Wat nou van meertaligheid?

Prof. Wannie Carstens. Foto: Verskaf.

Prof. Wannie Carstens. Foto: Verskaf.

Agtergrond: Die organisasie

PanSAT is as instelling tot stand gebring in terme van art 6 (5) van die Grondwet. Hiervolgens het PanSAT die opdrag en taak gekry om “die ontwikkeling en gebruik (te) bevorder en omstandighede te skep vir die ontwikkeling en gebruik van alle amptelike tale, die Khoi- Nama- en Santale; en gebaretaal”. Verder moet PanSAT ook “respek bevorder en verseker vir alle tale wat algemeen deur gemeenskappe in Suid-Afrika gebruik word”. ʼn Groot opdrag, maar een wat aan die begin tog met erns bejeën is.

Die infaseer van PanSAT se werk het in 1995 begin. Die metode wat gevolg is om die mandaat uit te voer, was om ʼn hoofkantoor te hê, en daarmee saam ook drie strukture wat besondere take gekry het:

  • Vir elke amptelike taal is ʼn nasionale taalliggaam (NTL) gevestig – in werklikheid dertien liggame teenoor die elf amptelike tale. Die twee ekstra NTL’e was vir SA Gebaretaal en die Khoisantale. Die taak van hierdie liggame was om die amptelike status van die betrokke tale uit te bou met die hulp van ʼn aantal tegniese komitees (wat onder meer verantwoordelikheid moes aanvaar vir die betrokke tale se standaardiseringsfunksies).
  • Vir elke taal is ʼn nasionale leksikografiese eenheid (NLE) tot stand gebring. Die strukture van die Buro van die WAT op Stellenbosch en van die Engelse woordeboekeenheid op Grahamstad is as model gebruik om ook eenhede vir die ander tale te ontwikkel.
  • Vir elke provinsie is ʼn provinsiale taalkomitee (PTK) gestig wat moes help om taalbeleide in provinsies te help ontwikkel en dit dan in werking moes help stel. Op provinsiale vlak moes meertaligheid dus werklikheid word.

Ten einde hierdie strukture te bestuur, is ʼn Raad aangestel (gewoonlik vir ʼn termyn van vyf jaar) wat saam met personeel in die hoofkantoor (onder die beheer van ʼn hoof uitvoerende beampte (HUB)) toesig moes hou oor die uitvoer van die werk wat met behulp van die genoemde strukture meertaligheid ʼn werklikheid moes maak.

20 jaar later: Wat het gebeur?

Dit is nou meer as twintig jaar later en die vraag is wat van hierdie strukture geword het. Ná die termyn van die eerste (puik!) HUB, prof. Cynthia Marivate, verstryk het, het die afdraande pad vir PanSAT begin wink. Bestuursprobleme, konflik onder personeel, politieke inmenging, swak aanstellings (beide bestuur en administratiewe personeel), hofsake van personeel teen mekaar, ensovoorts het PanSAT kort voor lank ʼn hulpelose en rondfladderende instansie gemaak wat van die een krisis na die ander gestruikel het. HUB na HUB het gekom en dikwels met ʼn beduidende pakket weer gegaan – net sodat die persoon tog kon weggaan.

Die rade het van een krisis na die ander beweeg en soms is rade se termyne nie eens voltooi nie, soos die geval was met die Raad wat in 2012 afgedank is.

Dit is hier waar die probleem vererger het. In 2012 het die destydse minister van kuns en kultuur besluit om iemand van buite, met regskennis, aan te stel om waar te neem as HUB van PanSAT ten einde ʼn omkeerstrategie te bedink en in werking te stel. Ongelukkig was dit nie ʼn goeie aanstelling nie, omdat die finansiële en bestuursprobleme toegeneem het.

Die nuwe Raad

In Junie 2014 is die nuwe raad uiteindelik ingesweer. Reeds ná die eerste vergadering het een van die nuwe raadslede bedank omdat dit vir hom duidelik was dat PanSAT baie ver weg was van die bestuur van sy mandaat (soos aan ons voorgehou is), maar dat alles in die organisasie eerder om strukture en die oplos van ʼn magdom probleme gegaan het. Van die dien van die mandaat was daar min sprake.

En dit was kort voor lank duidelik die organisasie is in totale chaos: ʼn ‘opgeblase’ personeelkorps, bykans geen finansies nie (net die personeel kon betaal word), minimale fondse om die mandaat uit te voer, geen fondse vir die raad om te vergader nie, talle hofsake (personeel het mekaar vir bykans enigiets gedagvaar en dan moes dit verdedig word met PanSAT-fondse; talle onafgehandelde hofsake van ander instansies teen PanSAT; hofsake van vorige HUB’s teen PanSAT), personeel is geviktimiseer en geïntimideer, en so meer. Daar was geen werksetiek en werkstrots oor nie en personeel het gekom en gegaan soos hulle wou.

