TV-lisensies en burgerlike ongehoorsaamheid

(Foto: Argieffoto)

In 2023 het die voorsitter van die SAUK-raad, Khathutselo Ramukumba, gedurende ʼn inligtingsessie aan die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie en digitale tegnologie onthul dat die ontduikingskoers van TV-lisensiebetalings oor die afgelope finansiële jaar 87% bereik het – dit vergeleke met 82% in 2022 en 69% in 2019.

Anders gestel, slegs 13%, omtrent 1 uit 10, TV-lisensiehouers het verlede jaar hul gelde betaal.

Hierdie treffende geval van sogenaamde burgerlike ongehoorsaamheid (nie-nakoming), wat selfs gesien kan word as massaprotesoptrede teen ʼn gebroke, korrupte SAUK, spreek van ʼn regering wat die aftog blaas en desperaat vasklou aan ʼn illusie van totale mag om sy wetgewing af te dwing. In die lig hiervan, begin ʼn nuwe vermoede op die oppervlak van die openbare bewussyn verskyn: Watter ander wette en regulasies is die regering nie in staat om af te dwing nie?

ʼn Gewisse teken van ʼn regering wie se mag en kapasiteit chronies begin verkrummel, is ʼn groeiende afhanklikheid op die misleidende projeksie en illusie van mag en beheer. Die eenvoudigste manier om egter hierdie toneelspelery te ontbloot, kan in die krimpende marges van regeringsmag gevind word.

Die nienakomingsgeleenthede met die minste risiko en die grootste kans op sukses, is die geleenthede waar ʼn mens eerste sien hoe burgers die regering se bluf toenemend begin uitdaag. ʼn Skitterende voorbeeld hiervan is die e-tolstelsel, wat in 2023 met ʼn ontduikingskoers van 90% gespog het. Dié feit maak die afskaffing van hierdie stelsel onvermydelik en die regering het reeds oor só ʼn uitkoms begin mor.

Die 87%-ontduikingskoers rakende TV-lisensiegelde plaas hierdie gedeelte van die opgeblase regeringsmasjien in dieselfde kategorie as e-tolgeld wat nie met sukses afgedwing kan word nie. Hierdie werklikheid het AfriForum se strewe dat TV-lisensies finaal afgeskaf word, versterk in sy skriftelike kommentaar oor die Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie SOC Bpk. AfriForum poog bloot om die de jure-werklikheid in lyn te bring met de facto-werklikheid.

As die regering nie TV-lisensies amptelik afskaf nie, sal dit uiteindelik nie-amptelik deur massa-nienakoming afgeskaf word. Hierdie gebiede waar doeltreffende en lae-risiko-burgerlike ongehoorsaamheid moontlik is, sal net groei namate die regering se invloed afneem, sy mag om sy gesag af te dwing kwyn en die illusie van afdwingbaarheid waaraan hul desperaat vasklou vervaag. Klein of gewonde honde kruip dikwels weg agter ʼn oormatige geblaf.

Ernst van Zyl (Foto: Verskaf/AfriForum)

Nog ʼn gebied wat toenemend buite die regering se beheervermoë lê, is rasdiskriminerende wetgewing (breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging). Die persentasie van JSE-genoteerde maatskappye wat SEB-voldoeningsverslae by die regering ingedien het, het merkbaar afgeneem van 51% in 2017 tot 40% in 2021. Die getal BGSEB-sertifikate wat op die BGSEB-portaalstelsel opgelaai is, het ook afgeneem van 5 818 in 2019 tot slegs 1 373 in 2021 – ʼn 76%-afname.

As hierdie tendens voortduur, is dit net ʼn kwessie van tyd voor die Suid-Afrikaanse regering se rassistiese regulatoriese ambisies onder die gewig van groeiende nienakoming in duie stort.

