Sondag en ons metafisika

Deur prof. Alwyn Swanepoel

Argieffoto: Pixabay

Die bekende evangeliserende biskop op sosiale media, Robert Barron, was onlangs in gesprek met die Iranees-Amerikaanse joernalis en opkomende konserwatiewe intellektueel, Sohrab Ahmari. Dit het gehandel oor Ahmari se nuwe publikasie, The Unbroken Thread: Discovering the Wisdom of Tradition in an Age of Chaos. Jared Zimmerer, die senior direkteur van die Word on Fire-instituut, het die gesprek gelei.

Daar is by bepaalde temas van Ahmari se boek stilgestaan, maar die tema waaroor dit hier gaan, kan gevind word vanaf die 20ste minuut tot ongeveer die 38ste minuut. Dit is die tema wat Zimmerer as ʼn kulturele verlies, ʼn geestelike verlies, ja, selfs ʼn metafisiese verlies beskrywe. Indien iemand nog wonder, dit gaan oor die Sabbat, of die Dag van die Here, of soos hoofstuk drie van Ahmari se publikasie dit stel: “Waarom sou God wou hê dat jy ʼn dag af moet neem?”

Zimmerer se verband wat hy trek met ʼn metafisiese verlies is insiggewend. Dit spruit voort uit biskop Barron se opmerking net vantevore dat al ons standpunte voortvloei uit ons metafisika, of ons daarvan bewus is of nie. In pront Afrikaans gestel: Alles vloei voort uit ons visie op die werklikheid, wat ook die werklikheid anderkant ons sintuie insluit. Al ons standpunte spruit met ander woorde voort uit ons wêreldbeskouing, of om dit nog deftiger uit te druk, uit ons metafisiese aannames. Dit sluit jou beskouing van, benadering tot en deelname aan Sondag in.

Ahmari verwys na rabbi Abraham Joshua Heschel wat ʼn bekende intellektueel uit Pole in die middel van die vorige eeu was. In Pole is die Sabbat volgens Ahmari toe nog beskou as die sentrale hegstuk van die lewe. Heschel het daarop gewys dat dit wat lyk na beperking inderwaarheid bevryding was. Ja, die Sabbat was die bron van innerlike vryheid. Dit was die wyse waarop die geopolitieke en kommersiële ryk van ruimte vir die ryksgebied van tyd verruil is. Dit was die tydsruimte waar intenser bewuswording van God plaasvind – die God wat van geen gebeurlikhede afhanklik is nie, wat ewig is, en waar intieme tyd met Hom verwyl kon word. Dit het daarom ook verder gegaan oor ʼn sabbatsvisie waar mense gewaardeer is vir wie hulle is en nie bloot vir wat hulle doen nie.

Dit is hierdie sabbatsvisie, sê Ahmari, wat verloor is in die naam van vryheid. Hy staan selfs op die standpunt dat die sogenaamde “blue laws” van Sondagwetgewing herstel moet word. Is dit nie outoritêr nie? Volgens Ahmari is die antwoord nee en hy wys daarop dat die VSA met sy protestantse DNS maar eers in die afgelope drie tot vier geslagte begin het om aan hierdie ou tradisie weg te kalwe. Die resultaat daarvan formuleer hy op treffende wyse: Die vryheid van die Sabbat is verruil vir die vryheid van die markte. Ons het dit verloor, sê Ahmari, en skielik is alles nou oop op Sondag.

Biskop Barron reageer dan hierop en stel dat hy dit aan eie lyf in sy leeftyd beleef het. Vandag is Sondag net nog ʼn Saterdag. Hy wys dan daarop dat dit nie ʼn gesonde ontwikkeling verteenwoordig nie. Hy wys ook daarop dat die sogenaamde “nones”, die kerklosses en kerkloses, nou uitgaan van die standpunt van godsdiens as blote private oortuigings. Hy wys verder daarop dat godsdiens ʼn ruimte- en ʼn tydsaspek het waarin liggaamlike betrokkenheid gegrond word aan die hand van definitiewe praktyke. Wanneer hierdie begronding in tyd en ruimte nie meer plaasvind nie, sê Barron, is ons soos plante wat uit die grond getrek word en kort voor lank verdroog. Die gevolg is dan ook dat moraliteit en sosiale binding in die slag bly.

Barron sluit hom daarom by Ahmari aan en stel dat ons die dag van die Here, bedoelende Sondag, moet terugeis. Zimmerer wys in hierdie verband op die bekende werk van Josef Pieper oor vrye tyd wat die basis van kultuur is (Leisure: The Basis of Culture). Hy wys daarop dat dit ʼn soort aktiewe vrye tyd verteenwoordig waarin die verstand groei en gedy. Ahmari wys aansluitend hierby ook daarop dat die vryheid om die Sabbat te vier saamhang met politieke vryheid; ja, dit eintlik vooraf versimboliseer. Met treffende woorde wat hy ook in sy boek neergepen het, wys hy daarop dat God nie geëis het dat sy volk moet trek sodat hulle hul eie land kan kry nie, maar eerder sodat hulle Hom kan dien.

