Totius se skuif was simbool van wat kom

flip-buys-2017-11

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die Potchefstroom-kampus van die Noordwes universiteit het ’n paar jaar gelede in die vakansietyd die Totius-standbeeld verwyder om dit na ’n perseel van die Gereformeerde Kerk te verskuif. Hierdie verskuiwing is met die beste bedoelings gedoen om te voorkom dat die standbeeld gevandaliseer word en in ’n fokuspunt vir protes ontaard. Dit het gekom na dreigemente dat die standbeeld beskadig gaan word omdat Totius glo Apartheid op grond van Bybel regverdig het. Dit is te begrype dat die kampus, die kerk en die Du Toit-familie die standbeeld se waardigheid wou beskerm en konflik wou ontlont.

Die verskuiwing van die standbeeld van ʼn Afrikaanse ikoon, stigter van die Puk en eerste Kanselier, was ongelukkig die eerste teken dat Afrikaans se toekoms selfs op Potchefstroom nie meer veilig is nie. Die Totiusbeeld het diep in baie studente se harte ingekruip en dit was die fokuspunt van tradisies soos graadkry-foto’s saam met “Oom” Totius. Afrikaanse studente was teleurgesteld dat die beeld skielik en sonder hulle medewete, verskuif is in reaksie op afdreiging deur ’n klein minderheid. Om sout in die wonde te vryf, was daar nie sprake van die verskuiwing van die standbeeld van Sol Plaatje, ’n stigter van die ANC, nie. Die simboliek vanaf Totius na Plaatje spreek vanself.

Rassisme

Die werklike olifant op die kampus is hoe lank Afrikaans nog veilig op die Potch-kampus gaan wees? Hierdie vraag ontstaan weens die groeiende onverdraagsaamheid teenoor Afrikaans, Afrikaners, die Afrikaanse studentelewe en die historiese Afrikaanse kultuur op die voormalige Afrikaanse kampusse. Om polities korrrekte redes word die weersin in alles Afrikaans gekamoefleer met begrippe soos insluiting, transformasie, menseregte en veeltaligheid. Afrikaans het die pion in ʼn landswye politieke spel van ʼn totalitêre strewe na oorheersing geword.

Die verskuiwing van die standbeeld het natuurlik nie die groepie aktiviste in magsposisies tevrede gestel nie. Hulle agenda is veel groter, en die misplaaste geloof dat “transformasie” bloot die vervanging van Afrikaans met Engels beteken is ʼn totale onderskatting van die oogmerke van hierdie ideologie. Die verandering van die universiteit se kleure na pers is bloot die inkleding van ʼn veel groter omwenteling by die universiteit. Daarom kan groter druk nou verwag word op Afrikaans; die tolkfasiliteite; die rassesamestelling van dosente en studente; die studentelewe, kampuskultuur en die “Westerse” leerplanne.

Die totalitêre transformasie-agenda van die aktiviste strek verder as sg. “struikelblokke vir toegang en tuisvoel”. Dit behels die Afrikanisering van kampusse en die vestiging van die ANC se begrip van “African hegemony”, oftewel Afrikaan oorheersing. Die strategie is die afdwing van die nasionale demografie op elke onderdeel van die samelewing en die universiteit. Die uitskuiwing van Afrikaans is deel hiervan, omdat Afrikaans as die grootste struikelblok vir Afrikanisering gesien word. Hoewel dit vir Potchefstromers tans na ’n vergesogde afleiding mag lyk, is dít dieselfde transformasieresep waarmee Afrikaanse instellings elders in swart gedomineerde Engelse instellings omskep is.

Die Totius-standbeeld het aanvanklik op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus gestaan. Foto: Verskaf

Totius en Apartheid

Wat dan van Totius en Apartheid? Totius het wel aparte volke en rassebybels regverdig. Hy het geglo dat alle mense in Christus een is, maar dat God die veelvuldigheid van nasies gewil het.

