Veeltalige diens en selfhelpplanne teen Covid-19

Deur Alana Bailey, Barend Uys en Johan Nortjé

(Foto: Itumeleng English/ANA)

Vanjaar op Internasionale Moedertaaldag, 21 Februarie, het AfriForum die bevindings van ’n peiling bekendgemaak wat dié instansie se navorsingsinstituut onder lede gedoen het.

Die doel van die peiling was om vas te stel watter taalbehoeftes bestaan wanneer mense gesondheidsorgpraktisyns raadpleeg. Van die 1 024 deelnemers aan die peiling verkies 83% om diens in hul moedertaal te kry. ’n Kommerwekkende 19,5% het aangedui dat hulle al beleef het dat misverstande ontstaan omdat hulle nie in hul moedertaal met gesondheidsorgpraktisyns kon kommunikeer nie. Dit het ingesluit dat hulle nie simptome behoorlik kon verduidelik nie, dat hulle nie die newe-effekte van medikasie verstaan het nie, asook dat hulle nie die diagnose of behandelingsprosedure behoorlik kon begryp nie. Van dié groep het 13% lewensgevaarlike gevolge beleef, 13% het maande lank geneem om te herstel en 8% het lewenslange nadelige gevolge oorgehou.

Die bevindings van hierdie peiling stem ooreen met die ervarings van mense wat wêreldwyd by soortgelyke studies betrek is. ’n Artikel wat in 2017 op GHDonline gepubliseer is beklemtoon dat mense met beperkte Engelse taalvaardighede wat mediese behandeling deur middel van Engels in die VSA ontvang, dikwels onnodige toetse ondergaan. Daar is ’n abnormaal hoë voorkoms van verkeerde diagnoses en herhaaldelike hospitaalopnames onder hulle. ’n Ander studie wat in 2014 in die Canadian Respiratory Journal verskyn het, het bevind dat swak kommunikasie pasiënte se angs- en pynvlakke, en gevolglik ook hul geneesproses direk benadeel.

Goeie kommunikasie oor gesondheidsorg in die taal van die gehoor is dus beide ’n behoefte en ’n noodsaaklikheid.

Tans veroorsaak die Covid-19-pandemie wêreldwyd groot angs en spanning. Ongekende ingrypende maatreëls word getref om lewens te probeer red. Ten einde die ingewikkelde aard van die pandemie te verstaan en in te koop in die stappe daarteen, is die voorsiening van inligting in die moedertaal van soveel gemeenskappe as moontlik van die grootste belang. Dit is interessant om te vergelyk hoe Engelssprekende lande hierdie uitdaging hanteer.

(Foto: Brian Inganga/AP)

In die VSA verskil die aanslag van stad tot stad en staat tot staat. Soms is daar groot begrip vir die behoefte. Een van die beste voorbeelde is die stad Boston in die VSA, waar 37% van die inwoners se huistaal nie Engels is nie. Let wel, ons praat van ’n minderheid van die inwoners en van hul huistaal, nie of hulle hoegenaamd Engelssprekend is nie. Inligting oor die pandemie word daar in elf tale, naamlik Somalies, Chinees, Arabies, Viëtnamees, Russies, Engels, Spaans, Haïtiaanse Kreools, Frans, Kaap Verdiese Kreools en Portugees versprei. Dit geskied deur middel van teksboodskappe in al die tale, en pamflette in die meeste daarvan.

In die VK het die Nasionale Gesondheidsdiens, beter bekend as die NHS, ook met groot anderstalige gemeenskappe te make. Die oplossing wat daar gevolg word, is om ’n lys op die NHS se webtuiste te plaas van ander betroubare webtuistes wat inligting oor die pandemie in ander tale beskikbaar stel. Dit sluit ook inligting oor ander gesondheidstoestande soos kanker en diabetes in.

Die Gemeenskapsuitsaaiersvereniging van Australië berig dat gemeenskapsradiostasies ’n sleutelrol in die voorsiening van betroubare inligting aldaar speel deur veeltalige uitsendings wat deur die Australiese departement van gesondheid beskikbaar gemaak word.

Hulle verduidelik dat dit “ongelooflik belangrik” is om inligting toeganklik te maak vir gemeenskapslede wat ander tale as Engels praat. Hulle bied dus, onder meer, ’n verskeidenheid insetsels in die tale van Australiese Eerste Nasies aan, wat in vennootskap met die sprekers daarvan ontwikkel is. Tans is dit ook in veertien ander tale, insluitend Farsi, Hindi en Italiaans beskikbaar en die versekering word gegee dat meer tale deurentyd na behoefte bygevoeg sal word. Brosjures in vele tale oor tersaaklike onderwerpe soos die voorkoming van griep tydens die pandemie, kan ook van die Australiese departement van gesondheid se webtuiste afgelaai word. Hulpbronne is in 36 tale daar verkrygbaar.