Die nuwe raad het probeer om agter die spreekwoordelike kap van die byl te kom sodat opgetree kan word, maar die prentjie was reeds met die eerste oogopslag nie mooi nie. Die prentjie was dié van ʼn organisasie wat in die intensiewesorgeenheid gelê het en die lewenspypie moes net uitgetrek word om PanSAT se einde aan te dui. Van die eens versiende organisasie was bykans niks oor nie, behalwe te veel personeel en baie skuld.
Die Raad het vervolgens ʼn aantal stappe ingestel om orde te probeer skep:

• ʼn Waarnemende is HUB aangestel (wat ná drie maande op kraamverlof gegaan het) en sy is deur iemand anders in die organisasie vervang. Daaroor was die departement van kuns en kkultuur vir ons kwaad.
• ʼn Versoek is aan die departement van kuns en kultuur gerig om ʼn administrateur vir PanSAT aan te stel, maar daarvan het helaas niks gekom nie.
• Die personeelstruktuur is ondersoek en dit was duidelik daar was baie groot fout: te veel personeel volgens die goedgekeurde personeelstruktuur. Daar moes dus ʼn plan gemaak word om dit reg te stel omdat die te groot personeelstruktuur feitlik alle beskikbare fondse opgebruik het. ʼn Regsmening is hieroor aangevra.
• Die kern van die finansiële probleem moes vasgestel word. Die ouditmening oor PanSAT was die slegste wat die moontlik kan wees: ʼn “vrystelling”, dit wil sê so in chaos, dat geen mening uitgespreek kon word nie.
• Die raad het besluit om ʼn forensiese verslag (sodat vasgestel kan word of daar meriete is vir ʼn forensiese oudit) te laat saamstel oor die stand van die finansies. Dit is etlike maande vertraag weens ʼn gebrek aan steun deur die departement van kuns en kultuur se amptenare. Ook hieroor is ʼn regsmening aangevra.
Die voorsitter van die raad het in hierdie tyd met die personeel ʼn gesprek gevoer en hy was geskok oor wat hy gevind het: ʼn ongefokuste organisasie wat net in naam bestaan het en bloot gebruik is om salarisse aan (te veel) personeel te betaal. In hierdie tyd het ʼn verdere twee raadslede ook bedank: een weens konflik met die minister en ʼn ander een omdat dit duidelik was PanSAT was ʼn onderneming wat besig is om in duie te stort en nie soos aan ons meegedeel ʼn lopende onderneming nie. Die hoop op herstel was gering.
• Twee regsmenings het dit duidelik gemaak die personeel is onreëlmatig aangestel deur die waarnemende HUB.
• Die raad het besluit om hierdie personeel se dienste te beëindig ten einde die personeelstruktuur reg te trek en fondse te bekom vir die uitvoer van die mandaat. Dit was ʼn uiters moeilike besluit, maar iets moes gedoen word om PanSAT terug te plaas op die regte pad.
• ʼn Nuwe strategiese plan (die eerste een sedert 2012) is met die hulp van ʼn buite-instansie saamgestel. Binne die organisasie was daar nie die vermoë om dit self te doen nie.
• Die forensiese proses is aan die gang gesit.
• Daar is probeer om die personeel se moreel te herstel.
• ʼn Nuwe HUB is aangestel.
• Daar is begin met die proses om ʼn nuwe hoof finansiële beampte, een met die nodige kundigheid, aan te stel.
• Daar is probeer om van die hofsake af te handel en te verminder.

In die proses van die uitvoer van hierdie take was daar konflik met senior amptenare van die department wat die raad wou dwing om die departement se opdragte uit te voer. In die lig daarvan dat die raad ʼn onafhanklike liggaam is, is daar slegs gedeeltelik hieraan gehoor gegee. Ons moes spring as die departement en die minister iets verwag. Die tafel was dus gedek vir ʼn botsing.

ʼn Brief van die minister waarin hy wou weet waarom hy nie die raad moet ontbind nie, is einde November 2015 aan die voorsitter van die raad gestuur. Die raad het uitvoerig hierop gereageer, maar die minister het ten spyte hiervan steeds voortgegaan en op 12 Januarie 2016 die raad ontbind. Sy optrede was in wese prosedureel foutief omdat slegs die parlement die raad kan ontbind – na slegs 18 maande se werk.

