Vadersdag, ’n viering van ’n gesonde en gebalanseerde manlikheid

Deur Daniël Goosen

(Foto: Unsplash)

Dit is moeilik om vandag ’n voorspraak te maak vir gesonde manlikheid. Om die waarheid te sê, dit is moeilik om vir enige vorm van manlikheid voorspraak te maak. Die ideologiese klimaat is van so ’n aard dat daar wêreldwyd ’n vyandige houding teenoor die man, en veral die wit man, heers. Mans word van meet af gekriminaliseer, uitgesonder en gegroepeer onder die etiket van patriargale onderdrukker. Te midde van hierdie uiters onstuimige ideologiese storm, is dit juis die tyd om ons vaders te vier en bietjie verder na te dink oor die aard van manlikheid.

Ons kan begin deur vlugtig te verwys na die wyse waarop mans in die wêreld van vandag gesien word. Een van die denkers wat daadwerklik aanleiding gegee het tot die konseptualisering van mans, is die Franse filosoof, Michele Foucault. Foucault, wat van meet af met ’n antagonistiese mensbeeld te werk gaan, meen dat alle mense ten diepste mag najaag. Dus, onderdruk en ver-“ander” ons mense wat in ons pad staan om mag te bekom. Ons doen hierdie deur norme op die samelewing neer te lê, nie omdat ons dink die norme is objektief waar nie, maar omdat dit ons magsposisie versterk.

Die prominente figuur, volgens Foucault, wat deur die geskiedenis heen norme en reëls op ander neergelê het om sy mag te behou, is juis die man. Veral die Westerse wit man. Dit is hierdie figuur wat vroue, mense met ander seksuele oriëntasies, mense van ’n ander ras en etnisiteit deurgaans onderdruk het om sy eie mag te bewaar. Die ordes, instellings en strukture wat die man oprig, is nie ten diepste daar om die goeie na te jaag nie, maar eerder strukture wat onderdrukking bewerkstellig.

Volgens Foucault moet hierdie strukture, ordes en sosiale norme ten alle koste beveg word, sodat diegene wat nie mag het nie, ook mag kan bekom. Alhoewel dié Fransman al ’n geruime tyd oorlede is, kan ons sien dat sy idees vandag prakties toegepas word. Universiteite, kerke, skole, regerings en dies meer buig agteroor om ontslae te raak van hul sogenaamde patriargale onderbou. Deurlopend word die man gekritiseer as die groot sondaar wat deur die loop van die ganse geskiedenis niks anders gedoen het as om ander mense van hul mag, en dus hul plekkie in die son, te beroof nie.

Die vraag is dus, is hierdie analise waar? Klop dit met ons ervaring of hoe die struktuur van manlikheid werklik is? Die antwoord is natuurlik kategories nee. Is daar egter vorme van manlikheid wat problematies is en nie in ’n gesonde gees met die werklikheid omgaan nie? Natuurlik, niemand betwyfel dit vir ’n oomblik nie. Is hierdie die enigste manier waarop manlikheid met die wêreld omgaan? Beslis nie.

Om egter by die kern van die saak uit te kom, moet ons verder in die geskiedenis teruggaan. Gedurende en ná die Verligting, het daar filosofies ’n sterk skeiding tussen die subjek, die “ek”, en die objek, die “ander” of die “werklikheid” ingetree.

Volgens filosowe soos Immanuel Kant en Rene Descartes, was dit die reg van die subjek om te bepaal wat die Goeie Lewe is. Die objektiewe wêreld, dus alles buite die subjek, was gesien as bloot brute materie wat die subjek volgens eie wil kon rangskik, vernietig of beheer. Ingevolge hierdie skema, kan ons sê, het die Verligting en dus die hele moderne projek, met ’n meganistiese opvatting van ons bestaan gewerk. Dit is die self, die “ek”, wat my eie werklikheid kan bepaal en orden na my wense.

Hieruit vloei natuurlik ’n vorm van manlikheid wat nie te gewens is nie: ’n Brute sterk man wat sy wil op ander neerdruk en wat deur sy vryheid van keuse doen nes hy lus het. Hierdie opvatting van die mens, en dus ook die man, het verskeie praktiese gevolge gehad wat ons vandag nog voel en ervaar. Die Verligting se idees dat die subjek met sy werklikheid kan omgaan soos hy wil, kan mens argumenteer, lei na iets soos die wêreldwye omgewingsprobleem.

Die subjek gebruik die brute materie rondom hom, sonder om te dink wat die gevolge gaan wees. Dit is immers brute materie wat op my, die subjek, geen aanspraak maak nie. Daarom kan ons woude vernietig vir ons eie vuurtjies. Die see leegmaak sodat nie ’n vis oorbly nie. Myn totdat sinkgate die landskap vernietig. Die lys gaan aan, juis omdat daar op ’n meganistiese wyse met die werklikheid omgegaan word.

