Vertrouensbreuk kan deur kulturele ooreenkoms herstel word

Die ANC se hantering van die haatspraaksaak dryf die groeiende vertrouensgaping tussen die regerende party en talle Afrikaners op die spits. Die ANC verdraai nou die uitspraak as sou dit hulle struggle-erfenis verbied. Dit is onwaar, en dit is ook nie wat AfriForum vir die hof gevra het nie. AfriForum se saak het gegaan oor Malema se rassistiese opsweping van swartmense teen witmense, Afrikaners en Boere in ʼn land wat reeds deur geweld geteister word. Malema se dreunkrete het nie die ANC-verlede probeer verheerlik nie, maar was daarop gerig om swart teen wit op te stook. Die saak is gemaak nadat alle pogings gefaal het om die probleem met gesprek op te los. As die ANC aan die begin van die krisis opgetree het, sou die regter dit nie nodig geag het om so drastiese uitspraak te maak nie.

Die vertrouensgaping tussen die ANC en Afrikaners het in die tweede termyn van die Mbeki-administrasie ontstaan, en mettertyd gegroei tot wat nou as ʼn vertrouensbreuk beskryf kan word. Dit het gespruit uit mnr. Mbeki se verdelende rasse-uitsprake, en is vererger deurdat die regering die land al swakker regeer het totdat selfs gesaghebbende ontledings soos die Dinokeng Scenario teen die gevaar van ʼn mislukkende staat begin waarsku het.

Aan die begin van die Zuma-bewind het Afrikaners oor die spektrum heen na hom uitgereik, en vir ʼn tydperk het die hoop opgevlam dat ʼn minder rasbewuste president die verhoudinge kan herstel in belang van die land en al sy mense. Namate dit duidelik geword het dat die ANC hierdie gesprekke nie ernstig opneem nie, het die belangstelling om te praat begin verflou en het die president sy politieke kapitaal verspil.

Die knellende probleme van Afrikaners spruit uit wat die Kanadese filosoof Charles Taylor “demokratiese uitsluiting” noem. Dis waar ʼn meerderheid die grondliggende belange van ʼn minderheid met hulle getalle bloot wegstem, soos byvoorbeeld hulle werks-, taal-, grond of onderwysregte- of waar hulle belasting bloot gevat word sonder dat hulle belange ook daarmee gedien word. Die president het in sy staatsrede gesê dat politieke vryheid sonder ekonomiese vryheid betekenisloos is. Maar politieke vryheid sonder kulturele vryheid is maar net so betekenisloos.

Oorheersing

Timothy Sisk, die Amerikaanse politieke wetenskaplike, beskou hierdie uitsluiting as die rede hoekom minderhede wêreldwyd ʼn gewone demokrasie as strukturele oorheersing deur die meerderheid sien, en nie as vryheid nie. Hulle beleef dít waarteen die kenner van multi-etniese samelewings Donald Horowitz gewaarsku het: “gewone meerderheidsregering sal in ʼn land soos Suid-Afrika slegs een soort rasse- of etniese oorheersing vir ʼn ander verruil.” Vir baie lede van minderheidsgroepe voel dit of die ANC soos ʼn faksieregering téén hulle regeer – dat demokrasie maar net ʼn geldige rookskerm is vir oorheersing. Dit is nou maar so dat minderhede moet veg vir dit wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar. Daarom het selfs die Verenigde Nasies (VN) al in 2004 in ʼn gesaghebbende verslag ernstig teen “kulturele uitsluiting” gewaarsku, waar die minderheid se instellings, waardes en lewenswyses nie erken en gerespekteer word nie, of waar hulle op grond van hulle identiteit – soos nou met die haatspraaksaak waar die ANC vir Malema ondersteun – geteiken word.

Kontrakbreuk

Daar bestaan ʼn kontrak tussen ʼn regering en sy burgers. Dit behels dat die burgers die regering toestemming gee om oor hulle te regeer en instem om die owerheid te gehoorsaam en belasting te betaal, mits die regering sy deel van die kontrak nakom deur die land goed te regeer; belasting verantwoordelik te gebruik; almal en nie net sy eie kiesers se belange te dien nie; en sy kernfunksies soos veiligheid behoorlik nakom. In die lig hiervan is daar ʼn groeiende siening dat die regering nie meer sy deel van die kontrak nakom wat Afrikaners betref nie. Dit is onderliggend aan die groeiende vertrouensbreuk. Die ANC se ondersteuners het wel kanale om hulle griewe in die party te hanteer, maar minderheidsgroepe is demokraties uitgesluit en kan nie hulle vertrouenskrisis langs “normale” kanale hanteer nie. Die tallose gesprekke sedert 1994 tussen verteenwoordigers van Afrikaanse organisasies met die ANC en die regering, het sonder uitsondering nog op niks uitgeloop nie.

