Tant Gezina Kruger – die bekende onbekende

Gezina Kruger se grafsteen (Foto: Deur Noord-Transvaalse tak van die GGSA – Met verlof van die GGSA gebruik/Wikpedia)

10 Oktober is jaarliks vir die Afrikaner ʼn besondere stukkie onthoudag. Dit is die dag waarop die geboortedag van Paul Kruger (Oom Paul, president Kruger) herdenk word. Vroeër jare was dit ʼn amptelike vakansiedag, deesdae ʼn gewone werksdag, maar in die gemiddelde Afrikaner-huis is dit steeds Oom Paul se dag.

Vir 83 jaar reeds, ononderbroke, lê die Krugergenootskap blomme op die grafte van president Kruger en tant Gezina op hierdie dag. In 2022 sal dit 197 jaar wees sedert sy geboorte en steeds gryp hy die verbeelding van die moderne mens aan. Die lewe en werk van Paul Kruger inspireer steeds. Die beginsels waarvoor hy gestaan het, naamlik vryheid en onafhanklikheid, leef steeds sterk in die harte van mense. En natuurlik wag ons altyd vir reën op 10 Oktober, want het die ou mense geleer, dit is ʼn goeie seisoen as die eerste reën van ʼn nuwe seisoen rondom sy verjaarsdag val.

Inderdaad en met rede word gesê – Paul Kruger het die verbeelding van die Afrikanervolk aangegryp! So is dit. Paul Kruger was ʼn man van sy tyd, hy het geleef in ʼn bepaalde tyd en was omring deur die mense van sy tyd. In hierdie artikel, vir Paul Krugerdag 2022, draai ons die oë so ʼn bietjie weg van Paul Kruger, die mens en die president, en fokus op sy geliefde vrou wat hom bygestaan het oor soveel jare. Van hom weet ons baie, van haar eintlik so min. Daarom is dit nodig om so ʼn bietjie saam te dink oor iemand uit sy binnekring, sy ondersteuner en sy geliefde. Sy was tant Gezina – die onbekende bekende.

Agtergrond oor Paul en Gezina Kruger

Paul Kruger is in 1842 getroud met Maria du Plessis. Met die geboorte van haar eersteling in 1846 is sy saam met die baba oorlede en was Paul Kruger op 21 ʼn wewenaar. ʼn Jaar later trou hy dan weer, hierdie keer met ʼn niggie van Maria du Plessis, naamlik Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis. Paul en Gezina sou 54 jaar saam wees, met ʼn geseënde vol lewe in uitdagende tye en met unieke beproewings, en tog doodgewoon steunpilare vir mekaar. Van haar word geskryf dat sy vir hom ʼn steun en ʼn toeverlaat was, iemand wat saam met hom so baie deurgemaak het.

“Stel u vertrouwen vast op den Heere”

Paul en Gezina Kruger (Foto: Deur Onbekend – Argief van die GKSA, PD-SA/Wikipedia)

Wanneer ʼn mens vandag by die grafsteen van Gezina Kruger staan, daar in die Ou Begraafplaas van Pretoria, val die lewensleuse van haar as mens jou so dadelik op. Dit staan daar. Tekenend en kenmerkend van wie sy was. Haar lewensleuse was eenvoudig: In alles, vertrou volkome op die Here.

Uit haar lewe en oorvertellings, die onthou en die vertellinge van haar kinders en kleinkinders, is dit duidelik – Godsvertroue was vir haar bo alles. Sy het dit met die mond bely, maar in alles uitgeleef. So vertel haar een kleindogter oor die tyd wat die president na Europa sou vertrek en hoe haar ouma hulle baie ferm en beslis geleer het dat hulle nie bekommerd moet wees oor oupa en die ander nie, God sal hulle bewaar soos Hy die ganse volk bewaar in tye van swaarkry. Tog was sy ook ʼn doodgewone vrou en geliefde wat, toe sy die dag haar man moes groet, uit die kamer gekom het met rooigehuilde oë en geprewel het: “Dit is die wil van God.”

Hierdie godvresende eggenote van Paul Kruger was bekend as stil, simpatiek en liefdevol. Haar hele lewe het sy gewy aan familie en volk. Elsie van Broekhuizen skryf oor haar ouma: “Sy was die middelpunt waarom die hele familie gedraai het. Oupa Kruger was sterk, maar ouma Kruger was sterker.” Wat ʼn mooi getuienis wat ons van haar lees. Die president kon steun op haar liefde. Daarom juis was dit so swaar vir hom om van haar afskeid te moes neem. Hy in ballingskap. Sy sieklik en swak. ʼn Moeilike beproewing vir beide van hulle.

Aanvanklik het Kruger (in 1842 toe hy op 17-jarige ouderdom getroud is) hom op die plaas Waterkloof, Suid van Rustenburg, gevestig. Hier sou hy met verloop van tyd nog drie plase bykoop.  As gevolg van tant Gezina se swak gesondheid het hulle op Waterkloof gewoon, maar die wintermaande op Boekenthoutfontein deurgebring. 1873/1874 sou hulle hulself permanent daar vestig juis omdat die plaas hoër geleë is en beter vir haar gesondheid was. Maar wie en wat was Gezina Frederika Wilhelmina du Plessis?