Hierna gaan die gesprek oor na die rituele aspek wat in Sabbat- of Sondagviering inbegrepe is. Dit is natuurlik veral binne die klimaat van ʼn Rooms-Katolieke gesprek onafwendbaar, maar dit maak Protestante bewus van ʼn element van Sondagviering wat ook nie by ons verby moet gaan nie.

Ook hier is die vraag nie óf nie, maar hóé. Almal het ritmes en rituele in hul leefstyl. Die enigste vraag is hoe dit daar uitsien, ook op Sondag. Daar word in die gesprek verder gewys op oorgangsrites en die waarde daarvan om identiteit te verleen en jou roeping vas te maak. Dit bied ook die moontlikheid om meer bewustelik die misterieuse ruimte te betree. Waar dit nie gebeur nie, ontstaan verarmde spiritualiteit, geprivatiseerde spiritualiteit, en word allerhande armsalige surrogate soos Dooie See-baddens gekies. Die feit bly egter: Langs die weg van pure rasionalisme en kommersialisering word rituele maklik as belaglik beskou.

Barron wys dan op die woorde van Thomas Merton wat die beeld gebruik het van ballet om liturgie te verduidelik en dat dit wel dwaas sal lyk vir ʼn blote rasionalistiese bewussyn. En tog bied dit die geleentheid om in te tree in die verlokkende misterie deur middel van geordende bewegings. Die Sabbatdag en die meedoen daaraan is die groot inwerkingtreding van ʼn lieflike, lyflike, spelende “nutteloosheid”. Nutteloosheid word hier natuurlik bedoel as nutteloosheid in terme van kommersialisering. Wanneer dit verloor word, verloor die kultuur sy hart. Dan is die kultuur soos afgeplukte blomme. Uitgehaal uit die grond van rite, van sabbatserkenning, verlep die blomme mettertyd. Barron wys daarop dat baie hedendaagse mense hulself as vry van die rituele bewussyn beskou en dit selfs as primitief bestempel. Sy antwoord daarop is dat dit nie die waarheid is nie, maar eerder as psigologies en geestelik gesofistikeerd verdedig kan word en dat dit outonomie en radikale gelykstelling beveg.

Zimmerer verwys dan na die werk van Leonard Sax wat daarop wys dat jongmanne hulself juis vind in rituele waarin diens aan die gemeenskap bewys word. Barron se antwoord hierop is dat die VSA ʼn hele land van ongeïnisieerde manne het. Hy verbind dit onder meer aan die verlies aan inisiasie-rituele. Hy wys op die natuurlike oorgangsrites waarin mense voorheen verbind was aan hul families, die gemeenskap, die natuur en aan hul God, en hoe dit hulle gehelp het om hul bydrae te maak en gerig te wees op dit wat groter is as hulself. Vóór alles natuurlik op God en sy wil vir hul lewe. As dit nie gebeur nie, sê Barron, kry ons te make met die fenomeen wat genoem word 35-jarige seuns. Hy verwys na die bekende film, Fight Club, wat iets hiervan illustreer wanneer manlikheid nie doeltreffend gekanaliseer word nie. ʼn Klomp eksistensiële angs weens gebrek aan identiteit word dan opgehoop wat weer op allerhande vreemde maniere uiting kry.

Dit is natuurlik nodig om iewers weer te vra wat dit alles met Sabbat- of Sondagviering te make het. Dit hang waarskynlik saam met Heschel se genoemde beroemde woorde oor die Sabbat waarop Ahmari gewys het – dat die Sabbat die moontlikheid bied om heilige gebied te betree, nie van ruimte nie, maar van tyd. Dit gebeur langs die weg van ritmes waarby die liggaam betrokke is en waardeur die volle mens gerig word op God. Van hier af kan die sprong na ander rituele, wat ook help om die identiteit te vorm, dan beter begryp word. Die Sabbat, of dan Christelik verruim – die Sondag – is hierin boaan die lys en Ahmari se besorgdheid is dat sy kinders nie hierin sal deel nie en so nie in hul volle identiteit leef nie.

Stof tot nadenke, soos hulle sê. Ons dink nie altyd aan Sondag in terme van die liggaamlike ritmes wat ʼn ander idee van vryheid simboliseer nie. Ons dink nie altyd daaraan dat dit ʼn belangrike teenvoeter is teen die tirannie van kommersialisering en die algehele vryheid van die markte nie. Dit help ons beslis om te dink aan ʼn dieper soort vryheid en identiteit. Dit help ons om te besef dat ook Sondagvisie alles met ons metafisika te make het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ouma1 ·

Eerstens is daar misleiding om die sabbat, Die Sondag word nerens in die bybel as die sabbat aangedui nie, maar wel dat die sabbat op n saterdag is soos in die bybel. Sondag viering is tradisie en deur die Romeine ingestel en nie bybels nie. Dus dui sondag viering op menslike gebruik eerder as om GOD se gebooie te gehoorsaam. As die mense terug keer na GOD se gebooie en op die regte sabbat dag te rus soos in die bybel voorgeskryf word sal dit baie beter gaan met die land. DRAAI TERUG NA GOD SE GEBOOIE EN WOORD dan sal die waarheid blootgele word.

