Spanje se onbesliste verkiesing

Spanje se nasionale vlag (Photo: Beata Zawrzel / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Na die groot oorwinning van die regse blok in die Spaanse streeksverkiesings in Mei vanjaar, het eerste minister Pedro Sanchez van die Sosialiste ʼn vervroegde algemene verkiesing uitgeroep in die hoop om sy ondersteuners te kon mobiliseer teen ʼn “regse gevaar” in die middel van die somervakansie.

Die algemene verkiesing was verlede Sondag en alhoewel die meningspeilings telkens ʼn regse triomf en ʼn regeringsverandering voorspel het, was dit op die ou einde hoogstens ʼn halwe oorwinning vir die konserwatiewes en vir beide kante ʼn onbevredigende uitkoms.

Die hoofstroom konserwatiewe Volksparty het wel sterk veld gewen, maar nie genoeg om te kan regeer nie, en ook ten koste van hulle potensiële koalisievennoot, die regs-nasionalistiese Vox, wat teen die verwagtings aansienlike steun verloor het. Die Sosialiste het die verwagte neerlaag vrygespring maar net tweede gekom en saam met hulle verlinkse koalisievennoot wat steun verloor het, het hulle ook die meerderheid verloor.

Hoekom Vox, teen die voorspellings en teen die tendens in Europa waar regse partye tans goed vaar swak gevaar het, is nie heeltemal duidelik nie. Een rede is wel die beswering van die “regse gevaar” deur Sanchez en die linkses en die ewige ophaal van die Franco-bewind wat nou al amper ʼn halfeeu verby is en wat die meeste Spanjaarde nie eens beleef het nie. Sanchez se verlinkse agenda, gedryf deur sy nog meer linkse vennote met die gender- en woke-agenda het wel talle mense kwaad gemaak, maar ook weer talle ander gemobiliseer teen die regse blok.

Verder het die Volksparty en Vox mekaar ook beveg, terwyl die linkse blok eensgesind was. Die Volksparty het, taamlik soos die DA in Suid-Afrika, talle mense wat dalk vir Vox sou gestem het volgens oortuigings, met die slagspreuke “staan almal saam agter die grootste opposisieparty” en “moenie jou stem op ʼn klein party mors nie” gemobiliseer.

Om te kan regeer is ʼn meerderheid van 176 setels nodig. Die Volksparty het op sy eie 136 setels en Vox 39, saam dus 169 en sewe te kort. Die linkse blok uit Sosialiste (122 setels) en die nuwe verlinkse party Sumar (31) het egter saam nog minder, naamlik 153 setels.

Twee voorheen belangrike rolspelers het weggeval: die verlinkse Podemos, wat opgegaan het in Sumar, en die sentristiese Ciudadanos (die Burgers) wat na die neerlaag in die streeksverkiesing nie aan die algemene verkiesing wou deelneem nie. Daar is ook ʼn menigte streekspartye weens Spanje se federale karakter en sy verskillende minderheidstale soos Baskies, Galisies en Katalaans, met tussen een en sewe setels. Die huidige linkse regering word deur verskeie separatistiese partye ondersteun, wat egter ook rede vir die onstabiliteit van die regering is en hulle ʼn teiken van die regterkant maak, wat teen enige toegewings aan die streke gekant is.

Dit is op hierdie stadium nog heeltemal onseker wie die volgende eerste minister en met watter koalisie sal wees. Taai onderhandelings lê voor. Die probleem is dat terwyl die Volksparty nog langtand Vox as koalisievennoot sal aanvaar, geen van die streekspartye dit sal doen nie. Aan die linkerkant sal Sanchez vir ʼn meerderheid so veel verskillende klein partye moet byvoeg by ʼn koalisie wat elkeen hulle pond vleis sal eis dat sy regering net nog meer onstabiel sal raak. Ook ʼn herverkiesing later vanjaar, as geen ooreenkoms gevind kan word nie, is ʼn moontlikheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.