Verkiesing in Nigerië en die toekoms van Afrika se grootste ekonomie

Vlag van Nigerië. Argieffoto.

Deur prof. Theo Neethling

Politieke verwikkelinge in Nigerië word tans fyn dopgehou deur talle waarnemers in die internasionale gemeenskap. Die rede is natuurlik dat die proses om ʼn nuwe president, visepresident en Nasionale Vergadering by die stembus aan te wys, deur die Nigeriese Verkiesingskommissie van 16 Februarie tot 23 Februarie 2019 uitgestel is. Logistieke probleme om sake behoorlik te organiseer, is as rede aangevoer.

Die vraag is: Wat maak Nigerië van belang vir die internasionale gemeenskap? Die mees voor die hand liggende antwoord is dat Nigerië Afrika se grootste ekonomie is met Suid-Afrika in die tweede plek. Nigerië is ook die reus in Wes-Afrika en soos Suid-Afrika in die suide, speel Nigerië ʼn uiters belangrike rol in die politieke gang van sake in streekverband.

Nigerië is wyd bekend as Afrika se voorste olieprodusent. Daarby produseer Nigerië ruolie van ʼn hoë gehalte en tel die VSA en Europese state onder die bestemmings van sy olie-uitvoere. Nigerië is voorts Afrika se digsbevolkte staat met ʼn bevolking van tussen 180 en 190 miljoen inwoners – waarvan meer as 40% tussen 0 en 14 jaar oud is. Navorsers voer soms aan dat, indien enige Afrikastaat ʼn kans staan om ʼn globale rolspeler te word, Nigerië die eerste plek op die lys van moontlike Afrikastate moet inneem. Wat dit betref, het ʼn onlangse studie van PricewaterhouseCoopers daarop gedui dat Nigerië teen 2050 waarskynlik die 14de grootste ekonomie in die wêreld kan wees met Suid-Afrika in die 27ste plek. Dit kan saamhang met ʼn verwagte bevolkingsgroei wat die Nigeriese bevolking in 2040 op 320 miljoen te staan kan bring.

ʼn Belangrike faktor in die vooruitgang van die Nigeriese ekonomie is die groei van die Nigeriese privaat sektor nadat die regering sedert 1999 toegelaat het dat die privaat sektor besonderlik die ekonomiese hoofsetel, Lagos, in die mees produktiewe en dinamiese deel van die ekonomie omskep. Lagos maak tans meer as ʼn derde van die Nigeriese ekonomie uit en die stad is bekend as ʼn sentrum vir vervaardiging en die bankwese. Daar is ook ʼn lewendige mode- en rolprentindustrie in die stad. Wat skaal betref, is die ekonomie van Lagos veel groter as dié van Kenia, die mees dinamiese ekonomie in oos-Afrika.

Lagos is ook alles behalwe ʼn groot krotbuurt, soos ou persepsies dit soms wil hê. Die stad het in die afgelope dekades aansienlik verbeter in infrastruktuur, veiligheid, ekonomiese geleenthede en as ʼn beleggingsbestemming. Lagos is ook die woonplek van Aliko Dangote, wat in 2018 deur Forbes Magazine as die 100ste rykste persoon in die wêreld en die rykste in Afrika aangewys is.

Op diplomatieke gebied is Nigerië ook geen geringe rolspeler nie. Nigerië het nog altyd ʼn stewige diplomatieke rol gespeel in die Verenigde Nasies, die Afrika-unie en die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika. Nigeriese leiers het die welstand van Afrika nog altyd boaan sy diplomatieke agenda gehad en daarom beskou talle Afrikastate Nigerië as ʼn voorste leidinggewende diplomatieke entiteit op die kontinent.

Nigerië het egter ook ernstige uitdagings en daarom sal die optrede en leierskap van die nuwe president en regering van groot belang vir die toekoms van die land wees. Nigerië is nog altyd gekenmerk deur hoë vlakke van korrupsie wat weliswaar deur pres. Muhammadu Buhari baie ernstig opgeneem is sedert sy bewindsaanvaarding in 2015. Die ander groot probleem in Nigerië is veiligheidskwessies in veral die noordwestelike en suidelike dele van die land waar groot dele onstabiel en gevaarlik is. In die noordweste het die Islamitiese terreurgroep, Boko Haram, etlike duisende Nigeriese lewens in die afgelope dekade geneem of verwoes, en in die suidelike olieryke Nigerdeltastreek het militante groepe soos MEND (Movement for the Emansipation of the Niger Delta) dit vir internasionale beleggers en maatskappye nog altyd baie moeilik gemaak om olie-eksplorasie en verbandhoudende uitvoere te bestuur. Die Delta word dikwels gekenmerk deur gewapende aanvalle van ontevrede groepe wat voel dat hulle nie by die olie-eksplorasie baat nie en dit maak dat internasionale beleggers en maatskappye enorme bedrae aan veiligheidsmaatreëls moet spandeer.

ʼn Verbandhoudende probleem in Nigerië is die uitdagings met betrekking tot identiteitspolitiek. Enersyds is die noorde grootliks Moslem terwyl Christene grootliks die suide bewoon. Dit skep ʼn gedurige noord-suid-spanning tussen Moslems en Christene. Andersyds is etnisiteit ʼn faktor wat die bevordering van nasieskap in Nigerië nog altyd bemoeilik het. Baie Nigeriërs beskou hulself eerder as Hausa-Fulani of Igbo of Yoruba en vereenselwig gewoon nie met die idee van ʼn Nigeriese nasie nie. Die bevordering van nasieskap sal sekerlik uitdagings aan die nuwe regeerders stel.