Daar is heelwat gespekuleer oor waarom die minister dit gedoen het. Was dit om die openbaarmaking van die forensiese verslag (gedoen deur amptenare van die nasionale tesourie wat aanbevelings oor potensiële strafregtelike vervolgings bevat) te keer? Wou die minister bloot sy spiere wys? Of was daar politieke redes? Of het ons te na aan die identifiseer van PanSAT se strukturele probleme gekom? Ek vermoed so. Die tyd sal wel leer.

En wat nou van meertaligheid?

PanSAT se primêre mandaat is die bevordering van meertaligheid via hierdie strukture. En die ontbinde raad het probeer om die organisasie se struktuur reg te skud sodat die mandaat voorkeur kan kry. Wat nou gaan gebeur, is onseker, want daar is weereens ʼn leierskapsvakuum.
Die bestuur van meertaligheid het wel ʼn groot knou weg omdat daar nou bykans géén leiding is oor wat om verder te doen nie. En in die geledere van die personeel is daar min kundigheid oor hoe om dit te doen. Daar is ook ʼn duidelike gebrek aan politieke steun hiervoor, soos weerspieël in die minister se optrede.

My persoonlike berokkenheid by die raad het gespruit uit my bekommernis dat die aandrang op Engels as sentrale taal in die land sterker sal word as die organisasie wat meertaligheid in al sy fasette moet bestuur, tot niet gaan. Daarom het ek my begewe in ʼn bykans onmoontlike situasie. Die opoffering om dit in ʼn politiek onvriendelike omgewing te doen, was groot.

Ek glo meertaligheid is die prys van vryheid in ons land – dit moet net reg bestuur word. Die taak berus nou op elke landsbewoner om druk op die regering te plaas om sy grondwetlike mandaat uit te voer.

Die ontbinde (afgedankte?) raadslede stap wel weg met die wete dat ons die regte dinge rég gedoen het. Ons het ongelukkig op te veel tone getrap en onafhanklik probeer wees. Dit was duidelik nie aanvaarbaar vir die minister en sy departement nie.

Een van die uitgaande Raadslede het haar ervaring van die afgelope 18 maande soos volg saamgevat:
“Take heart. Not all is lost. As long as you and others know what was achieved in the past 18 months despite so much difficulty, not all is in vain. What has been planted here may not be realised today or even tomorrow but history will be the judge. Somewhere, somehow, all the hard work of members who put in so much time, skill and effort without any expectations of hefty cheques and trappings will bear fruit. Your names may not be in the headlines, but it will be the ideals you toiled for and dearly believed in.

From me, a stranger amongst you language specialists, I thank you for having been part of the honest collective thinking. Stay the course, continue being language activists. It is not about pleasing anyone, but it is what South Africa needs. The bricks and bats may come flying, but one day, a bouquet may come your way. Take the bow!”

Prof Wannie Carstens
Oudondervoorsitter van PanSAT

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Wannie Carstens

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Herman Toerien ·

Baie dankie vir die volledige agtergrond prof. Wannie. Dit laat my nogal aan ‘n krieketkommentator se opmerking dink: “Dis die kolwers wat sukkel, maar die boulers wat die trekpas kry.”

Wannie Carstens ·

Ja, gebeur as n ou te na aan die vuur kom… Die minister het nie gehou van ons boodskap nie.

Therese van Schalkwyk ·

20 jaar later en van meertaligheid is daar geen sprake in die nuwe Suid-Afrika nie. PanSAT was heel duidelik ‘n klaaglike mislukking en die minister wat halt geroep het, kan op die skouer geklop word.

Die Afrikaanse Taalraad se doen en late is ook ‘n raaisel, want Afrikaans is onder beleg in skole en so te sê uitgewis op universiteitsvlak. Geen “bouquet” moet uit Afrikaanssprekende geledere verwag word nie.

Sarie ·

Dit wil voorkom of die VF+ is die enigste politieke party wat in meertaligheid belangstel. Die Wes-Kaap waar die DA heers is in ‘n baie gunstige posisie met net drie tale om te hanteer om meertaligheid volledig te bevorder in alle staatsdepartemente. Ongelukkig het hulle ook voortgegaan om English Only te implementeer. Die gebrek aan moedertaalonderrig gaan hierdie land nog duur te staan kom.

Sarel Strydom ·

Verstaan ek nou reg. Ek het nie geweet dat die VFplus deel van PANSAT was nie.

