Rigtinggewende uitsprake van die Amerikaanse hoogste hof

(Foto: AP Photo/J. Scott Applewhite)

In ʼn rigtinggewende uitspraak het die Amerikaanse hooggeregshof beslis dat vryheid van spraak en persoonlike oortuigings, swaarder weeg as die absolute aanspraak op nie-diskriminasie, of wat daarvoor aangesien word.

Die spesifieke geval was ʼn webbladontwerper, wat op grond van haar Christelike geloof geweier het om webblaaie vir dieselfde-geslag-huwelike te ontwerp. Sy is egter deur die staat Colorado, waar sy woon, onder die nie-diskriminasiewet verplig om haar eie oortuigings te verdraai en wel die webwerf te ontwerp. Die webbladontwerper het toe die hooggeregshof aangeroep, wat haar reg bewys het.

Die punt wat gemaak is, was dat die webbladontwerper nooit teen iemand gediskrimineer het op grond van hul oortuigings of seksuele voorkeure nie, maar dat sy nie geforseer kan word om dinge te sê of te skryf wat teen haar eie oortuigings is. Die uitspraak het nie die artikel oor godsdiensvryheid aangewend nie, maar die eerste grondwetlike beginsel, naamlik die reg tot vryheid van spraak.

Vryheid van spraak is nie net wat jy sê of skryf nie, maar dek ook die skeppende kunstenaars, wat ʼn webbladontwerper insluit. As iemand geforseer word om ʼn webblad te ontwerp wat ʼn dieselfde-geslag-huwelik vier en prys, verwoes dit jou reg tot vryheid van spraak. As vryheid van spraak net insluit wat tans algemeen gewild is, is dit nie meer vryheid van spraak nie. Dit sou ʼn ander saak wees as iemand weier om ʼn homoseksuele persoon te bedien op grond van sy seksuele voorkeur. Dit was egter nie in dié hofsaak die vraag ter sprake nie.

Ras as toelatingsfaktor

In nog ʼn beslissende uitspraak het die hooggeregshof beslis dat ras nie meer ʼn bepalende faktor vir universiteitstoelating mag wees nie, omdat dit die grondwetlike beginsel van gelyke behandeling oortree.

Dit volg nadat studente by die universiteite van Harvard en North Carolina gekla het teen die praktyk dat swart Amerikaners toelating vir universiteite nie slegs op grond van kwalifikasies kry nie, maar op grond van hulle velkleur. Die hooggeregshof sê onomwonde dat dit neerkom op diskriminasie op grond van ras en in stryd is met die grondwetlike beginsel van gelyke beskerming.

Jy kan nie rassisme met rassisme beveg nie, aldus een van die regters. Ook die argument dat regstellende aksie nie oor ras nie, maar oor die beskerming van minderhede gaan, hou nie water nie. Regstellende aksie is nie vir minderhede as sodanig nie, maar veral vir swart Amerikaners en in ʼn mindere mate ook vir mense van Latyn-Amerikaanse herkoms bedoel. Vir die mense van Asiatiese herkoms in die VSA geld dit nie. In dié twee spesifieke gevalle was dit juis Amerikaners van Asiatiese afkoms wat hulle tot die hof gewend het.

Nog ʼn argument vir regstellende aksie is gewoonlik dat groter diversiteit voordelig is vir almal deur blootstelling aan nuwe idees en insigte. Die argument van die regters was egter dat daar geen bewyse is dat diversiteit per se voordelig is vir almal nie, en boonop is daar geen kriterium waardeur bepaal kan word wanneer ʼn universiteit divers genoeg is en die rasbevoordeling nie langer nodig sou wees nie.

Die praktyk om swart Amerikaners weens die diskriminasie wat hulle in die verlede ervaar het, te bevoordeel by universiteitstoelating, om sodoende hulle persentasie aan die studentekorps op te lig, word al vir meer as 50 jaar in die VSA beoefen. Die praktyk is al verskeie kere voor die hooggeregshof uitgedaag. Die argumente vir en teen is altyd dieselfde. Wat egter nou anders is, is dat die hooggeregshof vir die eerste keer ooit ʼn soliede konserwatiewe meerderheid van ses teenoor drie regters het, te danke aan twee benoemings deur president Trump.

Soos verwag kon word, skuim president Biden, die demokrate en die liberale media van woede oor die “aktivistiese hooggeregshof wat sy grens oorskry en hom met die politiek van die dag bemoei”. Toe dieselfde hof, wel met ʼn ietwat ander samestelling, in die onlangse verlede die deure oopgegooi het vir dieselfde-geslag-huwelike, was daar geen beswaar uit dié oorde nie.

Die uitdaging gaan nou wees om die nuwe reëls by universiteite met hulle linksgesinde dosente en administratiewe personeel te implementeer. Nietemin is dit ʼn belangrike oorwinning in ʼn beginselsaak en sal die eggo ook buite Amerika weerklink.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Ons het ‘n totaal swart regering wat onlangs aangekondig het dat nog verstellings kom om rassisme en verontregtings te wysig. Dit sal hier eerder vinniger na die anderkant toe afrol as verbeter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.