Suid-Afrika se grondwetlike heilsleer

Die beste Grondwet en die grondwetlike heilsleer

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

ʼn Heilsleer, oftewel evangelie, is ʼn religieuse kwessie. Om dus te sê dat daar ʼn grondwetlike heilsleer bestaan, is om die Grondwet in religieuse terme te beskou. Dit is presies wat met die Suid-Afrikaanse Grondwet, wat nagenoeg ʼn kwarteeu gelede in werking getree het, gebeur het.

Die Grondwet is as ʼn verlosser opgehemel – ʼn verlosser uit ʼn bose verlede van verdeeldheid, swaarkry, verwoesting en stryd en ’n verlosser wat vrede, versoening en die gewaarborgde beskerming van al ons regte sou verseker. Presies dit was die plegtige boodskap van die slotrede tot die tussentydse Grondwet, die voorrede tot die huidige Grondwet en dit is die boodskap vervat in talle uitsprake sedertdien van die konstitusionele hof.

Die heilsleer verkondig ʼn blymoedige geloof in die Grondwet. Bondig saamgevat, behels die heilsleer dat individuele regte, vervat in ʼn oppermagtige, verskanste Grondwet en vertolk deur onpartydige howe (wat die regering aan bande kan lê) die waterdigte waarborg vir ʼn goeie grondwetlike orde en die beskerming van belange – ook die belange van minderhede – bied.

Die Grondwet is oppermagtig en stabiel

Die Grondwet verklaar self in artikel 2 sy eie oppermag. Daarvolgens is vas geglo dat alles wat voortaan sou gebeur – ook alle wetgewing en alle owerheidsbesluite – aan die Grondwet sou voldoen.

Inbegryp by die Grondwet se oppermag is ook sy stabiliteit, dit wil sê, dat hy baie moeilik gewysig kan word – gewoonlik slegs met ʼn twee derde meerderheid van die Nasionale Vergadering en die instemming van ten minste ses van die nege afvaardigings van die Nasionale Raad van Provinsies.

…en deur individuele regte versorg hy ons

Maar nie net is die Grondwet oppermagtig en stabiel nie. Hy is bowenal sorgsaam, aangesien hy na al ons belange sal omsien. As ons, menslik gesproke, sou vra waar ons hulp vandaan kom, is die antwoord dat alles van die Grondwet af kom. Dit is die geval, veral danksy die Handves van Regte wat in hoofstuk 2 vervat is. Die individuele regte wat in die Handves opgeneem is, is bowendien allesomvattend: dit beskerm elke moontlike denkbare belang. Naas die regte wat die Handves waarborg, is niks meer nodig nie. So altans lui die geloof.

…en hy voorsien onafhanklike en onpartydige grondwetlike liggame wat betroubaar vir die beskerming van hierdie belange instaan

Maar wat gebeur as die regering skeeftrap en van die Grondwet afwyk en buite sy magte optree of wanneer ʼn owerheidsinstelling (of trouens enigiemand anders) enige van die regte misken?

Daarvoor bied die Grondwet natuurlik paraat ʼn onomwonde antwoord. Hy – die Grondwet – het kragtige onafhanklike en onpartydige liggame en meganismes wat vir alles sorg. Die heel belangrikste is natuurlik die onafhanklike en onpartydige regbank met die konstitusionele hof aan die spits, wat paraat sal intree om te verseker dat sake reggestel word en alles weer getrou in pas met die oppermagtige Grondwet kom. Juis die konstitusionele hof is die betroubare teenwig teen magsmisbruik deur die regerende party (hoe sterk dit ook al mag wees) en hy is die opperwaarborg vir al ons regte en belange.

Die grondwetlike heilsleer word in evangeliese taal verkondig

ʼn Ortodoksie bestaande uit ʼn kring van staatsregsgeleerdes en politici, en ʼn geslote, getroue kommentariaat van mediapropagandiste het die grondwetlike heilsleer paslik in bypassende heilslerige taal verkondig. En die verkondiging was onvermoeid, bykans meedoënloos.

