Te vroeg om te sê dis neusie verby vir Ramaphosa

Deur Theuns Eloff

Die Suid-Afrikaanse vlag. (Foto: Wikimedia Commons)

In ʼn onlangse artikel het ek geskryf oor vyf tendense wat 2020 sal kenmerk. Die vyf tendense is:

  1. Groter sentralisering en staatsbeheer deur die ANC-regering oor die doen en late van Suid-Afrikaners;
  2. Beter ondersoeke, aanklagte en vervolgings deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke;
  3. Die geleidelike, maar besliste, wegkalwe van regeringsinstansies se vermoë om te regeer, te bestuur, onderhoud te doen en basiese dienste te lewer;
  4. Voortdurende binnegevegte in die ANC en sy alliansievennote (en gepaardgaande aanvalle op president Cyril Ramaphosa); en
  5. Die stagnante ekonomie (met die moontlikheid van ʼn afgradering wat wink).

In die afgelope week was die fokus van die media en landsburgers veral op die binnegevegte in die ANC (nr. 4 hierbo), wat deur Eskom se probleme beïnvloed en selfs gedryf is (nr. 3 hierbo). Die spesifieke saak wat baie aandag gekry het, was die posisie en magsbasis van president Ramaphosa en wat dit vir sy toekoms as president en ook die toekoms van Suid-Afrika inhou.

Ná die sogenaamde 8 Januarie-verklaring het baie politieke kommentators bespiegel oor wat op die oomblik in die ANC aan die gang is. Dit was ʼn toespraak wat niks nuut bevat het nie, aangesien dit inderwaarheid die nasionale uitvoerende komitee (NUK) se kollektiewe poging was, en president Ramaphosa slegs een van die bydraers was. Die doel van hierdie jaarlikse verklaring is om terugvoering te gee oor die uitvoering van die vorige jaar se beleidsbesluite (hierdie keer by Nasrec-2017). Daar was duidelike tekens van kompromieë in die samestelling van die verklaring, maar ook duidelike klemverskille, wat steeds die tweespalt in die ANC se topses en die NUK weerspieël.

Jabu Mabuza. (Foto: Siphiwe Sibeko/ANA)

In die laaste twee weke is sake verder op die spits gedryf deur verwikkelinge rakende Eskom. Die eerste was die bedanking van voorsitter Jabu Mabuza, waarskynlik as gevolg van die uitlating van adjunkpresident David Mabuza dat Eskom se direksie, bestuur en minister Pravin Gordhan die president oor beurtkrag mislei het. Dit het daartoe gelei dat druk van binne die ANC-alliansie en die EFF opgebou het vir president Ramaphosa om Gordhan as minister te laat gaan, of ten minste om verantwoordelikheid vir Eskom na die minister van energiesake, Gwede Mantashe, oor te dra.

In die laaste week het verreweg die meerderheid kommentators met sterk kritiek op president Ramaphosa gekom of ’n “laaste dae”-scenario geskets. Piet Croucamp vra in Vrye Weekblad of die president ruggraatloos is en of sy hande bloot afgekap is? Judith February skryf op Daily Maverick dat Ramaphosa die oomblik moet aangryp en homself sterker vestig en handhaaf deur, onder meer, alliansies te bou. Stephen Groottes maak op Daily Maverick die punt dat die politieke kragte rondom Eskom die land en Ramaphosa kan maak of breek, maar dat dit nie duidelik is dat die politieke wil daar is om dit op te los nie.

Max du Preez is nog sterker: Cyril moet nóú die Rubikon oorsteek of ’n floumakou-president word. Op News24 waarsku Mpumelelo Mkhabela dat Ramaphosa vinnig sal moet “outo herstel” anders is alles verlore. Pieter du Toit (ook op News24) beskryf die oënskynlike plan om van Ramaphosa ’n eentermynpresident te maak – beginnende met sy ondermyning by die nasionale algemene raad van die ANC wat vir Junie beplan is. Dan is daar ook gerugte (verwoord deur, onder andere, prof. Andre Duvenage van die NWU) dat David Mabuza die Ramaphosa-kamp verlaat het en hom by die Ace-kamp aangesluit het. Ferial Haffajee (Daily Maverick) is oortuig dat Ramaphosa nie vir Gordhan as minister sal afdank nie, maar dat hy as ʼn kompromie dalk Eskom na Mantashe sal skuif.

