Suid-Afrikaanse regering se onteieningsplanne in Nederland bespreek

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, AfriForum se adjunk-uitvoerende hoof van internasionale skakeling. Foto: Reint Dykema.

Die stigting South African Monitor het in Junie 2018 ’n kollokwium met die tema “Onteiening sonder vergoeding: ’n vergelyking van politiek en eiendomsregte in Zimbabwe en Suid-Afrika” in Den Haag, Nederland aangebied.

Die sprekers by die geleentheid was dr. Admore Tshuma van die Universiteit van Kent en dr. Heinrich Matthee wat, onder meer, aan die Universiteit van Amsterdam verbonde is.

Tshuma verdiep hom in navorsing oor armoede, maatskaplike geregtigheid, korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid, sosio-ekonomiese ongelykhede, herverdelende en herstellende geregtigheid. As deel van sy studie vir sy meestersgraad wat hy in 2004 aan die Stadsuniversiteit van Londen behaal het, het hy Zimbabwiese grondhervorming bestudeer en tot die gevolgtrekking gekom dat dit ’n rampspoedige program was.

Sy persoonlike ervaring het ook sy belangstelling in dié onderwerp aangewakker. Sy oupa was naamlik een van die eerste swart kommersiële boere in die 1930’s in die destydse Rhodesië. Die plaas is steeds in familiebesit en hoewel dit nie deel van die Zimbabwiese grondgrype was nie, het die inwoners van die hervestigingsprojekte op naburige onteiende plase ook alles op hierdie plaas vernietig. Dit sluit infrastruktuur en wildlewe in wat oor generasies deur die familie daar gevestig is.

dr-admore-tshuma-twitter

Dr. Admore Tshuma van die Universiteit van Kent verdiep hom in navorsing oor armoede, maatskaplike geregtigheid, korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid, sosio-ekonomiese ongelykhede, herverdelende en herstellende geregtigheid. Foto: Twitter.com

Tshuma vertel: “Dit het my woedend gemaak, omdat ek weet hoe hard my grootouers gewerk het om te kry wat hulle gehad het. Ek voel daarom verplig om Afrikane in te lig oor rampspoedige beleide soos hierdie wat Afrika aanhou kniehalter.”

In sy aanbieding getiteld “Lesse van Zimbabwe: ’n multidissiplinêre ontleding van die gevolge van grondonteiening” het hy dit onomwonde gestel dat onteiening sonder vergoeding ’n vorm van diefstal is. Dit druis teen die beginsel dat almal gelyk voor die reg is, in. Dit skend die fundamentele reg tot eienaarskap wat deur die meeste internasionale konvensies erken en gewaarborg word.

Hy het die tragiese gevolge van die program in Zimbabwe uiteengesit. Voor die grondgrype begin het, was dié land ’n voedselverskaffer vir vele ander lande. Sowat ’n derde van die Zimbabwiese werksmag was in die diens van boere. Die landboubedryf was selfversorgend en het geen staatsubsidies ontvang of benodig nie.

Nadat die Mugabe-regering die grondhervormingsprogram suiwer om politieke redes versnel het, is meer as 4 000 boere onteien. In totaal is 28 wit boere en 78 swart plaasbestuurders en -werkers vermoor. Vir hierdie slagoffers was daar nog geen geregtigheid nie. Verder is, onder meer, 25 000 trekkers en 300 000 hektaar se besproeiingspyplyne vernietig. Meer as driemiljoen beeste is voor die voet geslag – insluitend peperduur stamboekvee, om nie eens van die uitwissing van die land se wild te praat nie. Die proses was, in dr. Tshuma se woorde, ’n onbeheerbare “Free for all”.

Die groot “wenners” in die proses was Mugabe en sy vertrouelinge wat ná die tyd meer as 40% van die onteiende plase besit het. Intussen het die werkloosheidsyfer tot 95% gestyg en beskik Zimbabwe oor die ekonomie wat die vinnigste gekrimp het van enige land wat nie in ’n amptelike staat van oorlog verkeer het nie.