Die dalende regeringsfeer van invloed en mag beïnvloed nie net sy vermoë om immorele en vernietigende beleid af te dwing nie. Dit begin ook die lewering van kritieke dienste waarvoor die regering tans verantwoordelik is, soos polisiëring, gesondheidsdienste, instandhouding van infrastruktuur, grensbeheer, kragopwekking en watervoorsiening beïnvloed. Namate die agteruitgang van regeringskapasiteit hierdie kritieke areas begin afskeep, soos reeds die geval is, val die verantwoordelikheid op gemeenskappe om ernstig te mobiliseer ten einde die leemtes te vul.

Die natuur het ʼn afkeer aan vakuums, en so ook mag. As gemeenskappe en nieregeringsorganisasies nie die nuwe vakante marges op die groeiende buitewyke van die regering se mag effektief beset nie, sal kriminele elemente wel.

ʼn Regering wat die aftog blaas, skep nuwe geleenthede, maar gemeenskappe wat belangstel om beheer oor basiese dienste en sekuriteit terug te neem, is nie die enigstes wat dié geleenthede raaksien nie. Historiese streke wat ryk was aan geleenthede soos die Wilde Weste is byvoorbeeld ook gekenmerk deur die teenwoordigheid van opportunistiese boewe. Een van ons top prioriteite moet dus die vestiging en uitbreiding van doeltreffende, veerkragtige sekuriteitsnetwerke wees. In sulke ontwrigtende tye is dit noodsaaklik om te verstaan, soos my kollega Ernst Roets beklemtoon het, dat nuwe werklikhede nie geskep word deur dit van die regering te eis nie, maar eerder dat nuwe werklikhede erken word nadat gemeenskappe dit reeds self geskep het.

As die een les uit die afgelope 114 plus jaar van Suid-Afrikaanse geskiedenis ʼn waarskuwingsverhaal is van die slaggate van ʼn toenemende gesentraliseerde regering, moet ons toesien dat die nalatenskap van ons tyd is dat daar inderdaad lewe na die dood van hierdie ou paradigma is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elma ·

Noem dit eerder wat dit is. KEELVOL en nie ongehoorsaam nie. SAUK se “kykgenot” is n absolute straf. Bied beter inhoud op julle kanale, dan sal mense betaal. Maar nee, julle bied inhoud vir die massas wat vir NIKS kan OF wil betaal nie. So kry vir julle.

Ore ·

Hierdie laat my terugdink aan die jare toe daar nog honde en fietslisensies was. Dit was nog beheer deur inspekteurs. Met die koms van TV het meeste van ons kykers wel betaal maar is die argument later “wys my iemand in Sowet wat betaal dan betaal ek ook”. Ongelukkig so. Die ANC het nog al die jare nie-betaling vir dienste aangemoedig om die Nasionale Party by te kom maar nou byt dit hulle en hulle weet nie hoe om die kultuur te verander nie

Nommer 7 ·

@Manie, gee meer detail asb! Hoe moet ek maak om by belasting en btw terug te hou?

bolletjie blom ·

Hoekom moet ons televisie lisensies betaal. Geen ander land doen dit nie net Suid Afrika. Hulle wys ook alles tot vervelens toe oor en oor.

Manie ·

@ Nommer 7, man alleen kan dit nie gebeur nie, maar ‘n massa aksie kan dit moontlik maak.

Niklaas ·

So , ek is in die 10 % wat wel jaarliks my lisensie hernu. Ek is seker daar kan beheer uitgeoefen word om almal te laat betaal. Maar ek het ‘n vermoede daar is vrese by die owerhede vir opstande en verkiesing-stem verliese. So , lisensie geld -verhalingsplanne is lankal laat vaar om almal gelukkig te hou.

Ai tog ·

Ek betaal elke jaar my lisensie, maar die SABC sit steeds elke maand boetes op my rekening wat gelykstaande is as die jaarlikse fooi, niemand reageer nie as jy daaroor vra, Pateties. My vrou waarmee ek nou al 30 jr getroud is en by my in die huis is skuld ook glo R8000 se lisensiegeld, dit is 30 jaar se agterstallige lisensiegeld vir dieselfde huishouding, 2 lisensies??? Hulle moet hul boekwerk eers in orde kry voor ek ooit weer sal betaal!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.