Verbondenheid in vandag se wêreld

Die anatomieles van dr. Tulp deur die kunstenaar Rembrandt (Foto: Wikipedia)

Hoe is onderlinge verbondenheid vandag moontlik? Dit het een van die groot en selfs tergende vrae van ons globale era geword. In plaas daarvan dat onderlinge verhoudinge vandag deur hegte vorme van verbondenheid gekenmerk word, val dit eerder uiteen.

Hieronder word enkele gedagtes oor verbondenheid ter sprake gebring. Ons wil egter nie net, soos wat dikwels gedoen word, slegs na die verbondenheid (of die verlies aan verbondenheid) tussen mense verwys nie, maar ook na die verbondenheid tussen dinge in die skepping self. As verbondenheid vandag onder spanning staan, is dit omdat hierdie dieperliggende verbondenheid in die skepping ook bevraagteken word.

Binding en ontbinding

Vandag is twee uiteenlopende kragte in ʼn stryd om die siel van die mens gewikkel, naamlik die kragte van “ontbinding” en die kragte van “binding”. Die eerste krag word deur die idee van versplintering aangevuur. Volgens hierdie benadering lê die vryheid van die mens opgesluit in sy “vry-wees-van” tradisionele bindinge soos gesinne, kulture en selfs die skepping.

Die tweede krag word daarenteen deur die idee van verbondenheid aangevuur. Volgens hierdie krag lê die vryheid van die mens opgesluit in sy “deel-wees-van” dinge soos sy gesinne, kulture en ook die skepping.

Sosiaal gesproke kan die kragte van ontbinding onder meer raakgesien word in die feit dat onderlinge verhoudinge vandag nie noodwendig deur edele dinge soos vriendskap, lojaliteit, liefde en offervaardigheid gekenmerk word nie, maar eerder deur ʼn titaniese stryd om mag.

Ontbinding oraloor

ʼn Voorbeeld hiervan blyk uit die wyse waarop karakters dikwels in populêre films voorgestel word. In TV-reekse soos The Game of Thrones en Succession het die karakters net een doel voor oë, naamlik om hul eie mag ten koste van andere te vergroot. Hier is geen sprake van enigiets groter wat hulle aan mekaar bind en sorg dat hul onderlinge verhoudinge deur dinge soos vriendskap en selfopoffering gekenmerk word nie.

Prof. Danie Goosen (Foto: Verskaf/ Akademia)

ʼn Tweede sosiale voorbeeld van ontbinding is die wyse waarop daar reeds vir dekades ʼn intense stryd tussen die geslagte aangevuur word. Geslagte gluur mekaar dikwels met wantroue oor ʼn afgrond aan. Hulle oeroue verbintenis (die gesin is die oudste sosiale struktuur) dreig dikwels om te ontbind.

ʼn Derde sosiale voorbeeld van ontbinding is die wyse waarop vandag oor die verhoudinge tussen die generasies gedink word. In plaas daarvan dat die verskillende generasies deur ʼn dieper band aan mekaar verbind word, woed ʼn meer as normale stryd tussen hulle.

In ʼn onlangse artikel in The American Mind oor die sogenaamde Zoom-generasie (die Generasie Z) skryf die skrywer dat dié generasie waarskynlik die mees bederfde generasie van alle tye is. Nogtans word dit deur ʼn haat in die ouer generasies aangevuur. Maar ook deur ʼn haat vir die Weste wat vir hulle ʼn ongekende hoeveelheid voorregte gebied het.

Met ons vierde voorbeeld van ontbinding verwys ons na die skepping as sodanig (en nie net na sosiale verhoudinge nie). Terwyl die kragte van ontbinding die samehang in die skepping bevraagteken, lê die kragte van binding klem op die feit dat die skepping self ʼn sinvolle en samehangende geheel verteenwoordig.

Dissekteer en analiseer

Ter wille daarvan om dit te verduidelik, maak ons hieronder gebruik van ʼn enigsins vreemde voorbeeld, naamlik die beroemde skildery van Rembrandt, “Die anatomieles van dr. Tulp”, wat hy in 1632 geskilder het. In die hart van ons gesprek oor verbondenheid staan die sjirurgiese instrument wat die dokter in sy hande hou. Tulp is besig om ʼn lyk op ʼn analitiese wyse uiteen te haal en te dissekteer. Hoe hou dit met ons tema van verbondenheid verband? Hopelik sal dit gou duidelik word.

Die oorspronge van die hedendaagse kragte van ontbinding kan ver in die verlede teruggevoer word. Dit lê in ʼn (laat my beklemtoon) goeie ontwikkeling wat die moderne denke rondom die tyd van Rembrandt in die sewentiende eeu ondergaan het. Ons verwys na die ontdekking van die analitiese werkswyse in die wetenskappe.

Wat beteken dit? Vanaf dié tyd word die dinge in die skepping analities in hul verskillende dele uitmekaar gehaal en, soos wat die woord sê, geanaliseer. Rembrandt se skildery stel dit visueel voor met dr. Tulp wat ʼn liggaam oopmaak en op ʼn analitiese wyse dissekteer.

Dit spreek vanself dat die goeie doel van die analitiese werkswyse was (en steeds is) om die liggaam nie net in sy dele uiteen te haal en so beter te begryp nie, maar om dit uiteindelik ook te genees. Soos ons weet, het die analitiese werkswyse menige goeie dinge opgelewer. Die ‘wonder’ van die moderne mediese wetenskap en die genesing van ʼn ontelbare hoeveelheid mense is onder meer ʼn getuie daarvan.