Tshuma neem nou met kommer waar dat die patroon wat hy hierbo beskryf, hom in Suid-Afrika begin herhaal. Die heersende party verkeer onder druk by die stembus en kan geen oplossings vind daarvoor deur sterk, positiewe leierskap te toon nie. Gevolglik word ’n versnelde grondhervormingsproses aangekondig wat op ’n politieke besluit berus, en nie op ekonomiese of maatskaplike gronde nie. Tshuma spreek die hoop uit dat die ANC betyds sal besin voordat dit, soos in die geval van Zimbabwe, dekades gaan verg om die skade wat aangerig is, ongedaan te maak.

Hy het sy referaat afgesluit met die vraag aan alle mede-Afrikane: “Watter soort Afrika wil ons vir ons kinders nalaat?”

heinrich-matthee

Dr. Heinrich Matthee. Foto: Verskaf.

Matthee se bydrae het gehandel oor “Onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika: gevolge vir die internasionale sakebedryf, burgerregte en die politieke ekonomie”.

Eers het hy die agteruitgang van die Suid-Afrikaanse ekonomie sedert 1994 geskets. Waar vervaardiging destyds 23% van die bruto binnelandse produk uitgemaak het, het dit in 2017 tot slegs 11% gedaal. Werkloosheid word op 27% tot 36% bereken, afhangend van die definisie wat gebruik word daarvoor, en die kredietgraderingsagentskappe S&P Global en Fitch het Suid-Afrika na rommelstatus afgegradeer. Nog net Moody’s hou dit een graad bo dié status. Kwessies soos die voortdurend stygende koste van die staatsdiens, korrupsie en die haglike stand van sake by staatsbestuurde ondernemings soos Eskom en SAL wat die direkte gevolg van politieke inmenging, kaderontplooiing en tenderpreneurskap is, is algemene kennis.

Die internasionale reaksie op hierdie stand van sake is uiteraard negatief. Die 2016-Besigheidsklimaatpeiling van besighede van die Europese Unie toon dat transformasie volgens hulle die mees negatiewe faktor in dié sektor is.

Die 2017-2018 Globale Mededingingsindeks van die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) dui aan hoe Suid-Afrika se stand tuimel op terreine soos die waarneming van vermorste staatsspandering, die teenwoordigheid van georganiseerde misdaadsindikate, besigheidspandering weens misdaad en geweld, betroubaarheid van die polisie en openbare vertroue in politici.

Die ANC se besigheidsbeleid toon ’n patroon van toenemende staatsinmenging en die wegkalwe van privaat eiendomsregte. Dit word, onder meer, in die sekerheids-, mynbou- en energiesektore sigbaar. Eiendom wat vir grondhervorming geoormerk was, bly toenemend die eiendom van die eenparty-dominante staat met slegs huurregte wat daarop toegestaan word. Só word afhanklikheid van die staat vergroot. Dit geld ook nie net vir landbougrond nie, maar veral ook stedelike eiendom.

Matthee het die gebeure beskryf wat die huidige gronddebat voorafgegaan het. Die ANC bestaan uit vele faksies en diep verskanste netwerke van begunstigdes. Die party het in die plaaslike verkiesings van 2016 beheer van sleutel metropolitaanse gebiede afgestaan. Dit kom verder onder toenemende druk van die EFF en diensleweringsbetogings neem steeds toe. Die bestaande wigte en teenwigte is onvoldoende om ’n gesonde magsbalans in die land te verseker en die staat se sekerheidsdienste word toenemend gebruik om die presidensiële regering te beskerm. Weens die swak ekonomie is daar al minder staatshulpbronne om die netwerke van begunstigdes en ander behoeftes tevrede te stel.  Die vae belofte van “radikale ekonomiese transformasie” word dus nou voorgehou om die ontevredenes in aanloop tot 2019 se nasionale verkiesing te paai.  Intussen raak die kompetisie tussen die faksies al feller.

Teen hierdie agtergrond het ’n diep verdeelde ANC tydens dié party se nasionale kongres van Desember 2017 onteiening sonder vergoeding as beleid aanvaar. Op 27 February 2018 het die ANC, EFF en ander partye met ’n meerderheid ten gunste van ’n proses besluit wat die aanpassing van die Grondwet behels ten einde onteiening sonder vergoeding grondwetlik moontlik te maak. In Mei 2018 is daar op ’n nasionale grondberaad bevestig dat die aanpassing van die Grondwet dalk nie eens nodig sal wees nie, aangesien Artikel 25 van die Grondwet dalk reeds ruimte vir sodanige onteiening skep.

