Trump: Die VSA se anti-held

(Foto: MANDEL NGAN / AFP)

Aan die einde van Donald Trump, die voormalige Amerikaanse president, se bewindstydperk is daar vele ontleners wat Trump se presidentskap in oënskou geneem en ʼn waarde-oordeel oor Trump se nalatenskap uitgespreek het.

Amper al die berigte wat in die media verskyn het, was voorspelbaar ʼn klakkelose napraat van die hoofstroommedia se verhaal oor Trump. Wat veral opval, is dat Trump die fenomeen nooit aangespreek word nie.

Oneerlike ontledings

Indien jy die hoofstroommedia volg, sou die strekking oor Trump se nalatenskap aantoon dat ʼn versteurde die Withuis betrek het en seker die swakste president ooit was. ʼn Klomp beskrywings, soos iemand wat wit oppergesag bepleit, erg narcisties en fascisties is en boonop ʼn blatante leuenaar as hy sy mond oopmaak, word aan Trump toegedig. Ook natuurlik dat hy heimlik ʼn Russiese agent is, derduisende Amerikaners laat doodgaan het tydens die Covid-19-pandemie en so boos is dat hy twee keer in ʼn staat van beskuldiging (impeachment) geplaas is.

Ander interessante menings verklaar dat Trump “ver-regse gewelddadige ekstremisme” (teen wie die nuwe president, Joe Biden, reeds oorlog verklaar het) aanwakker en dat Trump ʼn staatsgreep beplan het nadat hy geweier het om sy verkiesingsneerlaag te aanvaar. Dit het gelei tot sommige van sy ondersteuners se besetting van die Kapitool (Kongresgebou) in Washington op 6 Januarie. Trump se optrede het ook Amerikaanse bondgenote vervreem. Kortweg, ʼn ontwrigtende populis wat chaos en ontwrigting veroorsaak het.

Trump se “staatsgreep-poging” het dramatiese gevolge vir die demokrasie en die Republikeinse party, sy eie party. Klaarblyklik gaan die Republikeine nooit weer herstel van hierdie terugslag nie en is Trump verdoem tot die duisternis. Wel, ten minste tot by sy luukse oord, Mar-a-Lago, in Florida.

Daar is sekerlik waarheid in sommige van hierdie aantygings teen Trump, maar soos gewoonlik is die ontleding oor Trump bitter eensydig, onredelik en oneerlik.

Trump is soos Shrek

Donald Trump. Foto: REUTERS/Carlos Barria

Trump is terselfdertyd die mees geliefde en mees gehate mens op aarde. Sy ondersteuners is meestal volkome lojaal aan hom, terwyl hy met ʼn passie deur ander gehaat word. Gaan kyk maar na opmerkings op Maroela Media se Facebookblad nadat ʼn Trump-artikel geplaas word.

Wat verstommend is, is dat bitter min ontleders die Trump-fenomeen verstaan of moeite doen om dit te verstaan.

Die beste beskrywing van Trump is dat hy ʼn soort anti-held is, amper so iets soos die animasiekarakter Shrek, die geliefde bullebak-figuur in die animasiefliek wat jare gelede so gewild was. ʼn Anti-held is iemand wat die deursnee-kenmerke van ʼn held kortkom, soos moraliteit of normale etiese kodes, of uit selfbelang optree, maar in die proses die regte ding doen en gewild word.

Trump het aweregse idees wat lynreg indruis teen die konvensionele, hy word verafsku deur die politieke elite (Demokrate én sommige Republikeine), sy optrede word as verspot of versteurd beskou (ondanks heelwat suksesse daarmee) en hy omring homself deur lojaliste wat sy anti-held-karaktertrekke bewonder. Gevolglik word Trump deur die meerderheid van sy 75 miljoen kiesers in die VSA as ʼn (anti-)held beskou.

Onopgesmukte miljardêr

Donald Trump en sy vrou, Melania. (Foto: Spencer Platt/Getty Images/AFP)

Indien Trump se nalatenskap dan so negatief is, soos hierbo aangedui, hoekom is hy dan so ʼn geliefde figuur vir sy ondersteuners? Kortom, dit is omdat hy een van hulle is. Hy is onopgesmuk en hoewel hy ʼn miljardêr is, het hy nog altyd die vermoë gehad om by die “gewone” man aanklank te vind. Sy gunstelingkos is byvoorbeeld McDonald’s se kaasburgers en dieet-Coke, net soos baie werkersklasmense s’n. Die professionele klas en politici in die samelewing sien erg neer op die laer middelklas en werkersklas wat erg verarm het met die sluiting van fabrieke en myne weens globalisme en klimaatsverandering.

