SA-arbeidsverhoudinge – Die smal of breë weg

arbeidsverhoudinge

Foto: pixabay.com

In die laat 1980’s was Suid-Afrika by ʼn kruispad en die toekomskundige, Clem Sunter, het vir Suid-Afrika ná 1990 ʼn “high road-” en ʼn “low road”-scenario voorgestel. Om dit in die Bybelse Bergrede se terminologie te stel, is die uiteinde van die breë weg (“low road”) volskaalse opstande en burgeroorlog en dié van die smal weg (“high road”) ʼn onderhandelde politieke skikking. Suid-Afrika het gelukkig die smal weg gevolg (al voel dit nie aldag so nie).

Die vakbondwese in Suid-Afrika het nou ʼn kruispad bereik en 2016 kan bepaal of arbeidsverhoudinge in die nabye toekoms op die smal weg of breë weg gaan wees. Die sleutelrolspelers wat ʼn omwenteling in arbeidsverhoudinge veroorsaak het, is Cosatu se voormalige hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, wat saam met Numsa ʼn nuwe vakbondfederasie en arbeidsbeweging op dreef probeer kry nadat albei uit Cosatu geskop is. Die ander groot invloed kom van die militante Amcu, wat ná die Marikana-insident saam met Numsa die sleutel-populistiese vakbonde geword het. Dié twee vakbonde gaan die hoofrolspelers in vanjaar se “stakingseisoen” wees.

Die breëweg-scenario (negatief)

As uitvloeisel van die Marikana-insident en die onstabiliteit wat daarop gevolg het, het die regering, vakbond- en werkgewerverteenwoordigers verskeie vredesakkoorde onderteken en taakspanne aangestel om stabiliteit in arbeidsverhoudinge te bevorder.

Die gebrekkige sukses daarvan in die mynbousektor kan toegeskryf word aan Amcu wat deurgaans weier om hulle aan enige vredesakkoord te verbind. Vir hulle is stakinggeweld steeds die norm, veral vanweë Amcu se onderhandelings- en ledegroeisuksesse wat behaal is danksy dié strategie.

Die spanning word verhoog weens wedywering tussen Amcu en die National Union of Mineworkers (NUM) met fatale gevolge, soos wat onlangs die geval was by Northam-platinummyn toe werkers vermoor is weens dié twee se wedywering.

Daarmee saam loop die spanning ook hoog tussen die NUM en Numsa in die Eskom-omgewing. Benewens normale wedywering tussen die vakbonde om lede te werf, is die NUM sterk ANC-gesind, terwyl Numsa en Amcu anti-ANC is, wat ʼn sterk politieke kleur aan die wedywering gee.

Om die politieke agenda agter vakbondwese te verstaan, moet die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR)-dokument bestudeer word. President Jacob Zuma verwys na die NDR as die “rigtinggewende filosofie wat vir ons die koers na die toekoms wys” en professor Hermann Giliomee beskryf die NDR as “die ANC-alliansie se bloudruk waarvolgens hy sy deurlopende revolusie en transformasie van die samelewing wil uitvoer.”

In die NDR word na intreevlakwerkers as die bevrydingsmag verwys, wat die sukses van die tweede fase van die revolusie, naamlik die ekonomiese vryheidstryd, sal bepaal. Intreevlakwerkers se welslae word terugherlei na die tagtigerjare, toe werkers deur protesoptogte druk op die Nasionale Party-regering geplaas het en die ekonomie tot op sy knieë gestaak het en só politieke verandering bewerkstellig het. Selfs wyle professor Carel Boshoff het in 1990 tydens ʼn toespraak by die Universiteit Stellenbosch aangedui “die swart arbeidsmag in Suid-Afrika het die vryheidsmag vir swart mense geword.”

Die geveg om beheer van intreevlakwerkers bedreig die ANC se NDR, want Amcu, Numsa en die nuwe federasie het ʼn ernstige invloed op die ANC en Cosatu se beheer oor intreevlakwerkers.

