Verdelingslyne in Europa word duideliker

europa-aardbol-vastelande

Foto: Markusspiske/Pixabay.com

Onlangse verkiesingsuitslae in Oostenryk en die Tsjeggiese Republiek versterk ’n beweging in Sentraal Europa wat daarop uit is om as teenvoeter vir die dominante rol van Wes-Europa in Europese politiek te dien.

Die afgelope twee jaar se voortslepende vlugtelingkrisis het ’n verdelingslyn tussen veral Wes-Europese en Sentraal-Europese lande sterk na vore gebring. Terwyl denke oor hoe die Europa van die toekoms moet lyk, dink en optree vir lank deur Wes-Europese leiers bepaal is, het lande in Sentraal- en Oos-Europa met hul harde reaksie op die vlugtelingkrisis ’n einde hieraan gebring.

Hongarye, Pole en die Tsjeggiese Republiek se weiering om die Europese Unie se kwotaverdeling van vlugtelinge te aanvaar, het ’n duidelike boodskap gestuur dat hierdie lande nie langer voorgeskryf sal word oor hoe hulle sake van nasionale belang moet hanteer nie. Tydens verkiesings in Pole in 2015, Slowakye in 2016, Oostenryk vroeër hierdie maand en die Tsjeggiese Republiek die afgelope naweek het kiesers keer op keer ’n sterk boodskap vir die beskerming van die nasionale belang gestuur. Regse en populistiese partye het in al vier lande groot opgang gemaak en regerings in hierdie lande het ’n sterk mandaat om die belang van hul eie landsburgers bo die aspirasies van Europese integrasie te plaas.

Terwyl Wes-Europese lande lank reeds sekulêre, post-moderne, liberaal-tegnokratiese integrasie binne Europa bevorder, kan dit nie van die hele Europa gesê word nie. Groot dele van Sentraal- en Oos-Europa het nie die kulturele revolusie van die laat 1960’s beleef nie. Hierdie lande is steeds sterk godsdienstig georiënteerd met ’n diepliggende besef van kultuur, identiteit en nasionale hegemonie.

Terwyl Oos-Europese lande weens ekonomiese agterstande hul monde vir die burokrate van Brussel moet hou uit vrees dat fondse vir allerhande projekte kan opdroog, sien ons sterk ekonomiese groei in die Sentraal-Europese lande van die Visegrád Groep. Hongarye, Pole, die Tsjeggiese Republiek en Slowakye is reeds sedert 1991 in die Visegrád Groep georganiseer ten einde groter streeksamewerking te bewerkstellig. Daar is deesdae ook toenemende steun in Oostenryk vir nouer samewerking en selfs aansluiting by die Visegrád Groep. Hierdie vyf lande is almal ekonomies sterk, met goeie lewensgehalte en inkomstevlakke wat meebring dat hulle nie soos sommige Oos-Europese lande voor die heersers in Brussel hoef te kruip nie.

Politici soos Angela Merkel en veral die leiers van die Europese Unie, insluitende Jean-Claude Juncker, Donald Tusk en Frans Timmermans, is vinnig om verkiesingsuitslae in Sentraal-Europa en die opkoms van populistiese partye as ’n bedreiging vir demokrasie te beskryf.

Die gerespekteerde liberale Amerikaanse akademikus en politieke raadgewer, William Galston, skryf verlede week in die Wall Street Journal dat hierdie bewerings totaal ongeldig is. Die opkoms van populistiese politiek in Europa word gedryf deur landsburgers se behoefte vir die beskerming van hul onderskeie lande se nasionale soewereiniteit. Beter beheer van grense en veral ’n afname in immigrasie uit Moslemlande is wat hul sukses dryf. Die byna aggressiewe wyse waarop burokrate in Brussel in sake van nasionale belang inmeng, vuur voorts hierdie partye se sukses. Galston wys heeltemal tereg daarop dat niks hiervan ’n bedreiging vir demokratiese instellings en norme inhou nie. Om die waarheid te sê, die meeste populistiese partye in Europa steun self sterk demokratiese beginsels.

Die verdelingslyne in Europa is goed omdat dit verskeidenheid erken. Bewerings dat dit Westerse demokrasie of selfs Europese samewerking bedreig, is onwaar.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Selfbeskikking ·

Nadat ons vir ons eie land onderhandel en gekry het, kan ons dalk deel word van hierdie Visegrad groep.

Merkur ·

Die verkiesingsuitslae in Sentraal-Europa is ´n genot en laat ´n mens hoop.

Merkel weier om toe te gee, alhoewel sy dit weet, dat die Koran en Sjaria met 100 % teen die grondwet van Duitsland bots. Dieselfde grondwet wat sy as heilig en universeel vir alle lewendes op aarde verkondig.

Vroër vannaand by die feesvieringe van 500 jaar Reformasie kon die President van Hongarye, János Áder, en Merkel se toesprake onderskeideliker nie wees nie. Terwyl János Áder die Christelik-kulturele identiteite van Duitsland, Hongarye en Europa beklemtoon, kon Merkel nie genoeg oor die reg op vryheid van godsdiens praat nie en het, wat niemand verras het nie, duidelik gemaak hoe beskamend sy baie van Luther se uitlatings vind.

Ironies of heeltemal skaamloos, het Merkel ´n aanduiding gemaak oor die onregverdige hoëlui van die Katholieke kerk teen wie Luther tot reg gerebelleer het, asof sy nie vandag hierdie rol van die destydse (en hedendaagse) eiegeregtige hoëlui van die kerk, met toewyding uitleef nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.