Siening van gelykheid wys krake

Dit blyk ’n nuwe Koue Oorlog is in ons land aan die opwarm en die belangrikste strydpunte van dié ideologiese konflik is besig om gaandeweg duideliker te word.

Die twee kampe wat vorm kan breedweg as ’n liberale groep en ’n linkse groep beskryf word.

Oudpres. FW de Klerk het verlede week gewaarsku dat die ANC met sy Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) die land terug na sosialisme wil lei. Die ANC en sy alliansievennote het op hul beurt bitsig teruggekap, maar erken dat die NDR steeds hul strategiese oogmerk is.

Dit lyk of die kern van die oplaaiende konflik veral handel oor die twee kampe se botsende sienings van demokrasie, die Grondwet, gelykheid en eiendomsreg. Die liberale het ’n “prosedurele” siening van demokrasie, met veelpartyverkiesings as die kern daarvan. Daarteenoor praat linkses van “wesenlike” demokrasie, met ekonomiese herverdeling as die kern. Vir die een gaan demokrasie oor politieke vryheid, vir die ander is politieke vryheid net die eerste stap om die politieke mag te gebruik om ekonomiese gelykheid te bewerkstellig.

Die twee kampe beskuldig mekaar oor en weer van pogings om die Grondwet ideologies te kaap en die botsende vertolkings van die Grondwet dreig veral om die linkse en liberale kampe uitmekaar te dryf. Die liberale siening van die Grondwet wentel om sake soos die beskerming van individuele regte, die onafhanklikheid van die regbank, eiendomsreg en vrye media.

Vir die linkses is die Grondwet die bloudruk wat die land moet transformeer volgens die land se rassesamestelling, wat armoede en ongelykheid moet aanpak deur herverdeling en welsynsdienste, en wat die NDR se struggle voortsit met staatsmag.

Vir liberale is die kern van die Grondwet individuele regte, vir linkses is die kern sosiaal-ekonomiese regte en gelykheid. Vir liberale gaan die Grondwet oor die beperking van staatsmag; vir linkses oor die gebruik van staatsmag om gelykheid te bewerkstellig.

Gelykheid is die groot strydpunt, want die linkse ideologie is in wese ’n gelykheidsdogma. Liberale sien gelykheid as gelyke regte en geleenthede, teenoor linkses se aandrang op gelyke uitkomste.

Liberale glo dat die linkses individuele vryheid wil inperk om gelykmaking onder die dekmantel van gelykheid af te dwing. Linkses glo weer dat liberale armoede en ongelykheid onder die dekmantel van individuele regte wil voortsit.

Uiteenlopende sienings van eiendomsreg staan ook sentraal in die konflik. Liberale sien eiendomsreg as die kern van ’n vrye ekonomie, teenoor linkses wat dit sien as die kernoorsaak van ongelykheid. Tradisioneel linkse terme soos sosialisme en die gepaardgaande historiese doelwitte en metodes is nie meer polities korrek nie. Daarom gebruik linkses nou eerder begrippe soos “gelykheid” en verpak hul ou sosialistiese doelwitte in terme van menseregte.

Maar hierdie ideologiese konflik vind nie plaas op ’n gelyke speelveld nie. Die ANC gebruik hul oorweldigende politieke mag om die Grondwet in terme van hul ideologie te vertolk – dít is die groot uitdaging vir almal wat glo dat die linkse ideologie Suid-Afrika bloot vorentoe na die verlede gaan terugsleep.

Want eintlik is daar ’n wye kloof tussen ’n gelyke wegspring en gelyk by die wenpaal aankom.

*Hierdie artikel het oorspronklik op 5 Augustus in Rapport verskyn.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Louis du Plessis ·

DIE KLOOF
 
1  In hierdie opstel oor sienings van gelykheid ontleed die skrywer die ideologiese kloof tussen sosialisties en liberaal net so onpartydig, wetenskaplik en tegemoetkomend teenoor albei kante, soos ‘n pa wat albei sy uiteenlopende kinders liefhet.  Juis daarom begryp ons hulle nou soveel intiemer.
 
2  Niemand sal dit glo nie, maar Willie en Koos het in dieselfde huis in Hennopspark opgegroei.  Willie, wat sukkel om die mas op te kom, wil altyd “regverdig” behandel word, en wil die bates van die gesin meer gelykop verdeel.  Koos, wat hom aan sy eie arms kan optrek, soek daarenteen elke dag groter geleenthede om aan te gryp.
 
3  Elkeen ervaar die gesin op sy eie manier.  Terwyl Willie elke maand meer sakgeld vra, verkoop Koos soggens vroeg koerante vir inkomste.  Waar Willie oor gelykheid en billikheid droom, praat Koos oor vryheid en doelwitte.  Hy wil self besluit hoe lank hy smiddae mag perdry en saans by Andrea vlerksleep.
 
4  Noudat hulle uit die huis uit is, slaan dié kloof deur in die politiek, nie net in Suid-Afrika nie maar wêreldwyd, soos in Atlanta in Amerika waar Willie vir die Demokratiese Party werk en Koos vir die Republikeine.  In Brittanje stem Willie se vriende vir die Arbeidersparty en Koos s’n vir die Konserwatiewes.
 
5  Soos die skrywer van hierdie manjifieke opstel aantoon:  Willie soek lewenslank hulp sodat hy “gelyk by die wenpaal” kan aankom.  Koos daarenteen strewe net daarna om gelyk met die ander te kan wegspring.  By die Olimpiese Spele sit Willie op die pawiljoen terwyl Koos vandag ‘n goue medalje losswem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.