Amcu het, sedert Marikana, kragte saamgespan met die Workers and Socialist Party (WASP) en die Demokratiese Sosialistiese Beweging (DSB) en hierdie alliansie het reeds beheer verkry oor intreewerkers by die platinummyne. Die WASP en DSB is “toevallig” saam met die EFF die groot aanhitsers van kampusgeweld en poog dus om so ook beheer oor militante studente te kry.

Amcu en Numsa floreer egter op die breë weg en Numsa sal sy 2016-salaris-bedingingplatform in die motorvervaardigings- en metaal-en-ingenieurswesebedryf gebruik om sy status as grootste en mees militante vakbond in die land gestand te doen.

Dan gaan Amcu tydens die platinumsektor se onderhandelinge poog om die NUM, wat nog die grootste mynbouvakbond is, te onttroon. Amcu en Numsa se moontlike gewelddadige stakings vanjaar kan die voortgesette werkplek-anargie outomaties laat oorspoel na ander onderhandelinge en gemeenskappe, wat die ideale teelaarde vir populisme sal wees in die aanloop tot die munisipale verkiesing.

Dit is juis die plan van Vavi en Numsa om nie net ʼn nuwe vakbondfederasie te stig nie, maar om ook ʼn gemeenskaps- en politieke beweging onder die vaandel van die Verenigde Front op die been te bring wat, soos die United Democratic Front (UDF) van ouds, kollektief vir gemeenskaps-, politieke en werkerskwessies veg.

Die hartseer ironie is dat die konflik in die arbeidsverhoudingeveld dus nie weens tradisionele werkgewer-vakbond-wrywing geskep word nie, maar hoofsaaklik aangevuur word deur wedywering en spanning wat tussen vakbonde, vakbondfederasies en politieke partye op die linkerkant van die politieke spektrum bestaan.

Ek glo egter nie dat gewelddadige stakings, soos in die onlangse verlede, arbeidsverhoudinge op die breë weg gaan plaas nie.

Eerstens, omdat intreevlakwerkers nou begin besef hulle staak eintlik hulself armer weens die toepassing van die beginsel van geen-werk-geen-betaling en tweedens begin werkers besef hulle word meestal vir iemand anders se politieke agenda misbruik. Derdens behoort die regering en die SAPD ná die munisipale verkiesing meer kragdadig op te tree teen gewelddadige stakings om só die land teen rommelstatus te beskerm en Davos-kritici verkeerd te bewys wat aanvoer arbeidsverhoudinge in Suid-Afrika het buite beheer geraak – dit is ook soveel makliker vir die regering om kragdadig teen vakbonde en stakende werkers op te tree wat nie ANC-gesind is nie.

Die smalweg-scenario (positief)

Populistiese vakbonde poog sedert 1994 om van die land se sosio-ekonomiese, maatskaplike, dienslewerings- en politieke probleme by die loononderhandelingstafel op te los.

Daarmee saam word die kompleksiteit van arbeidsverhoudinge aangevuur deur sekere vakbondleiers wat hul vakbondplatform misbruik om ʼn politieke loopbaan te lanseer. Om arbeidsverhoudinge van alle eksterne bagasie te suiwer, is daar regerings-inisiatiewe soos die presidensiële arbeidswerksgroep en die mynboukonsultasieforum, waar die regering twee of drie keer per jaar samesprekings voer met alle betrokke rolspelers. Hoewel hierdie inisiatiewe meestal nie tot konkrete uitkomste lei nie, is die sosiale dialoog wat daar plaasvind, baie belangrik.

Om op die smal weg te bly, moet die verandering egter op grondvlak geskied. Die raakpunt tussen werkgewers en vakbonde is “werknemers”. ʼn Verantwoordelike vakbond wat sy lede in hul werk wil hou, sal daarna streef om die werkgewer-werknemer-verhouding op wedersydse vertroue te grond om so ʼn klimaat vir gesonde arbeidsverhoudinge te skep.