Teenoor hierdie moderne idee van die mens en werklikheid-verhouding, kan ons ’n antwoord nog ’n stappie terug in die geskiedenis vind.

Die groot filosofiese tradisie, wat vanaf die Grieke tot en met die Hoë Middeleeue strek, het nooit ’n sterk lyn tussen die subjek en die objek getrek nie. Volgens hierdie tradisie, is die een by die grasie van die ander een. Vanaf Sokrates is die verhouding tussen die mens en sy werklikheid gesien as ’n wederkerige en simbiotiese een. Nes die subjek sy omgewing vorm, so vorm sy omgewing die subjek. Dus moet daar ’n gemeenskaplike respek en liefde tussen die twee wees, en ’n deelname van die een aan die ander.

Hierdie filosofiese tradisie het altyd heengewys na die goeie doel en uitpunt van elke handeling en “ding”. Dus nie die antagonistiese wêreldbeeld van Foucault nie, maar een waarin daar ’n gemeenskaplike sin vir ’n gedeelde doel is. Van ’n klip tot die mens het, volgens Aristoteles, die Goeie nagejaag. Hierdie filosofiese tradisie is egter deur die Christendom aangeneem en, ons kan dit maklik sê, vervolmaak. Waar die Grieke gesit en gedink het oor wat die Goeie nou werklik is, het die Goeie Homself aan die Christendom openbaar. Wat volg, is merkwaardig…

Die ideale mens, en dus ook man, moes soos Christus wees, ingevolge die Christelike tradisie. Christus se lewe staan in die teken van volkome diensbaarheid. Hy was die individu wat die mure van sy eie subjektiewe self oopgebreek het, sodat hy volkome in diens kon staan van ander. Dit het egter nie sy eie wese, of eie self, skade aangedoen nie, maar eerder dit vermenigvuldig. Ons kan dus sê, jou menswees neem toe in die mate wat jy dit vrylik weggee. Soos die brandende bos in Eksodus, wat nie deur die vlam verteer word nie, maar eerder deur die vuur verheerlik word, so werk die mensbeeld wat ons by Christus ontvang. Deur die Goeie self na te jaag, dus deur buite die mure van jou eie subjektiewe wêreld te breek, word jy meer jouself.

Ons sien in die Middeleeue hoe hierdie mensbeeld op manlikheid toegepas word. Die ideale man was die goeie koning of die edele ridder. Die een wat oor verskriklike mag beskik het, maar dit nie brutaal op ander of die wêreld neergedruk het nie. Eerder, die een wat met swaard in die skede in diens van die laagste op die samelewing se hiërargie gestaan het.

Ons verstaan in vandag se tyd nie hoekom konings deur ’n priester of biskop gekroon moes word nie. Ons verstaan nog minder hoekom die Middeleeuse konings altyd daarop aangedring het dat hulle deur God self aangewys is om konings te wees nie. Ons verval dikwels in Foucault se denkskema dat dit bloot ’n manier vir hulle was om hul mag uit te oefen en ander te onderdruk.

Dit is egter ’n verkeerde lens waarmee ons hierdie figure benader. Konings word gekroon deur die kerk en word aangewys as koning deur God self, nie om hul mag te vestig nie, maar eerder as ’n belofte dat hulle sal regeer soos wat Christus regeer. Altyd in diens van die ander – iets wat hom nie van sy manlikheid of sy mag ontneem nie, maar dit juis versterk.

Terug na eie konteks, kan ons egter net die laaste opmerkings maak. Manlikheid word gekritiseer juis oor die wyse waarop die moderne man, die man van die Verligting, met die wêreld omgegaan het. Die man wat sy wil en mag op ander neerdruk. Dit is tyd dat ons weer terugkeer na die ridderlike opvatting van manlikheid, die magtige man wat in diens van sy familie en gemeenskap staan.

Op Vadersdag vier ons juis hierdie mans in ons lewens, hetsy dit nou ons pa’s of oupas is. Die mans wat altyd in diens van hul families gestaan het. Die pa’s wat deurlopend opofferings vir hul gesinne en gemeenskappe gemaak het. Pa’s wat met wysheid en sorg kinders grootgemaak het, wat op hul beurt weer kinders gaan grootmaak met dieselfde wysheid en sorg. Die pa’s in ons lewens wat ferm en sterk was, maar wat nie oordonderend hul “mag” op ons neergedruk het nie.

Pa’s, die ridders in ons lewens, waarsonder ons nie sou wees waar ons tans is nie.

  • Daniël Goosen beskik oor ’n BA-honneursgraad in visuele kultuurstudies en doen vanjaar ’n internskap by die FAK.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.