Tutu se lewe ‘genuanseerd en waardevol’

Talle ruikers is ter nagedagtenis aan die ikoniese Suid-Afrikaners neergelê. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Ek was behoorlik hartseer om van aartsbiskop Desmond Tutu se dood te verneem. Hy was die aartsvoorbeeld van iemand wat in ’n gepolariseerde samelewing moeilik in ’n vakkie gestop kon word.

Verplaas jou na die jare sewentig, tagtig en negentig van die vorige eeu. Apartheid en sy nagevolge het Suid-Afrika steeds oorheers.

Vir baie mense was dit ’n kwessie van: Jy is vír apartheid, en dan is jy ’n ongeneeslike rassis; of jy is téén apartheid, en dan is jy ’n liberalis of selfs ’n kommunis. Sulke mense het dikwels nie nuanses raakgesien nie.

Tutu was ’n mens wat só ’n lewende nuanse was.

Enersyds het hy as swart mens die onreg van apartheid aan die lyf ervaar. Al die mooi Verwoerdiaanse teorieë van onafhanklike tuislande en ’n Suider-Afrikaanse gemenebes van nasies het bitter min, indien enigiets, te make gehad met die onreg wat swart mense daagliks op voetsoolvlak moes verduur.

As diep gelowige Christen het dit hom ook ernstig gekwel dat daar mede-Christene was wat gemeen het die Evangelie is nie kragtig genoeg om kultuurverskille tussen wit en swart te kan hanteer nie.

As sodanig het Tutu ’n leiersrol gespeel binne en buite Suid-Afrika om die morele en praktiese onhoudbaarheid van apartheid aan die kaak te stel en te beveg. Dit plaas ook die rol van die ANC/SAKP in ’n bepaalde perspektief.

Andersyds kan ’n mens by ’n beoordeling van Tutu en sy rol nie hierby bly nie. As jy dit behoorlik en volledig wil bekyk, moet twee verdere vrae beantwoord word.

Een: Wat wou Tutu en die ANC/SAKP in apartheid se plek stel? En twee: Hóé wou hulle te werk gaan om dit te doen?

By ’n beantwoording hiervan blyk dit dat daar ’n yslike kloof tussen Tutu en die ANC/SAKP was. Kom ons bekyk dit na aanleiding van albei vrae.

Tutu wou ’n egte demokrasie hê, een met skeiding van die regeringsmagte, met verdraagsaamheid tussen mense, met menseregte. Min of meer soos in die Weste, al sou sy idees ook deur Afrika se gees van ubuntu beïnvloed word. ’n Mens weet ook nie in hoeveel detail Tutu sy idees uitgewerk het nie.

Die ANC/SAKP was ligjare hiervan verwyder. Die SAKP was die stert wat die hond geswaai het, en hy wou ’n Marxisties-Leninistiese diktatuur van die proletariaat, soos in die Sowjetunie, in Suid-Afrika invoer.

Met ander woorde, net één party en net dié party se ideologie. Geen vrye verkiesings, geen vryheid van spraak, geen mediavryheid, niks nie.

Die SAKP het die ANC sedert dekades as deel van ’n tweefase-strategie binnegedring. Terwyl hy sy eie organisatoriese en ideologiese identiteit streng bewaak het, het hy dié van die ANC steeds meer begin bepaal, en teen die jare tagtig dié party ook in magspolitiese opsig onderwerp. Van toe af het jy eintlik nie meer die ANC se stem gehoor nie, maar slegs dié van die SAKP – en agter hom dié van die Kremlin.

Nou kom ons by die tweede vraag, die hóé.

Sedert die begin van die gewapende stryd in 1961 het die ANC/SAKP stelselmatig verder in die rigting van ordinêre terrorisme afgegly. Die alliansie het steeds die skuld op die geweld van die apartheidsregering gepak (deels korrek), maar teen die jare tagtig was sy eie geweldpleging duidelik buite beheer.

Op voetsoolvlak het die kaders basies gedoen wat hulle wou, en dit het die leiding gepas, want dit het die chaos verhoog – en daarmee saam ook sy kans op ’n suksesvolle totale magsoorname.

Dit het alles met twee verdere verskynsels gepaard gegaan.

Die een was die wrede, totalitêre en volstrekte onverdraagsame wyse waarop die leiding teen andersdenkendes in eie kring opgetree het. Die verhaal van al die strafkampe in Angola en Zambië word vertel in ’n boek van my wat in Maart verskyn, Terreur en Bevryding.

Die ander, wat ook in die boek ter sprake kom, is die volstrekte onbekwaamheid en korrupsie van die leiding in ballingskap. Wat ons toenemend ná 1994 van die ANC-regering ervaar, is bloot ’n voortsetting van wat al lankal in die beweging aan die gang was.

Dit bring ons terug by Tutu. Tutu is vir my dié voorbeeld van iemand wat alle karikature deurbreek; iemand wie se Christenskap bepalend vir sy totale lewe was.

Hy was sonder meer teen die onreg van apartheid gekant. Maar hy het nooit sy gewig agter die ANC/SAKP se strewe na ’n kommunistiese diktatuur, hul gebruikmaking van terrorisme, hul onverdraagsaamheid in eie kring en korrupsie gegooi nie.

Ek onthou nog goed hoe hy in 1985 ’n histeriese skare gekeer het om ’n man in Duduza lewend te verbrand omdat gemeen is hy is ’n polisie-informant. Tutu kon daar maklik self die lewe gelaat het, maar hy het die man sonder om ’n oomblik te aarsel te hulp gesnel en gered. Dít was dapperheid in die volste sin van die woord.

Reg deur al die jare het hy Christelike versoening gepredik. Nooit het hy wittes verwerp nie; altyd het hy ’n appèl tot hul menslikheid gerig.

En die uitbundigheid en vrolikheid waarmee hy soms selfs die moeilikste situasies gehanteer het, het gemaak dat baie wit mense waardering vir hom gekry het, selfs al het hulle nie altyd in alles met hom saamgestem nie.

As voorsitter van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) het hy ná 1994 bowendien ’n waardevolle versoeningsrol gespeel.

Ek het destyds breedweg kritiek gehad op die werk van die WVK, wat na my mening soms taamlik eensydig was. Maar ja, jy moet dit ook sien teen die agtergrond van iemand soos Tutu se eie agtergrond as swart mens, as iemand wat aan die verkeerde kant van apartheid was.

Dít is dan uiteindelik die waarde van Desmond Mpilo Tutu: Hy was ’n goeie voorbeeld van iemand wat enersyds prinsipieel en kompromisloos teen apartheid was, maar wat nie die ANC/SAKP se eie onreg goedgepraat het nie.

Sy lewe was genuanseerd en waardevol.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.