Tyd vir bou

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Ek haal aan uit Tim du Plessis, ʼn bekende in joernalistieke kringe en politieke analis se artikel, Sondag 13 Mei 2018  in Weekliks, die bylae van Rapport.

Hy verwys eers na ’n medeskrywer. “Suid-Afrika dreig om te verdrink in ʼn see van anargie” lui die opskrif van ʼn rubriek van Marney Mthombothi ʼn paar Sondae gelede in die Sunday Times.

Dan vervolg hy “Suid-Afrika is in 2018 ʼn land van plaasaanvalle, transitorooftog, brande in sportstadions, trokke wat op snelweë uitgebrand word, huisrooftogte, gesinsgeweld, en politieke protesoptogte wat as ʼn reël gewelddadig verloop. ʼn Onheilsame plek”.

Du Plessis beweer dat dinge so sleg gaan, dat dit doodgewoon nie langer kan aanhou nie, iets “betekenisvol” gebeur. Hy noem dit ʼn infleksiepunt (tipping point).

Die enigste twee moontlikhede daarna is onheil of verligting.  “Dit voel vir my ons is vandag weer by so ʼn infleksiepunt, die einde van ʼn era en die oorgang na ʼn nuwe een. Sonder om presies te weet wat dit is wat wag om gebore te word: onheil of verligting?” (Tim du Plessis)

Ons moet luister na die profete onder ons.

God is in die wonderwerkbesigheid. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Daar kan geen twyfel wees dat Hy die enigste langtermynoplossing is vir ʼn wêreld wat koers verloor het nie. Die Bybel noem dit Koninkryk en ons bid dit male sonder tal. “Laat U koninkryk kom”.

Ek wonder of ons verstaan dat ons self die antwoord op daardie gebed is. As ons die koninkryk van God, (Jesus se intreepreek) en die vergestalting daarvan onder en deur ons mis, moet ons die fout by onsself soek. Wie het ons gedink gaan die gebed “doen”?

God werk normaalweg nie alleen nie. Hy kan en doen dit soms maar glo in “netwerkverhoudings”. Hy skep ʼn netwerk oor ʼn breë front en met verskeie rolspelers, selfs ongelowiges, om sy doel te bereik. God is nooit verleë of sonder middele nie. Hy het hierdie verhoudings nie nodig nie. Inteendeel, Hy is soewerein.

Tog nooi Hy rolspelers uit om saam met Hom oplossingsgerig en veranderingsgedrewe ʼn nuwe dag te laat deurbreek.

Ook nou. Hy gaan dit nie sonder ons doen nie. As ons by ʼn infleksiepunt gekom het, sal die kerk moet besluit, (en die kerk bestaan uit mense soos ons, kinders van die Here), of hulle medewerkers van God wil wees in die nuwe wat noodsaaklik geword het of in moedeloosheid en verontskuldiging gaan verval.

Ek het ʼn idee dat God ons voor ʼn keuse stel. Ek het ʼn idee dat God sê “As julle julle bekeer en begin leef soos dit Christene betaam, sal ek die toekoms, hoe duister dit ook al mag wees in hierdie stadium, in ʼn ander rigting stuur. As julle egter besluit dat julle wil voortgaan om my bedoelinge te dwarsboom, sal julle die gevolge dra”.

Ek dink ons is by ʼn oomblik van beslissing, soos Elia met die volk van die Here. “As die Here God is, dien Hom. As Baäl God is, dien Hom”.

Die boek Nehemia is na my gevoel baie relevant vir ons in Suid-Afrika. Ons lesers ken dit.

Nehemia, wynskinker van die Persiese koning Ahasveros, ontvang berig dat dit benard gaan met die ballinge wat teruggekeer het na Jerusalem. Hy vra die koning toestemming om na sy geboorteland terug te gaan en te gaan help om die stad op te bou.

Daar gekom, inspekteer hy die mure. Alles is stukkend, die mure en poorte is tot op die grond afgetakel en verbrand; van die glorieryke tempel is daar geen teken nie. Sy volksgenote is verarm, daar is geen bronne om mee te werk nie en die atmosfeer is negatief, desperaat en pynlik. Die mense het lankal opgegee. God, voel dit vir hulle, is ver weg.

Nadat hy hom van die omvang van die skade vergewis het, kry hy die leiers bymekaar en deel sy visie. “Kom ons herbou die mure”. Onder luide toejuiging slaan almal hand aan die ploeg. Van die hoëpriester af tot by die gewone arbeider doen elkeen sy deel. Daar is ʼn klompie egosentriese, arrogante mense wat besluit dat die taak nie vir hulle is nie, maar die volk beur voort.

Uiteraard aard groei die weerstand. Sanballat en sy vennote weerstaan die werk tot so ʼn mate dat die volk letterlik met die wapen in die een hand en die troffel in die ander moet werk. Ek haal Nehemia 4:6 aan: “Ons het bly bou aan die muur. Die hele muur was al halfpad opgebou. Die mense se hart was in die werk.”

Later lees ons dat die manne bang word. Hulle kragte gee in en hulle voel die intimidasie aan eie lyf. Nehemia bemoedig hulle. “God is hier. Julle is nie alleen nie”.

Sy woorde “Ons God sal vir ons die stryd voer” word opgevolg met die opmerking “Ons het met die werk aangegaan”.