Soos wat dikwels met goeie dinge gebeur, het ʼn eensydige klem op die analitiese benadering egter ook tot negatiewe dinge aanleiding gegee. Dit hou met die kragte van ontbinding verband waarmee ons vandag te doen het.

Skeiding van samehang

Vanweë die invloed van die analitiese rewolusie in die wetenskappe is dinge in die skepping wat vroeër saamgehang het, analities geskei en tot op die vlak van die atomêre en die sub-atomêre van mekaar gesplit. Histories gesproke het dit daartoe gelei dat (anders as met die oorspronklike bedoeling) die dele nie weer in ʼn geheel byeengebring is nie. Inteendeel, hulle is eerder as losstaande fragmente teenoor mekaar opgestel. So het ʼn sin vir die verbondenheid tussen dinge verlore gegaan. Ons noem enkele voorbeelde.

Teologies gesproke is God en wêreld (asook geloof en rede) reeds in die vroeë moderne era deur verskillende denkers op ʼn analitiese wyse uiteengehaal en teenoor mekaar opgestel. Die gevolg daarvan was dat geloof en rede mekaar voortaan sou uitsluit. Nou moes jy kies vir óf die geloof óf die rede.

Met betrekking tot ons opvatting van die mens is hy ook vanaf die moderne era op ʼn analitiese wyse in twee teenoorstaande kragte, naamlik liggaam en gees, uiteengehaal. Die gevolg daarvan was dat ons voortaan die liggaam as ʼn stuk siellose materie en die siel as ʼn liggaamlose krag ervaar het.

Met betrekking tot die bewussyn van die mens is die rasionele en die verbeelding uiteengehaal en teenoor mekaar opgestel. Voortaan is die rasionele tot ʼn verbeeldinglose rasionaliteit en die verbeelding tot ʼn irrasionele verbeelding ingekort.

En om ʼn laaste maar moeilike voorbeeld te noem: met betrekking tot ons opvatting van die skepping is dinge soos waarheid en skoonheid ook in die era van skeidinge van mekaar geïsoleer. Vroeër het skoonheid en waarheid na een en dieselfde saak verwys, naamlik dat die skepping self deur verstommende patrone, strukture en vorme gekenmerk word. Vroeër is die skoonheid van die skepping met die oog van die kunstenaar raakgesien; terwyl die waarheid van dieselfde skepping met die oog van die wetenskaplike raakgesien is.

Vanweë ingewikkelde redes wat ons nie hier hoef te noem nie, het die Westerse denke in die era van skeidinge weggedoen met die opvatting dat die skepping self deur strukture en vorme gekenmerk word. Dit het met dramatiese gevolge vir die noue samehang en verbondenheid tussen skoonheid en waarheid gepaard gegaan. Voortaan het skoonheid self niks meer oor die skepping en sy vorme te sê nie; skoonheid word slegs die uitdrukking van ons eie private emosies en gevoelens.

En voortaan sê die waarheid self ook niks meer oor die skepping en sy strukture nie. Waarheid word nou slegs ʼn sogenaamde “konstruk” wat ons op ʼn nou vormlose werklikheid afdruk.

ʼn Dokter se profetiese waarskuwing

Bogenoemde opmerkings bring ons ten slotte by Rembrandt en sy skildery. Soos geen ander vroeë moderne skilder waarvan ons weet nie vat Rembrandt met sy “Die anatomieles van dr. Tulp” die bekoring van die wetenskappe met die analitiese werkswyse treffend saam. Die snit wat Tulp aanbring, versinnebeeld die poging van die moderne wêreld om die skepping met sjirurgiese instrumente oop te kloof en die dinge uiteen te haal.

Rembrandt was deeglik bewus van die enorme voordele daaraan verbonde. Nogtans stuur hy met sy skildery ook ʼn soort profetiese waarskuwing aan toekomstige geslagte. Hy plaas die analitiese snit binne die konteks van veral een belangrike krag wat sorg dat nie alles versplinter nie, maar dat hulle in ʼn groter geheel byeen gehou word.

Watter krag? In die skildery wys die boonste figuur met sy regterhand en -wysvinger af na die wonder van die analitiese werkswyse. Dr. Tulp self wys egter met sy linkerhand in die teenoorgestelde rigting, naamlik boontoe. Wat gebeur hier?

As ons die punt kernagtig kan saamvat: Dr. Tulp wys met sy linkerhand na God. In die besonder wys hy nie net na die oorsprong van die ganse skepping nie, maar ook na God as die mag wat die skepping deur sy patrone, strukture en vorme in ʼn groter samehangende geheel bind. Waarteen Rembrandt profeties waarsku, is dat indien God as oorsprong en eenheid ten grondslag van alles ontken sou word, ons wêreld uiteen sal val.

Ons sluit af. Die hedendaagse kragte van verbondenheid staan vierkantig binne die tradisie van Rembrandt. Dit ontken nie die belangrikheid van die analitiese werkswyse nie. Nogtans bied dit ook ʼn alternatief op die versplintering van ons werklikheid. Dit kultiveer ʼn verbondenheid tussen die dinge. So bied dit hoop vir ʼn gefragmenteerde wêreld.

Hierdie is ʼn verkorte weergawe van ʼn lesing wat tydens die eerste personeelvergadering van die jaar by Akademia gehou is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.