Tocqueville se lesse vir Afrikaners

Alexis de Tocqueville (Foto: Wikipedia)

Die Verenigde State van Amerika is vandag waarskynlik die mees “progressiewe” land ter wêreld – en ek bedoel nie “progressief” in die goeie sin van die woord nie.

Van die eienaardigste idees denkbaar kom vandag uit die VSA. As ʼn mens na die radikale goed luister wat deesdae deur Amerikaanse politici en kommentators kwytgeraak word, kan ʼn mens nie anders as om te wonder nie: Waar gaan dit stop? Kan dit enigsins erger?

Tog moet ons erken dat die VSA sekerlik die magtigste nasie ter wêreld is… ten minste vir nou.

Magtigheid kan ʼn goeie of ʼn slegte ding wees. As ʼn mens daarmee bedoel dat die land die vermoë het om ander state binne te val en wêreldpolitiek te mikrobestuur, dan is dit inderdaad nie ʼn goeie ding nie.

As ons egter daarmee bedoel dat dit ʼn land van geleenthede is, waar welvaart volop is en waarin iemand wat regtig skouer aan die wiel sit sy talente ontwikkel en waarde toevoeg, redelik verseker kan wees dat hy of sy suksesvol sal wees, dan is dit natuurlik ʼn goeie ding. Dit is omdat daar krag in gemeenskaplike vooruitgang opgesluit lê.

Individualisme vs individualiteit

Ons moet dus, wanneer ons oor die Amerikaners dink, onderskei tussen dié dinge wat hulle so suksesvol gemaak het, en dié dinge wat as die bron van die moderne, progressiewe krisis aangedui kan word.

Dieselfde geld vir ʼn land soos Swede. Swede is ʼn uiters suksesvolle land wat in byna elke indeks (of dit nou geluk, welvaart, persepsies oor korrupsie of wat ook al is) taamlik boaan die ranglys eindig. Tog eksperimenteer Swede die laaste tyd met sentralistiese, sosialistiese beleidsidees.

Hierdie historiese sukses van ʼn land soos Swede aan die een kant, gekombineerd met die nuwe eksperimentering met sosialistiese idees aan die ander kant, het Gwede Mantashe hier in Suid-Afrika aangemoedig om te sê dat die ANC se visie vir Suid-Afrika een is waarin sosialisme toegepas word soos in Swede. Mantashe se fout is egter dat hy oorsaak en gevolg met mekaar verwar. Swede is nie suksesvol omdat dit sosialistiese idees toegepas het nie. Dit pas nou sosialistiese idees toe omdat dit reeds ʼn suksesvolle land is. Of dit volhoubaar is om hierdie soort idees in ʼn land soos Swede toe te pas, is ʼn ander kwessie.

John Trumbull se skildery “Declaration of Independence” beeld die opstelkomitee van die Amerikaanse verklaring van onafhanklikheid uit wat hul werk aan die Kongres voorlê. (Foto: US Capitol)

So is dit ook met die VSA. Die VSA is sekerlik die mees individualistiese land in die wêreld. In die VSA is die erkenning van individualiteit (ʼn goeie, Bybelse konsep) omskep in ʼn ideologie van individualisme wat verklaar dat individuele keusevryheid die alfa en omega is wanneer ons oor die tema van vryheid praat. Hierdie ideologie het met verloop van tyd ʼn soort “hiperindividualisme” geword – waarvolgens mense vandag sommer beweer dat hulle die “vryheid” het om dinge te doen en te “kies” wat eenvoudig strydig met die basiese wette van die natuur is. Dit is wanneer mense begin verklaar dat hulle eintlik katte is en sulke snert.

Amerikaners en Franse

Tog was die VSA nie altyd so nie. Hulle individualistiese lewensuitkyk is inderdaad in die Onafhanklikheidsverklaring van 1776 en die daaropvolgende grondwet verklaar. Histories was die VSA egter deur ʼn diep sin vir gemeenskapsidentiteit en verbondenheid aangevuur.

Tydens sy reise deur die VSA in die 1830’s het die Franse diplomaat en politikus Alexis de Tocqueville opgemerk dat Amerikaners baie anders as Franse was. Onthou, dit was kort ná die Amerikaanse “rewolusie” waartydens Amerika sy onafhanklikheid van Engeland verklaar het, asook die Franse rewolusie waartydens Frankryk die koningshuis en die ou orde omvergewerp het. Ek plaas “rewolusie” in eersgenoemde geval in aanhalingstekens omdat dit algemeen so beskryf word, hoewel ek nie daarvan oortuig is dat ʼn onafhanklikheidsverklaring sommer net so as ʼn “rewolusie” kwalifiseer nie.