Fluisterwind ·

Toe hulle (die apostels en eerste bekeerlinge) Sondag as ‘die agtste dag’ gevier het, het vroeë Christene aangedui dat God se nuwe skepping in die opstanding van Jesus Christus aangebreek het. Jesus se opstanding op Sondag was die katalisator vir “die agtste dag ”innovasie in die vroeë kerk. Die vroeë Christene was nou oortuig dat God se skeppingsaktiwiteit verder strek as die sewe dae week, en so was die eerste dag, Sondag, ook die agtste dag van God se voortgesette werk – (verlossingswerk). Terwyl hulle in huise en by die tempel bymekaargekom het (Handelinge 2:46; 5:42) op “die eerste dag van die week” (bv. Handelinge 20: 7-12; 1 Korintiërs16: 2), het die dissipels brood gebreek, gebid, die Skrif uitgelê, en het hulself in die goeie nuus geoefen en voorberei vir die bediening. Teen die einde van die eerste eeu verander die benaming ‘die eerste dag van die week’ wat ‘n Joodse manier van rekentyd weerspieël, met die unieke Christelike term, “die dag van die Here” (Openbaring 1:10)

Petrus Albertus ·

MARKUS 2:23-28 AFR83
Eenkeer toe Jesus op ‘n sabbatdag tussen gesaaides deur loop, het sy dissipels so in die loop are begin afpluk. Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk daar! Waarom doen hulle iets wat nie op die sabbatdag gedoen mag word nie?” Hy sê vir hulle: “Het julle nog nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne nie kos gehad het nie en honger gekry het? Hy het in die tyd van die hoëpriester Abjatar in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat niemand anders as die priesters mag geëet het nie, en ook vir sy manne daarvan gegee.” Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.”

johan ·

Die “god” van metafisika is nie die (ware) God van die Bybel nie. Dis net nog ‘n dwaal manier van ongelowiges om God daar iewers in die filosofie te pr0beer ontdek.

Leendert ·

Die sewende dag is Saterdag. Die biskop is een dag uit – Sondag is ‘n gewone werksdag.

Kiewiet ·

Prof uitstekende stukkie, maar bo baie se vuurmaakplek so aanvaar die kritiek met n knippie sout !

Fluisterwind ·

Ons is geneig om die waarde van die Rusdag (Sondag) te onderskat. Baie dankie vir hierdie artikel, ‘n mens kan gerus jouself meet teenoor God se Woord met die ware bedoeling van die Rusdag. Ek haal graag die Heidelbergse Kategismus Vraag 103 aan: “Wat gebied God in die vierde gebod?”
“Antwoord: God wil Ten eerste dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word (a). Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom (b) om die Woord van God te hoor (c), die sakramente te gebruik (d), die Here openlik aan te roep (e) en die Christelike liefdegawes te gee (f). Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe (g).”
(a)Tit 1:5; 2 Tim 3:14; 1 Kor 9:13, 14; 2 Tim 2:2; 3:15. (b) Ps 40:10, 11; 68:27; Hand 2:42. (c) 1 Tim 4:13;1 Kor 14:29. (d) 1 Kor 11:33. (e) 1 Tim 2:1; 1 Kor:l4:l6. (f) 1 Kor 16:2. (g) Jes 66:23.

Andries ·

Maar die Kategismus bly in gebreke om te meld dat die SHABBAT van die sewende dag nie verander het nie – selfs die Katolieke ‘Convert’s Catechism’ stel dit duidelikdat die SHABBAT die sewende dag is en maak aanspraak dat die verandering na Sondag die teken van Roomse gesag is

Leendert ·

Presies soos jy dit sê Andries.

Daniël 7:25: “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.”

Tye verander: Saterdag na Sondag

Wet verander: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.” na “Gedenk die Romeinse son se dag”

soosekditsien ·

Lank gelede was die verpligte rusdag (Sondag) ‘n straf. Nou verlang ek na die outydse Sondae waar my hart en kop tot stilstand kon kom.

Duskolos ·

Aangrypende stuk en stof tot nadenke. Baie dankie vir die moeite om dit op hierdie wyse te ontsluit! Vreemd genoeg was ek so twee jaar gelede op ‘n Sondag in die Duitse stad Munich, en behalwe vir ‘n paar kraampies waar Pakistani’s hul Chinese aandenkings smous, was die hele stad se winkels gesluit. Mens sou graag meer te wete wou kom oor die post-Christelike Europeërs se rasionaal agter die erkenning van Sondag as ‘anders’.

Hier by ons is Orania natuurlik die plek waar ‘n gemeenskap self kan besluit om Sondag anders in te rig as die res van die week, en dit werk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.