Staatsgrepe is deel van Afrika, so wil dit voorkom. Die tye waar daar een na die ander land demokratiese verkiesings gehou en meer soos die Weste geword het, is lankal verby.
Veral in Wes-Afrika kom staatsgrepe gereeld voor. Die mees onlangse een was in Niger, een van die armste state ter wêreld en in die Sahel-streek geleë. Verlede jaar was dit sy buurland Burkina Faso se beurt om die regering te ontsetel en met ʼn militêre bewind te vervang, en in nog ʼn buurland, Mali, het dit reeds in 2020 gebeur.
Die afloop en die reaksie is ook elke keer min of meer dieselfde: óf die weermag, óf die presidensiële wag (soos in die geval van Niger) kom in opstand omdat hulle magte besnoei sou word, en vinnig verkrummel alle weerstand omdat die mag in die militêre gestel is. Die president, soms verkose soos in die geval van Niger, meer dikwels self ʼn voormalige generaal, word vervang deur ʼn militêre junta met ʼn naam soos “Patriotiese Front vir die Redding van die Vaderland”, of iets soortgelyk, die hoof van die junta benoem homself as president van ʼn oorgangsregering en belowe verkiesings en/of ʼn nuwe grondwet in die toekoms sonder om ʼn datum te noem of om daaraan gebonde te voel.
Westerse lande veroordeel die staatsgreep elke keer met feitlik dieselfde woorde en pas sekere sanksies toe wat ʼn geringe uitwerking het.
Afrika sal maar Afrika bly en dié lande het tog geen invloed op wêreldsake nie, is ʼn mens geneig om te sê. Dit sou egter ʼn fout wees, want die staatsgreep in Niger is nog ʼn dominosteen wat val in die geopolitieke strategie van die Weste.
Die Sahel-streek was tradisioneel onder die invloed van Frankryk, die ou koloniale moondheid tot 1960, en Frankryk is nog steeds met militêre basisse in verskeie lande teenwoordig. Sedert die toenemende bedrywigheid van Islamitiese terreurgroepe in die Sahel-streek het die Weste met sy stryd teen terreur hier meer aktief geword.
Dit was veral die geval nadat in 2013 ʼn Islamitiese en Tuareg-alliansie die noordelike helfte van Mali, beset het. Frankryk het, na ʼn versoek om hulp deur die regering van Mali, die rebellie beëindig, sonder om werklike vrede te bewerkstellig. Ook ander state in die streek het, teen goeie vergoeding, deel geword van die Westerse antiterreuralliansie. Frankryk en sy EU-bondgenote word egter al ʼn geruime tyd deur Rusland, spesifiek in die vorm van die Wagner-huursoldategroep, verdring.
In Mali het, na die staatsgreep van 2020, die nuwe militêre bewind geen geheim van sy anti-Westerse houding gemaak nie en onomwonde die Franse teenwoordigheid beëindig en in die plek daarvan Russiese huursoldate genooi. Ook Burkina Faso is sedert die staatsgreep nie meer ontvanklik vir ʼn Westerse teenwoordigheid nie.
Sowel Rusland asook die Islamitiese insurgente sal baat by hierdie staatsgreep, waarmee die Weste se laaste bondgenoot in die streek in die vorm van president Mohamed Bazoum weggeval het. Ongeag wat die nuwe leiers se houding teenoor die buitelandse magte en die Islamisme is, hulle sal al hulle energie op die vestiging van hulle bewind spandeer en nie deelneem aan alliansies nie.
Rusland as die meer gewetenlose moondheid het ʼn voordeel teenoor die Weste, wat ook klem op demokraties verkose leiers lê.
Alle moonthede is wreedaardig. Maar SA kan maklik ‘n slaansak word wat deur beide die Weste en Ooste misbruik word, met katastrofiese gevolge vir al die inwoners. Politieke leiers wil nie daaroor praat nie.
Daar is n video van John Mearsheimer op die net waarin hy Amerika en Brittanje as die twee mees gewetenloosste lande beskryf.