Juis die evangeliese taalgebruik het die heilsleer ingeburger:

  • Die Grondwet is verskans: hy verskaf waarborge; meer bepaald is sy regte inderdaad gewaarborgde regte. In Engels is die evangeliese taal selfs sterker: Entrenched Constitution, guaranteed rights, enshrined rights.
  • En dan natuurlik, soos daar dikwels veral ook in regsliteratuur oor die Grondwet gepraat word, is die Grondwet die finale Grondwet: Hy is blywend en ons kan dus met gemoedsrus nie alleen nou nie, maar permanent ons vertroue op hom en sy weldadige gewaarborgde regte plaas om ons te versorg.
  • Dinge kan ook nie regtig skeefloop nie. Daarom lui die evangeliese taal dat die reg sy loop neem; In Engels: the law takes its course. Die reg kan nie ontwrig word nie. Hy neem sy loop, want onthou, ons is danksy die Grondwet nou ʼn regstaat, waar regsoppergesag (the rule of law) betroubaar heers, in plaas van die wispelturige wil van mense (die politici, die regering, die ANC of watter ander magtige groep mense ook al).
  • Evangeliese taalgebruik het veral ook op die regbank betrekking. Ons hoef nie te vrees dat die regters – ook die regters van die konstitusionele hof – polities partydig sal wees en ons gewaarborgde regte in die gevaar sal stel nie, want onthou die regbank, so waarborg die Grondwet, is onafhanklik en onpartydig. Juis deur die uitsprake van die hof sal ons gewaarborgde grondwetlike regte seëvier, want ná alles (so lui die Heilsleër) is die regbank die opperbeskermer van ons regte en onfeilbare rem en teenwig teen magsmisbruik en slegte regering.
transformasie-grondwethof-prof-koos-malan-02

Prof. Koos Malan. Foto: Reint Dykema.

Dit is belangrik om te onderstreep dat die grondwetlike heilsleer ten slotte op twee dinge rus. Dit is die staat (meer bepaald die staatsregering) as die monopolistiese sentrum van politieke mag aan die een kant, en die individu met individuele regte aan die ander kant. Hierdie twee vorm as’t ware ’n eksklusiewe konsortium, wat voorgee om die onteenseglike basis vir ’n gesonde grondwetlike orde te voorsien.

Twee ander en ewe belangrike vereistes vir ’n behoorlike grondwetlike orde word egter konsekwent verswyg. Die eerste is gemeenskappe (naas individue); die tweede is magte wat juis in gemeenskappe setel (benewens individuele regte). Hierdie twee kragte, wat so konsekwent deur die heilsleer verswyg word, is van wesenlike belang omdat ʼn regering nie doeltreffend deur individue in bedwang gehou kan word nie. Dit is slegs outonome gemeenskappe en formasies van die burgerlike samelewing wat met magte beklee is, wat as doeltreffende remme en teenwigte kan dien.

Bevraagtekening?

Soos so eie aan ʼn heilsleer, is die bevraagtekening van die grondwetlike heilsleer ook nie sommer geduld nie. As dit gebeur, is dit eintlik iets soos ’n ketteragtige uittarting van die grondwetlike blye boodskap. Ketters is daarom paslik die swye opgelê.

Tog laat die waarheid homself nie so maklik onderdruk nie. Ná ʼn onverbiddelike geskiedenis van ʼn kwarteeu, is dit onteenseglik duidelik dat Suid-Afrika se grondwetlike heilsleer inderdaad vals was en die Grondwet gebrekkig.

Die eens opgewekte verkondiging van die grondwetlike evangelie het getaan en is nouliks meer hoorbaar. Net hier en daar steek skamerige verskonings nog kop uit.

Inherent gebrekkig

Nee, word byvoorbeeld gesê, eintlik is die grondwetlike orde wesenlik – op papier – lofwaardig en is die grondwetlike evangelie tóg geldig. Dis net dat die Grondwet tog so verkeerd toegepas word. Of op dieselfde trant word toegegee dat die hof met sommige uitsprake die kluts kwytgeraak het, maar dat dit tog nie die grondwetlike orde se skuld nie. Dis bloot die hof wat stiksienig is en nie insien, wat die lofwaardige bedoelings van die Grondwet eintlik behels nie.

Hierdie verskonings is ongeldig. Dink mooi daaroor na en dis duidelik dat dit bowendien die aanspraak dat die Grondwet oppermagtig is, verydel. As daar ʼn eintlike (ideële) Grondwet is wat faal vanweë die misstappe van die toepassers, beteken dit dat die Grondwet oplaas toe nooit oppermagtig was soos wat die grondwetlike evangelie verkondig het nie, want dan word toegegee dat die toepassers die Grondwet in die war kan stuur. Dan is die Grondwet klaarblyklik nie oppermagtig nie.