ʼn Ander Nigeriese probleem is iets wat Suid-Afrika eweneens ken, naamlik elektrisiteitsvoorsiening. Sedert onafhanklikwording 58 jaar gelede, is talle Nigeriërs steeds sonder elektrisiteit. Daarom het die Nigeriese regering besluit om ʼn 3 050 megawatt-hidrokragprojek teen ʼn bedrag van VSA$5,8 miljard (met Chinese hulp) van stapel te stuur. Dit behoort teen 2023 afgehandel te wees en ekonomiese vooruitsigte aan te help. Teen hierdie agtergrond het Nigerië in die afgelope jaar – ten spyte van al sy probleme – geklim op die Wêreldbank se indeks van state rakende “gemak om besigheid te doen”, ofskoon die land in die 146ste plek steeds relatief laag is. Hier beklee Suid-Afrika die 82ste plek en het Nigerië steeds baie werk om te doen.

Vir die inkomende Nigeriese regeerders is daar ʼn paar sake wat aandag sal moet geniet om sy groot ekonomiese potensiaal verder te ontsluit. Demokrasie sal verder gekonsolideer moet word en goeie, skoon regering sal tot hoër vlakke geneem moet word. Op die buitelandse beleidsterrein sal Nigerië meer geloofwaardigheid geniet indien hy sy veiligheidsprobleme in die noordwestelike en mees suidelike dele onder bedwang kan bring. Boko Haram bly steeds ʼn doring in die vlees van die Nigeriese weermag en het in wyer wes-Afrikaanse streekverband selfs nou ʼn vertakking met die naam ISIS Wes-Afrika.

Vir die presidensiële verkiesing is daar meer as 70 kandidate, maar waarnemers is dit eens dat slegs twee kandidate werklik ernstig opgeneem moet word, naamlik die 76-jarige pres. Buhari en die 72-jarige Atiku Abubakar. Laasgenoemde het tussen 1999 en 2007 as visepresident onder oudpres. Olusegun Obasanjo gedien. Buhari probeer kiesers oortuig dat hy die staat sal gebruik vir werkskepping en dat hy die militêre stryd teen Boko Haram verskerp het, asook die stryd teen korrupsie. Sommige hou Boko Haram se suksesse egter juis teen Buhari en hy word ook van outoritêre optrede teen veral die regbank beskuldig. Hy was onlangs ook ses maande in die buiteland vir behandeling weens swak gesondheid. Abubakar, daarenteen, belowe markgerigte hervormings, onder meer, groter privatisering van die staatsgedomineerde oliebedryf. Hy het ook veral jonger kiesers na sy kant probeer oorhaal en het hard gepoog om Buhari as “uit voeling met die jeug” voor te stel. Wat egter teen Abubakar tel, is bewerings van korrupsie tydens sy visepresidentskap en wanadministrasie tydens ʼn vorige verkiesing, asook mislukte privatiseringspogings onder die bewind van Obasanjo.

Wie ook al as wenner uit die verkiesing tree, sal Nigerië vorentoe moet neem op die pad van globalisering en vinnige verstedeliking en met goeie oordeel moet optree om die enorme ekonomiese potensiaal van hierdie land met sy jeugdige bevolking tot hoër hoogtes te neem. Dit is waarom baie oë wêreldwyd tans op die Nigeriese verkiesings gerig is.

  • Prof. Theo Neethling is hoof van die Departement Politieke Studie en Regeerkunde aan die UV.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Hierdie is die mees positiewe siening oor Nigeriè wat mens kan kry… miskien omdat ons so graag tog vordering in Afrika wil sien. Die groot bevolking wat reeds uit sy nate bars, loop reeds oor tot hier met misdaad en nogmaals misdaad as kenmerk. SA se hoop om ooit weer gereken te word is zero want die verbeelde mantel van Mandela is reeds gehawend en geld vir herstel … nou in skelms se beursies. Afrika leef in ontkenning… altyd nog… En in SA het die spook wat al die probleme veroorsaak ‘n naam gekry: wit mense…. eintlik diegene wat alles in die verlede opgebou het… maar dankie sal hul nooit hoor nie.

Grys ·

Die ding wat my pla, is dat dit nie altyd in aggeneem word wat n ekonomie sterk maak nie, bv lande wat swakker internasionale ekonome het maar tog onafhanklik van ander lande, bv Rusland, china, N. Korea, Botswana, en juis botswana wat arm is in natuurlike hulpbronne is ryker as Suid-afrika met baie hulpbronne. Die GGP in botswana is baie grooter as ander lande, hulle geheim le by n klein bevolking wat gelukkig is(relatief) al goed as Nigeria grooi in geld, maar probleme bly op hoop, selfde in lande wat ryk is, die vraag is meer of daai ekonomie gesond is, nie hoe sterk of groot nie, wat ek daarmee meen is kyk Amerka se ekonomie, groot, magtig maar lyk lankal nie meer gesond nie, nie soos die van rusland,india,china nie, hulle ekonomies, alhoewel klein is baie gesond… my opinie te minste, met soveel faktore wat bydrae tot net een land se ekonomie, en dan daai land in die internasionale gemeenskap is so ingewikkeld dat dit nooi 100% gemap kan word nie. Bly baie intressant.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.