Wat doen ons en wat gaan ons doen in die omstandighede waarin ons verkeer en die oomblik van waarheid wat aanbreek? Waar is die leiers wat kom voor vat met die bouwerk? Waar is die profete wat die verbeelding van die volk aangryp en hulle motiveer tot geloofsvrede? Waar is die geloofsgemeenskappe wat die stukkende mure gaan herbou?

Daar was bykans niks om mee te werk nie. Dit was rommel en verbrande stene. Maar waar ʼn wil is, is ʼn weg. Die roet is afgekrap en die stene is skoongemaak en weer teruggemessel in die muur.

Die muur is ʼn metafoor vir dit wat stukkend geraak het, en Sanballat en sy trawante die uitdagings wat die hoof gebied moes word. Ek lees nie dat die volk begin het om die wrede Babiloniërs wat aandadig was aan die verbysterende vernietiging, begin verwens nie. Veel later lees ek dat die volk die fout by hul eie ongehoorsaamheid deur al die eeue soek en bely.

Die muur beveilig en die poort nooi na binne. Die muur en die poorte is nie ter wille van uitsluiting nie.

Kom ons bou die muur.

Kom ons raak betrokke.

Kom ons gee nie toe aan die moedeloosheid nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Jerry ·

Mooi Jannie, jy het Nehemia uitstekend raakgevat en ontleed. Die keuse is voor die hand liggend, ons moet as volk eers die fout by ons ongehoorsaamheid aan God se wette en opdragte soek en dit teenoor God bely. Nadat ons teenoor God bely het moet ons dit wat ons gesondig het en verkeerd gedoen het “apartheid” regstel “versoening” en eers dan glo ek kan ons begin bou, omrede ons dan nie moedeloos en alleen sal wees nie, want dan sal God ons genadig wees en ons help om die goeie stryd te voer. Eers dan sal ons ore en oe oopgaan sodat ons die regte egte Sanballat en sy trawante kan identifiseer en trotseer! Indien ons voortgaan om te bou voordat ons bely en regstel wat reggestel moet word, sal Tim se ontleding en voorspelling van onheil ons inhaal en sal ons saam met diegene wat ons en ons God so verskriklik haat, gestraf en verswelg word. Dit en dit alleen is die keuse wat gemaak moet word anders sal dit wat ons bou vir ons God en vir ons nageslagte betekenisloos wees.

Bob ·

Ek stem nie heeltemal saam nie. Ek is van die generasie wat, sonder dat ek aan die “verlede” deelgeneem het, nou moet boet vir ander se dade. Hoe gaan jy die onreg wat aan my gedoen word regstel? Dis ‘n wereldse konsep en verwerp die konsep van vergifnis. Vir my om as slagoffer van vandag of begunstige van die verlede op te tree is ook teen produktief en die wortel van vêr links en vêr regs. Óns generasie sit nou met gebakte pere maar wat daarvan? Die lewe was nog nooit regverdig en gaan nie binnekort word nie. Ons taak is om vandag God se wil te doen. En is dit om nou te bou of om eers reg te stel?

Eish ·

“Laat U koninkryk kom” is n bede gerig op die wederkoms van Yeshua. Sy koninkryk gaan met die wederkoms hier, op aarde, gevestig word.
Die eindtyd profesieë voorspel juis die tye van geweld, liefdeloosheid, selfsug ensovoorts.
Kyk na Jerry se kommentaar en hou op met die woordgimnastiek. Die priesters, profete, dominees, dissipels, pastore en predikers sal die politieke balletdanspassies moet los en sonde, sonde noem dat ons dit kan bely en laat staan asb.
Juda is deur die Babiloniërs weggevoer oor hul sonde.
” Ons moet luister na die profete onder ons.”
Die profete in die Ou Testamentiese tyd het die volkie geroer oor hul sondes.
” Ek het n idee dat God ons voor n keuse stel. As julle, jul bekeer en begin leef soos dit Christene betaam, sal ek die toekoms, hoe duister dit ookal mag wees in hierdie stadium,in n ander rigting stuur. As jul egter besluit dat jul wil voortgaan om my bedoelinge te dwarsboom, sal julle die gevolge dra.”
Met lewensveranderende kwessies soos hierdie, doen ek tog n beroep dat die geestelikes asb presies sal uitspel waar ons uit die bus val sodat ons, ons kan bekeer van ons verkeerde weë. Die profetiese stem van die kerk ( Al 300 plus denominasies) was te lank te stil gewees.

Lukie Carelsen ·

Baie mooi gestel Jannie. Dankie!
Kan God gebrande stene van die ashoop gebruik om die muur te bou? Natuurlik. Hy gebruik ons as verwerpte, verbrande “ashoopstene” om Sy muur te bou. En die vyand lag: “Gaan hulle regtig ashoopstene gebruik? – God sê JA!
Ons as verwerpte nuttelose en verbrande ashoopstene kan inderdaad weer deur
God “gerecycle word” – wat ‘n God! Wat ‘n boodskap!

L van wyk ·

Versoening is lank reeds gedoen….apartheid bestaan nie meer nie…..wat nog?behalwe dat ons lig dalk verdof het en ons kniee lam geword het….sal ons díe oproep met mening gryp en mure begin herbou met hernude krag van God….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.