Totius moet beoordeel word in die lig van sy tyd en die waardes wat toe geheers het. Sewentig jaar gelede was die wêreld ʼn ander plek. Die liberale filosoof Alfred Hoernlé het byvoorbeeld in 1931 geskryf dat wit sowel as swart mense groot waarde heg aan “rassesuiwerheid en rassetrots”. Hy skryf dat daar ’n dominante drang na rasseskeiding is wat die struktuur van die Suid-Afrikaanse gemeenskap gevorm en gemaak het wat dit is.

In Totius se tyd was die hele Afrika, Indië en groot dele van Asië nog kolonies van Westerse moondhede, en lande soos die VSA het omvattende apartheidsmaatreëls gehad. Eers in die laat vyftigerjare het daar in die Weste ’n ommekeer in rassebeskouings gekom.

Totius se uitsprake in die vroeë veertigerjare oor Apartheid was voor die NP ná bewindsoorname in 1948, wetlike skeidingsmaatreëls ingestel het. Hy is in 1953 oorlede, voordat die beleid behoorlik ontplooi is, en hy kan nie veroordeel word vir wat in die daaropvolgende dekades gebeur het nie.

Engels

Totius en sy tydgenote het Suid-Afrika nie as een land gesien nie, maar as ’n landstreek soos Oos-Afrika of Wes-Europa. Binne die gebied wat later Suid-Afrika sou word, het talle onafhanklike koninkryke en die Boererepublieke bestaan, en was daar vriendskap en vyandskap, vrede en oorloë, ooreenkomste en verdrae met mekaar soos in menige ander wêrelddeel. Die Britte het as destydse supermoondheid een na die ander koninkryk en stam aan hom onderwerp. “Suid-Afrika” is eers ná die oorlog in 1910 afgedwing deur al hierdie gebiede as ’n unie onder Britse gesag te verenig. Afrikaner-republikeine het bly streef na die ontbondeling van hierdie kunsmatige unie en die herstel van vryheid. Dit was dieselfde proses wat na die Eerste Wêreldoorlog in 1918 gevolg is, toe die Europese ryke in vrye state ontbondel is.

Kultuurleiers soos Totius was hewig teen uniewording gekant, en was bevrees dat die hele land Engels gaan word, en dat dit moeiliker gaan wees om die Republieke se onafhanklikheid te herstel. Hy dig in 1910 sy sarkastiese “Unielied” om sy misnoeë daarmee uit te druk. Een van die strofes spreek vanself:

Laat nou vaar jul ideale:

jul getwis oor tonge en tale;

eenheid sal nou triomfeer –

kindjie sal sy Engels leer.

Swart mense

Suid-Afrika was destyds nog nie ontwikkel en verstedelik nie, en die oorgrote deel van die swart bevolking het in hul tradisionele gebiede onder tradisionele owerhede gewoon. Hulle was meestal swak- of ongeskoold, en het hoogs waarskynlik ook nie die land en die nasie as ’n eenheid gesien nie. Die verbete stryd tussen Britse imperialisme en Afrikaner-nasionalisme het die swart-wit-vraagstuk oorheers en dit ’n ondergeskikte faktor in die destydse politiek gemaak.

Christelike plig

By die Volkskongres van 1944 is besluit dat dit die “Christelike plig van wit mense is om as voog van die swart mense op te tree totdat hulle die ontwikkelingsvlak bereik het waar hulle na hulle eie sake sal kan omsien”. Die Afrikaner het homself gesien as die hoër ontwikkelde groep wat die Christelike verantwoordelikheid gehad het om die laer ontwikkelde swart volke mettertyd na vryheid in hulle eie gebiede te lei. Afsonderlike lande vir volke is as ’n alternatief vir wit of swart oorheersing gesien. Nog ’n Potchefstromer, prof. L.J. du Plessis, het verklaar dat skeiding nodig was “nie omdat ons hulle as minderwaardig sien nie, maar omdat ons omring is deur ’n oorweldigende meerderheid wat kultuurgewys van ons verskil en op ’n laer ontwikkelingsvlak as ons is”. Dit was betreklik algemene sienings in die veertigerjare van die vorige eeu. Dis vandag maklik om ons voorouers vir hulle destydse beskouings te kritiseer. George Orwell het daaroor gesê: “Elke geslag dink hy is slimmer as die vorige geslagte, en wyser as die volgende geslag”.