En gaan die verskonings voort, wanneer die regbank as die opperbeskermer van ons regte uitsprake gee wat ons regte misken, in plaas van beskerm, beteken dit dat ook die howe, wat juis grondwetlike regte moet beskerm, daarenteen juis die Grondwet ontwrig. Dit is eweneens ʼn erkenning dat die Grondwet nie oppermagtig is nie. Verder openbaar die hof in so ʼn situasie hom oplaas toe nie as die beskermer van ons belange, soos wat die grondwetlike heilsleer predik nie. Derhalwe is die Grondwet inderdaad toe ook nie die sorgsame Grondwet soos wat die grondwetlike evangelie beloof nie.

Die volgende aflewerings

Prof. Koos Malan se nuwe boek plaas die soeklig op die Suid-Afrikaanse Grondwet. Foto: Verskaf.

In hierdie eerste artikel is die kern van die grondwetlike heilsleer behandel. In die hieropvolgende vyf aflewerings gaan die valsheid van die grondwetlike heilsleer, element vir element, uitgepluis word. Teen die einde gaan die pad na ʼn beter orde aangedui word.

In die tweede artikel aanstaande week gaan ek verduidelik dat die Grondwet inderdaad toe nie oppermagtig en stabiel is nie en dat hy voortdurend aan die verander is. Die geskrewe en sogenaamde oppermagtige Grondwet bestaan in die finale instansie uit ʼn aantal formulerings. Die formulerings vind dikwels egter nie in die praktyk neerslag nie. Inteendeel, in die praktyk kom daar vanweë die werking van sterk politieke kragte, ʼn heel andersoortige en grootliks ongeskrewe konstitusie tot stand.

In die derde aflewering gaan ek hierdie punt aan die hand van voorbeelde uit ons daaglikse praktyk in Suid-Afrika toelig. Ek gaan dus verduidelik dat ons hier allermins bloot met teorie te doen het. Daar gaan verduidelik word hoe die werklike – die eintlike – Suid-Afrikaanse konstitusie daar uitsien, wat naas die deels vervalle Grondwet tot stand gekom het. Dit is verbasend in hoeveel opsigte die Grondwet geswig het voor vir ʼn daadwerklike andersoortige konstitusie wat in sy plek tot stand gekom het.

Daarna, in die vierde bydrae, gaan ek verduidelik dat daar veel minder steek in die drieledige verdeling van owerheidsgesag en dat die regbank toe nie werklik so ʼn doeltreffende onpartydige en onafhanklike instelling is was wat die grondwetlike evangelie ons wysmaak nie. Inteendeel, daar sal aangetoon word dat die hoogste howe, saam met die meerderheid in die parlement en die uitvoerende gesag, in die reël ʼn integrale deel van een en dieselfde regerende elite is en sy eie besondere rol speel om die ideologiese doelwitte van die regerende elite te bereik.

Dadelik kan die vraag geopper word of die bepalings van die Handves van Regte dan nie aan die howe voorskryf presies wat om te doen en hoe om sy uitsprake te gee nie wanneer ʼn geskil oor oorgrondwetlike regte voor die hof dien nie?

Die antwoord hierop bring ons by die vyfde bydrae. Die antwoord behels dat grondwetlike bepalings, meer bepaald ook die Handves van Regte, geen inherente, standhoudende en objektiewe betekenis het nie. Dit kry betekenis wanneer dit deur die howe vertolk word. En daardie betekenisse word bepaal deur die heersende ideologie van die regerende elite, waarvan die hoogste howe ʼn integrale deel uitmaak. In die huidige Suid-Afrika is die heersende ideologie dié van transformatisme en die ANC-leiding die kern van die regerende elite.

Die howe vertolk grondwetlike bepalings in die openbarende lig van hierdie ideologie en verleen daaraan ʼn betekenis in ooreenstemming met die ideologie. Dit is dan dat dit duidelik word dat die regbank, anders as wat die grondwetlike heilsleer verkondig, toe nie onpartydig is nie, maar daarenteen juis inherent partydig. Hierdie punt gaan ons ook demonstreer met verwysing na die ervaring oor die afgelope dekades met die howe – veral die konstitusionele hof – se transformatiewe vertolking van die Grondwet.