Verdien vertroue

Hierdie vertrouenskrisis moet nie ligtelik opgeneem word nie. Charles Taylor het gesê dat tussengroep vertroue in multi-etniese samelewings nie vanselfsprekend aanvaar kan word nie, maar as ʼn werk-in-wording gesien moet word. Die regering moet almal se vertroue verdien – dit kom nie vanself of goedkoop nie. Volgens Taylor is dit baie belangrik dat dit gereeld hernuwe moet word, omdat vertroue na ʼn verloop van tyd begin taan en kwyn, met negatiewe gevolge vir die land en alle betrokkenes. Versoening kan nooit werk as dit verskraal word tot inlywing by die meerderheid nie.

Die enigste manier om hierdie vertroue te hernu of te herstel is gesprekke wat op ooreenkomste uitloop wat die knelpunte wat die probleem veroorsaak het, sal ontlont. Uiteraard het die regering hier die grootse verantwoordelikheid, omdat hulle ʼn monopolie op staatsmag en -bronne het. Maar om te verseker dat dit nie maar weer net in ʼn doellose gepraat ontaard nie, bestaan daar twee voorwaardes vir so gesprek:

  • Die eerste is dat wedersydse erkenning en respek vir mense, gemeenskappe, kulture en menselewens ononderhandelbaar is. Die ANC se ondersteuning van Malema se haatspraak het tot groot wantroue onder Afrikaners teenoor hulle gelei.
  • Die tweede is dat dit nie net by praat moet bly nie. Dit mag nie net ʼn eensydige verduideliking van regeringsbeleid of ʼn begrypende geluister na Afrikaners se bestaanskrisisse wees nie, maar moet op ʼn ooreenkoms of ooreenkomste uitloop soos ʼn opvolg- of ʼn kulturele skikking wat wel in werking gestel word en nie maar net op die rak bly lê nie.

Die ANC kan nie alleen die land se probleme oplos nie. Afrikaners wil graag op ʼn opbouende manier help om oplossings vir ons land en ons gemeenskap se probleme te ontwikkel. Maar dan moet hulle die ruimte en geleentheid gegun word, en nie as politieke slaansakke misbruik word vir alles wat verkeerd is nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Afrikaners moet beplan vir ‘n toekoms waarin die ANC regering nie hul samewerking gee of hul verantwoordelikheid nakom nie.

Louis du Plessis ·

1  In dié blik op die wyse waarop die ANC-regering Afrikaanssprekendes tans, in die laaste kwartaal van 2011, behandel, onderstreep Flip Buys verskeie belangwekkende waarhede.  Een hiervan, wat spesiale aandag verdien, is die insig van Donald Horowitz en van die Verenigde Nasies, oor hoe biologiese meerderhede (soos rassemeerderhede of etniese meerderhede) minderhede hanteer, sélfs in andersins demokratiese state.  Flip beweer tereg:  “Dit is nou maar so dat minderhede moet veg vir dit wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar.”  Die VN waarsku dat ‘n minderheid “se instellings, waardes en lewenswyses” dikwels “nie erken en gerespekteer word nie”.

2  Hulle wat minderhede binne die staat van Suid-Afrika vorm, soos Afrikaanssprekendes (min of meer 13 persent) en spesifiek blanke Afrikaanssprekendes bekend as Afrikaners (min of meer 6 persent), staan met die rug teen die muur.  Soos al die ander minderhede in die verlede en in die hede, oral ter wêreld, moet hulle ‘n permanente stryd voer vir ‘n plek in die son, en dikwels selfs om te oorleef.  In dié opsig is die ANC-onderdrukking asook die Afrikaner se stryd nie ‘n uitsondering nie, maar deel van ‘n historiese en eietydse wêreldwye verskynsel.

3  Aangesien regerings van biologiese meerderhede áltyd neig om só op te tree, wat is dan die oplossing?  Die oplossing is die volgende:  As die Afrikaner in die toekoms nie volledig soos water in sand wil verdwyn nie, moet hy as minderheid êrens ‘n meerderheid word.  Gegee die aard van die demokrasie, kan slegs meerderhede volledige selfbeskikking uitoefen.  Hier stel Orania vir ons ‘n klein maar kragtige voorbeeld.  Die onwelkome, selfs grusame waarheid, is dít:  Die Afrikaner sal oor ‘n paar eeue slegs voortbestaan as hy ‘n meerderheid word wat homself tot op die hoogste vlak regeer:  in sy eie staat.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.