Beoordeling

Groot leiers moet in die geheel en in hulle tyd beoordeel word, en nie volgens dele van hulle standpunte of ons hedendaagse sienings nie. Ghandi, Roosevelt en Churchill se omstrede rasse-uitsprake, en die jonger Mandela se sienings oor kommunisme en geweld, word tereg in die groter konteks van hulle tyd beoordeel. Totius word geëer vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans, die Psalmdigting, sy digwerk en rol in die opkoms van Afrikaans en die stigting van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Geskiedenis

Die teenwoordigheid van Totius én Sol Plaatje se standbeelde op die kampus, was simbolies van die grondwetlike leuse van Eenheid in Verskeidenheid. Net so was die uitskuif van Totius simbolies van die nuwe nasionale projek van die afdwing van eenvormigheid onder die vaandel van diversiteit. Soos die skrywer Dan Brown in sy bekende Da Vinci Code geskryf het:

 “History is always written by the winners. When two cultures clash, the loser is obliterated, and the winner writes the history books – books which glorify their own cause and disparage the conquered foe. As Napoleon once said, ‘What is history, but a fable agreed upon?’”

Daarom bly die ewewigtige studie van die geskiedenis belangrik. Die Poolse denker Leszek Kolakowski het die nut van kennis oor die verlede treffend beskryf:Die geskiedenis leer jou nie om slimmer of vernuftiger te wees nie. Dit leer jou iets belangriker: om te weet wie jy is.”

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

V ·

Na die uitbarstings van haat gisteraand deur die eff en die regerende party, is institusionele slawerny nou op die boeke. Hulle probleem met Totius is om die minste te sê skynheilig. Ek vermoed die onkunde rondom die geskiedenis, kan nie meer as onkunde verbloem word nie. Dit is ‘n aspriste haat wat manifesteer as ‘n blatante veragting van die geskiedenis. Die kamma onkunde is ‘n diep gesetelde haat teenoor die witminderheid in SA, en ek vermoed ook die westerse samelewing in sy totaliteit.

HEVW ·

n Groot dankbaarheid vul my hele wese dat ek beskore was dat my VADER dit vir my weggele het om op die PUK my studies gedurende 1973 – 1975 te voltooi. Nog steeds het ek die grootste waardering vir die dosente wat n vormingsinvloed in my jeugjare gehad het. Daar het ek ook die mooiste en opregte vriendskappe van studentevriende beleef. My lewe lank sal ek n PUK bly.

Pierre ·

Trots Afrikaans sal ons bly.
Daar was n rede hoekom Kain vir God gese het hy is nie sy broer se wagter.
Wëe die mense wat dit op hulle hande dra en n valse leering gee aan ons volk en mag gee aan wat nie moet wees nie. Weet wie jy is!

Potch ·

Nou wonder ek wat beteken die skuif van die beeld van oorkant die drankwinkel na die kampus toe? Seker maar iets met die Doppers te doen.

JC ·

Baie dankie Flip, Akademia, Aros en die APA moet met spoed ontwikkel word, en daarvoor is fondse nodig, al is dit letterlik net klein bydraes.
Bietjies maak BAIE.
Solidariteit lede; en ook nie-lede dra by d.m.v. die boufonds, sommiges maak maandeliks skenkings aan Akademia self, maar dit is nie altyd moontlik nie.
Wat staan ons te doen? Ek wil huil as ek dink dat die Afrikaanse privaat universiteite nie vinnig genoeg ontwikkel nie want Afrikaners se dae is getel by staatsuniversiteite!
Ek hoop en bid net dat daar nie politieke inmenging vanaf die RHO se kant is om ontwikkeling van privaat Afrikaanse universiteite te strem nie en is letterlik op kompulsiewe wyse elke dag naarstigtelik op soek na goeie nuus op die genoemde instansies se webwerwe ivm nuwe ontwikkeling van grade en opsies, so groot is my ongeduldigheid, ywer en passie vir my taal om hom te vestig in die privaatsfeer! Gelukkig kom dit nie so voor nie.(vir nou)
Afrikaans Leef!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.