Verkiesing 2019 – wat het gebeur?

(Argieffoto)

Meeste politieke ontleders verbaas oor waar minderheidskiesers gestem het.

In vanjaar se verkiesing het die ANC drie keer meer stemme verloor as die DA. Tog vier die ANC fees asof hulle baie goed gevaar het.

Daarteenoor kondig die DA-leierskap met somber gesigte op TV aan dat hulle die volle verantwoordelikheid vir die DA se verliese dra.

Waarom die verskillende reaksies?

Die antwoord lê in die verskillende verwagtinge wat die ANC en die DA van die verkiesing gehad het.

Die ANC het die ergste verwag. Reeds in die 2016-plaaslike verkiesings het hulle verskeie metro’s verloor en minder as 50% stemme in Gauteng gekry. Tydens die verkiesingsveldtog het die Zondo-kommissie weekliks nog korrupsie van die Zuma-jare onthul. In ANC-kringe is aanvaar dat hulle weekliks, as gevolg hiervan, kiesersteun verloor.

Die ANC vier fees, want hulle is verlig dat die kiesers hulle nog ’n kans gegee het – al het hulle 1,4 miljoen stemme verloor en is met 57,5%-steun die laagste ANC-stempersentasie sedert 1994. As mevrou Zuma as nuwe ANC-leier verkies was, het hulle 41%-steun verwag.

Die DA daarenteen het groot groei verwag. Sedert 1999 het die DA nog met elke verkiesing gegroei. Op die oog af was alles in die DA se guns. Die ANC was teen die toue met faksiegevegte, staatskaping en miljarde se korrupsie. Aanvanklik is gespog dat Mmusi Maimane as nuwe DA-leier hulle van Zille se 22%-steun na 30% gaan neem. Drie provinsies (Wes-Kaap, Gauteng en Noordkaap) was ook binne hulle bereik, is voorspel.

Die DA leierskap vier nie fees nie en is somber want hulle het ’n half miljoen stemme verloor en vir die eerste keer sedert 1994 nie gegroei nie. Persentasiegewys het hulle van 22% na 20% gesak terwyl hulle net 27,5% in Gauteng en 25,5% in die Noord-Kaap gekry het.

Hoe het dit gebeur?

In 1999 vra Tony Leon die kiesers “to fight back” teen die ANC. Wit, bruin en Indië-kiesers het daarop gereageer en die DA die amptelike opposisie gemaak.

Tien jaar later in 2009 veg Helen Zille die verkiesing met die slagspreuk “Stop Zuma”. Sy vra veral minderheidsgroepe om hul stemme vir die DA te leen ten einde Zuma te stop. Beide Leon se “Fight back” en Zille se “Stop Zuma” stel nie DA beleid nie, maar vra ’n strategiese keuse van kiesers.

Minderhede en die meerderheid Afrikaanssprekendes reageer positief hierop en stem DA.

Meningsopnames wys dat die meerderheid Afrikaners nie DA-standpunte ten gunste van regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging of aborsie steun nie. Hierdie kiesers stem dus nie met die DA-beleid saam nie, maar het hul stemme om strategiese redes vir die DA geleen. Hulle glo die DA kan hul belange die beste beskerm.

Met Mmusi Maimane se verkiesing as DA-leier word gestel dat die DA se nuwe teiken is om in 2019, tien jaar na Zille se 2009-sukses, ook die swart meerderheid vir die DA oor te wen. By die mediakonferensie ná sy verkiesing word die vraag gevra of die klem op hierdie nuwe strategie nie die Afrikaanse wit en bruin minderhede wat die DA steun, sal vervreem nie.

“They are captured”. Hulle kan nêrens anders gaan nie, is die arrogante antwoord van een van die DA se Engelssprekende parlementslede.

In 2015 toi-toi DA-jeuglede by Tukkies saam met die EFF terwyl hulle “Afrikaans must fall” sing. Afrikaanssprekende DA-ondersteuners neem met kommer hiervan kennis.

Aan die begin van 2018 plaas Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, die Hoërskool Overvaal onder druk oor Afrikaans. Hy beskryf die skool as rassisties. Die saak word na die grondwethof geneem waar Lesufi verloor. Terwyl AfriForum en die VF Plus die skool ondersteun, hou die DA ’n lae profiel oor die saak. Aan die einde van die jaar gee die DA in hul evaluering van die ANC ’n 7 ½ uit 10-punt aan Lesufi. Dit is die hoogste DA-evaluering van enige ANC LUR.

Middel 2018 vind die SuperSport-botsing tussen Ashwin Willemse, Nick Mallet en Naas Botha plaas. Voor die werklike feite oor wat presies daar gebeur het, bekend is, reik Maimane namens die DA ’n verklaring uit waarin hy Willemse se kant kies oor die rassisme teen hom.

Toe twee swart advokate weke later bevind dat daar geen rassisme was nie, is daar nie ’n verskoning van die DA of Maimane nie. By veral Afrikaner DA-ondersteuners begin die alarms oor die DA afgaan.