Nieu-Seeland wy skynbaar minder aandag aan veeltaligheid. Volgens hul ministerie van gesondheid se webtuiste bied hulle plakkate met inligting oor die koronavirus in drie tale (Engels, te reo [Māori-taal] en vereenvoudigde Chinees) aan. Daarbenewens is inligting ook in gebaretaal beskikbaar – ’n belangrike inisiatief wat skynbaar elders minder dikwels voorkom.

Foto: ‘n Persoon word getoets vir Covid-19. (AP Photo/Brian Inganga)

Publikasies van die Kanadese regering maak, soos in die geval van Australië, voorsiening vir ’n baie groot groep tale. Daar is byvoorbeeld inligtingstukke wat verduidelik wat Covid-19 is en die belang van handewas uitspel in 25 tale; oor hoe jy jouself tuis moet afsonder in 21 tale; oor kwesbare gemeenskappe in 22 tale; en oor die voorkoming van Covid-19 in die werkplek in 30 tale.

In Suid-Afrika is die meeste van die inligting slegs in Engels beskikbaar, hoewel dit volgens die nasionale sensus van 2011 die moedertaal van minder as 10% van alle Suid-Afrikaners is. Om inligting in enige ander taal as Engels op die amptelike webtuiste, sacoronavirus.co.za, te vind, moet jy lank soek. Daar is geen prominente skakels na veeltalige inligting nie, hoewel daar byvoorbeeld inligting in die vorm van gereelde vrae in, onder meer, Sepedi en Zoeloe geplaas is, en die Whatsapp-hulplyn diens in Zoeloe, Xhosa, Sotho, Afrikaans en natuurlik Engels aanbied.

Die Suid-Afrikaanse maatskappy BreadCrumbs het ’n unieke aanslag, naamlik om inligtingsplakkate in twaalf tale beskikbaar te stel, maar dan ook met ’n spesifieke gedragslinguistieke aanslag om mense te herinner aan die belang van, en die gewoonte by hulle te vestig om hulle hande behoorlik te was. Die plakkate kan gratis van hul webblad afgelaai word. Hulle het dit met behulp van inligting van die Britse NHS opgestel, wat dui op die leemte vir ’n soortgelyke aanslag in Suid-Afrika.

Teen hierdie agtergrond het AfriForum besluit om eenvoudige patrone vir die maak van maskers en ’n maklike resep vir die vervaardiging van handreiniger gratis in verskeie inheemse tale beskikbaar te stel.

Die uitdaging van die behoefte van gemeenskappe met wyd uiteenlopende sosio-ekonomiese omstandighede, maak dit net nog meer relevant dat die instruksies nie duur prosesse of gespesialiseerde masjinerie insluit nie, maar deur enige mens tuis gemaak kan word, selfs waar geen lopende water of elektrisiteit beskikbaar is nie. Al wat vereis word, is dat die inligting afgelaai kan word en die vervaardigers oor basiese materiaal soos ’n katoen T-hemp, skêr, naald en gare moet beskik. Die instruksies word bondig aangebied, sodat die aflaai daarvan min data gebruik. Tans is dit in Afrikaans, Engels en Ndebele beskikbaar, maar eersdaags sal dit ook in die ander amptelike tale afgelaai kan word.

(Foto: Denis Balibouse/Keystone via AP)

AfriForum en Vulamehlo Kusile Organisation (VUKO) het saamgespan om die Ndebele-gemeenskap met hierdie inligting te bemagtig. Plaaslike tradisionele leierskapstrukture en ander gemeenskapsinstellings sal die instruksies versprei en die projek koördineer. Volgens Elias Mahlangu, adjunksekretaris van VUKO, beskou dié organisasie hierdie gesamentlike projek as ’n mylpaal in beskerming van almal in die land, ongeag taal, kultuur en ekonomiese status.

Ten slotte is ’n Twitter-boodskap van ’n tolk in die VSA moontlik die beste illustrasie van die belang van mediese dienslewering in moedertaal. Die tolk se dienste is ingeroep om bystand te lewer nadat ’n Nigeries-gebore pasiënt wat positief vir Covid-19 getoets het, in ’n hospitaal opgeneem is. Die hospitaalpersoneel kon nie bepaal of hy yl, of versteurd is nie. Toe die tolk hom in sy eie taal aanspreek, het hy dadelik van verligting in trane uitgebars. Hy het nie gehallusineer of enige ander probleem gehad as bloot dat hy nie die diensverskaffers kon verstaan nie. Die vrees en eensaamheid van ’n siek mens in hierdie omstandighede ruk ’n mens aan die hart.

Daar rus ’n verpligting op owerhede en gemeenskapsorganisasies wat hoegenaamd vir die welsyn van gemeenskappe en ’n effektiewe strategie teen Covid-19 omgee, om so gou as moontlik AfriForum en BreadCrumbs se voorbeeld te volg en inligting en selfhelpplanne in soveel tale as moontlik beskikbaar te maak.

  • Alana Bailey, Barend Uys en Johan Nortjé wek vir AfriForum.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.