Gwen ·

Ek het nie met aandag deur die artikel gelees nie. Ek is egter bly dat die raad van PanSAT afgedank is en in besonder prof. Carstens. Hoekom sê ek so? Prof. Carstens verkondig al hoe lank dat ons tegemoetkomend en vredeliewend moet wees wanneer mense ons taal en kultuur bedreig. Hierdie mak houding van hom en talle ander Afrikaanse akademici in Suid-Afrika het eindelik ’n u-draai gemaak. Die professor is nou kwaad omdat hy in goedertrou probeer onderhandel het met skurke wat hom uiteindelik soos ’n hond behandel het.

Hopelik het die professor nou geleer dat die Afrikaanssprekende gemeenskap (en in besonder die Afrikaner) nie meer vredeliewend kan toekyk hoe ons taal aan universiteite, in skole en in die breë publiek vertrap en vermorsel word nie. Die professor moet minder dink aan sg. “inklusiwiteit” en eerder die ernstige kwessie van taalverarming en -versaking begin beveg. Diegene wat sterk voel oor Afrikaans (Blank en Bruin) sal uit eie oortuiging by die geveg betrokke raak. Hoe meer jy ’n donkie slaan, hoe steekser raak hy. Ons moet pro-aktief te werk gaan en in alle erns Akademia begin opbou voor dit te laat is.

’n Afrikaans met gevestigde strukture kan die ander inheemse tale help om te floreer. Dit help nie vir prof. Carstens om nou mond uit te spoel nie, hy moes dit twintig jaar gelede al gedoen het. Gelukkig het ons politici in die VF+, soos dr. Pieter Mulder, wat nog namens die Afrikaner, en ook die Afrikaanssprekendes in die breë, in die parlement ageer.

My uitgangspunt is dat jy ’n kommunis kan vertrou… om kommunisties te wees. Dit geld vir diegene wat Afrikaans, en die Afrikaner daarmee saam, wil sien verdwyn uit Suid-Afrika (maar verkieslik van die aardbol af).

Johann ·

Ek is oortuig Gwen en lees en ken Carstens verseker nie. Hy is ‘n kwaliteit Afrikaanse Afrikaner.

Pieter ·

Gwen, dis teleurstellend dat jy nie ‘n artikel met aandag nie, maar daarna jou onkunde met soveel aggressie uitspel. Jou negatiewe opmerkings oor prof Wannie Carstens is, met respek, onvanpas en ongevraagd. Hy was nog deurentyd ‘n behoudende faktor in die stryd om behoud en bevordering van Afrikaans op soveel vlakke, en soveel kere in uiters ondankbare omstandighede. Die minister verdien geen klop op die skouer nie – hy probeer net wys hy kan doen wat hy wil (nie MAG nie) en sy eie politieke spiere bult (al mag SLEGS die parlement die Raad ontbind). As ‘n nuwe Raad, ondanks positiewe werk om te red wat te redde is, gedurige weerstand van ‘n departement kry, kan weinig sukses behaal word. Baie dankie vir bogenoemde feite en jou harde werk en ywer, prof Wannie, so dikwels ‘n onbenydenwaardige taak – “doet zo voort”!

Gwen ·

Al wat ek sê is dat prof. Carstens se politiek hom ingehaal het (hy het tydens ’n vorige verkiesing met groot brawade verkondig hoe hy vir die DA stem, nogal op die voorblad van ’n plaaslike koerant!). As hy meer op die uitbou van Standaardafrikaans en minder op die gelykberegtiging van Kaaps sal ek meer tyd hê vir die skrywe.

Hy kry nou wat hy die afgelope 20 of wat jaar verkondig. Hy het hom met die semels gemeng en die varke het hom lelik uitgespuug.

Piet Snot ·

Therese en Gwen
Mens moet die een doen en die ander nie nalaat nie.
Veg jy op jou manier vir jou taal. Erken egter terselfdertyd iemand soos Prof Wannie wat op sy manier ons gemeenskaplike belang dien.
Mekaar slegsê help nie.
Die vraag is: doen ék alles wat ek kan vir ons taal?

Therese van Schalkwyk ·

Piet Snot

Gwen is heeltemal in die kol. Die kreeftegang van Afrikaans die afgelope 20 jaar is met kommer en frustrasie dopgehou. Wanneer die werkswyse van die Afrikaanse Taalraad en PanSAT dus bevraagteken word, moet dit nie as ‘n persoonlike aanval op mense in gesagsposisies vertolk word nie. Ontspan gerus, anders raak ons net so liggeraak soos sommige in die regering.

