Reguleer groepsverhoudings ter wille van persoonlike verhoudings

Grafika; mnn.com

Grafika; mnn.com

Wat my moed gee midde-in die toenemende rassepolarisasie en groeiende woede in die land, is die goeie persoonlike rasseverhoudings op grondvlak.

Ek het dit vroeg vanoggend weer beleef toe ek vinnig gesels het met die pompjoggie en die kassier by die motorhawe waar ek brandstof ingegooi en koffie gekoop het. Die teenstelling is opmerklik: persoonlike verhoudings op grondvlak is meestal gesond en selfs hartlik, maar groepsverhoudings op nasionale vlak is giftig en gekenmerk deur rasseretoriek. Ekself en min van ons is al ooit rassisties behandel deur ʼn gewone swartmens, maar vir die swart elite is ras bepalend wat owerheidsbeleid en politieke uitsprake betref. Hierdie kragdadige swart nasionalisme onder die dekmantel van demokrasie, laat dieselfde witmense wat gemoedelik met swartmense oor die weg kom, rooi (of swart!) sien.

Op persoonlike vlak kom mense goed klaar met mekaar, werk saam en voel nie bedreig nie, behalwe in uitsonderlike omstandighede of wanneer mense byvoorbeeld bang is vir misdaad. Maar hoekom die teenstelling tussen hartlike persoonlike verhoudinge en gespanne groepsverhoudinge? My teorie is die volgende: persoonlike verhoudinge is goed, want grondliggende belange is nie ter sprake nie. Dit is, inteendeel (ter verduideliking), eerder in my belang om vriendelik met die pompjoggie te wees, want dan kry ek goeie diens. Vir hom is dit ook belangrik om met my vriendelik te wees, want dit is goeie kliëntediens. Dis ʼn wen-wen op persoonlike vlak.

Mededinging

Maar op groepsvlak is daar politieke mededinging, vanweë baie witmense (ekself ook) se siening dat die (swart) ANC-regering die land swak regeer, dat hulle beleid van “African hegenomy” en transformasie op “African” oorheersing van die land en al sy instellings gerig is, en dat hulle witmense in die algemeen en Afrikaners in die besonder se grondliggende belange benadeel deur wetgewing en administratiewe bestuur van die land. Daarby is witmense demokraties uitgesluit van ‘n sê oor sake wat hulle ten nouste raak. Ek besef ons leef en werk in verskillende wêrelde, en dat sommige Afrikaansprekendes wat in meer “Boheemse omstandighede” leef en werk dit dalk anders mag beleef, en dat hulle selfs ʼn ideologiese probleem hiermee het.

Die werklikheid is bloot dat hierdie polarisasie hoogs waarskynlik net gaan groei, omdat dit diep gegrond is in die ANC se ideologie en die voortspruitende beleidsgrondslae. Die huidige stelsel lei daartoe dat mense op grond van ras begin meeding, en dis ʼn doodloopstraat. ANC-leiers polariseer rondom ras, omdat dit weens die land se demografiese samestelling politieke mag en die gevolglike ekonomiese voordele waarborg. Hierdie swart rassemobilisasie lei onvermydelik tot ʼn wit rassemobilisasie. Politieke preke oor hoe verkeerd dit is gaan ongelukkig min help, want die kern van die probleem sal aangespreek moet word. Indien groepsverhoudings verder verswak, gaan persoonlike verhoudings op die lang duur hoogs waarskynlik daarmee saam verswak – ’n  nagmerrie-scenario vir almal in die land.

Groepsverhoudings

Die oplossing? Wenlande het oorwegend federale bedelings, wat in wese groepsverhoudings reguleer, sodat almal voel dat hulle groep geakkommodeer is en hul belange veilig is. Die meeste Europese grondwette is federaal, en beskou groepe nie as ʼn bedreiging vir eenheid nie maar as die boublokke van eenheid. Die meeste van hierdie federale deelstate beskik selfs oor die oorspronklike magte oor sake wat hulle as gemeenskap raak. Dit beteken dat hulle nie net regte het nie, maar ook die magte om daardie regte te verwerklik. Maar die ooglopende probleem hiermee is dat ons ʼn sentralistiese model het wat, as ons eerlik moet wees, meerderheidsoorheersing waarborg. Daarom is bykans elke belangebotsing soos ʼn trompop-botsing tussen ʼn gesinsmotor en ʼn vragmotor, omdat die speelveld nie gelyk is nie vanweë die ANC se oorweldigende staatsmag.

Tweebeenplan

ʼn Tweebeenplan is daarom die enigste oplossing wat ek kan sien vir die noodsaaklike bevordering van intergroepsverhoudings. Die eerste been behels dat georganiseerde groepe wat kultuurgemeenskappe soos Afrikaners verteenwoordig, moet probeer om met die regering te praat om ooreenkomste oor knelpunte te probeer kry. Tweedens moet hulle  hulself in sterk gemeenskapsorganisasies organiseer wat hul groepsbelange self kan beskerm. Dit sal nie net hulle belange beveilig nie, maar ook die brandpunte wat mense polariseer blus of verminder.