Die onlangse mynbou-onrus het juis die leemte uitgewys van ʼn kommunikasiegaping tussen die werkgewer en veral intreevlakwerknemers, omdat arbeidsverhoudings-verwante kommunikasie gewoonlik van die werkgewer deur die vakbondstrukture geskied in die hoop dat vakbonde die boodskap korrek sal oordra. Werkgewers het die fout agtergekom en kommunikeer nou baie effektief met hul werknemers en skep gepaardgaande geleenthede vir tweerigtingkommunikasie.

Danksy verbeterde verhoudinge tussen werkgewers en werknemers, is die atmosfeer geskep waar werkgewers hulle volgens ooreenkoms met hul werknemers kan verbind tot billike arbeidspraktyke; oop kommunikasie; spoedige hantering van griewe; weerhouding van onregverdige bevoordeling van een vakbond bo ʼn ander; die vryheid van assosiasie oor vakbondlidmaatskap; gereelde verlof aan “trekarbeiders” en beskerming tydens arbeidsonrussituasies.

Daarenteen het afleggingsvrese werkers meer inskiklik gemaak vir volhoubaarheidsinisiatiewe en is die tyd ook ryp vir werknemers se verbintenis tot ʼn produktiwiteitsakkoord, waarin die werkgewer se ideaal vir verhoogde produktiwiteit met die werknemers se behoefte aan verhoogde vergoeding en werksekerheid met mekaar verbind word.

Die tyd is ook ryp om weg te beweeg van die huidige konflikterende posisionele salarisbedingingsmodel, na ʼn belange-gebaseerde bedingingsmodel, waar laasgenoemde beteken die kernbehoeftes van albei partye word geakkommodeer, maar daar word veral op die sosiale loon (opleiding, behuising en beroepsgesondheid en -veiligheid) gefokus.

Om die smal weg te laat materialiseer, moet die oppergesag van die reg gehandhaaf word en lede van die onlustepolisie moet by stakingsbrandpunte ontplooi word sodat die klein groepie militantes, wat die meerderheid onskuldige werknemers en hul gesinne in vrees laat lewe, die volle mag van die reg kan ervaar.

Numsa, sowel as Amcu, het ʼn daadwerklike strategie van intimidasie en geweld, wat gedryf word deur ʼn klein groepie lede (die sogenaamde A-span), wat finansieel vergoed word om kwaad te stook. Die owerhede is egter nou deeglik bewus daarvan, veral omdat dié strategie ook by universiteite toegepas word.

Die sukses van die smal weg berus verder op vakbondleiers van strydende vakbonde om deur eie insig oor die skadelike realiteite van afleggings, of vanweë die invloed van die presidensiële inisiatiewe, die moed van hul oortuiging te hê om die strydbyl in belang van hul eie lede en die land te begrawe.

Die regering sal ook moet verseker die betrokke staatsinstellings, wat gemoeid is met ekonomiese groei, behuising, infrastruktuurontwikkeling, maatskaplike hulp, onderwys, vervoer, gesondheidsorg en veiligheid hul grondwetlike plig nakom en belastinggeld met kundigheid en integriteit aanwend, sodat hierdie aspekte nie meer brandpunte om die loononderhandelingstafel is nie.

Niks in hierdie scenario is vir ʼn land, wat die smal weg ná 1990 betree het, onmoontlik om te bereik nie, maar dit help ook dat die regering met ʼn skokbesef in die geweerloop van rommelstatus vaskyk.

Slotsom

Die smal weg is die waarskynlike scenario, maar soos die pendulum terugswaai na normaliteit, moet dit steeds deur die onstabiele fases beweeg, wat beteken arbeidsonrus gaan nie oornag verdwyn nie. Deurlopende gespreksvoering bly egter die sleutel. Soos Winston Churchill opgemerk het om te “jaw-jaw is always better than to war-war.”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae