Universiteit is meer as taal

afrikaansʼn Senior span van ’n groot mynhuis het Solidariteit onlangs besoek. Groot was die verrassing toe een van my universiteitskennisse, Martin Krause, deel van die span was. Ons het albei aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys studeer.

Martin is in alle opsigte ʼn boerseun en ons het op universiteit vir mekaar gegrom uit die vestings van die twee mees tradisionele koshuise op die universiteitskampus, Hombrè en Overs.

Albei van ons het in arbeidsverhoudinge studeer, en albei van ons het “ekstra grade” deur die georganiseerde studentelewe verwerf.

Destyds was die universiteit nog uitgesproke Christelik en goeie waardes en etiek is aan ons oorgedra. Ons is geleer dat die universiteit jou voorberei vir jou roeping en nie bloot vir jou beroep nie.

Martin het die korporatiewe leer vinnig geklim. Ek is seker dat waardes soos integriteit, selfverantwoordelikheid, harde werk en roepingsgedrewenheid wat op universiteit by ons vasgelê is, die handvatsels was waarmee hy teen die leer uitgeklim het.

Uit die aard van die korporatiewe kultuur van die maatskappy praat hy Engels soos ʼn Engelsman en ons praat sommer Engels met mekaar ook.

Die mynhuis se span het Akademia besoek. Die Akademia-model het hulle beïndruk. Met vraetyd is Martin se hand op: “Sal studente nie beter toegerus wees vir die korporatiewe wêreld indien Akademia in Engels klasgee nie?” vra Martin in perfekte Engels en met ʼn bykans Britse aksent.

“Die antwoord lê in jou,” antwoord ek Martin. “Nee, ek wil die antwoord by jou hê,” antwoord Martin met ʼn vraagteken op die voorkop.

“Die antwoord lê in jou. Jy het in Afrikaans studeer. Omdat jy in Afrikaans kon studeer, kon jy meer abstrakte konsepte beter onder die knie kry. Statistiek was reeds Grieks en ons kon dit baasraak omdat ons dit in Afrikaans kon studeer. Daarbenewens het die kultuur rondom Afrikaans jou gevorm om die korporatiewe leer beter te klim. Wanneer ek na jou luister, kan ek hoor dat die oorgang na Engels glad verloop het. By Akademia wil ons nog Martins oplei – uitnemend in Afrikaans, toegerus met  kennis en waardes en idees om suksesvol te wees en ʼn bydrae in die wêreld daarbuite te lewer.”

Daar lê ʼn stuk naïwiteit in Martin se vraag. Universiteitsopleiding word gereduseer tot taal, maar die vorming van ʼn universiteitstudent is in veel meer as taal gesetel.

Die huidige taaldebat by universiteite is geen taaldebat nie, maar ʼn debat oor idees. Afrikaans is ʼn struikelblok tot ʼn groter transformasieproses naamlik die dekolonialisering van universiteite. Engels as onderrigtaal is bloot ʼn voorwaarde vir die volgende vlak van verandering, naamlik transformasie of rasseverteenwoordigendheid, wat weer op sy beurt ʼn voorwaarde vir die dekolonialisering van universiteite is.

Die debat anderkant die taaldebat word gevoer omdat daar baie goed besef word dat die student nie deur taal gevorm word nie, maar deur die volle akademiese en nie-akademiese kurrikulum.

Shose Kessi, senior lektor in Sosiale Sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad, skryf: “Universiteite is sleutelinstellings in die gemeenskap. Die verwydering van standbeelde is nie genoeg nie; universiteite moet gedekolonialiseer word.

In plaas van transformasie moet daar eerder gepraat word van die dekolonialisering of Afrikanisering van universiteite. In Afrika word baie universiteite gebou, maar geeneen daarvan is Afrika-universiteite nie,” sê Kessi.

Kessi redeneer verder dat gekyk moet word na die rol wat universiteite in die dekolonialisering van die gemeenskap speel. Studente speel ʼn sleutelrol om verandering in die gemeenskap teweeg te bring. Studente moet dus self gedekolonialiseer word.

Die dekolonialiseringskool van denke argumenteer verder dat universiteite in Westerse waardes en denke gewortel is en daarom geafrikaniseer moet word.

Die dilemma waarmee die dekolonialiseringskool sit, is dat daar nie ʼn pre-gekolonialiseerde antwoord vir universiteite is nie. Hulle weet dus wat hulle wil afbreek, maar het geen alternatief wat hulle kan bou nie.

Die noodwendige gevolg is anargisme. Die veranderingspad van Suid-Afrikaanse universiteite kan niks anders wees as ʼn hobbelrige pad van anargisme, op pad na iets wat niemand nog weet wat dit is nie.

Daar is skaars besluit om die pad van Engels te stap of die universiteite van Pretoria en die Vrystaat hou seminare oor dekolonialisering. Die verandering is dus nie Engels nie, maar ʼn totale waardeverandering, net soos die verwydering van Rhodes by die Universiteit van Kaapstad nie die einde van die verandering was nie, maar die begin.

Besluite oor Engels is nêrens geneem om studente van die nodige taalvaardighede te voorsien om aan die wêreld daarbuite deel te neem nie. Engels bly bloot die voorwaarde om ʼn pad na dekolonialisering te stap en om die nuwe waardes aan studente oor te dra sodat hulle, soos Kessi meen, veranderingsagente in die gemeenskap kan wees.

ʼn Student se besluit om by ʼn spesifieke universiteit te gaan studeer kan dus nooit wees bloot oor die taal waarin onderrig plaasvind nie; dit moet ook gaan oor die waardes en idees wat die akademiese en nie-akademiese kurrikulum omvou.

Afrikaans is ʼn struikelblok vir dekolonialisering, nie bloot oor die taal nie, maar ook oor die waardes en idees rondom Afrikaans. Ongeag of dit uitgesproke is of nie, waardes rondom Afrikaanse akademie omvat histories ʼn sterk Christelike waardestelsel met sy wortels in die Westerse tradisie.

Die gewraakte Wessels-verslag het nie Afrikaans by die Noordwes Universiteit skuldig bevind nie, maar die waardes en kultuur wat daarmee saamgaan en het bevind dit moet met wortel en tak uitgeroei word.

Universiteite is nie waarde-neutraal nie. In Suid-Afrika gaan openbare universiteite ook nie bloot mooi liberale Engelse universiteite wees nie. Ironies genoeg is Engels bloot pragmaties gekies om die voertuig te wees om te dekolonialiseer en om te Afrikaniseer, want Afrika-tale het nog nie universiteite ontwikkel nie.

Daar is tientalle voorbeelde van mense wat wêreldklas prestasies bereik het en in Afrikaans studeer het, waarskynlik in meeste gevalle ómdat hulle in Afrikaans studeer het:

Anton Rupert en Christo Wiese, voorste Suid-Afrikaanse sakelui; Koos Bekker met sy wêreldsukses; Johan van Zyl, die eerste nie-Japanner in Toyota se direksie; Marius Klopper, voormalige hoof uitvoerende beampte van BHP Billiton; Nicky Newton-King, die eerste vroulike grootbaas van die JSE; Santie Botha in die sakewêreld.

Dan is daar wêreldbekende wetenskaplikes wat in Afrikaans studeer het:

Etienne Rossouw (chemie), dr. Francois Durand (paleontologie), dr. Jan Bonsma (landbou), Johannes Stegmann (chemie), Johannes van der Merwe (fisika), Louis Barendse (sterrekunde), dr. Louw Alberts (kernwetenskap), dr. Wally Grant (fisika/kernwetenskap), dr. Nic von Wielligh (kernfisika) en dr. Japie van Zyl, ruimtetegnoloog en hoof van die navorsingseenheid by NASA.

Die akademiese voordeel van moedertaalonderrig, vermenigvuldig met die waardes en idees wat die universiteit aan hom oorgedra het, was verantwoordelik vir Martin en die meeste van bogenoemde mense se suksesverhaal in die korporatiewe of akademiese wêreld. Dit is daardie suksesverhaal wat Akademia na ’n volgende vlak wil neem – studente wat suksesvol is in hul werk, maar ook in hul gemeenskap.

Om te sê dat studente in Engels moet studeer om beter in die wêreld te presteer, is ’n lui en naïewe argument.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

25 Kommentare

Wikus ·

As iemand met n meestersgraad in elektroniese ingenieurswese kan ek getuig dat jy dit vir jouself moeilik maak indien jy n tegniese beroep in Afrikaans studeer en dan probeer aanpas in n oorwegend Engelse werksomgewing. Hoekom nie eerder fokus daarop om n sterk taalvaardigheid in Engels te vestig VOORDAT studies aan n universiteit begin word nie?

Ron ·

As iemand met ‘n meestersgraad in medies, kan ek getuig dat die jy dit vir jouself baie makliker maak indien jy enige beroep in Afikaans studeer en dat die oorgang na Engels soomloos gebeur met minimale aanpassing na ‘n engelse werksomgewing. Ek stem saam met Dirk en menige pedagogiese studies dat dit baie beter is om eers ‘n vak in jou moedertaal onder die knie te kry. Die oorgang na engels gebeur dan sommer van self!

Kaufman ·

Ek het by verskeie Afrikaanse universiteite en oorsese universiteite geleer en stem ten volle saam met wat Ron en Herman sê! Ek het al internasionaal saam mense gewerk met allerande aksente, en dit maak nie die minste saak nie, al wat saak maak is of die persoon die beroep kan doen ongeag aksent. Terloops, n britse aksent word op neergesien in die kringe waarin ek beweeg. Leer eerder mense veeltaligheid aan, want glo my, Engels is nie die enigste groot taal nie en tale soos Spaans en Manderyns raak belangriker in baie werelddele.

Leendert van Oostrum ·

Beste Wikus,

Geld jou argument ook vir mense wat in Japanees, Russies, Italiaans, Hebreeus, Duits, Spaans en so aan opgelei
is?

Leendert van Oostrum ·

Terselfdertyd moet ons kennis neem dat die Grondwetlike Hof die Afrikaanse taal-en kultuurerfenis verfoeilik vind en dit duidelik gemaak het dat hy nie die regte van Afrikaners in beskerming neem nie.

Sarie ·

Die beste wetenskaplikes is miskien die Duitsers en Japannese juis omdat hulle in hul moedertaal studeer het. Engels kom ook makliker as jy vaardig is in jou eerste taal. Ongelukkig val jou wyse woorde op die dowe ore van die transformasie perde. Soos Wannie Carstens gesê het die nasionale taal is nou swak Engels.

Kobus ·

Ek het in my moedertaal kleintyd, laerskool se dae, met spelling gesukkel, baie, tot laat in die nag het ma my laat skryf. Ek sukkel ook met sinkonstruksie as ek skryf.

Ek moes later jare in my werk seker 80% in engels kommunikeer. As dit nie vir my moedertaal was nie, was ek nêrens. Ek was in die werk een van die top presteerders.

Vandag skryf ek boeke, maar soos meeste mense wat dit doen met ‘n speltoetser en natuurlik die HAT aan my sy, kyk ook sommer op die internet hoe die woord moet lyk.

Kobus ·

Kom ek sê by, spelling en sinkonstruksie was nie my sterk punte nie, maar ek het ander tatente gekry, baie, en as dit nie vir my moedertaal was nie, was ek nie waar ek vandag is om daardie talente uit te leef nie.

Koos ·

Ek stem saam met mnr Hermann more is dit Engels wat gepraat word oor ‘n paar jaar as ek kyk hoe die Chinese die land binnekom is die taal van onderrig Chinees en waar los dit die Afrikaanssprekende student.Ek se ons moet almal help met die opbou van skole,universiteite,hospitale ens waar ons in vryheid kan funksioneer op die hoë gehalte waaraan die ouer garde gewoond was aan sonder inmenging of eensydige onregverdige wette en behandeling net oor die ANC in bewind is en die Afrikaanssprekende ten alle koste moet boet vir die verlede.

Veritas ·

Ek het dit al vantevore gesê en ek sê dit weer. Die aanvalle teen Afrikaans is niks anders as jaloesie nie. Jaloesie gebore uit die sukses van die Afrikaner. Die Kakies kon dit nie verwerk nie en het probeer om die taal op skool te vernietig. Vandag is dit ‘n ander groep wat hulself benadeel deur daarop aan te dring om in ‘n ander vreemde taal onderrig te word. Sowat van onnosel bestaan seker net in Afrika. In Europese lande is moedertaalonderrig aan die orde van die dag en tog is van die wêreld se bestes, in feitlik alle sektore, in hierdie universiteite opgelei. Nee-wat, die argument dat Afrikaanse universiteite, studente te na kom in die internasionale arena, is onsin.

Kaufman ·

Goeie punt. Kyk ook na top Israeli universiteite, waag dit om voor te stel om Hebreeus af te skeep oom Engels in te bring.

Jan ·

Veritas, jy slaan die spyker op sy kop. Pure jaloesie en teleurstellings omdat niemand, maar niemand ons kon buig of knak nie. Ons gaan die mense wat ons wegwens nog baie lank iriteer en frustreer met ons prestasies en inherente trots.

Jan Jooste ·

Ek stem saam met Dirk Hermann dat die deurbrake vereis vakkennis saam met ‘n waardestelsel. Verder gaan diep deurbrake eerder kom uit konseptuele denke wat moontlik in jou moedertaal vasgelë is (in die brein). Voorspoed met Akademia. Ek bid vir sukses.

Kaufman ·

Veeltaligheid is baie goed vir breinontwikkeling, kreativiteit en gedagtegang wat uiteindelik belangrik is vir meeste beroepe, veral in die moderne ekonomie. Heelwat navorsing al hieroor gedoen, veral in Amerika wat nou almeer veeltalig word.

Basson ·

Ek is ‘n rekenaarspesialis en het (ook nagraads) in Afrikaans studeer (PUK). Die Afrikaanse studies was GEEN meulsteun tov van my kennis en (tegniese) vaardigheid (soos Wikus impliseer?) maar was ‘n fantastiese fondament vir my daaglikse handel en wandel, ook vir internasionale kommunikasie.

Dankie Dirk – uitstekend!

Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi ·

Die visekanselier van die NWU, prof. Dan Kgwadi, sê meermale as ons oor taalbeleid gesels: Maar waar moet Afrikaanse leerlinge dan heengaan as daar nie Afrikaanse universiteite of kampusse is nie? Vandaar sy (en die NWU) se ondubbelsinnige ondersteuning van Afrikaans op die Potchefstroomse kampus van die universiteit. En vanaf hierdie (Afrikaanse) basis presteer die knapste van hierdie studente inderdaad wêreldwyd.

Kaufman ·

Ek het die wêreld sê respek vir die Puk en hul oud studente. Die kaders moet besef dat baie van die belastinggeld wat hulle bling finansier afkomstig is van oud studente wat in Afrikaans studeer het. Wat aanpassing in die werksplek in SA en in globale onderhandelinge aan betref kan ek getuig dat oud pukke top presteer.

Fanie ·

Beste Johannes Froneman, ek’s baie bly die NWU se taalbeleid het nog nie verander. Maar hoe lank gaan dit hou? Prof Kgwadi het reeds uitsprake teen die tolkstelsel gemaak, en dryf die rassetransformasie met mening. Die universiteit se reeds aanvaarde rasseplan is dat die Afrikaanse studente binne ‘n paar jaar in die minderheid gaan wees. Ek aanvaar Prof Kgwadi se hoofdoel is nie nou Afrikaans nie, maar Afrikaanse studente.

Kaufman ·

Dit sal nie wys wees van die puk nie want dan word oudstudent ondersteuning geherkanaliseer na Akademia.

Sarie ·

Kgwadi het seker die Afrikaanse studente se geld nodig om sy transformasie aksie te dryf.

Therese van Schalkwyk ·

Welgedaan!

Hierdie puik artikel deur Dirk Hermann is een van die beste motiverings ten gunste van moedertaalonderrig wat ek nóg gelees het.

Die akademiese voordeel van moedertaalonderrig word slegs deur twee groepe ontken: imbesiele en mense wat rééds onwetend daardeur bevoordeel is, maar dit nie vir die volgende geslagte gun nie.

Onder laasgenoemde word talle ruggraatlose Afrikaanssprekende akademici, politici en sakelui aangetref wat bereid is om ‘n ten volle ontwikkelde akademiese taal op te offer vir middelmatigheid.

Besluit gerus self in watter groep jy jou bevind.

Ken ·

n Baie groot persentasie van die uitvinders en ingenieurs wat dit moontlik gemaak het om hierdie artikel op jou rekenaar, tablet of foon te lees, is mense wat opgevoed was in hul nie-Engelse moedertaal.

Johann ·

Dis interessant dat daar gepraat word van dekolonialisering. Die vraag is deur wie? Hoeveel groepe in Suid-Afrika kan daarop aanspraak maak dat hulle vir sê 500 jaar in ‘n bepaalde gebied gebly het en dat dit hulle “nie-kolonianaliste” maak?
Voorts sal dit baie interessant wees om ‘n sinvolle bloudruk vir afrikanisering te sien en hoe die omskakeling van Afrikaans na Engels dit ‘n gesonde onderbou sal gee. Dan kan ons ook vra wat afrikanisering vir die mediese beroep, die suiwer wetenskappe, ingenieurswese, die regstelsel, teologie en filosofie sal beteken. Al die genoemde rigtings het, soos genoem is, vele internasionaal gerekendes opgelewer. Hoe lank sal dit neem om soortgelyke prestasies deur die ge-afrikaniseerde akademie op te lewer. Of is die doel eintlik om net beter as ander ge-afrikaniseerde instellings in Afrika te wees?

Consultus ·

Ek het op die Afrikaanse platteland grootgeword en in die vroeë 90s grade aan die PU vir CHO en UOVS verwerf. Op skool het ek loodgeswaai tydens Engels- lesperiodes. Deurgaans het ek Engels gepraat nét indien dit noodsaaklik was selfverdediging. In die middel 90’s het ek as advokaat begin praktiseer by die Johannesburg Balie, waar álles in Engels plaasvind. Omdat ek nie baie slim is nie, het die noodgedwonge oorgang na Engels as beroepstaal seepglad verloop, en is Engelspraat in die hof vir my tweede natuur.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.