Renate Barnard skryf ope brief aan Riah Phiyega oor bevorderings in polisie

Renate Barnard Foto: Reint Dykema

Renate Barnard Foto: Reint Dykema

Renate Barnard van Solidariteit se Sentrum vir Billike Abreidspraktyke het op grond van Solidariteit se saak teen die nuwe polisierange ’n ope brief aan die nasionale polisiekommissaris, genl. Riah Phiyega, geskryf.

Hiermee Renate se brief:

​‘Ons beskerm en ons dien.” Dít was die leuse van die Suid-Afrikaanse Polisiediens waarin ek en menige ander Suid-Afrikaner (wit, swart, bruin en Indiër) die voorreg gehad het om te dien. Ek het in ’n polisiehuis grootgeword. My pa, my oupa en uiteindelik ook ek en my broer was almal polisielede.

Ek het in 1989 ’n polisielid geword en 25 en ʼn half jaar in die SAPD gedien voordat ek verlede jaar bedank het omdat ek eenvoudig nie meer vir my ’n toekoms in die polisie gesien het nie.

Die organisasie waarvoor ek in die 1990’s gewerk het, het nog tot in die vroeë 2000’s hoëgehalte-werwing gehad, uitstekende opleiding, dissipline en wedersydse respek, sowel as ’n offisierskorps wat deur hul voorbeeld gelei het.

Lojale en hardwerkende lede het geweet dat hul toewyding erken en beloon sal word deur rangbevorderings gegrond op meriete.

Kinders is geleer dat die polisie hul vriend is en in tye van nood sal help.

Tydens werwingsveldtogte by van die land se beste skole en universiteite kon ervare werwingsoffisiere met ’n oop gemoed uiteenlopende loopbane aan skoolverlaters en gegradueerdes bemark – van uniformbeampte tot hondehanteerder; forensiese ontleder tot spesialis-speurder; van vlieënier tot veearts en ingenieur tot argitek kon daar werk.

Die enigste keuringsvereiste was harde werk, lojaliteit, toewyding en volgehoue studie.

Velkleur was nie ’n bepalende faktor nie.

Ons is vandeesweek vir die soveelste keer in die hof om u en u bestuur te takel oor die wyse waarop aanstellings en bevorderings in die SAPD gedoen word.

Die kleur van ’n mens se vel is vir u die belangrikste norm. Jare lange lojale diens en opoffering, asook kundigheid en ervaring, dra min gewig in die SAPD se toepassing van regstellende aksie.

Ek is daagliks in verbinding met polisiebeamptes en die meeste van hulle (in alle rasgroepe) is moedeloos oor die rigting wat die SAPD ingeslaan het.

Ek wonder dikwels wanneer ek met lede praat en hul desperaatheid en wanhoop sien of u ooit die moeite gedoen het om met grondvlak-polisielede te kommunikeer om u daarvan te vergewis wat op stasie- en eenheidsvlak aan die gang is.

Swart mans praat met trane in hul oë van ’n loopbaan wat in ’n doodloopstraat beland het juis weens (ironies genoeg) die polisiebestuur se toepassing van regstellende aksie. Want dit gaan nie net oor ras nie, maar ook oor geslag, politieke konneksies en wie jy ken.

Jong swart vroue met min of geen ervaring of kennis word in topposte aangestel. Wit lede met dooie oë en leë drome gaan van dag tot dag aan. Lede wat toppresteerders was, doen nou net die nodigste om uit die moeilikheid te bly.

Verby is die dae van die ekstra myl stap en jou dagtaak met passie afhandel.

Nathi Mthethwa, destydse minister van polisie, het in die voorwoord tot die polisie se jaarlikse prestasieplan vir 2013-’14 gemeld dat ’n sekere soort polisiebeampte gewerf moet word.

“Transformasie gaan oor die kaliber polisielid wat die burgers en die regering in die strate van hierdie land wil sien. SAPD-lede moet bewakers van die reg wees en hulself nie as die reg beskou nie.”

’n Doeltreffende polisiediens sal nie net misdaad en die vernietigende uitwerking daarvan op individue, gesinne, families, gemeenskappe en die sakesektor bekamp nie, dit sal ook tot voordeel strek van toerisme en buitelandse beleggers, wat weer tot die groei van die ekonomie sal bydra en werkloosheid sodoende sal verminder.

Die teendeel is egter ook waar: ’n ondoeltreffende, swak polisiediens kan die land op sy knieë dwing.

Die onlangse plundery van winkels in Soweto waaraan polisiebeamptes na bewering meegedoen het, plaasmoorde, die verkragting en marteling van bejaardes van alle rassegroepe en moord op hulle; bedrog, diefstal en korrupsie wat aan die orde van die dag is; en gereelde polisiebetrokkenheid by misdaad skets ’n duister prentjie.

Openbare vertroue in die polisie het na my mening ’n ongekende laagtepunt bereik.

Die publiek en die internasionale gemeenskap se persepsie is ver verwyderd van Mthethwa se visie van ’n sekere “kaliber polisielid” wat die publiek in die land wil hê.

Is dit die nalatenskap wat u vir hierdie land se toekomstige geslagte wil agterlaat?

U is die nasionale hoof van een van die belangrikste organisasies in die land en u kan ’n groot verskil maak aan die lewe van miljoene Suid-Afrikaanse burgers.

Ingevolge talle wette en die SAPD se gedragskode is dit baie duidelik dat die loopbaan van elke polisiebeampte belangrik is en dat geleenthede aan alle lede gegee moet word om te groei en te vorder, om sodoende ’n wesenlike bydrae te lewer tot die sukses van die polisiediens as die wetstoepassingsliggaam in Suid-Afrika.