Aan die begin van 2019, kort voor die verkiesing, vind die Schweizer-Reneke voorval plaas. Op grond van ’n klasfoto reik die DA-jeugleier, Luyolo Mphithi, ’n verklaring uit waarin hy die “rassisme” van die juffrou by die skool snedig veroordeel. Dit is terwyl feite oor die voorval nog onduidelik is. Hy nooi almal en die media om druk op die skool te plaas. Die DA plaas Mphithi se verklaring onmiddellik op hulle amptelike Twitter-blad met 500 000 wat dit volg. Toe dit duidelik word dat dit hier nie om rassisme gaan nie, kibbel die DA nie terug nie. Inteendeel, Maimane verdedig sy jeugleier se standpunte. Nou gaan die rooiligte oor dubbele standaarde by baie DA-minderheidskiesers voluit aan.

Patricia de Lille se goeie mediavaardighede buit talle foute in die Wes-Kaap tot haar voordeel uit. Die VF Plus voer ’n goeie veldtog voor en tydens die verkiesing waarin hulle hulself skaamteloos posisioneer as die party wat na minderhede se belange kyk.

Toe die DA se meningspeilings voor die verkiesing begin wys dat hulle die wit, bruin en Indiër-minderhede begin verloor, word Tony Leon ná 12 jaar afgestof en teruggebring om minderhede vir die DA te probeer terugwen.

Helen Zille word gevra om dieselfde in die Wes-Kaap te doen. Ná haar omstrede kolonialisme-tweet, het Maimane en die DA-leierskap haar met allerlei beperkinge polities stilgemaak. Nou is sy weer goed genoeg om haar ou sukses met minderhede te probeer herhaal. Dit was egter te laat.

Al bogenoemde maak dat DA-minderheidskiesers voor die 2019 verkiesing twyfel of dit nog ’n goeie strategiese opsie is om hul stemme vir die DA te leen. Die verkiesingsuitslag wys dat hulle besluit het dat hul minderheidsbelange beter beskerm sal word by De Lille se Good Party of by die VF Plus. Hierdie partye groei beduidend. Talle ander, veral baie bruin- en Indiër-kiesers, het net weggebly.

Daar is tans steeds meer Afrikaanssprekende kiesers by die DA as by die VF Plus of Good Party.

Die vraag vir die toekoms is of die DA daarin gaan slaag om hulle te behou en of daar ’n steeds groter uitvloei van minderheidskiesers na ander partye gaan wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Veritas ·

As julle nie geslaap het nie en Pieter Marais vroeër nadergetrek het, het julle nog baie kleurlingstemme getrek. Moet nou nie weer wag tot op nommer 99 en dan reageer nie. Kry Mosioua Lekota nou in die span en werk aan ‘n konserwatiewe, veelrassige party.

Judge Dredd ·

Stem saam.
VF+ moet konsentreer op minderheidsregte en ‘n tuiste vir alle minderhede(wit/bruin indier/Khoi-San) word.
Die Afrikaans(wit + bruin) sprekendes behoort ‘n meerderheid in so voting block uit te maak – en dus beter vir die behoud van Afrikaans veg.

Loeis ·

Die VF+ het Peter Marais al met ‘n vorige verkiesing genader, en hy het dit op daardie stadium van die hand gewys.

Die amptelike beleid diskrimineer teen wit en bruin, en Marais veg lank reeds vir bruin regte in die Wes-Kaap. Die handevat met VF+ is stap om teen daardie diskriminasie terug te slaan.

Dries du Toit ·

Weer n uitstekende feitelike artikel deur ons hoogs aangeskrewe oud leier dr. Pieter Mulder. Al die profetiese dinge wat hy al in die verlede uitgespreek het maak van hom een van die mees gerespekteerde politieke leiers in ons geskiedenis. Voorwaar n Afrikaner uit een stuk. Hy het nog altyd net feite. Dankie dr. Mulder

Niel ·

baie goeie skrywe… net jammer dis bietjie laat : en kon gehelp het as motivering om vriende te oortuig oor hoekom VF+ en nie DA nie. Sterkte vir die volgende paar jaar – mag die nuwe verkiesing nog meer stemme oorbring na VF+ ens – nie oor die groote van die party nie, maar oor waarvoor VF+ staan, en wat hulle alles vermag / en doen as getuigskrif.

Koos ·

Ek het hul my stem geleen en hulle het my regte en ras vertrap. Sal hulle nie weer vertrou nie. Terloops, volgens Sondag se koerant, sê die DA hulle jeugleier se plasing was nie verkeerd nie. Dit impliseer vir my dat hulle nog nie hul fout agter gekom het nie, en dat hulle eerder my ras sal vertrap as om die waarheid te erken. Ja wat, ek dink hulle jaag net stemme om poste te kry. Nou is die VF+ se beurt om aan my te bewys dat en nie ‘n fout gemaak het om vir hulle te stem nie. O ja, sowat 2 maande voor die verkiesing bel ‘n dame (ek het haar naam) my om my te probeer oortuig dat die DA NIE IN KOALISIE is met die EFF nie. Blykbaar verstaan ek verkeerd, hulle werk net saam! Nou ja, hulle is reeds weer besig om saam te werk. Ek verstaan beter as wat julle dink DA, en my kop is nie in die sand gedruk nie!

