Uitspraak in die PanSAT-saak, raad wil appelleer

Wannie2

Prof. Wannie Carstens. Foto: Verskaf.

Belangstellendes in taalsake in Suid-Afrika was seker net so geskok soos die lede van die ontbinde raad toe regter Niel Tuchten onlangs uitspraak gelewer het in die bogenoemde saak. Die saak spruit voort uit die besluit van die minister van kuns en kultuur om in Januarie 2016 die PanSAT-raad te ontbind omdat die raad glo sy take nie na behore uitgevoer het nie.

Die lede van die raad het sy optrede betwyfel omdat sy besluit ongegrond was – sien my vorige artikel hieroor waarin ek die konteks geskep het waarbinne die raad die organisasie moes probeer bestuur.

Die lede van die nuwe raad het die organisasie in Junie 2014 in algehele organisatoriese en strukturele chaos aangetref. Daar was soveel gebreke dat dit bykans onmoontlik was om die organisasie te herstel tot wat dit veronderstel was om te wees, maar ten spyte daarvan het die nuwe raad steeds probeer om te red wat te redde is. Die organisasie se uitgawes het sy inkomste ver oorskry (PanSAT was dus in wese bankrot), wanbestuur en onbevoegdheid het hoogty gevier, en ná ʼn ondersoek (aldus ʼn forensiese verslag van die Nasionale Tesourie) is konkrete aanduidings van beduidende korrupsie gevind. Die raad het op grond van regsadvies stappe gedoen om die organisasie te probeer stabiliseer, maar in hierdie proses duidelik op politieke tone getrap. En toe is die raad afgedank.

Die raadslede se oordeel was dat die minister onregmatig opgetree het en daarom is besluit om die ontbinding (afdanking) teen te staan. ʼn Regsfirma in Pretoria het die saak pro bono namens die raadslede hanteer. Regsadvies uit verskeie hoeke was dat die raad ʼn goeie kans staan om suksesvol met die opponeer van die saak te wees.

Waarom is die saak teengestaan? Grotendeels in die belang van die taalgemeenskap in SA omdat die minister se optrede PanSAT se onafhanklikheid om besluite van belang vir die ontwikkeling van meertaligheid in die land te neem, weggeneem het. Hiermee kon PanSAT ʼn pion in ʼn politieke spel word en kon meertaligheid dus nie gevestig en taalontwikkeling plaasvind nie. As PanSAT nie self taal kan bestuur nie, sal die regering die instelling stuur soos hulle dit wil hê. En van opregtheid oor taalbestuur was daar tot op hede min blyke vanuit regeringskringe, gesien in die lig van die oorheersing van Engels as taal in die land.

As die regering ernstig was met taalsake, sou PanSAT voldoende geld gehad het om sy mandaat uit te voer, sou PanSAT sy projekte en strukture kon ontwikkel het soos die Grondwet verwag. Maar dan sou PanSAT ook ʼn doeltreffend bestuurde organisasie gewees het waar wanbestuur en onbevoegdheid nie geduld sou gewees het nie. Die beskikbare geld sou ook na behore bestee gewees het. Dit is egter nie die geval nie en PanSAT is steeds waar dit was toe die nuwe raad oorgeneem het: in finansiële redding, besig met etlike hofsake teen personeel en ander instansies. Daar is steeds personeel wie se bekwaamheid om hulle take te verrig onder sterk verdenking is en daar vind min (wesenlik geen) taalprojekte plaas. En verder is die verdoemende forensiese verslag van 2015 nog steeds nie hanteer nie. Ons wonder hoekom!

Toe kom die uitspraak van regter Tuchten. Hiervolgens het die destydse voorsitter, prof. Mbulu Madiba, die hof mislei deur voor te gee dat hy die saak namens die ander lede hanteer en het die maatskappy wat die raadslede verteenwoordig het, talle foute gemaak, dermate dat die betrokke maatskappy weens onprofessionaliteit aangemeld moes word by die toepaslike strukture. Prof. Madiba is toe opdrag gegee om in sy persoonlike hoedanigheid die koste van die minister se regspan te betaal.

Die raadslede voel daar is ‘n aantal kwessies wat nie behoorlik aandag in die hofsaak geniet het nie en op grond daarvan gaan die raadslede appelleer teen die uitspraak:

  • Madiba hét regmatig namens al die ander raadslede (met die uitsondering van een) opgetree en daar is gedokumenteerde bewyse daarvan in die voorgelegde stukke. Hierdie bewyse is geïgnoreer.
  • Die stappe wat gedoen is om PanSAT finansieel te red is nie in ag geneem nie.
  • Die stappe wat gedoen is om orde te herstel in die organisasie is nie in ag geneem nie.
  • Die forensiese verslag wat dui op korrupsie en wanbestuur in die organisasie is nie in ag geneem nie. Ons sal graag wil weet waarom dit die geval is, juis omdat dit ons stappe geregverdig het.
  • Die onafhanklikheid wat PanSAT wel het, is nie gerespekteer nie.
  • Die raad se verweer in Desember 2015 teen die minister se beskuldigings is nie in ag geneem nie.
  • Beskuldigings van die niebeskikbaarstelling van dokumente is nie geregverdig nie.

Die ontbinde raad het bestaan uit kundiges vanuit die onderskeie taalgroepe, die finansiële wêreld en die bestuursomgewing – en beskuldigings deur die minister dat die raad nie sy werk gedoen het nie, is van alle waarheid ontbloot. Die lede van die raad het inteendeel baie goed besef waar die probleme lê en hulle wou dit regstel sodat die raad sy grondwetlike mandaat rakende meertaligheid en taalontwikkeling kon uitvoer. Die raad is egter daarvan weerhou om redes wat amptelik aan ons onbekend was, maar wat ons wel vermoed, naamlik dat ons te na aan die kern van die verrotting gekom en in die proses op te veel sensitiewe politieke tone getrap het. Die verdoemende forensiese verslag ondersteun ons standpunt. In hierdie verband verdien die raad steun uit die taalgemeenskap van Suid-Afrika. Ons tale is te kosbaar om op die politieke altaar geoffer te word en ʼn pion te word in die ANC se interne struwelinge.

Die lede van die ontbinde raad was nie onbevoeg nie, en het wel oor die kundigheid beskik om die organisasie te herstel tot wat dit behoort te wees. Die lede van die raad het ook soveel van hulle tyd opgeoffer om hulle take uit te voer. In ruil hiervoor is ons goeie naam besoedel, is ons self beskuldig van onbevoegdheid, en het die idee van taal as middel tot sosiale samehorigheid in ons land ʼn groot knou gekry. Dit kan tog nie wees nie.

  • Prof. Wannie Carstens was die ondervoorsitter van die ontbinde raad.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Wannie Carstens

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Henriette Jacobs ·

Dankie vir u onvermoeide ywer en toewyding om meertaligheid en die posisie ook van Afrikaans te beskerm en te bevorder. Ons bly bid vir geregtigheid in die howe en in die samelwing in die bree!

Wilweet ·

Ek waardeer die artikel, maar is bietjie in die duister oor regter Niel Tuchten se uitspraak waarna verwys word.

Was die uitspraak ten gunste van PanSAT ontbinding? En handel hierdie artikel oor appel teen hierdie bevinding? Is die appel reeds aangeteken?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.