak notas met die hand – dis soveel waardiger vir doen-dinge wat net een keer ʼn jaar oor mens se pad kom, soos ‘Plant olyfboompie,’ ‘Draai geskenke toe’ en ‘Bak gemmerkoekies’.

Tussen die beplan en lysies-maak deur loer ek gou na my e-pos. Daar is jou brief in my e-posbus – ʼn brief van ʼn mamma van Mayville. Ek raak stil terwyl ek dit lees.

Twee weke om te gaan voor Kersfees, en terwyl sommige van ons dink aan watter Kersgeskenke ons gaan koop, sit ek reeds en dink aan lank ná Kersfees – aan die nuwe jaar; ʼn nuwe skooljaar. Ek dink aan die nuwe skooltassie, skryfbehoeftes vir skool, en skoolgeld. Vir ʼn oomblik wonder ek of ons vanjaar ʼn bonus gaan kry, want bestuurders praat saggies daaroor dat daar nie genoeg geld in die begroting is nie – al was daar oorgenoeg vir spanbou en Kerspartytjies. 

Ek wil nie eens dink aan Kersdag se ete nie. Wat gaan ek alles in die nuwe jaar in die kinders se kosblikke pak? Ons jongste gaan ook nou graad R toe. Hoeveel kosblikke gaan ek in die nuwe jaar aankoop? Kinders vergeet mos gedurig kosblikke op die sportveld in pouse – net nóg ʼn uitgawe. Skielik kry ek daardie sinkende gevoel wat ʼn mens soms op ʼn Sondag-namiddag kry. Dis ʼn tyd om bly en opgewonde te wees oor die geboorte van Jesus, maar al wat ek voel, is iets soos Sondag-blues. As ʼn enkelmoeder wat nie enige onderhoudgeld van die kinders se pa kry nie en net ʼn bietjie hulp en bystand van Ouma, hoop ek dat die volgende jare vinniger en vinniger sal verbygaan totdat die kinders klaar is met skool eendag, sodat hierdie gevoel van Kersfees-blues ook kan verbygaan.

Ek sit lank stil. My hart is seer vir jou omdat dinge vanjaar vir jou skeefgeloop het. In die stilte hoor ek die piet-my-vrou wat onlangs sy intrek in ons tuin geneem het; ek hoor die gawe bure aan die ander kant van die muur lag; ek sien hoe my kinders se vakansie-goetertjies oral in die huis rondlê.

Ek trek my notaboek nader. Dis tyd vir ʼn nuwe lysie – een wat sê wat alles vanjaar rég geloop het, sodat ek myself kan herinner aan waaroor hierdie Kerstyd eintlik gaan.

My gesin is gelukkig en gesond, en héél. Ons oudste het plek gekry in die hoërskool waaroor sy gedroom het, ten spyte van Lesufi se beste pogings. Die roostuin waaroor ek al jare lank droom, is gespit en geplant en staan vol in die blom. Ons bly veilig en lekker in ʼn buurt waar ons kinders in die straat kan fietsry. Ons budgie wat weggevlieg het, is gevind.

Die lysie strek nog wyer: Met Maroela gaan dit voor die wind. Suid-Afrika het die Rugbywêreldbeker gewen. Dit het gereën in groot dele van die land en Namibië waar daar droogte was.

Ná ʼn jaar soos vanjaar sal dit maklik wees om ʼn lang lys te maak van dinge wat in 2019 skeefgeloop het, in ons persoonlike lewens én in die land. Maar dit gaan ek nie nou doen nie. Want ʼn Heiland is gebore. Hy het gekom met ʼn belofte dat alles eendag nuut gaan word. Hierdie swaar, liewe mamma van Mayville, gaan nie vir altyd aanhou nie. Dankie dat jy my herinner het aan alles waarvoor ek dankbaar kan wees – dis ʼn baie groot geskenk wat jy my gegee het sonder dat jy dit weet, en wat jou niks gekos het nie.

Ek bid vir jou dat jy hierdie Kersfees jou vrede en rus in Hom sal vind.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media 

* Nota: Neem asseblief kennis daarvan dat Maroela Media se kommentaar-funksie op die webwerf sluit op 20 Desember om 12:00, en weer beskikbaar sal wees vanaf 6 Januarie 2020 om 6:00. Ons neem dié stap om die beperkte nuusspan oor die feestyd ʼn blaaskans te gee. Kom gesels gerus weer vroeg volgende jaar saam!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alta ·

Dankie Susan! Dit is elke jaar vir my ook ‘n openbaring waaroor Kersfees eintlik gaan. Ons doen soveel moeite met etes en geskenke en Jingle Bells in ons ore dat die wete dat Jesus vir ons gebore is en vir ons gesterf tot niet in die wind gaan. Kan ons nie eerder ‘n gesin wat nie welaf is nooi om by ons te kom eet nie of vir hulle die nodige skoolbehoeftes vir volgende jaar koop nie. Ek kan as ouma gril as ek hoor wat die skoolfonds deesdae is. Ek bid vir jou en jou familie ‘n baie mooi Christusfees toe. Ek is saam met julle bly dat dit by Maroela voor die wind gaan en dat julle almal ‘n blaaskansie kan kry. Sterkte vir 2020 met alles wat dit behels!
Liefde

Pandora ·

Maroela Media ek hou van julle, julle maak my dag korter en hou my op hoogte van nuus en soms snaaksighede waaroor ek kan huil en lag.
En Susan, Kaptein van hierdie skip, ek hou van jou omdat jy die hond op jou voete laat lê omdat jy die grimmigheid afkeer met ‘n sagte antwoord. Ek verwonder my met al die geduld waarmee die regstellings gedoen word en waarmee daar ook soms opvoeding gedoen word. Dankie daarvoor en mag die mamma van Melville ook besef tyd is kosbaar al is dinge moeilik. Geniet julle tyd saam met jul gesinne.

Suster ·

Ja, Susan, ‘n Heiland is gebore… Dank Hom vir ewig dat Hy na ons stukkende wêreld gekom het om ons te verlos sodat ons eendag vir altyd by Hom kan wees! Hy is ons Hoop, nou en vir ewig; ons Troos in lewe en dood. Dank God.

Jaco ·

Ons leef in weelde want ons het ‘n dak oor ons koppe. ‘N ou kar wat nog ry en klere in die kas. Pep Stores klere. Maar ek het soveel meer as mense wat werklik niks het nie. Dankie liewe Vader dat U elke dag vir my sorg en dankie dat U my ryk Pappa is.

H J KRUGER ·

Ek wil net weet is die mamma van Mayville Pretoria. As ons adres kry kan ons dalk ‘n pakkie afgee. So kan mens haar las ook verlig. Veral in die tye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.