‘n Uitbeelding van die Franse Rewolusie in die ikoniese skildery “Liberty Leading the People” (Foto: Wikipedia)

ʼn Belangrike ooreenkoms tussen die Amerikaners en die Franse, skryf Tocqueville, is dat albei in die nadraai van hulle omwentelings gekonfronteer is met die stryd tussen vryheid en gelykheid. Albei het besef dat ʼn nasie nooit ten volle vry én ten volle gelyk kan wees nie. Iewers sal ʼn mens moet kies watter een van hierdie twee ʼn groter prioriteit is.

Hierin, verduidelik Tocqueville, lê die belangrikste verskil tussen die Amerikaners en die Franse opgesluit. Toe die Franse met hierdie vraagstuk gekonfronteer is, het hulle gelykheid gekies. Toe die Amerikaners hiermee gekonfronteer is, het hulle vryheid gekies. Die gevolg is dat die Franse nie vry is nie en ook nie gelyk nie, maar dat die Amerikaners wel vry is en in ʼn sekere sin selfs ook gelyk is.

Vryheid behoort aan die gemeenskap

Die soort vryheid wat Tocqueville in die 1830’s opgemerk het, is allermins die manier hoe moderne Amerikaners oor vryheid dink. Dit het juis nié beteken dat almal eenvoudig kan doen en wees wat hulle wil nie. Tocqueville het waargeneem dat die Amerikaners van sy tyd oor vryheid gedink het as iets wat aan die gemeenskap behoort. Vryheid was vir die Amerikaners iets wat vervul is wanneer mense hulle verantwoordelikhede teenoor mekaar en die gemeenskap nagekom het.

Daarom was hy verstom om te sien hoe dinamies die gemeenskapslewe in die VSA was. Ja, daar was ʼn sentrale regering, maar die regering het bitter min met mense se alledaagse lewens te doen gehad. As mense ʼn behoefte aan ʼn skool gehad het, het hulle nie vir die regering gevra om een te bou nie; hulle het dit eenvoudig self gedoen. As mense hulleself moes verdedig, het hulle dit ook self gedoen.

Ernst Roets Crop

Dr. Ernst Roets (Foto: Twitter)

Feitlik alle noemenswaardige instellings wat werklik ʼn rol in mense se lewens gespeel het, was gemeenskapsinstellings. Tocqueville het geskerts dat die Amerikaners se oë wasemrig word as jy vir hulle vrae vra oor wêreldpolitiek, ideologieë of dinge wat in ander lande gebeur. Daarin het hulle nie regtig belanggestel nie. Maar vra vir hulle wat die Amerikaanse droom beteken, dan helder die oë op en kan hulle skielik nie uitgepraat raak nie.

Dit was hierdie dinamiese, wederkerige, interaktiewe, patriotiese gemeenskapslewe wat Tocqueville laat voorspel het dat die Amerikaners nog ʼn magtige nasie gaan word. Deur aktief aan die lewe van die gemeenskap deel te neem, aangedryf deur ʼn sin vir verbondenheid wat buite hul selfgesentreerde behoeftes lê, het hulle ʼn soort vryheid ervaar wat die Franse, met hulle rewolusie en al, nie geken het nie. Dit is hierdie soort vryheid wat Amerika laat floreer het. Dit is juis waarom instellings soos Solidariteit Helpende Hand en ander gemeenskapsinstellings in ons eie konteks so belangrik is.

Wanneer ons dan aan ons eie situasie hier aan die suidpunt van Afrika dink, moet ons tog onthou waarom die Amerikaners so suksesvol was. Trouens, die krisis wat Amerika vandag beleef, kan juis herlei word na die feit dat hulle klaarblyklik afstand gedoen het van die soort wyshede wat vroeër deel van hulle psige was – dié dinge wat Tocqueville waargeneem het.

‘n Kaart van die Boererepublieke (Foto: Wikipedia)

Daar is genoeg dinge in Suid-Afrika om oor te kla. Dit help nie om te maak of hierdie krisisse nie bestaan nie, maar dit help ook nie om daarin verstrengel te raak en onsself in die proses te verlam nie. As ons dus na die uitdagings in ons eie tyd en plek kyk, moet ons tog die waarnemings van Tocqueville onthou.

Die goeie nuus is dat dit nie vir ons ʼn eienaardige of vreemde ingesteldheid is nie. Dit is juis die soort ingesteldheid wat die Boererepublieke van die laat 1880’s onderlê het en wat die Afrikaners in die 20ste eeu óók as ʼn groot nasie laat verrys het!

Mag ons nooit vergeet wie ons is, waar ons vandaan kom en wat ons aan mekaar bind nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.