Die laaste bydrae stel die vraag hoe ʼn verbeterde orde in Suid-Afrika bewerkstellig kan word. Die onderliggende oogmerk van hierdie laaste bydrae, is dat ons verder moet beweeg as bloot die noodsaaklike uitwys van die valsheid van die evangelie van die huidige grondwetlike orde. Die weg moet ook na ʼn verbeterde orde gewys word. In die huidige Suid-Afrikaanse situasie word die weg algaande duideliker.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Venter ·

Hierdie grondwet wat nou al méér bewys word as synde dit nie die groot Paterfamilias of Baba, vir almal is wat so groot na apartheid opgegee is nie, moes soos ‘n reuse wortel voor aan ‘n stok vir die mense aangebied word, ook aan die wêreld en HOE is dit nie verkoop nie as synde die beste grondwet wat die wêreld nog gesien het?

En natuurlik is die ANC uit hul nate oor wat nou in die praktyk oor die grondwet bevind word, want hulle kan hul Kommunistiese Sosialistiese ideologie met SEB, kwotas, miskenning van minderheidsregte, ens in die naam van demokrasie na hartelus plooi, grondonteiening.

Is daar nie ‘n unieke woord wat mens nou aan die ‘nuwe’ 20 jarige bestel van die ANC regering wat hulle deur middel van regulasies en wetgewing waaraan hulle deurlopend timmer en stelselmatig op ons (die wit mense) afdwing, gegee kan word nie.

(Die naam apartheid is bevind as synde ‘n misdaad teen die mensdom, en as ek reg het is DIT ‘n woord wat net aan Suid-Afrika toegedig word?)

Marthinus W ·

My kommentaar is nie suiwer op die Grondwet van toepassing nie, maar die “heiligheid” van onrealistiese verwagtinge.

In die Oktober 1993 uitgawe van Paratus, die Weermag se tydskrif, skryf die uittredende Hoof van die SA Weermag, genl. Kat Liebenberg: “Die verkiesing van 27 April 1994 gaan nie ewe skielik vir ons vrede gee nie. Ons sal vir die volgende dekade of selfs langer moet leer om saam te leef met onrus en `n onlussituasie.”

Hy het ook gesê dat jy nie oornag kitsbrigadiers of kitsgeneraals kan maak nie, en dis wat wel gebeur het. Nie net in die Weermag nie, maar regdeur die land, met die instoot van kaders, in plaas van bekwame persone. Baie van die kritiek teen FW de Klerk, apartheid en ons wittes, is weens frustrasie onder die verarmde swartmense, omdat die ANC-nomenklatura hulself verryk het en steeds verryk, ten koste van die gewone burgers. En die gewone burgers gryp na die Grondwet.

Therese ·

Skitterend verwoord!

Dié is veral treffend gestel:
” … ‘n geslote, getroue kommentariaat van mediapropagandiste se verkondiging van die grondwetlike heilsleër was onvermoeid, bykans meedoënloos … bevraagtekening is paslik die swye opgelê”.

Die verskoning dat die Beste Grondwet bloot nie reg toegepas word nie, kon snaaks wees as dit nie so tragies was, en die samelewing se intelligensie gruwelik onderskat het nie.

J ·

Die SA Konstitusie is ‘n eintlik ‘n SKIKKINGSOOREENKOMS waarmee die ‘oorlog’ beeindig is.

Met die voortgesette “struggle” (oorlog!) deur die ANC e.a. nádat die VREDESKIKKING onderteken is … is die ooreenkoms eensydig ‘verbreek’ … wat ons land in effek terugneem na die pre-1994 ‘oorlog’.

Soos Retief e.a. wat vermoor is … met ‘n geskrewe OOREENKOMS in sy baadjiesak só moet ons ook die SA Konstitusie …. met agterdog bejeen.

Is die SA Konstitusie wéér ‘n hinderlaag soos destyds deur Dingaan op Retief? Met ‘moord’ as einddoel?

“Grond” is in beide gevalle as LOKAAS gebruik om die Wittes mee te lok?

Wat Afrika ons leer is dat papier ooreenkomste soos die SA Konstitusie, niks werd is nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.