As dit van die bogenoemde menings afhang, is president Ramaphosa se magsbasis erg wankelrig en sy toekoms as president in die weegskaal. Melanie Verwoerd (op News24) is letterlik die enigste een wat sê dat dit nog lank nie einde van Ramaphosa is nie. Vanuit die ANC self was dit net die veteranegroep wat Gordhan en Ramaphosa openlik gesteun het.

Is dit die begin van die einde vir president Ramaphosa?

Pres. Cyril Ramaphosa.(Foto: GCIS)

Uit die vaal 8 Januarie-verklaring kon dit gelyk het asof die Ace-faksie die oorhand gekry het, deur op die uitvoering van die Nasrec-besluite te fokus – wat die nasionalisering van die Reserwebank insluit, en waarmee Ramaphosa duidelik nie saamstem nie. Die 8 Januarie-verklaring fokus jaarliks op die uitvoering van beleidsbesluite en Ramaphosa (of enige ander president) het baie min beheer daaroor.

Die Ramaphosa-kamp het in die finale verklaring wel enkele oorwinnings behaal, hoofsaaklik betreffende sterk uitsprake oor staatskaping en korrupsie, swak staatsadministrasie en nierassigheid. Eers wanneer president Ramaphosa op 13 Februarie sy staatsrede in die parlement lewer, sal ons weer iets van die president van die land en van alle Suid-Afrikaners kan sien. Dit sal dus belangrik wees om na elke nuanse in die staatsrede te kyk om die magsposisie van Ramaphosa akkuraat te bepaal. In daardie opsig is dit nog te vroeg om sy ondergang te voorspel.

Wat wel kommerwekkend is, is dat hardnekkige gerugte dit wil hê dat Ramaphosa nie meer op die steun van die meerderheid van die ANC se sogenaamde topses kan staatmaak nie, met vraagtekens oor beide David Mabuza en Paul Mashatile. Daarby word die naam van Lindiwe Sisulu nou ook as ʼn “wegbreker” genoem. Al die skynbaar nuwe “afvalliges” het een ding in gemeen: hulle het hoër politieke aspirasies en sien enige Ramaphosa-swakheid as ʼn toekomstige geleentheid. Mashatile, Mabuza en Sisulu sal by die volgende verkiesingskonferensie in 2022 graag hul name op die toplys wil sien – verkieslik as kandidaat vir die presidentskap. Die dinamiek is dus nie noodwendig meer bloot ʼn tweeledige een met (net) ʼn pro-Ramaphosa- of ʼn pro-Magashule-kamp nie. Dit is meer kompleks en dinamies as dit. En dit versinnebeeld die diep persoonlike en beleidsverskille binne die ANC se leierskap.

Shamila Batohi, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag. (Foto: Jacques Naude/ANA)

Daar is een faktor wat hierdie hele magsdinamiek vinnig kan verander. As die Nasionale Vervolgingsgesag (soos wat Shamila Batohi beloof het) teen einde Februarie met ʼn paar hoë profiel-vervolgings kom, kan dit die Ramaphosa-kamp versterk, die Magashule-kamp verswak en dit moeiliker vir Mabuza en ander se aspirasies maak. ʼn Nasionale algemene raadsvergadering sonder Ace Magashule en dalk nog ʼn paar ander bekende Zuptas sal aansienlik makliker wees vir Ramaphosa om te hanteer. Dit kan sy magsbasis in die party verstewig.

ʼn Ander moontlike faktor wat positief vir Ramaphosa kan wees, is dat die nuwe uitvoerende hoof van Eskom, Andre de Ruyter, ʼn sigbare impak op die kragvoorsiener se werking kan hê. Hy het vroeg Januarie stilweg en sonder fanfare begin, wat ʼn goeie teken kan wees. Ongelukkig is daar reeds kritiek op die aanstelling van die tussentydse voorsitter van die direksie, Malegapuru Makgoba.