Hillary Clinton, Trump se opponent in 2016, het immers Trump-ondersteuners beklaenswaardiges (deplorables) genoem.

Trump het opgestaan vir hierdie mense en hul lewe probeer verbeter, al was dit met beperkte sukses. Trump praat hul taal en weerhou hom van die monotone vals beloftes van die meeste politici. Sy 2016-mantra, “Drain the Swamp”, het hoop gebied aan die “beklaenswaardiges” dat hulle iemand in die Withuis het wat na hulle sou omsien.

Trump het meestal manalleen te staan gekom teen diegene in Washington wat politieke belange bevorder en koop, politici in sy eie party en natuurlik die magtige media (elektroniese media én die groot tegnologiese maatskappye wat amper by uitstek die Demokrate ondersteun).

Trump moet stilgemaak word

(Foto: Mark Humphrey/AP)

Die vraag wat dus gevra moet word, is: Hoe lyk Trump se pad vorentoe? Is dit die einde van Trump, soos menige ontleders ons wysmaak wat die fenomeen Trump nie raaksien nie? Het Trump se hoogvaardigheid en sy blinde geloof in homself sy einde verhaas?

Trump het die verkiesing teen Biden verloor omdat sy “Amerika eerste”-benadering die globaliste se program teengestaan het en Trump gekeer moes word. Daar is egter steeds geen klarigheid oor die mate van verkiesingsbedrog wat in die verkiesing plaasgevind het nie. So is daar blykbaar aanduidings dat stemme deur die Demokrate “geoes” is in veral sekere stede en state. Interessant genoeg het baie state nie daarop aangedring dat posstemme deur die stemgeregtigde se handtekening geverifieer moes word nie, of ʼn ondersoek na die kwessie dat mense nie ʼn bewys van identiteit nodig gehad het om te stem nie. Trump kon egter nooit in die howe bewys dat dit ʼn beduidende invloed op die uitslag gehad het nie.

Natuurlik het die media ʼn sleutelrol gespeel om Trump op ʼn ongekende wyse vir vier jaar onophoudelik aan te val of vir alles te blameer en/of te beskuldig. Dit is nogal amusant om te sien hoe die media skielik aan Biden en sy span stroperige en absurde vrae vra, soos wat Biden se gunstelingkleure of -roomys dan sou wees.

Ná Trump se oënskynlik onpatriotiese dade op 6 Januarie is hy selfs van sosiale media verban. Die plan is dat Trump se stem stilgemaak word aangesien hy die grootste bedreiging is vir die elite se toekomstige planne. Indien die jongste plan om Trump te verbied om weer in ʼn verkiesing te staan tog misluk, soos wat dit tans lyk aangesien Republikeinse senatore nie in groot getalle die Demokrate se pogings om Trump aan te kla ondersteun nie, sal die Demokrate wel die staatsmagte gebruik om Trump aanmekaar hof toe te sleep. Die kampanje sal, soos die media en politici se pogings die afgelope jare, oneindig wees.

Of Trump al hierdie aanslae gaan oorleef, moet nog gesien word.

Trump se mond is tydelik gesnoer deur die groot tegnologiemaatskappye. Terloops, Trump se opgang na die presidentskap kan, ironies genoeg, aan sy Twitter-rekening toegeskryf word. Trump het self al laat blyk dat Twitter hom kosteloos ʼn platform gegee het om direk met miljoene mense te kommunikeer en sy argumente te stel.

Trumpisme beheer die Republikeine

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Diegene wat Trump reeds afgeskryf en sy grafskrif geplaas het, onderskat steeds Trump se gewildheid en invloed. As die Senaat dit goedkeur dat Trump nooit weer ʼn openbare pos mag beklee nie, is sy doppie natuurlik geklink. Nietemin is daar Republikeine wat insien dat hulle Trumpisme moet omarm, anders gaan die Republikeine geweldige steun verloor of selfs in twee skeur. Hier is Ted Cruz, die senator van Texas, en Ron DeSantis, Florida se goewerneur, die twee swaargewigte wat Trumpisme se waarde insien.

Trump het ʼn reuse-uitdaging om sy stem te laat hoor en sy gedagtes aan sy ondersteuners oor te dra. Ons sal moet sien watse planne hy hiermee gaan maak. Hy het reeds ʼn openbare kantoor vir die “45ste president” geopen wat beteken hy gaan kommentaar op alles lewer. Sy slim leuse teen die Biden-administrasie se linkse globalistiese agenda is klaar gereed, naamlik “Save America”.

