Reeds 30 jaar ná die begin van die Joego-Slawiese oorlog

Mense by die graf van Josip Broz Tito in Belgrado, Serwië. (Foto: Andrej ISAKOVIC/AFP)

Op 25 Junie 1991, met die onafhanklikheidsverklaring van Slowenië en Kroasië, het die oorlog in Joego-Slawië uitgebreek, wat dié veelvolkige staat stuk vir stuk tot ses state vandag (plus Kosovo, wat nog nie algemeen erken is nie) opgebreek het.

Die deelstaat wat die begin gemaak het, was Slowenië en Kroasië, die mees noordelike, mees Westerse, mees voorspoedige en etnies ook mees homogene deelstate. Joego-Slawië (Suid-Slawië) was ’n skepping van die oorwinnaars van die Eerste Wêreldoorlog, wat die Habsburg Ryk opgebreek het en dele daarvan saamgevoeg het met Serwië, wat reeds ’n onafhanklike staat was.

Die idee van die Amerikaanse president Woodrow Wilson, dat elke volk selfbeskikking moet hê en daarom die groot multi-etniese entiteite soos die Habsburg Ryk en die Osmaanse Ryk volgens etniese lyne oopgebreek moet word, was en is ’n gesonde beginsel. Omdat die Balkan-streek egter eenvoudig te veel etniese groepe gehad het, is besluit om sekere kleiner Slawiese volke saam te gooi en om sodoende die middelslag moondheid Joego-Slawië te vorm. Met die stigting het die land ’n koning gehad, maar het ná die Tweede Wêreldoorlog, waar dit een van die slagvelde was en gedeeltelik deur die Duitse Ryk beset is, ’n kommunistiese diktatorskap onder Josip Broz Tito geword. Alhoewel die land kommunisties was, was dit nie deel van die Oosblok nie en het sy eie pad gevolg.

Met die einde van die Koue Oorlog het ook in Joego-Slawië die beroep vir demokrasie en daarmee saam selfbeskikking opgeklink. Omdat die land ’n federale staat was, het die ses deelstate ’n mate van beheer gehad. Veral die meer ontwikkelde, noordelike deelstate Slowenië en Kroasië het hul eie identiteit herontdek en wou die dekade lange oorheersing deur die grootste deelstaat, Serwië, wie se hoofstad Belgrado ook die hoofstad van Joego-Slawië was, beëindig.

Verkiesings in die verskillende deelstate het demokratiese partye in beheer gebring wat die kommunistiese juk afgegooi het, en het die kwessie van onafhanklikheid vir die deelstate na vore gekom. Net Serwië, as die grootste deelstaat en met ’n kommunistiese regering, het hom gesien as die bewaarder van Joego-Slawië, wat afskeidingspogings deur middel van die weermag moes keer. Slowenië en Kroasië was die eerste wat op 25 Junie 1991 hul onafhanklikheid verklaar het. Die Joego-Slawiese (de facto-Serwiese weermag) het eerste op Slowenië toegeslaan, maar in die sogenaamde 10 dag-oorlog kon Slowenië die aanval suksesvol afweer. Kroasië, wat ’n groter Serwiese minderheid as Slowenië gehad het, moes daarenteen veel langer en harder vir sy onafhanklikheid veg, meer as vier jaar, en dele van sy grondgebied is deur Serwiese magte beset. Soos wat al hoe meer state die twee lande se onafhanklikheid erken het, het die oopbreek van Joego-Slawië onstuitbaar geword.

Die brandpunt van die Joego-Slawiese oorlog was egter Bosnië-Herzegovina, wat ’n mikrokosmos van die hele Joego-Slawië met sy etniese en godsdienstige mengelmoes was, en waar die oorlog die hardste en langste geveg is en eers deur internasionale inmenging (voorlopig) beëindig kon word. Die voorlopig laaste hoofdeelstaat van die Joego-Slawië-oorlog is Kosovo, wat anders as die ander voormalige deelstate slegs ’n outonome gebied binne Serwië was en nog nie algemeen as onafhanklike staat erken word nie. Terwyl Slowenië en Kroasië vandag etnies grootliks homogene, gevestigde en ekonomies redelik voorspoedige lande is en ook deel van die Europese Unie, is die ander voormalige deelstate nog in verskillende stadiums van interne spannings, etniese konflikte en ekonomiese woelinge.

Die opbreek van Joego-Slawië staan in skrille kontras met die onderhandelde en relatief vreedsame opbreek van post-kommunistiese state soos Tsjeggo-Slowakye en die Sowjetunie. Vir Europa was dit ’n skok dat 45 jaar sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog, en juis kort ná die einde van die Koue Oorlog en die (naïewe) verwagting van die aanbreek van ’n era van wêreldwye vrede en demokrasie, Europese volke weer oor etnisiteit en godsdiens mekaar die stryd aansê.

Dit is egter ook ’n sterk getuienis dat volke nie saamgedwing kan word nie en bereid is om vir hul selfbeskikking te veg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

capie ·

Die laaste paragraaf ” Dit is egter ook ’n sterk getuienis dat volke nie saamgedwing kan word nie en bereid is om vir hul selfbeskikking te veg. ” se baie.

Elinette ·

Baie waar en skerp om dit op te merk. Vat maar hier in SA – individue van verskeie etniese groepe kan nou, post-1994, wel met mekaar trou, saam woon en alles doen, maar die kulturele verskille bly maar daar. Ons sien dit elke dag in hierdie gewese land van ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.