Selfstandige gemeenskappe nie gevangenes van ‘bevrydingsbeweging’  

Deur Johan Kruger

Plunderaars vlug met items wat gestroop is terwyl die polisie wet en orde probeer handhaaf by die Lotsoho-winkelsentrum in Katlehong, in Gauteng. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die plundering, misdaad en onluste van die afgelope paar dae het skokgolwe deur die land en die wêreld gestuur. Die tonele van plundering en vernietiging word deur die ANC veroordeel, maar eintlik is die tonele maar net ’n morbiede vergestalting van dit wat die ANC geword het: ’n plunderende party van korrupsie en selfverryking.

Ofskoon die ANC in sommige kringe as ’n “bevrydingsbeweging” beskryf word, is die organisasie se vernaamste nalatenskap nie bevryding nie, maar gevangesetting. Alhoewel die party ’n groot rol in die uiteindelike oorgang na die nuwe bedeling gespeel het, kon die party nie daarin slaag om volhoubare vryheid van werkloosheid, armoede, ongeskooldheid en misdaad te bewerkstellig nie.

Die oorgrote meerderheid van landsburgers is nie betekenisvol vryer in hierdie opsigte weens die ANC se regering nie. Die teendeel is eintlik waar. Die ANC se baanrekord gedurende die afgelope twee en ’n halwe dekades van regering kan bykans op alle vlakke as ’n mislukking bestempel word.

Die agteruitgang weens die ANC-regering se beleidskeuses, wanbestuur en korrupsie het ons land stewig op die glybaan na ’n mislukte staat geplaas. Alhoewel die betreklik vreedsame politieke oorgang van 1994 sonder ’n burgeroorlog deur sommige as ’n wonderwerk beskryf word, was min mense voorbereid op die ANC se tsunami van vernietiging wat gevolg het.

Die afgelope dae se gebeure het ’n mens onwillekeurig aan ’n soort burgeroorlog laat dink. Maar hoe het ons hier beland? Die burgeroorlog het wel nie plaasgevind in die 1990’s nie, maar die ANC se oorlog van vernietiging het die land en sy burgers in vele opsigte in dieselfde posisie gelaat as lande wat deur ’n burgeroorlog getref is. Gaan kyk ’n mens na ’n paar van die algemene kenmerke van lande ná ’n burgeroorlog (natuurlik wissel dit van omstandighede), vind jy dat Suid-Afrika ná 27 jaar van ANC-bewind treffende ooreenkomste met sulke lande toon.

Oorlog en vrede

Duisende soldate is ontplooi om die situasie in bedwang te hou. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Oorlog is ’n teelaarde vir korrupsie. Die ANC is ook. Omstandighede tydens burgeroorloë en daarna skep gereeld ’n teelaarde vir korrupsie. Die ANC se plundertog van elite selfverryking ten koste van burgers en veral die armste van die armes wat die party se ondersteuners is, is so omvangryk dat dit nog nie ten volle gekwantifiseer kan word nie. Die korrupsie tydens die huidige Covid-19-pandemie bevestig dat die ANC se DNS een van korrupsie geword het.

Oorlog bevorder misdaad en wetteloosheid. Die ANC bevorder dit ook. Die ANC se onvermoë om wet en orde te handhaaf en misdaad hok te slaan is allerweë bekend en word jaarliks in misdaadstatistiek weergegee. Die regering se onvermoë om die veiligheid van gemeenskappe en eiendom te waarborg was egter nog nooit in die onlangse geskiedenis so blootgelê as die onbeholpe reaksie en hantering van die plundering en misdaad in KwaZulu-Natal en Gauteng nie.

Oorlog beskadig die ekonomie en knel ekonomiese groei. Die ANC doen dit ook. Die oploop van staatskuld, die verlies aan beleggings en die disinvestering in areas wat langtermyn- ekonomiese groei kon bewerkstellig, word dikwels in oorlogstyd ervaar. Die ANC se onvermoë om sinvolle en suiwer ekonomiese beleid te implementeer wat volhoubare ekonomiese groei en welvaart vir die land en sy burgers kon meebring, het in die afgelope jaar ‘n hoogtepunt bereik deurdat die ekonomie met 7% gekrimp het ná een van die strengste inperkings ter wêreld tydens die Covid-19-pandemie.