Jan Schoeman ·

Dit is vir my baie eenvoudig. Die DA het probeer kiesers lok uit die verkeerde geledere. Die kiesers wat hulle uit die ANC en EFF probeer lok is nie die kiesers wat ‘n goeie en veantwoordelike politieke party wil bekom nie. Hulle het nie die vermoe om tussen reg en verkeerd te onderskei nie. Dit gaan oor korttermyn gewin. Hulle het ongelukkig respek en steun van baie van ons kiesers verloor.

GP ·

Net my opinie: Ek sal eerder ANC stem voor ek ooit weer DA stem. Hulle het heeltemal teen die blankes gedraai net toe ons hulle begin ondersteun. In Gauteng het alles agteruit gegaan sedert hulle oorgeneem het by die ANC en van hul werklike veranderinge kom daar niks. EK stem VF+ al is dit ‘n klein party, maar ek hom bietjie groter.

Hendrik ·

Daar moet nou nog harder gewerk word om die mindersgroepe se regte te vestig en as dit moet deur die howe. Elke groep het die reg om na sy eie sake te kyk en nog steeds deel te wees van die ekonomie sonder die AA, BBBEE en kwota bande. Daar moet nou hard gewerk word om minderheidsgroepe ekonomies selfstandig te maak.

Pieter du plessis ·

Die minderhede wil net regverdig behandel word watter land in die wêreld het in 2019 wetgewing wat diskrimineer teen die minderhede gebaseer op velkleur na 25 jaar dink ek dit het tyd geword om dit aan te spreek en net een party kan dit doen VF+ ek sal nooit weer n stem mors op die DA nie en as ek kyk na die uitslag voel baie so.

Theoman ·

Goeie en insigewende leesstof van n ware leier Dr Pieter Mulder, net nog iets van die DA se gesleepe persoonlikheid, so 2/3 jaar gelede betoog die einste DA jeug by Kleinfontein n Afrikaner nederseting in die Ooste van Pta, word die inwooners beskuldig van rassisme en wat kwasuis terug hunker na apartheid. Die klomp DA’s word deur ons beskaafde mense ingenooi en word die betekenis van Kleinfontein verduidelik. Na hulle lekker gekuier het al die melktert en koeksusters op gevreet het is hulle stert tussen die bene daar weg, nooit weer van hulle gehoor nie. Dan soek hulle ons STEM nooit!!!

Dirk ·

Wat gebeur het is dat kiesers van minderheidsgroepe vir die VF aangedui het watter rigting hulle in belang stel. Die VF gaan dus daaraan gehoor moet gee en daadwerklik begin organiseer om op alle vlakke van die samelewing terug te slaan. Daar kan nou nie meer gepoer poer word nie. Die volk het gepraat, hulle wil hulself laat geld oor die volgende 5 jaar en die VF moet dit bewerkstellig!

Gert ·

Die groot oorwinning in hierdie verkiesing is dat Afrikaners uiteindelik besef het dat dit nie gaan oor die grootte van die party nie, maar eerder oor die beleid. Die beste politieke toekoms vir Suid-Afrika is beslis ‘n koalisieregering, waar die koalisielede mekaar in die bek kan ruk en magsmisbruik (bv korrupsie) voorkom kan word.
My gevoel is dat die VF+ nie ook die DA se pad moet stap deur ook ‘n party vir die meerderheid te word nie, dis ‘n doodloopstraat want dan word die meerderheid se belange altyd eerste gestel.
Wag in spanning om te sien wat gaan gebeur met die Pretoria-EFF-burgemeester-kwessie.

Pietman ·

DA gaan inplof vanweë sy draadsittery – gaan steun verloor in munisipale verkiesings – ook nie juis ‘n watwonderse opposisieparty in Parlement nie – EFF sit hulle ore aan en die kans is goed dat hulle steun gaan toeneem met hulle groter en meer dinamiese verteenwoordiging – DA het my stem verloor.

@Pietman ·

As mens iets vir almal probeer wees is jy naderhand niks vir niemand.

Soos die DA.

Lerato ·

Ek sal graag wil weet wat VF se beleid ten opsigte van regstellende aksie is.
Ek het op hulle webblad gesoek maar kon niks kry nie.
Help asb.

aj ·

Ek hou van die idee van ‘n veelrassige konserwatiewe koalisie!

Veg vir minderheidsregte!

Trek Cope, IFP en die UDM en selfs die tradisionele leiers in.

Wenresep!

Dan stem ek wéér FV+!

O ja … werf sommer die ystervrou, Helen Zille ook vir diè VF+!

(Lyk of Tannie Pat op pad is na die EFF?)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.