Die gebrek aan politieke steun vir meertaligheid is algemene kennis en die 20- jaarlange geploeter van PanSAT het hierdie allerbelangrike saak geen guns bewys nie. In prof. Carstens se eie woorde is “PanSAT ‘n onderneming wat besig was om in duie te stort”, en “die hoop op herstel gering”. ‘n Windeier as daar ooit een was. Probeer iets nuuts en hierdie keer met groter toewyding en minder toegewings.

Sarel Strydom ·

Ek wil graag net weet wie verantwoordelik is vir die verval vam PanSat. Verder wil ek nie kommentaar lewer nie wat ek is so moeg vir die alewige haatspraak wat hierdie land nog duur te staan gaan kom. een ding weet ek. Christene kan nie so redeneer nie, en dan word gevra hoekom dit so gaan in ons land.

Frik ·

Ag asseblief, hou op so sensitief wees! Na watter haatspraak verwys jy???? Jy vorm deel van die moderne liberale-progressiewe probleem! Mense gaan nie hulle opinies weerhou a as gevolg van jou gevoelings en denke nie! Hulle het n grondwetlike reg tot hulle opinies en hoe hulle dit wil spreek. AS iemand die ‘bepalings en voorwaardes’ van Maroela oortree sal hulle kommentaar afgehaal word. Haat spraak word gepleeg aan die kant van beide rasse…en as jy ons komende probleme wil toeskryf aan haatspraak as een van die sentrale oorsake…is jy kortsigtig. SA het veel groter probleme as mense se gevoelings…en verder is dit duidelik dat sekere bevolkings groepe baie emosioneel en irrasioneel optree teenoor rationele en meestal nie rasistiese opmerke. N goeie voorbeeld hiervan is dat die woord “entitle” nou rasisties konnotasie verower het. Dis belaglik! Dit vat n rasis om rasisme in elke faset van daaglikse lewe te identifiseer en ontgin. Ek dink vir myself…en ek deel nie in simpatiek met mense se gevoelings ten koste van ander se Grondwetlike regte nie! As my mense (Afrikaans sprekendes met Afrikaner agtergrond) hulself uitlaat oor dinge en dit vorm deel van haat spraak…sal ek hul steeds bystaan! Dis nie moontlik om 2.5 miljoen mense soos skape te laat volg nie…hou op probeer. Ek was in die ‘nuwe Suid-Afrika’ gebore, en het 3 jaar by UJ spandeer, ek weet waar ek staan in terme van ras, en apartheid en so. In daai tydperk het ek swart vriende gehaad en swart mense in my studiegroep en by my gym. Ekt ook saam hulle rugby gespeel…maar dit was duidelik dat hulle nie my mense is nie. Al wat jy het in die kort tyd op aarde is jou mense! So hulle regte sal altyd eerste kom! Om mense aan te moedig om duidelike probleme te sensor en nie te noem wat dit is nie is gevaarlik…want deesdae kan enige ondertoon of woord as rasisme gemerk word as dit nie die wat in beheer is pas nie!

Ongeag, ons probleme kom. Niks wat jy of ek of die ander 2.5 miljoen Afrikaners daaraan kan doen nie. Kies eerder n kant.

“You have your way. I have my way. As for the right way, the correct way, and the only way, it does not exist” – Frederick Nietzche

“Optimism is cowardice” – Oswald Spengler

Probleme sort nie hulself uit nie…vra die verskeie munisipaliteite wat glo die droogte en ander probleme sal hulself uit sort.

Fanie ·

Ja Sarel, ek sal ook net graag wil weet wie of watter faktore het tot die val van PANSAT gelei? Is die rede hoekom die departemente, munisipaliteite ens, ondergaan, nie dalk die feit dat daar geen besluite geneem kan word sonder ‘n hoofman oor hulle nie. En as die verkeerde hoofman ook nog besluite moet neem, is dit chaos en ondergang.

John ·

Dit klink na absolute chaos. Finansies kom kort-kort ter sprake. Die spulletjie was van die begin af gedoem met soveel ‘base’. Niks het tot stand gekom nie en baie geld het aan die voet van die “reenboog” in die niet verdwyn, soos gewoonlik in die landjie van ons. Afrikaans het regtig nie soveel nonsens nodig om te oorleef nie.

Boscia ·

Jammer Prof dat jy jouself nou so moes opoffer. Ennieway, as daar net een ampstaal in die RSA was (Ingils) was daar minder probleme rondom hierdie netel. Hopelik sal dit voorkanttoe wel die geval wees. Ons sal dalk ekonomies gedwing word om die wyse besluit te neem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.