Makgoba het ʼn uitstaande rekord as akademikus en was ook vir ʼn hele aantal jare die rektor van die Universiteit van KwaZulu-Natal. Of dit hom gaan help om die Eskom-tameletjie uit te pluis, is nie duidelik nie.

Suid-Afrika het dus ʼn president wat veg om sy politieke magsbasis – wat wankelrig begin het – te verstewig. Dit is en word moeiliker gemaak deur veral die terugvegaksie van die Zuptas en ander korruptes, die verval van die staat en staatsondernemings (veral Eskom) en die swakste ekonomiese groei sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Oudpres. Thabo Mbeki. (Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA)

Op die keper beskou is Ramaphosa se probleem egter dat hy en sy breë magsbasis nie saamstem oor sekere fundamentele beleidskwessies nie, veral van ekonomiese aard. Daardie breë magsbasis word vir die afgelope dekade of wat aan die neus gelei deur óf die SAKP en vakbonde se uitgediende sosialistiese idees, óf die Zuptas se selfgesentreerde kultuur van toeëiening óf ambisieuse kollegas wat ʼn geleentheid in sy (dalk gewaande) swakheid sien om politieke munt te slaan ten opsigte van toekomstige leierskapposisies. Die korrupsie, verrotting en kultuur van toeëiening loop diep in die ANC se strukture. Soos Thabo Mbeki, is Ramaphosa gewikkel in ʼn stryd om die siel van die ANC. Dit is nie ʼn maklike geveg nie.

Sonder om te ontken dat president Ramaphosa sterker en vinniger kon opgetree het, en sy magsbasis vroeër kon versterk het, is dit te vroeg om die huidige gebeure as die begin van die einde van ons president te beskou. Daarvoor is hy té veel van ʼn strateeg.

Maar dat hy nie handegevou kan sit en niks doen nie, is ook nie ʼn opsie nie. Dan is dit neusie verby vir hom en stellig ook vir Suid-Afrika.

  • Theuns Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk Stigting

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Cyril Ramaphosa moet net versigtig wees dat dit nie té ooglopend raak, in sy oorgretigheid om homself te bewys, ook die indruk skep dat dit hy is wat voorstap en derhalwe die pap só dik aanmaak, dat hy blatant met ander se kalwers ploeg nie.

Dolf

SA het klaar gesink, en dit het nie oornag gebeur nie. Die skrif was reeds 15 jaar gelede duidelik aan die muur. Positiewe mense sal altyd na goeie nuus soek, want dis in hul DNA. Maar die realiteite sal weldra inskop. Niks en niemand kan die land omdraai nie. Die geld is op en die beste talent verlaat die land. Die wat agterbly is in ‘n oorlewingstryd, wat vererger word met watertekorte, droogtes, besoedeling, vervalle infrastruktuur, werkloosheid, NGV, misdaad en oorbevolking. Groot, internasionale maatskappye sal binne die volgende dekade begin om in groot getalle pad te gee. SA se reënboogdroom… Lees meer »

John

… daar was groot verbasing te lees op die gesigte van topkaders toe Cyril aankondig dat ongekwalifiseerde en onbekwame amptenare se dae getel is. Wat die prez dalk doen is om nuwe idees drupsgewys in die harde koppe van die ou garde te probeer inforseer. Die spul is sedert 1910 op die stokbroodvuur. Selfs ‘n towerstokkie sal nou sku wees. Om te hoop dat hul foute in wonderwerke sal omsit, is menslik vir die ou NP-kokkedore, maar die deeg het reeds van te veel bakpoeier uit bak tot op die grond afgeskuim. En ons weet in Afrika is skoonmaak uit… Lees meer »

johan

Dit is neusie verby vir hom net soos dit neusie verby was vir fw toe hy die minderhede belieg het.

Kobus

Arme De Ruyter. 27 swart kandidate voor hom het die pos van die hand gewys. Wonder hoekom?