Te midde van onsekerheid…

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Dis begrotingstyd en te midde van onsekerheid in dié verband is aanduidings dat die begroting op 21 November deur Malusi Gigaba, minister van finansies voorgedra sal word.

Die skrif is aan die muur en Jan en alleman sal sy hand dieper in die beursie moet steek. Dit word al hoe duurder om die land te midde van die droogte enersyds en gratis onderwys andersyds, twee van talle veranderlikes, likied te hou. Politieke strome en onderstrominge wat veral met die vertrek van president Jacob Zuma verband hou, kompliseer dinge verder.

Belastings word nie na wense gevorder nie en die gebrekkige groei in ons ekonomie met gepaardgaande werkloosheid maak nie goeie somme nie.

Ons almal ken die noodsaak van ʼn begroting. Dis die 101 van verantwoordelike menswees. Die Bybel leer ʼn belangrike les wanneer dit vertel van ʼn man wat wou bou:

(Lukas 14)

Wie van julle wat ʼn gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf. Hulle sal sê: ‘Hier is ʼn man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.’

Dit is so dat die meeste mense ʼn ongesonde skuldlas dra omdat hulle dinge wil bekom wat hulle nie kan bekostig nie. Kredietkaarte het menige al by skuldberaders laat beland. Daarmee spreek ek geen oordeel uit oor mense wat van daardie diens gebruik moet maak nie, inteendeel. Die lewe is buitensporig duur en tussen meet en pas is dit ʼn kuns op staande te bly.

Vereenvoudig is daar twee elemente aan ʼn begroting – die verwagte inkomste en die verwagte uitgawes.

Alle inkomstestrome moet verreken word sodat maksimum inkomste genereer word.

In die kolom vir verwagte uitgawes word daar voorsiening gemaak vir vaste en veranderlike uitgawes. Uitgawes is nie noodwendig negatief nie, tensy dit aan uitspattighede spandeer word. In Suid-Afrika het ons genoeg gehad daarvan.

Die verskil tussen dié twee kolomme definieer ʼn oorskot of ʼn tekort.

In die tyd waarin ons lewe is oorskot meestal ongekend en is onderprestasie ons voorland. Dit laat ʼn mens met ʼn tekort wat op die een of ander wyse aangevul moet word. Boonop moet skuld wat van vorige jare oorgedra is, ook vereffen word. Die las word dikwels net groter en groter.

Ek is so bly dat ek nie die staat se boeke moet laat klop nie, my eie is ʼn groot genoeg uitdaging!

In oordragtelike sin bestaan ons lewe individueel en korporatief eweneens uit inkomste- en uitgawe-kolomme, veral wat die sosiale rekening van ʼn samelewing betref.

Die inkomstekant verteenwoordig die gawes, talente en passie wat elkeen van ons na die tafel bring. Ongelukkig, soos in die staat se begroting, is die bydraende lede ʼn druppel in die emmer in vergelyking met die geheel. Belastingontduikers gee die fiskus grys hare en alles word in die stryd gewerp om hulle vas te vat. Dit geld eweneens vir mense wat hul talente, vermoëns en menswees willens en wetens van ander weerhou en selfgerig en selfsugtig lewe.

Dit werk maar so in die kerk ook. My ervaring met kerk- en gemeentewees dui daarop dat minder as ʼn derde van alle lidmate van wie ʼn bydrae, finansieel en anders verwag word, dit inderdaad doen. Daar is uiteraard diegene wat dit nie kan bekostig nie (met verwysing na geld) maar die meeste kan, as hul prioriteit in plek en orde is, ʼn bydrae maak, hoe gering ook al.

Elke mens, ook in die kerk, het egter oorgenoeg mensweeskapitaal wat tot ander se voordeel bygedra kan word. Dis hoe die Liggaam moet funksioneer, só leer 1 Korintiërs 12 ons.

Die voorregte van gemeentewees word met ope arms aanvaar, somtyds ook gekritiseer, maar sonder dat die persoon ʼn proaktiewe bydrae maak om die begroting te laat klop … geestelike belastingontduikers.