As risiko-analis wat die Europese en Suid-Afrikaanse sakewêreld ken, het Matthee gewaarsku dat betekenisvolle kapitaalakkumulasie nie kan plaasvind sonder die sekerheid wat eiendomsregte bied nie. Onteiening sonder vergoeding sal lei tot ’n sterker ANC-greep op die nuwe huurders van grond en tot begunstigingspolitiek. Dit beteken dat die welvarendes, armes én kwesbare middelklas almal uitgelewer sal wees aan die giere van die predatoriese elite.

Onsekerheid oor die proses wat gaan volg en die veiligheid van bates, sal investering strem en ’n rimpeleffek in die ekonomie tot gevolg hê, wat onmeetbare skade kan aanrig.

Met hierdie waarskuwing het die byeenkoms te einde geloop. Die aanhoorders was opnuut onder die indruk van die noodsaak daarvan om ’n proses van onteiening sonder vergoeding op alle moontlike wettige wyses teen te staan.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Eish ·

Welgedaan!
Moet asb. nie ophou met die inligtingsessies aan die buiteland nie. Inteendeel, ek sou graag wou sien dat dit baie meer vleis om die lyf begin kry.

Andrea ·

Ek stem heelhartig met jou saam. Mag dit op een of ander manier vir ons verligting bring. Moet asb nie ophou met hierdie projekte nie.

Afrikaanse Knaap ·

‘n Dief stel nie in hierdie feite belang nie. Die regering het hierdie kennis. Daar is iets anders agter hulle agenda.

White Rhino ·

Wk stem saam met Eish – welgedaan!!!
Hou so aan!!!
Dit moet ook in die hoofstroom media vertoon wdord – wereldwyd asb?
Baie dankie!!

Alwyn Beetge ·

Uitstekende artikel dankie. Vertaal asseblief in Engels vir ons families en vriende oorsee.

Andrea ·

Kan ek vra: wat nou verder na hierdie inligtingsessies? Is daar planne beraam saam met internasionale persone om die onteiening teë te staan? Wat het geword van die Australiese minister se voorstel van versnelde visums vir SA boere? Is daar enigsins nóg sulke projekte en wat is die uitkomste daarvan? Is daar enige projekte vir die toekoms? Groot asb kan iemand wat weet bietjie terugvoer gee?

Waarheen ·

Anders as in Zim het ons nerens om heen te vlug nie so dit gaan baie lelik raak hier as ons in ‘n hoek vasgekeer is.

humor ·

Afrikaner Knaap jy slaan die spyker op sy kop, Die regering dryf hierdie saak totaal teen hul beterwete in. Dit is waarneembaar duidelik daar sit ander magte agter hierdie saak Geoge Sorros en ander?????????????

Johanna Botha ·

Die regering wil SA behoorlik vernietig …kyk maar net Noord !

Zirk ·

Bykomend tot bogenoemde nuus en kommentaar daarop, wil ek graag lesers verwys na die grondberaad wat tydens die Vryfees te Kovsiekampus gehou is op 12.07.2018. Daar is die grondkwessie van begin tot die einde deurtrap en met logiese feite ernstig gewaarsku dat die regering op die verkeerde pad is, en deur politieke druk, eintlik met vuur speel. Pieter du Toit, redakteur van Huffington Post, was die gespreksleier. Lesers kan die gesprek kry op UFS web adres of koop Sondag se City Press.

Wessel ·

Solank hy net nie oor Afrikaans en die Afrikaner skryf nie, hy en Adriaan kon tweeling gewees het.

JAN ·

Nuus is dat die VN die administrasie van NW gaan oorneem. Hmm?
Dis mos onteiening ??
Dis die gebied waarop daar reeds 4 jaar gelede ń wettige grootste grondeis ingestel is. Ou Boererepubliek Hmm?
Baaie interessant.
Sopas verneem oor die ongelooflike goddelike redding van die Tai kinders. !!!!
Laat mens besef dat God vir ons ń toekoms kan skep uit niks uit nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.