Taalbeleidshersieningsproses klad op UP se naam

Foto: UP/Facebook

Foto: UP/Facebook

Die taalhersieningsproses wat tans deur die Universiteit van Pretoria (UP) gevolg word, word deur AfriForum as ʼn klad op die instelling se naam as setel van akademiese vryheid en hoëvlak akademiese denke beskou.

Dié kommentaar volg op mediaberigte dat een van die taalwerkgroepe van UP feitlik eenparig aanbeveel het klasse en eksamens voortaan slegs in Engels aangebied word. AfriForum was nie deel van die groep nie – AfriForum Jeug was, maar het uitgestap nadat hul pogings om insette te lewer, geïgnoreer is.

Dié standpunt oor die proses berus onder meer op die volgende punte:

  • Die UP se Sentrum vir Menseregte is uniek in die land met ʼn aanbieding van ʼn kursus oor taalregte. Dit is onverstaanbaar dat ʼn instelling wat die visie aan die dag lê om hierdie regte so te bevorder, terselfdertyd so skreiend teen ʼn groot deel van sy studentekorps se taalregte diskrimineer.
  • Soos verskeie ander universiteite, lyk dit asof die UP voor ideologiese druk en anargiste se dreigemente van geweld swig – ʼn houding wat nie by ʼn instelling wat akademiese vryheid en uitnemendheid hoog ag, hoort nie.
  • Die Suid-Afrikaanse Grondwet stel dit onomwonde dat studente is geregtig op onderrig in die taal van hul keuse. Internasionaal word dié reg gekwalifiseer deur die praktiese uitvoerbaarheid daarvan. Die betrokke taal moet dus ontwikkel wees tot ʼn vlak waar onderrig op die hoogste akademiese vlak daarin moontlik is. Dit is vir dekades lank al die geval wat Afrikaans betref. Werkgroepe wat met die UP se taalbeleidhersieningsproses werk, sluit sover ons kan sien slegs een taalkundige in, naamlik prof. Sheila Mmusi. Nasionale en internasionale kundiges op die gebied van taalregte, taalsosiologie en finansiële universiteitsbestuur behoort in advieskomitees te dien as weldeurdagte, kundige insette verlang word.
  • Die toeganklikheid van die raadplegingsproses word bevraagteken. Die aankondiging daaroor verskyn op die universiteit se webblad, maar AfriForum, wat al jare lank direk met die bestuur van die UP oor taal praat, moes deur ons jeugbeweging van die proses verneem en nou inderhaas ʼn voorlegging opstel. Ons verneem ander instellings met hoogstaande akademiese reputasies moes ook met omweë van die proses verneem, hoewel die universiteitsbestuur deeglik bewus van hul bestaan en belang is.
  • Die tydsraamwerk vir insette oor ʼn kwessie van soveel belang is onvoldoende en bewys verder met hoe min erns die proses hanteer word.
  • Koste word gereeld as argument gebruik, maar is akkurate kosteberekenings al gedoen oor die koste van eentaligheid? Dit sluit akademiese verarming in, maar meer prakties die koste van die vervreemding van nie-Engelssprekende studente en skenkers, asook die koste van studente wat kursusse druip of staak weens taalprobleme.
  • In mediaberigte verkondig betrokkenes die leuen dat ʼn eentalige Engelse beleid “maatskaplike samehorigheid” bevorder. In Suid-Afrika herinner 16 Junie 1976 ons hoe ernstig daar met studente se reg op moedertaalonderrig omgegaan moet word. Die afdwinging van eentaligheid veroorsaak juis verdeeldheid en geweld. Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) het tot stand gekom weens die miskenning van studente se reg om in Bengali te studeer – studente wat vir die reg betoog het, is doodgeskiet. In Asië en elders word vele vredesprojekte tans bedryf deur aksies om taalregte te bevorder.
  • UP se aanslag is ook nie in pas met huidige ontwikkelinge in Afrika nie – in onder meer Ghana en Tanzanië word eentalige Engelse onderrig toenemend afgeskaf ten gunste van inheemse tale.
  • Afrikaanssprekendes is nie net wit nie. Sensus 2011 bewys dit. Die redenasies dat aanspraak op Afrikaanse onderrig “rassisties” is, getuig van soveel onkunde, dit behoort nie eens geopper te word nie, veral nie by monde van verteenwoordigers van ʼn tersiêre instelling nie.

AfriForum sal ʼn voorlegging oor die UP se taalbeleid maak en alles moontlik doen om Afrikaanssprekendes se regte aan dié en ander instellings te beskerm.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paul ·

Universiteite in Suid-Afrika was nog nooit (of minstens in die afgelope vyftig tot sewentig jaar) setels van “akademiese vryheid” nie. Gedienstigheid aan die heersende politieke orde, dit was en is die wagwoord. Ek sou sê vandag selfs nog meer gedienstig as dertig of vyftig jaar gelede, maar dis bespiegeling.

Christo ·

Ek dink nie The university of Pretoria gaan jou artikel lees nie,……Dit is in Afrikaans!

JC ·

Afriforum, doen asb jul voorleggings en raak asb die grondwetlike aspekte aan asook die Departement van Hoer Onderwys se eie “Language Policy For Higher Education” en Artikel 27 van die Internasionale Konvensie op Burgerlike en Politieke Regte ten opsigte van die regte van minderhede. Danie Afriforum! As ek kon sou ek ook voorleggings gemaak het by [email protected] maar ek het nie tyd as gevolg van die feit dat ek werk maar laat dit in jul bekwame hande! Die argumente is net te veel en gaan dit ‘n te lang relaas wees. Sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.