Dit maak uiteraard dat die ander kolom van die begroting bykans onmoontlike eise stel aan sy vennoot aan die ontvangste kant. Die tekort laat kerkrade snags wakker lê omdat hulle nie seker is hoe die boeke gaan klop nie.

Ek wil egter my vergelyking uitbrei na ons land Suid-Afrika en al sy mense. My begrip is dat geen groep homself ten koste van ʼn ander kan handhaaf nie. Ons woon almal hier en ons het mekaar nodig. Ons staan soms erg krities teenoor mekaar, maar gaan mekaar nie kan weggooi of wegwens nie.

As ons die land wil laat werk, sal elkeen sy deel moet doen. Ons sal hand uit die mou moet steek en vra hoe ek my gawes kan aanwend sodat almal die voordeel geniet. Selfsugtige kortsigtigheid gaan ons duur te staan laat kom.

Ten einde die maksimum bydrae te lewer, sal ons opofferings moet maak. Ons sal eie belang op die altaar moet plaas en uitspattighede die nek omdraai. Ek is nie seker of ons mense altyd daartoe bereid is nie.

Dit kos baie om ʼn land te laat werk. Verdraagsaamheid, omgee en deernis. Onselfsugtigheid en opofferinge.

Vooroordeel, kritiek, agterdog en bitterheid maak die begrotingstekort net groter, tot so ʼn mate dat dit moeilik uitgewis word. Stereotipering, rassisme, ongeag van wie en waar dit kom, verskonings en verwyte bring ʼn mens nêrens nie.

Ons leef saam of ons sterf saam, ons vir jou Suid-Afrika.

In die proses vra ʼn mens wat vir die ander nodig is om sinvol mens te wees en wat ek daartoe kan bydrae. Kom ons werk saam dat die begroting kan klop.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Eish ·

Die kerke het n groot bydrae te maak in die verband, deur te begin belasting betaal op hul inkomste.

Eish ·

Die mense kry bitterlik swaar. Sien die uitslag van peiling vandag op MM dat meerderheid mense nie eens n pensioen plan het of kan spaar nie!
As instansie wat nie belasting op hul inkomste betaal nie, het die kerk werklik baie stof tot dankbaarheid.
In n onlangse MM berig oor n pastoor van Bloemfontein wat in n ongeluk betrokke was, moes ons tot ons skok sien dat die persoon n X5 van meer as n miljoen rand ry. Dan is daar die herehuis waar tuis gegaan word ensovoorts.
Verder is die boere se grond geteken vir onteiening sonder vergoeding, wat n klomp mense op straat gaan laat.
Miskien moet die kerk bietjie kom kyk wat aangaan hier waar die tyre die teer slaan en sien hoe verarming sy tentakels ingeslaan het in ons mense.
Ek gee liefs n paar sinkplate vir n plakkerskamp as om n stel wiele te borg vir n X5.

Jerry ·

Te midde van onsekerheid is die versoeking groot om die kar voor die perde in te span. Politiese opposisie, forums, unies, meningsvormers, joernaliste en Jan publiek swig almal voor die versoeking, want dit is menslik en niemand kan nou eintlik se wie is reg en wie is verkeerd nie. Dit sal net die tyd ons leer. Dit is in onsekertye menslik dat mense eers die kat uit die boom sal kyk voor hulle te betrokke raak by die versoeke van die skrywer. So sal ware gelowiges eerder tyd gebruik om hulle persoonlike verhouding met hulle skepper te versterk en kan dit beteken dat die kerk vir so n rukkie tweede viool speel! Die tiende word ook weerhou en gespaar net vir ingeval.

Eish ·

Net toe ek begin moed verloor het, toe kom die donker wolk se silwer randjie. Jerry, ek kan my vereenselwig met jou kommentaar. Wys jou net, as mens diep genoeg delf is daar wel raak punte want ons is almal mense.

bloues ·

Eish ek stem met jou saam. Ons predikant het twee kinders op universiteit, elke een in sy eie gehuurde woonstel. Hy besit n voertuig wat ek nie kan bekostig nie en sy huis is dubbel myne werd. My kinders moes of deur Unisa studeer en self betaal of werk. So, om watter regdenkende rede sal ek vir die kerk wil geld gee?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.