Redakteursbrief: Hoe groet mens ʼn mens?

Maroela Media se Pretoria-span

Maroela Media se Pretoria-span

Dis tog vreemd hoe mens van mense afskeid neem.

Gewoonlik is ʼn afskeid ʼn hartseer gedoente en ons almal vermy dit sover ons kan. Tensy ons toeskouers is en ons nie die persoon van wie afskeid geneem word, persoonlik ken nie. Dan is daar ʼn voyeuristiese kwaliteit daaraan om ander mense se afskeid te aanskou: ʼn kleinding wat krampagtig aan haar pappa vasklou op die lughawe, of mense wat sag (of luid, afhangend van die kultuur van die oorledene) ween onder swart (of helderkleurige) sambrele langs ʼn graf in die reën.

Ons Suid-Afrikaners is mos maar bekend vir ons sin vir humor. Só het talle hartseer afskeidstories ʼn humoristiese kinkel. Toe my geliefde oupa oorlede is toe ek op laerskool was, het ons gesin huilend reg agter die lykswa gery op pad begrafnis toe. By ʼn rooi verkeerslig het die begrafnisondernemer saaklik besluit dis ʼn goeie tyd om vir hom die dag se koerant aan te skaf, so deur die oop venster, met ʼn sigaret in sy mond. Dis nie eers so snaaks nie, maar ons kinders het die hele begrafnis deur gegiggel vir die prentjie van die somber geklede begrafnisondernemer in die swart lykswa wat by die venster uithang om ʼn koerant te koop.

Stories van ontstelde tantes wat die kant van die graf mistrap en opgekatrol moet word, of kleingoed wat die mees onvanpaste goed kwytraak wanneer die eerste kluite op die kis klap, is volop.

Daar is ook die hartseer afskeidstories wat nie met woorde vertel kan word nie, want die hartseer is te diep, en geen humor is ter sprake nie. Dis die foto van ʼn geliefde en ʼn bossie blomme teen ʼn lamppaal, op die plek waar hy sy lewe verloor het. Of ʼn wit kruis by ʼn geroeste plaashek. Of ʼn oupa en ouma wat kleinkinders wat op pad is Australië toe vir oulaas op die lughawe styf vasdruk.

Hoe ook al – niemand van ons hou van afskeid nie. Maar so het dit afskeid-tyd geword in Maroela Media se kantoor. So ʼn maand terug besluit een van ons personeellede toe dis tyd om haar vlerke te sprei. Dit troos ʼn bietjie dat sy besluit het om haar vlerke te sprei na Taiwan, en nie na ʼn ander maatskappy met ander geleenthede nie (want as jy hier werk, is die gras die groenste dié kant van die draad).

Om te verstaan hoekom ons klomp hier so vreeslik hartseer is oor Danelle se wegganery, moet ʼn mens eers weet dat daar nog net een keer in Maroela Media se driejarige bestaan iemand hier bedank het. (Eintlik twee keer, maar een van dié twee het later weer teruggekom.) Ons is dus nie geoefen in dié afskeidnemery nie.

En dan moet mens ook vir Danelle ken om ons hartseer te verstaan. Sy is een van daardie hoppende bondeltjies energie wat met almal skoorsoek, maar sonder wie niemand kan klaarkom nie. Sy weet wat in almal se lewe aangaan (hier oordryf ek glad nie) en ken die naam van elke persoon wat in ʼn 300 m-radius rondom ons kantore werk. Met haar klein lyfie bestuur sy dagboeke met ʼn ysterhand en weet sy presies wanneer is die regte oomblik om ʼn beker koffie in jou hand te druk.

Sy is een van daardie mense wat nooit vervang sal kan word nie.

Netnou skryf ek die laaste boodskap in die afskeidskaartjie wat ons later vandag vir haar sal gee, en dis my voorreg om almal se boodskappe te lees voor sy dit kan lees. My keel trek toe oor alles wat ek tussen die reëls (en tussen die grappies) lees.

Danellie, hiér is my boodskap aan jou, ingeval jy die kaartjie iewers in Taiwan verloor: Jy het my lewe verryk. Die pad vorentoe is vir jou mooi, want dit wat jy die beste doen, is om ander mense te dien. Met dié gesindheid gaan jy ver kom. Ons sal jou onthou vir allerhande mooi dinge, maar ongelukkig ook vir die dag toe jy ʼn beker koffie op Bettie Kemp se notas en skootrekenaar omgekeer het.

As jy hierdie week van iemand moet afskeid neem, hoop ek jy kan glimlag verby die knop in jou keel.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Paul ·

Baie mooi woorde. Voorreg om ‘n kantoor te deel met sulke klomp “lawwe” karakters….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.