Uit die puin van Suid-Afrika – Eendrag maak weer mag

Jan Bosman van die Afrikanerbond.

As laerskoolkind in 1976 is ek geruk deur die vernietigende effek van onluste. Ons het deur die relatiewe nuwe medium van TV, maar veral daagliks vanaf 16 Junie 1976, in die dagblaaie die skokbeelde gesien van infrastruktuur soos skole wat vernietig is, drankwinkels en biersale wat aan die brand gesteek is, optogte en proteste van skoolgaande kinders. In ons geordende wêreld het ons bekommerde ouers in fluisterstemme oor die politiek gepraat en was daar ʼn gevoel van onrustigheid en angstigheid.

Tog het die politieke omgewing gestabiliseer en het gemeenskappe weer saam begin bou uit die puin en as van vernietigde geboue en ander infrastruktuur. Herstel het oornag plaasgevind en mense kon midde-in die politieke onstabiliteit van daardie tyd tóg weer hande neem en saam aan ons gedeelde land bou. In my kantoor hang die oorspronklike spotprent van Len Lindeque, destydse spotprenttekenaar, wat op 21 Junie 1976 in Die Vaderland verskyn het. Dit beeld duidelik wit en swart hande uit wat mekaar se hande neem, groot uitgebeeld teen die agtergrond van rook en brande van Soweto en die opstande wat op 16 Junie 1976 begin het met die woorde: Laat ons saam weer begin opbou.

Net meer as 45 jaar later smeul Suid-Afrika steeds van die massavernietiging van anargie en plundertogte wat polities uitgebuit en misbruik is in die ANC se interne faksiegevegte. Dit het oorgespoel in grootskaalse vernietiging van infrastruktuur, voertuie, eiendom, informele ekonomiese aktiwiteite en plundery van winkels op ongekende skaal.

Terwyl die rook egter nog uit die puin smeul en Suid-Afrika die enorme skade verreken terwyl wet en orde toegepas word en soldate winkelsentrums oppas, is daar weer sprankies hoop. Suid-Afrikaners – wit, bruin, Indiër en swart, ryk en arm, Afrikaans, Engels en Zoeloe – reik weer na mekaar uit. Saam word sleutelinfrastruktuur opgepas en beveilig, woonbuurte word gepatrolleer. AfriForum, taxiverenigings, boereverenigings, Indiër sakemanne en swart vakbonde neem hande. Dit is die ewigdurende wonderwerk van Suid-Afrika. Eendragtig is die boodskap: Laat ons saam weer begin opbou.

Hierdie aksies en sprankies hoop toon reeds weer die onmiskenbare, groeiende krag van eendragtigheid wat aan die oplaai is om Suid-Afrika te red, te ontwikkel en weer sy regmatige plek in die internasionale arena te laat inneem omdat Suid-Afrikaners nie langer in die liga van korrupsie, kortsigtigheid, wanbestuur, wetteloosheid, rasbeheptheid en politieke retoriek waarin ons verval het, wil speel nie. Alle Suid-Afrikaners verdien veel beter as dit wat die ANC en faksiegevegte bied. Eendrag maak weer mag en hopelik kan ons aan ʼn nuwe waardestelsel vir ons land en sy mense begin bou.

Die laaste paar dae het Suid-Afrika ʼn skrikwekkende spieëlbeeld gesien van wat ons nooit wil wees nie. ʼn Duiwelse boosheid is losgelaat wat ons laat skrik het. Dit het ons laat besef dat ʼn land wat misluk en in puin is gevaarlik is, en ons kan dit nie toelaat nie. Die diversiteit van Suid-Afrika het die land beskerm terwyl die gepeupel anargie aanblaas. Wit, bruin, swart en Indiër het as burgerlike samelewing reeds weer mekaar se hande begin neem. Dit is die wonderwerk van ons land en sy mense.

Suid-Afrika betaal ongelukkig nou ʼn bitter duur prys vir die ANC se onvermoë om sy eie interne faksies in toom te hou. Die interne gevegte het nou na misdaad op ongekende vlak in die openbare arena oorgespoel, en word Suid-Afrika deur ʼn kriminele gepeupel gyselaar gehou.

Slegs ʼn paar dae na die anargie staan gematigde Suid-Afrikaners weer uit die as en vernietiging op en sê: Genoeg is genoeg – tot hier toe en nie verder nie. Die boodskap wat uitgestuur word deur die kragtige beelde van wit, swart, bruin en Indiër is dat ons saam Suid-Afrika se belange sal beskerm en bevorder en sê ons weer, net soos 45 jaar gelede: Laat ons saam weer begin opbou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Anna-marie ·

Mnr Bosman, kan jy nie asb vir ons ‘n artikel skryf oor die vernietigende effek van plaasmoorde nie. Dan brei jy uit oor die ekonomiese gevolge en die sielkundige gevolge wat dit op plaasmense het. Dan vra jy die land om ook eendragtig daarteen op te staan.