Wat ons egter in die praktyk ervaar, is die teenoorgestelde hiervan. Nog nooit in die geskiedenis van die polisiediens is soveel litigasie-sake voor die arbeidshof gebring nie. Klagte oor onbillike arbeidspraktyke aangaande bevorderings, skorsings en verplasings oorheers die hofrolle en die regskoste skiet die hoogte in.

Miljoene rande word aan litigasie bestee en daar word selfs daarvoor begroot. In die polisie se jaarlikse pre­stasieplan vir die boekjaar 2013-’14 word vermeld dat besteding aan konsultante van R105,4 miljoen in 2009-’10 tot R129,5 miljoen in 2012-’13 gestyg het, en dat dit na verwagting in die boekjaar 2015-’16 tot R141,4 miljoen gaan styg.

Daar word boonop gemeld dat konsultante hoofsaaklik vir regsdienste aangewend word.

Dit is ’n skreiende skande dat R141,4 miljoen begroot word om aan regskonsultante te bestee terwyl die watervleueleenhede nie eens koeëlvaste reddingsbaadjies het om hulle te beskerm terwyl hulle operasionele dienste lewer nie. En dan meld u en die SAPD se topbestuur dat menslike hulpbronne die polisie se belangrikste bate is.

Vandeesweek het lojale en getroue polisie-offisiere in die hof gestaan en die moeilike stap gedoen om weens onbillike arbeidspraktyke teen hul werkgewer te litigeer.

Kapteins Monty Stone en J.P.L. van der Walt en ao. Natascha le Roux het by die SAPD aangesluit omdat hulle ’n roeping en ideale gehad het om die gemeenskap te beskerm en te dien. Hulle wou in die loopbaan van hul keuse vorder en ’n verskil maak. Die wyse waarop regstellende aksie tans toegepas word, het daardie toekomsdrome verydel – nie deur hul eie toedoen, gebrek aan kennis en ervaring of swak werkprestasie nie, maar bloot op grond van hul velkleur.

Die eerbare weg wat u as nasionale kommissaris behoort te volg, is om hierdie eng toepassing van regstellende aksie te staak en om polisielede op grond van meriete en prestasie te bevorder.

U is dit aan ’n misdaadvoos gemeenskap verskuldig.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Renate Barnard

Meer oor die skrywer: Renate Barnard

Renate Barnard het vroeër vanjaar uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bedank en werk nou in die private sektor. Barnard het ‘n bekende gesig geword nadat sy en die vakbond Solidariteit die polisie hof toe gesleep het oor sy weiering om haar te bevorder weens haar velkleur.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Danie ·

Ek dink die eerbaarste ding wat sy kan doen is om te bedank! Daar is egter niks eerbaar aan haar nie – was nog nooit gewees nie…

Frik ·

Ons as dienende lede ervaar op n dag tot dag basis die druk van onnosel onbekwame bevelvoerders wat ingedruk word agv regstel aksie en dan nie n benul het om die skip te stuur nie. Sterkte vir die lede wat nog aanhou en n verskil probeer maak.

David Ras ·

Renate, ek is innig jammer vir jou en die dienende–let wel:”dienende”- lede van die SAPD oor die situasie waarin hulle verkeer.
Art 9.2 van die grondwet van hierdie land rugsteun alle maatreels en wetgewing oor regstellende aksie.BEE ens. Die artikel se betekenis is so wyd dat dit skrikwekkend is.
Solank as hierdie artikel in die grondwet verskans is, sal geen hof uiteindelik tot ‘n ander beslissing kan kom as om te bevestig wat in daardie artikel staan,
Terwyl ek met waardering kennis neem van Solidariteit se stryd oor regstellende aksie, meen ek tog dat hulle die gevolge van die wetgewing aanval .i.p.v. die wetgewing self. Hulle wen die veldslae, maar verloor die oorlog, soos wat met jou in die Konstitusionele hof gebeur het.
Onder die opskrif (Engelse weergawe) Equality staan in art 9.1–everyone is Equal before the law. and has the RIGHT to equal protection and benefit of the law–arbeidswetgewing ingesluit.!
Passievolle skrywes aan iemand soos Phiyega wat in elk geval geen polisie opleiding het nie, gaan julle nerens bring nie. Hulle sal op die onbeperkte moontlikhede van Art 9.2. ry tot in die verste toekoms.. Dis tyd vir Solidariteit om ;n denksprong te maak–takel die Grondwet self, nie net die gevolge daarvan nie.

ladybug ·

Renate, my hart ruk van seer, want ek weet hoeveel lede wat die “know-how” het bedank maandeliks juis om al die redes wat jy hier noem! Dit maak my ook paniekerig oor die toekoms in die polisie en vir ons land se mense.

Keuring is ‘n grap der grappe ek dink ‘n graad 1 leerling het meer integriteit as sommige offisiere en dan is daar die res wat net nie ‘n duit omgee nie, net daar vir die salaris en byvoordele!

Dooie oë en leë drome .. ek sien dit daagliks en al praat mens mooi en smeek, werk dit nie eens meer nie .. die passie vir die werk is net nie meer daar nie …

Ek het verlede Saterdag vir Bheki Cele gevra wanneer hy terugkom nie, sy antwoord was sodra hy die “ja” woord kry!

Die polisie het leiers nodig nie navolgers nie! En Phiyega is nie ‘n leier nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.