Daar is ʼn goeie kans dat Trump wel, ondanks sy hoë ouderdom in 2024, in die presidentsverkiesing sal staan. Baie lede van die Republikeinse elite wil graag van Trump ontslae raak en talle in die party het reeds teen hom gedraai ná die debakel by die Kapitool. Baie ontleders glo die Republikeine gaan hom vinnig en doeltreffend uitskakel. Nietemin besef ander Republikeine dat Trumpisme die party tans oorheers en dat hulle nooit verkies sou word sonder Trump se ondersteuning nie. ʼn Hewige stryd kan verwag word tussen die Trumpiste in die party en die tradisionele leierskap.

Hou 2022 dop

Indien Trump nie verbied word om weer te staan nie en hy ʼn manier kan kry om sy stem weer te laat hoor, sal die middeltermyn-verkiesing in 2022 vir Trump ʼn aanduiding wees of hy weer as president in 2024 moet staan. Sy inspirerende toesprake landwyd was manna uit die hemel vir die Republikeine die afgelope paar verkiesings en hy het genoeg energie om daarmee voort te gaan en sy ondersteuners te inspireer.

Trump die anti-held se swanesang in die VSA se politiek het nog lank nie aangebreek nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Therese ·

Puik, soos altyd, Nico Stegmann!
Senator Rand Paul se skitterende toespraak in die senaat, waarin hy die dubbele standaarde en skynheiligheid van die Demokrate uitstekend met voorbeelde belig het, het Republikeine soos Mitch McConnell gelukkig tot hul sinne geruk oor die dwaasheid van ‘impeachment’.
Dit wys ook duidelik dat die Washington-“Swamp” nooit sal verander nie. Dit gaan nét oor hul politieke loopbane.
Donald J. Trump is die unieke vars bries (orkaan).

Human ·

Praat jy nou van Trump en die GOP(Trumpeter`s) party se politieke loopbane? Daai vars bries is meer soos die ruiker van my windjie.

Piet ·

Hoe sê hulle, as jy jouself uitgee vir ‘n toffie gaan jy gelek word. Baie van die kritiek het hy oor homself gebring met sy bestuurstyl. Hy’s in elk geval nou ou nuus.

Zombie ·

Volgens wie is hy ou nuus, Piet? En watter gesag het die persoon / organisasie wat besluit het Trump is ou nuus? Wat is die kriteria vir ou nuus in elk geval, Piet?

Zombie ·

Wie en wat is jy nou eintlik?
Wat se hogere posisie bekleë jy?
Wat het jy al werklik in die lewe bereik?
Wat beteken jy werklik vir ander?

Human ·

Definitief nie `n narsistiese psigopaat wat Zombies aan die neus rondlei.

Rupert Ashford ·

Eerstens, dankie Maroela dat julle alternatiewe opinies soos Nico Stegman en Roda Kadalie (hoe ironies dat ‘n bruin persoon in Suid-Afrika ‘n alternatiewe stem teen die hoofsaaklik wit HSM is, maar so het ons Roda leer ken van lank gelede af – niemand kan haar “koop” nie) plaas. Dit is verfrissend om te sien die bewerings van verkiesingsbedrog mag genoem word in ‘n skrywe hier. Terloops Nico, die bewerings van bedrog is nerens in ‘n hof weerle nie, want mens het die idee gekry dat die regstelsel elke truuk in die boek gebruik het om nie daardie sake te beoordeel nie – asof hulle of kop in een mus is/was met die knoeiers, of nie in die politieke vuilspel wou betrokke raak nie. Dit sal interessant wees om te sien hoe die lastersaak van Dominion teen Rudi Giuliani verloop en of die verdediging daar toegelaat sal word om hulle saak te stel.

Piet ·

Kom ek verduidelik vir jou hoe dit in die hof werk. Hy wat beweer, moet bewys. Niks hoef weerlê te word wat in die eerste plek nie bewys kan word nie. Met ander woorde – As jy twak (ongegronde bewerings) sonder die nodige bewysmateriaal hof toe bring, gooi die hof jou saak uit en mors jy net die hof en almal se tyd.