Anna-marie ·

Jip, hulle het gesorg dat die konserwatiewe Afrikaners in die 70’s en 80’s nie bevordering kry nie. So bv het onderwysers wat HNP was nie bevordering gekry nie.

Skuilnaam ·

“…Tog het die politieke omgewing gestabiliseer en het gemeenskappe weer saam begin bou…”

Eish! Roos-getinte brilletjie? Daar is niemand so blind soos hy wat nie WIL sien nie…

Jack ·

Dit is goed om positiewe dinge te hoor en die afgelope week te kon sien in die media. Dit gee hoop maar by dit alles moet n ystervuisbenadering teenoor die saboteurs van ons land en sy mense gevolg word. N spesiale hof moet tot stand kom om hierdie saboteurs te vervolg en toe te sluit. Sonder ferm optrede sal dit net die volgende tsunami aktiveer. Dis nou tyd om die mure vir geregtigheid weer op te bou en te versterk.

Andrew ·

Jy sê 45 jaar gelede het julle gesê ons moet hande vat met die einste ANC en sy multi kultuur en saam herbou , natuurlik met n totale magsoorgawe met geen “saam” ooreenkomste nie?
Nou kyk hoe het dit vir die Afrikaaner en sy Boere uitgedraai.

Anna-marie ·

Jip die Afrikaners het hulle gewaarsku en gewaarsku. Ons is afgemaak as verkramptes.

Snowball ·

Euforie is gevaarlik en gewoonlik van korte duur.
Realiteit het die naar gewoonte (nes ‘n babelas) om jou ‘n geweldige kopseer te gee die volgende dag.

Andrew ·

Daar is n reel op vliegtuie dat as die kajuit se druk val, dat jy eers jou eie masker opsit voor jy iemand anders help. Die logika? Jy kan nie iemand anders help as jy self nie by is nie. Die Afrikaaner moet eers homself help, voor hy wil begin hande vat met mense wat duidelik sy vyand is. Dankie aan die mense wat al reeds 30 jaar terug, voor die mags oorgawe, die insig gehad het om te begin bou aan alternatiewe.

Wicus ·

Dit is tog verblydend om enkellinge te sien hand opsteek. Egter is hierdie ‘n vulletjie van wat kom.

Dit is vir my ongelooflik moeilik om te sien hoe ons stukkie vir stukkie vernietig word nes daai gevoel as jy in ‘n vergadering sit om te hoor ons het nie die teikens bereik nie, en jy dink ons gebruik mooi woorde maar eintlik is jy deel van die verkeerde statistiek.

Iewers moet ons hak begin inskop, so kan dit nie aangaan nie. SA het net eenvoudig twee werklikheidsbeelde wat nie versoenbaar is nie!

Wilhelm ·

Dis ‘n pragtige storie… maar miskien moet ons ‘n slag iets anders probeer, miskien moet ons ‘n slag KWAAD word!

Kokkie ·

Tipies Broederbond. Elke wolk het ‘n silwer randjie. Ongeag die verskriklike verwoesting en skade, moet ons eintlik baie dankbaar wees.

Marthinus W ·

Die Rand Daily Mail se Britse joernalis, Bob Hitchcock, beskryf, met feite, [Flashpoint South Africa, 1977 Don Nelson, Kaapstad] hoe die misdadigers en tsotsis 16 Junie 1976 gebruik het om vyande en mededingers dood te maak. Daardie dooies is by die polisie se syfers getel. Hy skryf [p.188) “There was little that was noble, brave or inspiring about the actions of the African rebels in Soweto… They were cowardly attacks in the main, and self-destructive in an ethnic sense…”

annie ·

Een van die HNP se plakkate voor ‘n verkiesing het gelees: Een man, een polisieman. Waar in die Bybel staan: Vat hande mense. Wie beheer SA? ‘n Groep terroriste met die eerste president Mandela, wat tronk toe is omdat hy geweier het om terrorisme af te sweer. Die ANC verkondig deurentyd regstellende aksie; dat grondhervorming dringend nodig is en die huidige vlaag vandalisme bloot regstelling is. Die Afrikanerbond wil glo dat hulle die siel van die Afrikaner verteenwoordig. Hulle droom.

Fluisterwind ·

Die eenigste EEN waarmee versoen moet word is Christus Jesus! Ons Verlosser en Here.

Fluisterwind ·

“Genoeg is genoeg – tot hier toe en nie verder nie” en “Laat ons saam weer begin opbou.”

“…dis alles woorde net leë woorde / op vals akkoorde / en almal sing dit almal sing ja / almal sing dit saam” – Koos du Plessis

loddertjie ·

Stem, dis verblydend om te sien dat ons as ‘n nasie kan saam staan! Dit gee mens ‘n warm gevoel in die hart, ons kan opstaan teen enige iets solank ons saam staan.

James ·

Oom Jan – ek het slegte nuus vir jou. Hierdie was nie die einde nie – maar net die begin. Mense gaan armer word – nie ryker nie. Mense gaan meer desperaat word – nie minder nie. En hulle het gesien dat massas die polisie kan ore aansit. Hierdie was maar net ‘n toetslopie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.