Gezina Frederika Wilhelmina du Plessis

Gezina Kruger (Foto: Deur Onbekend – Eeufees-album. Pretoria se eerste eeu in beeld, PD-SA/Wikipedia)

Gezina word groot as ʼn trekdogter in die Potgieter-trek. Sy was die dogter van Jan Adriaan du Plessis (1804-1848) en Catharina Magdelena du Plessis (1810-1878). Sy is gebore op 5 Mei 1831 en oorlede net na die Engelse oorlog op 20 Julie 1901.

Ten tye van haar afsterwe was Paul Kruger in Europa. Hulle sou mekaar nie weer sien sedert hy haar in die oorlog hier gegroet het en in opdrag van die ZAR-regering vertrek het na Europa nie. Sy en Paul Kruger sou die ouers word van 16 kinders. Dit is juis die getuienis van haar kinders en kleinkinders wat haar aan ons voorstel as ʼn godvresende moeder wat besonder hard kon werk en baie sterk kon boer. Haar man was baie uitstedig en sy moes die vort hou. Iets wat sy met onderskeiding gedoen het. Natuurlik toe hulle na die presidentswoning verhuis in Kerkstraat, was die kinders uit die huis en het die huishouding heel anders daar uitgesien.

Sy word onthou as Christelik, besonder begaafd, vrou van haar man en moeder van haar kinders. ʼn Boervrou wat se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Interessant dat sy van karakter geskets word as iemand wat besonder min vrees geken en geleef het en dit word waarskynlik verklaar deur haar sterk geloofsonderbou om volkome op die Here te vertrou.

Sy was ferm in die grootmaak van haar kinders, tog vol takt en liefde. So het sy ook die president bygestaan en ondersteun. Haar karakter word voorgehou as sag, taktvol, gasvry, deftig en besonder vriendelik. ʼn Besige geaardheid. Besig met naaldwerk, borduurwerk, hekelwerk, medisyne (sy was bekend vir haar kennis oor natuurlike medisyne) en tussen-in huishouding en boerdery.

Beproewing

Die lewe van Gezina Kruger was nie sonder beproewings nie. Dit is juis haar besondere lewenspad wat haar voorberei het vir die swaar wat sy sou dra en moes help dra. Sy was ʼn trekdogter, met die uitdagings van die trek opsigself. Vier van haar kinders is jonk oorlede. In een stadium in die oorlog, was daar vier van haar seuns, vyf van haar skoonseuns en 33 van haar kleinseuns. Haar moeder- en oumahart het swaar geworstel met hierdie gedagte. En dan natuurlik die afskeid van haar man op pad na Europa. ʼn Geweldige beproewing vir beide van hulle. Haar lewe is gekenmerk deur swak gesondheid. Dit het dikwels aanpassings geverg en uitdagings gebring. Juis om daardie rede kon sy nie saam na Europa tydens die oorlog nie. Sy is drie jaar voor die president oorlede.

Diensbaar

Wat Gezina juis die bekende onbekende gemaak het, was haar karakter van diensbaarheid. Diensbaar aan haar gesin en haar volk. Sy was die middelpunt van haar familie, maar op die agtergrond van die president se ampswerk. Inteendeel het sy dikwels selfs onttrek daarvan.

Sy was doelbewus op die agtergrond en wou nie eers in die staatskoets ry nie. Haar rede was eenvoudig. Sy was die middelpunt van haar gesin, maar op die agtergrond van sy werk. Haar versorgende, gasvrye geaardheid het wel gemaak dat sy nooit heeltemal op die agtergrond kon bly nie. Daarvoor moes sy te veel vertrooster en versorger speel. Sy het bemoedig en met huislikheid die president ondersteun en atmosfeer geskep. Daar word vertel dat sy enduit boervrou gebly het, met ʼn wakende oog oor die kombuis en huiswerk, maar aan haar huis het sy natuurlik baie gaste ontvang, byvoorbeeld Jan Hofmeyer, JX Merriman, Cecil Rhodes, President Steyn, Henry Stanley, Mark Twain. Die president het sy werk gedoen en sy was die stille krag daaragter.

Daarom kan ʼn mens verstaan dat dit ʼn diep bedroefde Paul Kruger was wat moes verneem dat sy vrou op 20 Julie 1901 oorlede is. Kort voor haar dood het sy nog ʼn laaste boodskap aan haar man gegee dat hy sy vertroue volkome in God moet stel.

Die bekende onbekende

Gezina Kruger sterf bekend. As die vrou van die president. Sy was bekend en geliefd in haar land, onder haar mense, en die geliefde van haar familie. ʼn Vrou wat geleef het om haar man te ondersteun, haar kinders te versorg, haar land te dien. Sy sterf ook onbekend. Na alles het sy gekies om die vrou van die president te wees. In die agtergrond. Dit was vir haar genoeg. Daarom staan op haar graf, naas haar lewensleuse oor vertroue op die Here – “Geliefde echtgenote van ZED President Kruger.” 

Dit is wie Gezina Kruger was en wou wees. Sy was die bekende onbekende.

Die Krugergenootskap sal DV op 10 Oktober om 14:00 ʼn krans lê op die graf van president Kruger en Tant Gezina.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Faraway ·

Dit was nou baie interresant
Ekt nog altyd n belangstelling in historiese geboue en gebeure
Dankie

Anel ·

Baie dankie. Ek geniet ook ons geskiedenis. En dit is ‘n baie ryk geskiedenis.

skurweberg ·

Agter elke man van aansien staan daar ‘n goeie vrou. Nie ‘n metgesel of saamwoon maaitjie , wat in sonde leef nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.