Oorlog vernietig infrastruktuur en eiendom, hetsy openbare-, munisipale-, of gesondheidsinfrastruktuur. Die ANC ook. Die verval van munisipale infrastruktuur en -bestuur onder die ANC se bewind is sodanig dat die oorgrote meerderheid van munisipaliteite as disfunksioneel of gedeeltelik disfunksioneel beskryf kan word en nie basiese dienste aan burgers kan lewer nie. Die vernietiging van gesondheidsinfrastruktuur deur die ANC-regering laat diegene wat nie private mediese hulp kan bekostig nie in die onbenydenswaardige posisie om op staatshospitale en -klinieke aangewese te wees.

Oorlog beperk toegang tot onderwys en funksionerende skole en onderbreek en vernietig kinders se opvoeding. Die ANC doen dit ook. Tagtig persent van Suid-Afrikaanse skole word as disfunksioneel gekategoriseer. Die deurvloeisyfer vir skole van graad 1 tot graad 12 vir 2020 word geraam op 41,1%. Die ANC kry dit eenvoudig nie reg om jongmense te bemagtig met onderwys en skole van gehalte nie.

Oorlog vernietig instellings en produksie. Die ANC ook. Die ANC se verstommende vernietiging van staatsbeheerde instellings soos Denel, Eskom, Transnet, PetroSA en SAL spreek vanself. ’n Lomp en grootliks disfunksionele staatsdiens, meegebring deur meedoënlose rassetransformasie, swart ekonomiese bemagtiging en kaderontplooiing, is ’n werklikheid.

Oorlog veroorsaak armoede en werkloosheid. Die ANC doen dit ook. Die kumulatiewe uitwerking van die ANC se bostaande optrede, vertolk in armoede en werkloosheid. Onlangse syfers van Statistieke Suid-Afrika beraam die amptelike werkloosheidskoers op 32,6%. ’n Werkloosheidskoers van 46,3 % onder mense tussen die ouderdom van 15 tot 34 verklaar ten dele die aangryp van plundergeleenthede en die eiegeregtigheid wat daarmee gepaardgegaan het tydens die afgelope dae se gebeure.

Gemeenskapskrag troef staatsmag

(Foto: AfriForum)

Die krag van selfstandige gemeenskappe het weer duidelik geword in die afgelope week se gebeure. Weerbare gemeenskappe met sterk strukture en gebeurlikheidsplanne kon mobiliseer om die lugleegte te vul van ’n afwesige en onbeholpe SAPD. Die trae optrede van die regering en die ooglopende planloosheid, is onmiddellik gevul deur gemeenskappe wat self ingetree het om eiendom te beskerm en veiligheid te verseker.

Ook AfriForum se takke en buurtwagte kon nasionaal mobiliseer om gebeurlikheidsplanne in werking te stel en hulle gemeenskappe te beveilig. Gemeenskappe bewaak en beveilig hulle gebiede en woonbuurte.

Die voedselnood en maatskaplike uitdagings waarmee ons mense na afloop van die gebeure gekonfronteer word, word nou saam deur gemeenskappe vir gemeenskappe getakel. AfriForum se takke mobiliseer saam met die Solidariteit Helpende Hand, fondse en noodsaaklike lewensmiddele om die gemeenskappe in nood by te staan. Konvooie met voedsel word georganiseer en beveilig deur AfriForum se Buurtwagstrukture.

Hierdie saamstaan van gemeenskappe en gemeenskapsnetwerke in ’n krisistyd is aanduidend daarvan dat nie alle gemeenskappe gevangenes is van die ANC se werklikheid wat dit vir die land geskep het nie. In selfstandige gemeenskappe en -instellings op elke vlak lê daar hoop en vryheid van ’n plunderende staat.

Gemeenskappe wat steeds gevangenes van die ANC-regering is, steier nog onder

Stockholm-sindroom. Verlei deur die “bevrydingsbeweging” se retoriek en omgekoop met staatstoelaes, lê die gevangenes se ondersteuning waarskynlik steeds by die ANC wanneer stemdag kom.

  • Johan Kruger is hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton ·

As jou enigste bydra tot beskawing die ontdekking van vuur is, is dit ook seker jou enigste metode van protes

annie ·

Sedert 1994 is bevolkingsgroei aangemoedig met gratis mediese dienste, skoling en bystand vir elke kind; ma’s vergoed vir volksgroei. Nou word die skuld vir tekorte tov van welsyn voor die deur van witmense gelè welwetende dat die plan tot grootskaalse armoede sou lei; immer-gee se skuldgevoelens by witmense gekweek met gee-dae, gee-maande, gee-eiendom, gee-jou-lewe vir die groeiplan, nòù gekoppel aan die wit godsdientige gewete want ‘ons’ die verontregtes is ‘n ander saak: die ewige onskuldiges/natuurkinders. Is die wet deur die Skepper afgekondig of ‘n sluwe manier van uitwissing?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.