Swede word uiteindelik lid van Navo

Soldate van die 13de teen-intelligensiebataljon, 2de verkenningspeloton van die Sweedse Gewapende Magte, neem op 27 Februarie 2024 deel aan militêre oefening in Kungsangen, naby Stockholm. (Foto: Jonathan NACKSTRAND / AFP)

Swede het na ʼn wagtydperk van amper twee jaar sedert sy aansoek in 2022 uiteindelik amptelik lid van die Noord-Atlantiese verdragsorganisasie (Navo) geword.

ʼn Land kan eers lid van Navo word as daar eenstemmigheid tussen die bestaande lede oor die nuwe kandidaat heers. Twee bestaande lede, Turkye en Hongarye, het beswaar gehad en daarom is Swede se toetrede so lank vertraag.

Turkye het Swede daarvan beskuldig dat die land huisvesting aan terroriste bied wat die Turkse staat bedreig. Inderdaad bied Swede asiel ook aan politieke vlugtelinge wat in opposisie tot die Turkse bewind staan, maar min van hulle kan as terroriste beskryf word. Uiteindelik kon Swede en Turkye wel ʼn ooreenkoms bereik en het Turkye die pad oopgemaak vir Sweedse lidmaatskap.

Hongarye het as laaste staat deur sy parlement toestemming vir Swede se lidmaatskap aan Navo gegee. ʼn Ontmoeting tussen Hongarye se eerste minister Victor Orban en Swede se eerste minister Ulf Kristerson het die verskille tussen die twee lande vooraf uitgestryk. Hongarye het die ooreenkoms beklink deur vier Grippen-vegvliegtuie uit Swede te bestel. Hongarye se teenkanting teen Swede se lidmaatskap het gespruit uit Swede se negatiewe daarstelling van Hongarye as kwasidiktatorskap waar menseregte onderdruk word. Verder verkwalik Orban ook die Sweedse Christen-Demokrate, waarvan Kristerson deel is, dat hulle Orban se konserwatiewe Fidesz-party uit die faksie van die Europese Volksparty in die Europese parlement gewerk het.

In die ontmoeting tussen die twee leiers is konsensus bereik dat twee lande oor binnelandse sake en wêreldbeskouing kan verskil, maar steeds oor internasionale sake kan saamwerk. Orban het beklemtoon dat Hongarye homself as Christelike land in die tradisie van die Westerse beskawing en as ʼn staat vir ʼn spesifieke volk, naamlik die Hongare sien. Swede daarteenoor is en was nog altyd ʼn uitgesproke liberale land waar verdraagsaamheid tot die hoogste deugde verhef word. Spesifiek gaan dit oor die kwessie van die homoseksuele agenda wat ʼn twispunt tussen die twee lande was. Homoseksualiteit self word nie in Hongarye verbied nie, maar wel die bemarking daarvan aan minderjariges. Swede het dit as diskriminasie teen homoseksuele vertolk.

Die twee lande verskil ook oor migrasie. Terwyl Hongarye veral met die vlugtelinggolf in 2015 migrante aktief en soms hardhandig by die grens gekeer het, het Swede hulle met ope arms verwelkom. Intussen is Swede spyt oor sy destydse houding, omdat die land reeds ʼn duur prys daarvoor betaal met stygende misdaad en maatskaplike probleme. Dit het ook aanleiding gegee tot ʼn regeringsverandering van die linkse blok na ʼn sentrum-regse koalisie, wat ook strenger teen migrante optree.

Die twee lande verskil ook oor die kwessie van die oorlog in Oekraïne. Vir Swede, wat vir eeue trots was op sy neutraliteit en wat uit die groot oorloë van die moderne era gebly het, het Rusland se aanval op Oekraïne die land laat skrik en sy neutraliteit laat heroorweeg. Hongarye daarteenoor probeer, alhoewel vasgeanker in die Westerse blok, steeds ʼn verstandhouding met Rusland handhaaf en is ook wat energie betref sterk van dié land afhanklik.

Swede voeg wel waarde tot Navo toe. Die land het ʼn relatiewe klein weermag wat die getal soldate betref, maar met moderne wapentuig wat ook deels in Swede self vervaardig word. Boonop het die land ʼn lang kuslyn langs die Baltiese See, waardeur Rusland ingeperk kan word. Dieselfde tyd as Swede het ook Finland aansoek gedoen vir lidmaatskap by Navo. By Finland was daar redelik min teenkanting en is die land al sedert verlede jaar lid van Navo.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Teen wie wil die Swede en hul maters nou veg? En hoe?

Hennie ·

Turkye beskuldig Swede van ‘n tipe terrorisme, pot calling the kettle black.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.