Piet Snot ·

Ek aanvaar Piet, jy het soos ek, baie tyd in die hof deurgebring.
Dan sal jy weet dat die waarheid somtyds eenvoudig onbewysbaar is. Hy het sy rieme styfgeloop in die hof; jy’s reg. In sommige gevalle het die video’s wat ons almal gesien het, duidelik gedui op verkiesingsbedrog. Die feit dat hy desnieteenstaande gefaal het, maak baie mense suspisieus: as hy klaarblyklike bedrog nie eens mbv videomateriaal kon bewys nie, wat van al die (beweerde) gevalle waar daar nie CCTV was nie. Dan sou hy mos nooit enigiets kon bewys nie, al was daar werklike bedrog.
So verskoon my, maar indien mens werklik eerlik na die waarheid soek, moet jy soms ‘n hofnederlaag ignoreer.

Piet ·

Hoeveel hofnederlae wil jy nog ignoreer? Daar was talle sake ALMAL uitgegooi weens gebrek aan bewysmateriaal. Van hierdie sake is nogal op appel geneem, steeds met minagting deur die appelhof uitgegooi. Baie van hierdie einste regters is deur trompie self aangestel. Iewers moet die klokkies vir jullle trompoppies begin lui. Julle hero is ‘n liegbek van formaat en het jullle om die bos gelei en soos skapies sy liegstories laat glo.

Human ·

En die skapies het nogals vir wolf Trump skaapwagter gemaak.

Vrijburger ·

So Piet, om jou ‘logika’ te gebruik – die ANC is hoegenaamd nie betrokke by korrupsie nie.

FBS ·

Baie dankie vir die artikel. Trump was die beste president wat die VSA nog gehad het vir die gewone man ongeag van kleur. Hy sal terug kom, net goed wees vir die VSA en die wêreld.

Johan ·

Dit was nou opwidend. D Trump het die VSA ń reuse guns gedoen en uiteindelik sal die Dem’s en linkses sy gedagtes omarm,natuurlik sonder om hom krediet te gee. Ek sal hom graag nooit weer as pres wil sien nie,want die gespuis sal hom vermoor. Hy moet egter ons topleier bly,raadgewer en probleem ontknoper ,met een van sy slim senatore as gesig en pres. Gaan rus nou,Donald,jy het 4 jaar van hel verduur ,met die skelmste anti-mens karakters denkbaar wat nogtans elke dag jou beste gegee het . Daar is ń plek in die hemel spesiaal vir mense soos jy,ons salueer jou…..daar gaan ń MAN verby!

Piet ·

Julle is verslaaf aan Trump. Tyd om die drip te ontkoppel en aan te beweeg. Hy is weg

Zombie ·

Watter magte en regte het jy, ou Piet, om aan ander voor te skryf? Moet jy nie eerder jou energie gebruik, om aan jou eie ontwikkeling te bestee nie? Ek betwyfel dit of jou pogings tot kommentaar enige inslag vind.

Piet ·

Zombie, dis te tyd om te aanvaar Trump is weg. Trek die pleister af

Anet ·

HOERA vir die eerste keer lees ek inligting oor Trump sonder main media en demokrate. My ma het iemand wat mens herinner aan Trump beskryf as ‘n ongeslypte diamant, dit is hoe ek hom sien. Hy is mens onopgesmuk ongeag wat sy vyand sien is hy eerlik opreg en staan by sy standpunte. Daarby is hy nie skaam om sy geloof na te volg nie. Hy gee nie net om vir diegene wat nie elite is in Amerika nie maar kom onverskrokke op vir ongeregtighede wêreld wyd. Ongeag wat Demokrate beweer het hy baie bygedra om vrede te bewerkstellig. Dit is hartveskeurend om te sien hoe Biden en Kie Amerika vernietig. Jy kan alleenlik vinger wys as jy nie self agter die deur staan nie. Daar is tonne korrupsie en skandes in die Dems wat ander beskuldig van hul eie dade. Die wiel draai stadig maar seker. Mag die waarheid eendag seëvier. SA het ‘n Trump nodig vir Suid Afrika eerste kan stel.

Marianna ·

Die VSA gaan Trump nog soebat om terug te kom. Biden regeer nie Amerika nie. Dis sy meelopers se job daardie. Die Obamas, Clintons en Bushes en al hulle trawante. Mense is geneig om die man te kritiseer en kyk nie na hul dade nie, goed of sleg.

annie ·

… oneerlike ontledings tov Trump. Hy is nie die tipiese anti-held nie. Klaaglike leuens wat hom selfs dmv impeachment nie skuldig kon laat bevind nie. JR Biden is die ware anti-held wat ten alle koste Tarzan of die Skim hetsy Superman probeer wees. Hy probeer selfs jonger word via doktershulp maar die ouoomogies en grysstof-aksies kortwiek sy droom. Eintlik speel ‘n swartkomedie in die VSA af, met die kamma-held met een knie in die modder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.