ʼn Praktiese voorbeeld is dat die stigting van ons Afrikaanse Tegniese kollege ʼn uitlaatklep bied vir die regmatige wrewel van jong witmense wat weens  hulle ras nie andersins toegang tot tegniese opleiding kan kry nie. Hoewel dit net ʼn enkele voorbeeld op een bepaalde gebied is, kan die uitbreiding van hierdie strategie om deur selfdoenorganisasies op ander belangrike gebiede ook selfstandigheid te bewerkstellig, uiteindelik tot ʼn oplossing vir groepskonflik bydra. Selfdoenprojekte beteken dat die regering nie meer die plafon op die vlak van selfstandigheid is nie, maar ons eie vermoë om ons instellings te groei.

As ons Akademia tot ʼn groot wêreldklas universiteit opgebou het, hoef ons byvoorbeeld nie meer te kla oor ʼn onbekookte geknoei deur ʼn bepaalde universiteit om Afrikaners uit te skuif onder die dekmantel van die afskaling van Afrikaans om die universiteit meer toeganklik te maak nie. Die voordeel is dat ons hierdie strategie kan uitbrei na selfstandigheid op alle terreine, vanaf onderwys, veiligheid, taal, erfenisbewaring, opleiding, maatskaplik tot selfs op ʼn gebiedsbasis. Dit behels dat ons eers doen, en dan erkenning vra vir wat gedoen is, en nie eers wag tot ons toestemming kry voordat ons iets doen nie. Ons kan ons tog nie afhanklik stel van die regering vir enigiets wat ons self doen omdat hulle ons daarvan uitsluit nie. Dis ʼn strategie om van onder af te bou, en nie van bo af te vra nie.

Toegegee, hierdie plan is  nie ʼn kitsoplossing nie, dis ʼn moeilike plan van groeiende selfstandigheid wat tyd gaan neem om voordat ons nie meer staatsafhanklik is nie. Maar die alternatief is groeiende konflik en voortgesette afhanklikheid van ʼn verswakkende en uitsluitende staat.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

chris ·

Gee die nuwe multikulturele sameleweing van hierdie State net so 20 jaar dan praat ons weer.Kyk wat gebeur reeds in Britanje, hier begin Christene nou al die strate patroleer teen die nuwe britte uit hul vorige kolonies.Die grootste oorsaak van konflik wereldwyd gaan in die multikulti lande wees.Lande wat baie bly is hieroor is bv Rusland, Sjina en Indie.
Jy is reg dat dit in Europa gewerk het , daar is dit ‘n ooreenkoms van beide kante en hulle verwysingsraamwerk verskul munimaal .Ons ken die Afrika ooreenkomste .Onthou julle nog vir Codessa.

Die verwysingsraamwerk van die groepe in die land van ons is net te groot .Dit gaan Europa binne die volgende 20 jaar ook tref.
Die oplossing bly maar om te heers oor jou eie mense in jou eie grondgebied.

Hennie de Bruyn ·

Ek stem volkome saam. Ons moet waak teen eksklusiwiteit en eerder breed gaan. Die passiviste sal agter ons aankom. Ons moet Armoede as ons grootste Vyand aanvat. Alles in Afrikaans met ons eie mense subtiel aan die voortou.

Bruno Stef ·

Ek is persoonlik baie ten gunste van n Federale staat soos B.V. die Wes kaap en dele van die Noordkaap. Die Zoeloes het nou onlangs grondeise voorgele wat dele van die Vrystaat en Laeveld insluit, Die probleem is net dat dit vorentoe op geweld en burger oorlog kan uitloop as sekere partye aan mag sal bly vasklou.

Nico ·

Dan net ‘n vraag. Die rasding wat nou ontketen is by die Curro privaat skole, sal dit nou beteken daar gaan geagiteer word dat van graad R af net in Engels ‘klas’ gegee word, met tolke???

Dit nou om te verseker dat alle skole se klasse van die laagste graad af die demografie van die land weerspieël?

Dan ook, neem ek aan het die regering ook nou weer vir Akademia in die visier.

AP van Schalkwyk ·

Van sit en staan (en praat) kom niks gedaan…………Ons moet begin DOEN

arbutus ·

> As ons Akademia tot ʼn groot wêreldklas universiteit opgebou het

Hulle sal dit nie toelaat nie, hulle sal jou forseer om die land se demografie te weerspieel en dan dit aftrek na die akademiese standaarde van die res

Die ANC is doodbang dat die Afrikaner opstaan en onafhanklik word want dan verloor hulle beheer

Gee Akademia ‘n paar jaar, sodra hy suksesvol is (hy sal wees, ons weet wie’s in beheer) sal hulle begin inmeng

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.